Perdedrolle is nie vye nie

9 12 2010

Ek het eendag iets gelees dat ‘n mens van een en almal iets goeds kan sê – selfs van die duiwel.  Satan is baie dinge, maar Satan is nie lui nie.  Daarvoor moet jy hom krediet gee.

Ek lees nou net dat Annelie Botes haar K. Sello Duiker-prys verloor het.  In die woorde van Morakabe Siekhoa, organiseerder van die toekennings:  “Haar benoeming is weens die rassistiese opmerkings wat sy in die media gemaak het, onttrek.” Dit in verwysing met Botes se onderhoud wat in die Rapport gepubliseer is.  Botes was gevra van watter mense hou sy nie.  Sy het eerlik geantwoord dat sy nie van swart mense hou nie, omdat sy vir hulle bang is en nie verstaan nie.  Sy het haar siening met ‘n paar voorbeelde geillustreer.  Wie van ons kan nie nog voorbeelde byvoeg nie?

Die afgelope paar weke het ons gehoor dat misdaad nie kleur ken nie.  Ek stem saam dat misdaad selfs nog erger is in die swart woongebiede.  Terselfde tyd weet ons almal wat sal gebeur as ‘n wit 17 jarige seun ‘n swart kleuter doodskiet.  Dit gaan nie net ‘n misdaad wees nie.  Dit gaan beslis nie kleurloos nie.  Daar gaan van die hoogste dakke rassisme gegil word en daar gaan geen genade vir die seun wees nie.  Al is hy nog minderjarig.  Ek kan nog ‘n 100 soortgelyke voorbeelde gee.  Jy mag net soos ‘n barbaar optree as jy swart is, van blankes word daar beter verwag.  Dit is seker maar eintlik ‘n kompliment.

Goed en wel, ek is seker nie gekwalifiseer om ‘n uitspraak te lewer nie.  Ek is blank en volgens Suid-Afrikaanse standaarde is ek ‘n rassis wat alle rassisme teenoor my as die straf van die vaders moet sien.  Ek dwaal nou eintlik af, eintlik het die feit of Annelie Botes ‘n rassis is of nie net mooi niks met die saak te doen nie.  Die K. Sello Duiker-prys word mos nie vir anti-rassisme toegeken nie.  Laaste waarvan ek verneem het was dit ‘n prys vir letterkunde.  Maak dit van haar nou ‘n slegter skrywer omdat sy nie politieskorrek is nie?  Die beoordelaars het mos haar boek beoordeel en nie vir haar as mens nie.

Dit is eintlik ironies dat dit die benoemde boek Thula Thula is.  ‘n Boek met swart karakters wat met baie deernis geskets en aan die leser oorgedra is.  Ek vind dit moeilik om te glo dat ‘n rassis die karakters met soveel sensitiwiteit kon skep.  Aan die ander kant, as Botes dan wel ‘n rassis is, verdien sy beslis elke prys van letterkunde wat daar is – juis omdat sy nie haar vooroordele in haar werk laat deurskemer nie.

Dit is egter net my mening.  Iemand wat glo dat die duiwel maar kan kry wat hy verdien.  Hoe voel julle hieroor?  Word prestasie verdien op die werk wat jy gelewer het of op die oordeel van jou as mens?  Sal ons ooit die dag bereik waarop ons mense se werk kan beoordeel, sonder dat persoonlike gevoelens in die pad kom?

As jy oor Thula Thula wonder, gaan lees gerus hier.

Naskrif:  Ek dink nie Thula Thula is die beste boek nog nie.  “Dis ek Anna” het die onderwerp na my mening beter aangespreek.  Annelie Botes is nie my gunsteling skrywer nie, ek vind haar ‘n tikseltjie te realisties.  Ek reken wel dat sy ‘n briljante skrywer is.  Ek dink wel dat die gronde waarop sy die prys verloor het bitter onregverdig is en dit maak my kwaad.  Ek wil amper sê dat Media 24 haar uitverkoop het.

Breinvasbrand:  Watter Annelie Botes boek is gebore uit haar eie dobbelverslawing?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg.  Dit was die enigste lied van ABBA waarop daar ander vocals (van ‘n kinderkoor in Swede) as die 4 hooflede is.





Keuses, keuses

9 12 2010

Eendag, in ‘n skielike, onverklaarbare werklus besluit jy om daardie hoekie (lees laai, kas, kamer, motorhuis, boks wat ookal) reg te sien.  Soos jy jou pad deur die stof werk, verhelder alles vir ‘n oomblik en dan verskyn ‘n feetjie.  Oop en bloot, met haar handjie uitgesteek om jou te groet.  Half betowerd bied jy jou pinkie vir haar aan.  Jy begin nou wonder of sy jou sal knyp as jy haar vra, dan klink haar klokkiestem op.

Die feetjie is van die moderne soort.  Drie wense is sou oud soos die berge en sy het iets meer realisties ingedagte.  Dit is nou nie nodig om jou vraatsig te maak nie.  Jy het ‘n feetjie met die hand gegroet, wat meer wil jy hê?  Sy bied jou ‘n keuse, baie opwindend maar iets wat jou lewe gaan verander. 

“Wil jy onsterflik raak of wil jy deur tyd kan reis?”

Niks in die lewe is verniet nie, ook nie keuses van feetjies nie.  As betaling moet jy verduidelik hoekom jy gekies het wat jy gekies het.

Wat sal jy haar antwoord?





Lunch Week 23

9 12 2010

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Petrus; Boekwurm; Karel; Padda; Sarel; Kraai;  Gertjie; Seemonster; Bennie; Papegaai

Gemeenskaplike faktor?