Suid-Afrika gons op die oomblik oor die Wes-Kaap se planne om onderhoud onduikers vas te vat. Natuurlik juig die een groep daaroor en ‘n ander groep dink dat dit uiters onregverdig is.
Onderhoud is nie juis iets waarmee ek bekend is nie. My pa moes doodeenvoudig al sy geld aan my ma oorhandig vir sy losies. Ek het my rekeninge vir my ma gestuur wat dit namens my pa betaal het. Sy het die gesonde beginsel gehandaf dat haar geld hare is en sy geld is ook hare. Ek het ook nie iewers ‘n maakseltjie wat iemand anders vir my teen betaling grootmaak nie. Ek self hoef nie ‘n bloedjie op sy pa se genade groot te bid nie.
Dit bly egter vir my logies. As jy iewers ‘n kind verwek het, bly jy tog sekerlik verantwoordelik vir daardie kind. Op elke manier, wat finansieel tog sekerlik moet insluit. As jy saam met die ander ouer gebly het, sou jy doodeenvoudig seker plan moes gemaak het om die verpligting na te kom. Hoekom sal dit dan verander wanneer julle nie meer dieselfde dak deel nie? Dalk omdat jy nie vir die kind moet nee sê nie, maar vir jou vorige maat. Met wie jy nie noodwendig op vriendelike voet is nie, maar graag op wil wraak neem. Wat maak die kind/ers in die middel tog saak?
Dit behoort eintlik onnodig te wees dat ‘n hof betaal hoeveel jy teenoor jou kind verskuldig is. Die hof was mos immers nie by toe jy die kind gemaak het nie. Dit is ongelooflik hartseer dat mense op hulle plig gewys moet word waar dit hulle kinders aangaan.
Ek hoor gister op die radio dat mense wat onderhoud ontduik nie monsters is nie. So dikwels word daar verweer dat die ma die pa wil bykom met die onderhoud. Die ma die kinders weerhou, omdat die pa nie betaal het nie. Die pa nie sien hoekom hy onderhoud moet betaal as hy nie die kinders het nie. Maak dit enigsins saak?
Beteken dit as jy nie jou kind sien nie, dat hy/sy nie kos nodig het nie, kaal kan rondstap en nie hoef skool te gaan nie? Is dit regtig so maklik om jou verantwoordelikheid af te skud? Twee verkeerds het mos nog nooit ‘n reg gemaak nie. Selfs al word jy verontreg, kan jy dan met ‘n rein gewete jou kind verontreg?
Hoe voel julle daaroor? Dink julle die Weskaap tree reg op?
Breinvasbrand: Wat beteken Melanie McCulley se term “Manlike Aborsie”?
Breinlosbrand: Nell was reg met Freddy Mercury.
Wie runnik saam?