Moderne Euwel – Plastiek

27 01 2020
piles of garbage by the shore

Photo by Lucien Wanda on Pexels.com

“Kom ons maak ‘n blogreeks oor euwels” dink ek netnou so by myselwers.  Julle weet mos dat ek ‘n taai onderwerp geniet.  Wat vir jou ‘n euwel is, is nou nie noodwendig vir my ‘n euwel nie.  Nie dat die kwaad sal doen om daaraan te dink nie.

So gedink en nou probeer ek dit so gedaan.  Ek het plastiek as my eerste onderwerp gekies en soek gou ‘n paar verwysings om wat as evangelie verkondig word te staaf.  Die eerste bronlees soos ‘n riller.  Daar is blykbaar ‘n eiland van 1.6 miljoen km² in die Stille Oseaan gemaak van plastiek.  Dit is drie keer Frankryk se grote!  Die tweede bron maak die statistiek as nonsens af.  Aangesien dit ‘n VSA staatsinstelling is, steur ek my nie veel nie.  Ek krap ‘n bietjie verder rond en kom toe op National Geographic af.  Ek reken dit is ‘n betroubare bron en lees gou vinnig daar.

Goed, daar is nou nie ‘n massiewe fisiese eiland in die middel van die see nie.  In elk geval nie ‘n eiland is drie keer groter as Frankryk is nie.  Nie te min, daar is ‘n onsaglike hoeveelheid plastiek in die see, wat deur die son in kleiner en kleiner stukkies afgebreek word.  Dit is nie goed vir die see, die seelewe, die mens of die omgewing nie (almal stem daarmee saam).

Ideaal gesproke moet dit weg.  Die probleem is dat geen land verantwoordelikheid daarvoor sal aanvaar nie.  Geen land het die begroting om dit aan te spreek nie.  Dit sal 67 skepe ‘n jaar lank neem om minder as 1% van die gemors skoon te maak.  Dit is nou as die skoonmaak nie meer skade as goed doen nie.

So, terwyl daar (nog) nie veel te doen is aan die huidige gemors nie, kan ‘n mens mos nou nie willens en wetens die probleem vererger nie.  Om jouself in te hou met plastiek, is seker nou nie so onredelik nie.  Jaaaaaaa, maar hoe?

Ek is heeltemal bereid om op die seepkissie te klim.  Ek het ‘n klomp duursame sakke in my kar vir wanneer ek inkopies doen en ek onthou dit as ek baie goed gaan koop.  Ek het opgehou om plastiek strooitjies en papier strooitjies te gebruik – wel, sover as wat ek moontlik kan.  Toegegee, ‘n piepklein mikroskopiese druppel wat seker nie ‘n vreeslike verskil gaan maak nie.

Die punt is, ‘n klomp goed sal moet verander voordat daar nou regtig ‘n stop in die plastiek toeloop in die see gaan wees.   Ek gebruik nou al 10 jaar lank dieselfde Stasoft bottel, wat ek getrou met hervul pakkies opvul.  Die hervul pakkies is egter nogsteeds plastiek.  Hoekom kan ‘n mens nie jou leë Stasoft (Sunlight, Sjampoe ens) na ‘n winkel neem waar dit uit ‘n groot tenk hervul kan word nie?

Uitgesoekte PnP winkels laat jou ‘n sakkie vir R7.50 koop, waarin jy dan jou vars produkte kan sit.  Die materiaal sakkie kan oor en oor gebruik word.  Ek kan nie wag tot dit orals beskikbaar is nie.  Uiteindelik sal winkels nie hulle vrot appels in ‘n sak wegsteek nie.  Wat egter van ander varsprodukte?  ‘n Mens kan seker ‘n emmer / bottel winkel toe neem vir melk.  Dalk kan jy ‘n kosblik of iets nader sleep vir jou vleis.

Daar word dikwels verwyt dat die moderne samelewing te ingestel is op gemak.  Alles moet reg wees vir onmiddelike gebruik.  Dit is dalk waar.  Dit is immers waar die oorvloedige plastiek vandaan gekom het om mee te begin.  Is daar egter ‘n alternatief?

Vermy jy plastiek?  Hoe probeer jy jou plastiese gebruik inperk?

Breinlosbrand:  Wie het in 1997 die Great Pacific Garbage Patch ontdek?

Breinvasbrand:  Die London Toring Brug is in 1894 geopen.





Gesoek: ‘n Vermaaklike Radio Stasie

11 03 2019

INA_8511

Ek kan dalk nog ‘n kar sonder ‘n stuurwiel indink, maar beslis nie een sonder ‘n radio nie.  Genade, is dit ooit moontlik om in doodse stilte te bestuur?  Daar is natuurlik diegene wat glo dat dit die enigste manier is, maar ek kan (wil) nie.

Die meeste karradio’s is gaaf genoeg om ‘n CD speler, USB port en Bluetooth te hê.  Ek is dus in staat om om self ‘n platejoggie te wees.  Wat ek wel doen as ek lang afstand ry.  Tog – siende dat ek net Noot vir Noot op TV kyk – wil ‘n mens tog in voeling met die wêreld bly.  Ek wil weet wat huidiglik die geur van die maand is, ek wil weet wat in die nuus aangaan (indien ek dit op sosiale media gemis het), wie konsert gaan kom hou en waar daar verkeersprobleme is.  Ek soek ook musiek – goeie musiek.

Deesdae is radio nogal ‘n irritasie.  Ek het met Jakaranda groot geword en nog nooit rede gesien om te verander nie.  Toegegee, daar was ‘n tyd wat ek soggens na Highveld toe oorgeskakel het, maar nadat die oggend omroeper vervang was, het ek maar eerder my niere met Jakaranda gaan vergruis.  Ek verstaan almal het nie ‘n gesig vir TV nie, maar kan hulle dalk ‘n stem vir radio hê?

Ongeag dit Jakaranda of Highveld is – ek is gatvol vir omroepers wat so vol van hulle self is dat ek enige oomblik ‘n knal verwag.  Met soveel eie waan, moet hulle een of ander tyd bars.  Ek kan my eie mening oor iets vorm, dit hoef nie in my keel afgedruk te word nie.  Ek hou natuurlik van ‘n goeie debat, maar dit is net ‘n goeie debat as die ander kant van die argument ook gehoor word.  Niemand het tyd om na ‘n hele program te luister nie en dit is ongevraagd om luistenaars (lees kliente) daaroor uit te vreet.  Net so kan almal nie hulle telefone vir die omroepers se gerief beman nie.

Die voorafgaande paragraaf is terloops iets wat omtrent by alle radiostasies voorkom.  Dit is beslis ook nie vermaaklik as ‘n volwasse man soos ‘n stout seun probeer op tree nie.  Dit is irriterend.

So . . . ek soek ‘n nuwe radio stasie.  Ek soek ‘n radiostasie wat op musiek fokus en dalk heelwat trivia gee.  Moet net nie strooi as feite verkoop nie.  Ek wil iets hoor wat ek nie weet nie, maar onthou ek weet baie.  Ek hou nie van praat radio nie en ek hou daarvan om heelwat Afrikaans te hoor.  Ek wil nie dieselfde advertensie die heeldag hoor nie.  Ek hou van ‘n omroeper wat sy mening lug, maar nie forseer nie.  Ek hou van nuusbrokkies af en toe en verkeersberigte waar ek ry sal ook waardeer word.  Ek ry baie in Gauteng rond en ek wil dekking in die hele Gauteng hê.

Is daar so ‘n stasie in Gauteng?

Terloops, ek sien Jakaranda na-aap Smile FM skaamteloos.  Ek luister graag na Smile in Kaapstad, dus weet ek dat hulle lank voor Jakaranda Secret Sound gehad het.  Hulle het ook lank voor Jakaranda Rubbish Riddle gehad.  Daar was ander goed ook, maar ek het dit al vergeet.

Hoe voel julle oor Radio?

Blogvraag:  Waaruit kom die volgende woorde:  “And now we meet in an abandoned studio, We hear the playback and it seems so long ago, And you remember the jingles used to go . . . ”

 





Een groot getewery

7 03 2019

Angry dog

Wat noem ‘n mens ‘n blog wat van meer as ‘n 1000 artikels in jaar tot net 8 artikels in 2018 geval het?  Gevrek?  ‘n Monument?  ‘n Vermorsing van goeie kuberspasie?  Ek weet nie.  Persoonlik noem ek dit Herriemerrie.  Daar is nog ‘n Merrie (Kleinmerrie is al 7 en daar is ook intussen ‘n Wildemerrie) en sy is nog vol herries, maar as die gewoonte eers slapgelê is, dan vat dit besonders baie moeite.

Van die os, na die jas – as daar nou een ding is wat my niere vergruis, is dit daardie arme mense wat onder die staat se sorg vergaan het van die honger.  In vandag se tyd.  Snaaks, toe hulle nog kon skop, het niemand regtig omgegee nie.  Nou word hulle as ‘n wapen en ‘n goue gans ingespan.  Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Diegene wat verantwoordelik was, hoort agter tralies.  Nogtans, dink ek dat die uitbetalings nie aan die pasiente se families moet gaan nie.  ‘n Mens gaan tog nie binne ‘n dag of twee dood van die honger.  Waar was die liefdevolle familielede toe die arme mense nog gehelp kon word?  Ek het gelees van die een siel wat sy/haar honger met karton probeer stil het.  Was dit nie toe die tyd om namens die arme mense te praat nie.  Neem die geld, en bou behoorlike fasiliteite om bestuur te word deur mense wat ‘n duiwel kan omgee.  Maak ‘n LEWE vir die oorlewendes.  Moenie mense beloon wat hulle gestremde familielede onthou het toe hulle geld gesien het nie.

Van die tragedie gepraat, die DA is mos deesdae die mense se onaangesteelde (en seker ook ongewensde) advokaat.  Goed en wel.  Noudie dag word ek gebel met die wortel dat ek die DA leier kan ontmoet as ek na een of ander vergadering toe kan gaan.  Ek het hulle vertel om te gaan vlieg.  Ek het letterlik gesê dat ek niks van die vent hou nie en geen begeerte het om hom te ontmoet nie.  Almal weet my politieke opleiding kom uit Animal Farm.  Het die man enigsins iets te sê behalwe hoe sleg die ANC is?

Toegegee, die DA kon ‘n R2 biljoen verlies binne ‘n jaar omkeer in ‘n wins in Pretoria.  Dit wil gedoen wees.  Hulle mag poepholle wees, maar ten minste steel hulle nie.  Hulle veg ook vir eiendomsreg  Beslis ‘n beter alternatief as die ANC, al kan ek niks goeds sê van hulle leier nie.

Mense, hoe blatant kan mense in magsposisies wees?  Genade!  ‘n Louis Vuitton sak vol geld.  Dan nogal kom dankie sê vir die goeie smaak in handsakke.  Hoe de hel enige iemand die regering kan vertrou, is bo my begrip.  Hulle is deur-en-deur VROT.  Hoe het Fiela nou weer gesê:  As ‘n geslag eers vrot is, is hulle later slegvrot.

Ek sou kon doen met R230 miljoen.  Toegegee, ek het nie in die laaste trekking gespeel nie.  Ek het een kaartjie gekoop en R15 daarmee gewen.  So ek het seker ‘n wins gemaak.

Praat van slegte geslagte . . . mense stel deesdae nie meer belang om geld te maak nie.  Almal het of te veel of het geleer om soos hulle gekose leiers te steel.  Hoe moeilik kan dit wees om ‘n skatting te gee van hoe lank jou kar buite aksie sal wees vir hersteldiens.  Ons praat hier nie van ‘n dag nie, maar vir etlike dae.  Hoeveel, kan niemand jou sê nie.  Waag dit nou net om nie te betaal wanneer hulle uiteindelik klaar is nie.  Hulle wil dan niks weet van wag nie.

Vir nou is dit seker nog my kar.  Wat gaan gebeur met die nuwe onteining strooi, weet die vet alleen.  Ek het simpatie met iemand wie se grond gesteel is.  Regtig.  Ongelukkig ken ek net niemand wat hulle huis / plaas verniet gekry het nie.  Die meeste middelklas idiote betaal deur hulle ore vir die dak oor hulle koppe.  As hulle nou die dak gaan verloor en nog steeds moet klaar betaal – gaan hulle ‘n tweede dak kan koop en dan behou?

Oor Eskom moet ek eerder stil bly.  Daar is min dinge soos Eskom wat my laat wonder hoekom ek nog steeds ‘n Suid-Afrikaanse burger is.  Dit en hoe pateties die rand teenoor ander geld eenhede is.

Wat kos petrol nou weer?  Dit laat kots my sommer.

Dalk moet ek eerder my vinger op my mond sit.  Duidelik het ek niks goeds om te sê nie.

O ja, Olga en Toortsie!  Die heks stuur groete.  Sy probeer haarself in Hogwarts inkry, maar die Engels sukkel so ‘n bietjie.





Wie nie ore het nie . . .

13 06 2016

Elke mens het seker maar een makabare plesiertjie.  Myne is dan seker om kommentaar op nuusberigte te lees.  Aan die een kant sukkel ek om te verstaan hoe iemand kan verwag om ernstig opgeneem te word as hulle skryf (spelling, taalgebruik) of redeneer soos ‘n kind.  So dikwels moet ek met afgryse onthou dat dit mense is wat geregtig is om te stem wat so dink.  Geen wonder dat Churchill gesê het:  “The best argument agains democracy is a 5 minute conversation with an average voter.”

Soos altyd het ek sommer al by my inleiding van die punt af gedwaal.  Ironies dat ek wil blog.  Dit is seker ‘n sprekende voorbeeld om die splinter in ‘n ander se oog raak te sien.  Waaroor ek eintlik wil teef is die regverdiging wat mens vir die booshede van die wêreld het.

Pretoria het byvoorbeeld die jaar ‘n paar aanvalle in reservate en Klapperkop gehad.  Soos klokslag word die verwyt geuiter:  “Wat het hulle in die eerste plek daar gesoek.”  Dus, omdat jy as ‘n belastingbetaler gedurf het om ‘n reservaat wat jy onderhou te probeer geniet, verdien jy om aangerand, beroof, verkrag en selfs vermoor te word.  Die reservate behoort aan struikrowers, aanranders en moordenaars.  Jy, as ‘n vrye burger van die land, beter eerder by die huis te bly.

Onlangs was daar ‘n geval van ‘n pa wat sy 20 jarige seun met ‘n staalstaaf doodgeslaan het.  Goed en wel, ‘n 20 jarige hoort nie in graad 11 nie en sy vingers behoort nie in sy ma se handsak nie.  Regverdig dit egter die pa om hom dood te slaan?  Dit maak my siek hoeveel mense vir die pa simpatie het.

Die naweek was daar weer ‘n massaskieter wie se kop in Amerika uitgehak het.  Die vent was gegrief daarmee nadat hy twee gay mans in die openbaar sien soen het.  Iewers het hy by ISIS aangesluit.  Saterdagaand is hy met ‘n outomatiese wapen na ‘n gay nagklub waar hy 50 mense doodgeskiet het en meer as 50 beseer het.  Dadelik was iemand reg om dit te regverdig met “Om gay te wees is sonde.”  Gee dit nou regtig iemand die reg om met ‘n masjiengeweer op mens los te bars?

Ongelukkig kan goeie oordeel nie gekoop word nie.  Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Florida het nog steeds die doodstraf.  Die ter dood veroordeelde mag kies hoe hulle ter reg gestel moet word.  Wat is hulle keuses?

Breinlosbrand:  1933





Is dit hoe trots jy op jou taal is?

14 09 2015

imagesCAYER6AD

Ek moet seker begin om te erken dat ek nie groot op tale is nie.  Dit was my swakste vakke op skool.  Daar was ook geen sprake dat ek ooit tale my beroep sou maak of verder daarin sou studeer nie.  Dit is ‘n vreeslike omslagtige manier om te beken dat ek beslis nie taalkundig perfek is nie.  Ek is seker die laaste een wat kan vingers wys.

As jy logika in reëls soek, gaan doen eerder Wiskunde of Wetenskap.  Daar is nie altyd logika in taalreëls nie.  Daar is nie eers noodwendig ‘n eenvormige reël nie.  Nogtans, is daar reëls wat toegepas moet word.  Een van die sodanige reëls is die dubbele ontkenning in Afrikaans.  As dit te hoogdawerend is, daar moet altyd twee NIE’s in ‘n sin wees.  Geen teen ook as nie.

Ek kan nog verstaan dat ‘n koerant adverensie nie altyd plek het vir die tweede NIE nie.  Tog sien ek deesdae dat bykans alle Afrikaanse nuusbronne die twee NIE vergeet.  Van Netwerk 24 waar daar verwag word dat jy vir swak Afrikaans moet betaal tot Maroela Media wat so vreeslik trots Afrikaans is.  Dit laat my altyd na die tweede NIE gaan soek en frustreer my grensloos omdat daar nie ‘n tweede NIE is nie.  Is joernaliste nog Afrikaans magtig?

Nie dat my taalvaardighede my ooit ‘n geskikte joernalis sal maak nie.  Dalk moet ek by die gepeupel bly.  Die trotse Afrikaners wat so hard vir Afrikaner regte baklei op elke platform wat hulle kry.

As jy ‘n trotse Afrikaner wil wees, moet jy ten minste soos ‘n trotse Afrikaner klink.  Geen redelike volwassene sal ‘n argument van ‘n kleuter ernstig opneem nie.  As jy dan soos ‘n kleuter skryf, hoe kan jy verwag dat iemand jou ernstig gaan opneem.  Ek het simpatie met ‘n moedswillige sleutelbord en spell check, maar daar is ‘n duidelike onderskeid tussen tikfout en spelfout.  Een spelfout is nog gangbaar, maar die herhaaldelike verkeerde spelling van ‘n eenvoudige word?  Jy leer mos al op laerskool wanneer dit ‘n i of ‘n u, ‘n v of ‘n f is.

As jy nou opsluit moet vloek, dan is dit die F.  Ek verstaan!  Daardie les was nie op die skoolbanke gedek nie.

My niere word nog steeds met anglisismes vergruis, maar ek het al daaroor gekerm.

Is jy ‘n Taal-Nazi?  Wat dryf jou teen die mure uit?  Is daar vandag nog plek vir taalreëls en spelreëls? Wat van leestekens? Hoekom is dit warm, maar darem?  Watter reëls maak vir jou geen sin nie?

Breinvasbrand:  ‘n Baie gewilde liedjie van André Schwartz het ook die tweede nie weggegooi.  Watter liedjie is dit?

Breinlosbrand:  Olga was amper reg.  “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ´n kind aandoen nie.”





Die eend soek sy dam terug

7 09 2015

Ek erken!  Ek kom deesdae selde by TV nuus uit.  Ek bly maar op hoogte deur wat ek op die radio hoor, opskrifte op Netwerk 24 deur te draf, ‘n paar artikels op Maroela Media te lees en as iets my regtig kielie, dit in Engels te gaan soek.  Maroela probeer, maar dit is nie op dieselfde standaard as Beeld nie.  Tog sien ek nie die nut in om vir nuus te betaal wat ek verniet in Engels kan kry nie.  Hoekom hoef ‘n mens nie vir artikels op News 24 te betaal nie?  Ek ruik ‘n boereverneukery, maar kom ons laat dit daar.

In elk geval, Vrydagaand was ek vir ‘n verandering betyds vir die nuus op SABC 2.  Goed, ek weet dat voorvalle van moord, atlete in tronke en korrupsie so vollop is, dat dit die heeltyd soos ou nuus voel.  Die Rand se prestasie sal ‘n mens se hele naweek beduiwel.  Ek kan die versoeking verstaan om na ander nuus te gaan soek.  Ek kon egter met ‘n veertjie omgetik word dat ‘n bakleiery op ‘n skoolgrond nasionale nuus kan haal.

Vir diegene van julle wat die aardskuddende nuus gemis het.  Twee hoërskoolmeisies het mekaar op die skoolgronde gegryp en mekaar begin slaan dat die bloed geloop het.  Dit was natuurlik weer op selfoon verewig.  Die onderwys departament is geskok en wil nou ondersoek kommissies aanstel en onderwysers oplei om die geweld by skole te hanteer.  Hulle is veral geskok dat die ander leerlinge niks gedoen het om die meisies uitmekaar te haal nie.

Asseblief tog!  Gee tog die blerrie eend sy dam terug!

‘n Bakleiery op skoolgronde gebeur – ook tussen meisies.  Ek kan twee insidente op hoërskool (waar daar nie ‘n problem met geweld was nie) onthou waar meisies mekaar te lyf gegaan het.  Is dit aanvaarbaar?  Nee!  Is dit TV nuus of selfs die dorpskoerant werd?  Nee!  Dit is kinderbog en behoort soos kinderbog hanteer te word.  Kommissie van ondersoek en opleiding om skoolgeweld te hanteer!  Bou ‘n nasie en red ‘n volk!

Die skool het wel ‘n paar vrae om te beantwoord.  Soos byvoorbeeld waar is die onderwysers wat aan diens behoort te gewees het.  Ek gee toe dat ‘n mens die een meisie in besonders nie in ‘n donker stegie wil raak loop nie.  Nogtans, is dit so moeilik om twee meisies uitmekaar te pluk?  Al moet ‘n mens ‘n groot emmer koue water nader sleep?  Behoort die skool aksie te neem?  Beslis!  Ek vermoed dat hulle vinnig sal leer om mekaar te verdra as hulle die skoolterrein na ‘n sportbyeenkoms moet opruim.

Wat van die kinders wat dit gade geslaan het?  Dalk nie ‘n eerbare reaksie nie, maar wel menslik.  Gaan slaan more die persoon wat die wit waks uit jou irriteer en kyk wat die mense se reaksie is?  Die mens se beskawing is maar baie dun.

Goed, ‘n vuisslanery gaan seker as geweld deur.  Nogtans stem ek met die hoof saam dat dit ‘n eenmalige gebeurtenis is.  Nie iets wat op TV verkondig behoort te word of waarmee die onderwys departament hulle moeg behoort te maak nie.  Mens sou dink hulle is te besig om I-Pads te tel en die swart kinders in Afrikaanse skole te tel.  Wanneer raak ‘n bakleiery nou wel ‘n probleem wat ingryping van buite benodig?

Wanneer bakleiery die norm in plaas van die uitsondering word?  Wanneer niemand meer die moeite wil doen om dit te verfilm nie?  Die oomblik wanneer daar wapens is?

Wat dink julle?  Is ‘n bakleiery op skool nuus?  Wanneer is dit te erg?

Breinvasbrand:  Met wie slaan Johnny in Dirty Dancing vuis?

Breinlosbrand:   Olga en Kameel was reg met Ripon, Wisconsin, VSA.





Stank vir Dank

22 03 2015

In Suidelike Afrika het Cecil John Rhodes ‘n fortuin gemaak, beslis nie vriende nie.  Ek vermoed nogal dat die vernietiging van sy standbeeld baie stoere Afrikaners se harte sal laat sing.  Rhodes het immers geen ooghare vir die Boere gehad nie.  Hy het beslis ook geen respek vir nie-blankes gehad nie.  Daar is beslis rede om hom te verag.  Nogtans was ek nog altyd iemand wat geglo het dat jy die duiwel moet gee wat hom toekom.

Die media het onlangs gegons oor studente wat Rhodes met alle geweld en bollie van die Universiteit van Kaapstad wil verwyder.  Hulle voel dat hy ‘n simbool van verdrukking, rassisme en kolonialisme is.  Iets wat Rhodes se bors waarskynlik sou laat swel het van trots.  Natuurlik is daar ook nou mense wat graag Rhodes Universiteit in Grahamstad se naam wil verander.  Nog ander wil die Rhodes uit die Mandela Rhodes Beurs gaan haal.  Toegegee, Rhodes sal waarskynlik nie oor die laasgenoemde kla nie, mits sy geld ook uit die beurs gehaal word.

Daar is natuurlik ‘n rede hoekom Rhodes se standbeeld in UCT is en hoekom die universiteit in Grahamstad na die mannetjie vernoem was.  Rhodes het die nodige skenkings gemaak waarop die universiteite gebou is.  ‘n Standbeeld en vernoeming is seker die minste wat uit dankbaarheid gedoen kon word.  110 jaar later, is dit egter nou ‘n belediging.  Ek wonder of Rhodes se geld en / of grond aan sy boedel terug besorg gaan word.

Amper vergeet ek.  Rhodes het homself groot ryk uit Afrika gesteel.  Hy was seker nou nie die eerlikste sakeman ooit nie, maar het hy regtig alles gesteel?  Indien wel, wat van die Oppenheimers, die Ruperts en die Motsepe’s?  Gaan al Suid-Afrika se super rykes oor dieselfde kam geskeer word?

Baie mense stem saam dat Rhodes nie op UCT hoort nie, maar verkies dat die standbeeld eerder geskuif word.  Malema skree weer dat alle Apartheidssimbole vernietig moet word.  Soos in gryp ‘n hamer en vee plat.  Is dit wat regtig nodig is?  Kan daar nie net nuwe standbeelde opgesit word nie?  Rhodes, Botha, Van Riebeek en Kruger was deel van die geskiedenis.  As hulle dan nie vereer kan word nie, kan hulle herinner dat Geskiedenis nie herhaal moet word nie.

Ek verstaan ook dat die UCT studente voel dat die universiteit te Europeërs is.  Hulle soek ‘n Afrika universiteit.  As ‘n stoere Tuks alumnus gee ek toe dat UCT een van die beste universiteite op die kontinent is.  😉 Amper so goed soos Tukkies.  Min mense sal hulle neuse vir UCT optrek.  Dit is beslis nie te danke aan die Afrika insae nie.  Ek glo beslis ook nie UCT sal hoog aangeskryf word as dit ‘n Afrika universiteit word nie.

Wat sal sal tog word van Afrika se jeug?

Breinvasbrand:  Wie het die Rhodes Monument ontwerp langs UCT?

Breinlosbrand:  Olga was reg met London.

 

 





Wragtig alweer?

25 02 2015

Rondomtalie het dit genoem en gister was dit orals nuus:  Die poskantoor gaan staak.  Alweer!

Net om julle geheue te verfris, hulle het in 2014 vir 3 maande lank gestaak.  Die staking is 3 maande terug eers beëindig.  Aanvanklik het dit nie juis gepla nie.  Totdat jy iets van oorsee af bestel en eers later onthou die poskantoor staak.  Gelukkig het jy die versekering opsie gevat, maar jy sal nogal verkies dat jou aankope nie uit beginsel verwoes word nie.  Skielik ontvang jy rekeninge per MMS en / of epos.  Jy besef ook dat koeriers baie meer gerieflik as die poskantoor is.  Boonop is hulle nie so duur as wat jy gevrees het nie.  Jy sien amper nie meer die nodigheid van ‘n poskantoor in nie, behalwe vir jou internasionale pakkie wat gyselaar gehou word.

Tel dit werklik as ‘n staking as daar in elk geval nie veel gedoen word nie?  Nadat die staking opgeskort was, het dit nog 2 maande geneem voordat my pakkie afgelewer is.  Twee poskaarte wat ek in dieselfde tyd gestuur het, het een letterlik drie dae gelede sy bestemming bereik en ‘n ander is nogsteeds ‘oppad’.  Ek het in 2011 vyf kalenders in die pos gegooi.  Net twee het hulle bestemming bereik.  Julle sal verstaan hoekom ek nie veel vertroue in die poskantoor het nie.

Alhoewel, die werkers het tydens die staking bewys al doen hulle min, is dit skadelik as hulle absoluut NIKS doen nie.  Koerante het gepraat dat die land lam gelê is met die staking.  Skade is beslis gedoen, maar wie het nou regtig die meeste gely?  Epos / MMS state is nie net meer betroubaar en gerieflik om te ontvang as geposte state nie, maar aansienlik minder moeite en goedkoper.  UNISA wat nie take en studentebriewe kon uitstuur tydens die staking nie, het hulle kontrak met die poskantoor beëindig.  Daar word ook gepraat van ‘n reddingspakket vir die poskantoor.  Afriforum voer aan dat die SAPO verbruikers R180 miljoen skuld vir kompensasie vir die laaste staking.

Dinge lyk nie goed vir die poskantoor nie.  Wanneer ding nie goed vir die organisasie lyk nie, lyk dit beroerd vir die werkers.  In plaas om hand in eie boesem te steek en te besin oor die skade wat hulle reeds aangerig het, beplan hulle nog ‘n staking.  Hulle is selfs verwaand genoeg om ‘n 15% verhoging te eis.  Die nuwe hoof wat na die staking aangestel is, moet al klaar weer wyk.

Gaan hulle wegkom daarmee?  Waarskynlik!  Die staat het alreeds aangedui dat hulle ‘n groter pond vleis van belasting betalers gaan eis.  Hoekom word dit toegelaat?  Vet weet.  Ek hoop dat van die private maatskappye kan hand op steek en dalk die poskantoor nietig maak.  Almal weet tog dat jy nooit ‘n afperser gee wat hulle wil hê nie.  Waar kan jy in elk geval meer geld eis as jy weet jy verdien dit nie.  Dalk moet ons ‘n kultuur skep van bewys eers wat jy werd is en eis dan.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wanneer is Telkom van die Poskantoor geskei?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Heidelberg





Wie kom beurtkrag toe?

25 01 2015

Ek belowe plegtig dat ek net een keer in 2015 oor hierdie onderwerp sal kerm.

My moermeter spring dadelik verby rooi as ESKOM met hulle dreigemente oor beurtkrag kom.  Julle ken dit:  verminder julle krag gebruik met 10 % of ons verminder dit vir julle.  Ek praat nie eers daarvan wanneer beurtkrag ingestel word of as die kabels (alweer) gesteel word nie.  Waar dit by elektrisiteit kom, is my geduld maar min.  Mense soos Tony Ehrenreich help natuurlik net niks.  Dit is die mannetjie wat eers aangevoer het dat beurtkrag rassisties is en toe weer voorgestel het dat rykes die juk van beurtkrag moet dra.

Is elektrisiteit ‘n reg of ‘n voorreg?

Vanuit my boom lyk dit asof dit in Suid-Afrika ‘n reg en ‘n voorreg is.  Elektrisiteit is jou reg as jy onder ‘n sekere inkomste en/of ‘n sekere ras is.  Anders is dit ‘n voorreg waarvoor jy ten duurste moet betaal.  Ek het eendag gelees dat die sotte in Pretoria omtrent dubbel vir elektrisiteit betaal om elektrisiteit vir die armes te subsideer.  Ek glo dit heeltemal.  Veral nadat ek verneem het dat daar mense is wat presies die helfte betaal per eenheid as ek.

Dit laat my oor drie dinge wonder:

  1. Hoekom kan mens nie elektrisiteit aankoop soos selfoon lugtyd nie?  Almal betaal dus Rx / eenheid ongeag wie jy is en waar jy bly.  Hoekom is die verskillende tariewe nodig?
  2. Hoekom moet diegene vir wie elektrisiteit ‘n voorreg is, betaal om vir ander ‘n reg tot elektrisiteit te gee?  In dieselfde asem:  hoekom moet diegene wat verniet elektrisiteit kry, minder ongerief verduur as diegene wat betaal vir hulle elektrisiteit?  Nee, regtig, my kop is te plat vir die vraag.

Verwag ESKOM regtig dat mense nie ‘n drupel krag moet gebruik tussen 5 en 9 in die aand nie?  Regtig?  Moet mense hulle kinders vuil, honger en vroeg bed toe stuur?  As ‘n mens eers na 5 by die huis kom, moet jy in die donker sit omdat ESKOM nie instandhouding gedoen het soos hulle moes nie?  Een van die hoofredes hoekom mens tog elektrisiteit het, is tog om van die donker gespaar te word.  Hoekom iets hê, wat jy nie mag geniet nie?

Hoe bespaar mens 10 % elektrisiteit?  As jy net twee keer ‘n dag jou ketel kook vir koffie en jou mikrogolf gemiddeld 5 minute ‘n dag gebruik?  As jy nie ‘n lugverkoeler, verwarmer of selfs ‘n waaier gebruik nie?  As jy nooit jou haardroër gebruik nie?   As jy dalk net so twee keer ‘n maand jou stoof gebruik?  As jy net een bondel wasgoed ‘n week was en nie eers by jou huis stryk nie?

Moet jy dalk 10% van jou weeklikse gebruik spaar?  As jy dus 14 koppies koffie ‘n week tuis drink, moet jy met 1.4 koppies afskaal.  Jy moet dus seker net 12 koppies ‘n week drink.  Jou yskas net 6 dae gebruik en sommer jou geyser laat uithaal sodat jy dit nooit kan gebruik nie.

My punt is dat die mense vir wie elektrisiteit ‘n voorreg is, al reeds so min as moontlik gebruik.  Moet hulle heeltemaal ophou om elektrisiteit gebruik?  Dalk net aanhou betaal vir die armes se gerief?

Praat van welvaartsbelasting.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan ESKOM?

Breinlosbrand:  Die antwoord wat ek het is Piggly Wiggly.





Mostert na die maal

8 05 2014

Ek wou nog ‘n paar gevleuelde woorde spreek oor die verkiesing.  Helaas het die verkiesing gekom en gegaan voordat ek my bek daaroor kon rek.  Ja, ja; ek hoor die algemene sug van verligting.  Nogtans het ek ‘n paar gedagtes.

Die Pieter Mulder se aanval op Bobby van Jaarsveld se brief het my nogal ‘n paar minute in die verkiesingstou geamuseer.  Mulder het op ‘n stadium laat waai met:  ““Hy (Bobby) leef v[ir] Afr[ikaans], maar kies DA wat in [die] Parlement nie vir Afr[ikaans] veg [nie]. Hou liewer by musiek – moet [nie] pol[itieke] onkunde wys [nie].”  Mulder het seker op die stadium weereens Churchill se “The best argument against democracy is a 5 minute discussion with the average voter” heelhartig beam.

Nie dat ek met Mulder se sentimente saamstem nie, maar oom Churchill was nie jou gewone dom bitterbek nie.  Soos die verkiesingresultate instroom, moet ek weereens my kop skud vir die gemiddelde kieser.  Nasionaal loop die ANC met meer as 60 % van die stemme voor.  Die gemiddelde kieser het dus hulle kruisies met mening vir die ANC getrek.

Ek is verstom dat enige regdenkende mens vir die ANC kan stem.  Asof die hopie SANRAL rekeninge nie genoeg is om vir EAPADANC (enige ander party as die anc) te stem nie, laat min dinge so ‘n bitter smaak in my mond as Nkandla.  R250 mil kon ‘n skaflike duik in die Gauteng paie opgradering gemaak het.  Pad opgraderings wat veronderstel is om uit brandstofheffings betaal te word.  Dit bring my by die ekonomie en die gewoonte stakings wat dit nog net meer opdinges.  Swak ekonomie, dus minder geld vir noodsaaklike dienste soos onderwys en gesondheid.  Beide iets waaroor ons eerder nie praat nie.  Ek voel genope om weer op my seepkissie te klim oor die mors van my belasting geld.

Kom ons volstaan daarby dat die ANC nie het wat ons benodig om die land op sy voete te hou nie.  Boonop is daar iemand aan die stuur van sake wat jy nie met 5 c kan vertrou nie.  Die enigste manier om van hulle ontslae te raak, is om hulle uit te stem.  Waarom, o waarom sal enige iemand hulle kruisie vir die ANC trek?  Beteken ‘n SASSA kaart en kombers so baie?  Dit is tog immers nie die ANC wat die SASSA kaarte en komberse betaal nie.

Terloops, is dit net ek wat geskok is met die aantal partye op die kieslys waarvan ek nog nooit gehoor het nie?  Ek verstaan dit kos iets soos R600 000 om ‘n politieke party te registreer.  R600 000 elke 5 jaar!  Hoe bekostig party soos KISS dit?  Toegegee, ek dink KISS staan al van 1994 af, al het hulle op die oomblik ongeveer 2500 stemme.  Glo hulle aan aanhouer wen?  Wat nog van die 13 partye waarvan ek nog nooit gehoor, geruik of gesien het nie?

Dit is ‘n skrikwekkende gedagte dat die gemiddelde kieser die lot van die land in hulle hande hou.  Helaas!  Maar weereens het Churchill weer ‘n wysheid.  “”Democracy is the worst form of government, except for all those other forms that have been tried from time to time.”

Viva Suid-Afrika!  Vir wat dit werd is.

Breinvasbrand:  Wie is die hoof van die EFF?

Breinlosbrand:  Olga was reg met  België.