Kry vir jou ‘n dop

16 12 2010

Mense is eintlik baie voorspelbaar.  Altyd op soek na iemand wat dieper agter die deur staan.  Elke jaar wanneer sondaarsbelasting aangekondig word of iemand weer aan die rokerswet te karring, word dieselfde gedagtes van vooraf aan almal se kele afgedruk.  Hoekom word op ons arme rokers gepik.  Ons maak niemand dood deur ons plesier nie (wel, in elk geval nie onmiddelik nie).  Rook breek nie huise op nie en rook lei nie gaan geweld nie (behalwe wanneer daar ‘n beduiwelde nie-roker in die omgewing is).  Drank is die eintlike sondebok en die regering moet eerder daarop konsentreer en die rokers los om in vrede te rook waar hulle wil. 

Geen redelike mens kan stry dat hulle ‘n punt beet het nie.  Naamlik dat die misbruik van drank ‘n baie groter euwel is as ‘n gerokery.  Die wortel van baie ongelukke, baie maatskaplike probleme en baie bakleiery kan vierkantig voor Bacchus se deur gelaai word.  Die groot verskil is dat jy die keuse het of jy saam wil drink, maar jy het nie daardie keuse waar mense rook nie.  In elk geval, die regering het geluister en die regering het besluit dat drank ook aangespreek word.   Regering is seker ‘n bietjie wyd, dit is eintlik die Departament van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling.   

Persoonlik het ek nie baie simpatie vir rokers of drinkers nie.  Ek is wel ‘n sosiale drinker, maar ek drink nie by elke sosiale geleentheid wat ek kry nie.  Ek sorg ook dat ek binne perke bly.  Nogtans kan ek nie help om ‘n wenkbrou te lig oor die regering se nuwe idees nie.  Ek het niks teen hulle idee dat hulle die alkohol limiet wil wegneem nie.  Selfs een glas wyn het wel ‘n effek, al is dit nie nou nie juis sigbaar nie.  Van daar af weet ek darem nie. 

Die regering wil ‘n moratorium op verdere dranklisensies plaas.  Geen nuwe restaurante en seker winkels sal nuwe drank lisensies kry nie.  Mens kan seker net so goed op koffie of koeldrank kuier, maar gaan dit regtig ‘n invloed hê?  Restaurante is veronderstel om nie verdere drank aan aangeklamde mense te verkoop nie.  Dit is gewoonlik wanneer mense hulle eie drank iewers heen sleep of by die huis suip dat daar marakkas kom.  Drank kom nie altyd van wettige bronne nie.  Drank kan ook baie maklik by die huis gemaak.  As iemand wil drink, veral die probleem drinkers, is die bron van die drank maar ‘n klein besonderheidjie. 

Volgende wil hulle ook advertensies van alkoholiese drankies stop.  Net soos hulle destyds met die sigarette gedoen het.  Dit beteken ook dat hulle nie meer borgskappe kan gee nie.  Die afwesigheid van advertensies het mense nie laat ophou rook nie.  Dit het nie gekeer dat nuwe geslagte begin rook nie.  Maak nie saak hoeveel keer ek die Savannah advertensie sien, proe dit nog steeds soos kattepis.  Ek kan nie sien hoe die gebrek aan bemarking mense gaan dwing om minder / glad nie te drink nie. 

Ek is wel deeglik omge-ellie oor die moontlike verbod op borgskappe.  SAB het byvoorbeeld verlede  jaar R23 miljoen net aan die  Britse en Ierse Leeus rugbytoer spandeer.  Onthou hulle borg ander rugby, sokker en krieket ook.  Sonder hulle borgskappe, wat gaan dan gebeur?

Ek sal julle vertel.  Die borgskappe gaan nog swaarder op banke en selfoonmaatskappye rus.  As die regering ‘n verbod op borgskappe wil sit, hoekom verbied hulle nie banke en selfoonnetwerke om borge te gee nie.  Dit sal natuurlik geen verskoning laat hoekom selfoontatiewe en bankkostes so hoog moet wees nie. 

Dit bly ‘n keuse om te drink of te rook.  Jy het nie juis ‘n keuse sover dit banke aangaan nie en nie veel van ‘n keuse omtrent selfone nie.  Terwyl daar geld uit drank en sigarette gemaak kan word (en gebrek aan advertensies beteken net minder uitgawes – onthou dat tot omtrent 80% van omset in bemarking gesteek word), hoekom dit dan nie vir borgskappe gebruik nie? 

Hoe voel julle daaroor?

Breinvasbrand:  Wie is die minister van Maatskaplike Ontwikkeling?

Breinlosbrand:  Charms was reg met Alice in Wonderland.





16 Desember

16 12 2010

Die begin van die vakansie

Inkopiedag, mits jy nou nie wegspoel nie.

Versoeningsdag

Gelofdedag

Dingaansdag

Onthoudag