Nuttige toerusting

7 12 2010

Iewers in die hoërskool doen ‘n mens ‘n eksperiment waar jy ‘n naald op water dryf.  Toegegee, dit was nie in ons klas gedemonstreer nie.  Die onnie wou, maar daar was een klein tegniese probleempie.  Sien, nie een van die meisies het ‘n naald by haar gehad nie.  Hy het sy hande in die lug gegooi en verklaar dat ons baie slegte trouvrouens gaan maak.   Na sy mening het ‘n goeie vrou altyd ‘n naald en gare by haar.  Siende dat ons skoolrokke ons bloes meestal verberg het, het een of twee knope wat dros nie juis saak gemaak nie.  Die seuns het in elk geval baie meer knope verloor as ons en hulle hande is beslis nie rond nie.  Vir ons roksome – wel, krambinders is nie net gemaak vir papier nie, is dit?  (Die blote idee het my ma ‘n hartaanval gegee, my vriendinne se ma’s het dit toe al vir jare gedoen.)

Vandag nog sien ek nie die wysheid van die onnie se woorde in nie.  Al dra ek 10 naalde by my, sal ek nie sommer ‘n knoop aanwerk of ‘n soom terugsit nie.  Om dit nog boonop vir iemand anders te doen, is heeltemaal buite die kwessie.  Daar is wel ander dinge wat ‘n mens altyd binne vatafstand benodig.  Goed wat baie meer benodig word as ‘n naald.

Ek het op hoërskool begin om altyd ‘n knipmes by my te dra.  Dit amuseer gewoonlik mans geweldig dat ek een het – tot ek die mes kan gebruik en hulle besef hulle het nie ‘n mes by hulle nie.  Dit gebeur nogal gereeld.  Ongelukkig het ek op ‘n stadium dikwels gevlieg.  Die kanse is 0 dat ek van my knipmes gaan afstand doen.  Die gevolg is dat dit nou in my kar is en nie meer in my handsak nie.  Dit kan wel vinnig in my handsak gedruk word as ek vermoed dat ek dit iewers gaan nodig kry of ek kan dit vinnig in my kar gaan haal.

Ek het ook ‘n flits in my motor.  My pa het een jaar vir ons elkeen ‘n flits gegee met die opdrag dat dit altyd in ons kar moet bly vir ‘n noodgeval.  Dit is toevallig ook baie handig as ek iets in die kar moet soek.  Dit het ook al gekeer dat ek my nek breek as ek iewers in die donker moes loop.

‘n Pen is ook nogal ‘n handige item om ten alle tye by jou te hê.  Die ongeluk van die saak is dat penne so dikwels gesteel word.  Ek het gewoonlik duisende los papiere in my handsak, maar iemand wat effens netjieser is kort waarskynlik ook ‘n notaboek.

Ek gaan verkieslik ook nêrens heen sonder my kamera, selfoon en beursie nie.  Dit is gewoonlik wanneer dit tuis bly, dat jy dit wel met ‘n seer hart soek.

In die dae van my sotheid het ek nêrens heen gegaan sonder my mondskerm nie.  Ek het geredeneer dat ek een of ander tyd aangeval sal word en dan nie my tande van die straat af wil optel nie.  Ek het nou nog ‘n mondskerm, maar dit bly deesdae by die huis.  Ek gebruik dit wel as ek ‘n sportdag moet bywoon.  Ek hoop deesdae eerder dat ek in geheel ‘n aanval sal vermy.

Wat reken jy moet iemand saam met hulle dra?  Wat is die weirdste ding wat jy al saamgedra het of gehoor het iemand saam dra?  Wat behoort ‘n goeie trouvrou altyd by haar te hê?  En ‘n goeie trouman?

Breinsvasbrand:  Wie is die vervaardiger van die Switserse Weermagmes?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Sannie.





Kers irritasies

7 12 2010

Ek sien die mense begin meer en meer op Kersfees fokus.  Kersfees voel nog baie ver weg, al hoop ek op ‘n vroeë Kersgeskenk wat ook maar sy tyd vat.

Nou voordat ek ook my rooi mus gaan uitkrap en gaan Kersinkopies doen, wil ek gou eers kerm.  Daar is baie voordele aan Kersfees.  Dit sluit stiller paaie, gemoedeliker mense en liefdadigheid in.  Tog is daar goed wat ons ook teen die dak kan uitdryf.  Klaarblyklik raak dit elke jaar erger en erger.

Moet nie vir een oomblik geflous word nie.  Ek is net so skuldig as die meeste Suid-Afrikaners aan ‘n kommersiële Kersfees.  Dit is deel van wat Kersfees lekker maak.  Ek koop namens Kersvader geskenke en speel ook hier en daar Kersvader.  Dit is waar my eerste irritasie inkom.  Hoekom op aarde moet Kersvader opsluit deesdae Santa Claus wees?  Shakespear het nou wel gesê:  “Call a rose by any other name and it will still smell as sweet”, maar hy het nou wragtig nie gesê volg die Yanks tot op die letter nie.  Dit sou my nie soveel gepla het as Kersvader dalk Baba Christmas was nie.  Dit is darem nie Amerikaans nie.

Hierdie irritasie kry jaarliks ‘n skrywe en die jaar gaan geen uitsondering wees nie.  Hoekom kan mense nie die koms van Christus vier sonder om hulle aan drank te vergryp nie.  Deesdae moet daar ook nog vuurwerke geskiet word.  Is dit werklik nodig?

Ek gee nie om om my deel vir liefdadigheid te doen nie, maar ek gaan my nie vir liefdadigheid uitbuit nie.  Ek sien die nuutste neiging is om ‘n blikkie te beman met ‘n mens wat voordeel uit daardie geld gaan trek.  Ek loop nie sommer verby ‘n blikkie nie, maar emosionele afpersing kom op mishandeling neer.  Verder as ek deur my ore in die naam van liefdadigheid betaal om ‘n geskenk toe te draai, kan ek seker netjiese werk verwag.

Noem my ou bitterbek.  Wat frustreer jou?





Lunch Week 23

7 12 2010

Uilspieël

(Watter een pas nie en hoekom pas dit nie?)

  1. The Holiday; Love Actually; Miss Congeniality
  2. Blou; Wit; Groen
  3. N1; N3; N17
  4. Julian Assange; WikiLeaks; The Moon Press
  5. Game; Engen; Total