Gauteng Bestuurders

29 12 2010

Ek is nie ‘n getroue Gautenger nie.  Iewers het ek met die verloop van jare geleer hoe om soos ‘n gesoute Gautenger te bestuur.  In die land van Rome moet jy mos maak soos die Romeine.  As jy nie die ongeskrewe reëls van die provinsie volg nie, gaan jy elke dag gevloek word.  Gautengers het nog geduld met die besoekers aan die provinsie, maar daar is geen genade met een wat ‘n GP kar rondry nie. 

Gautengse bestuurders is natuurlik in geen ander provinsie welkom nie.  Hulle word as verwaand, arrogant en uiters slegte bestuurders gesien.  Niemand kla natuurlik as die Gautengse geld soos water stroom nie, maar dit is ook al van Gauteng wat goed en reg is.  Geld is stom, maar almal het ‘n bek vol van hoe daardie geld verdien word.  Maar ek dwaal af . . .

Gauteng bestuurders word besonders haastig gesien.  Ek stry nie, almal sal haastig wees as jy op ‘n gereelde basis ‘n uur of 3 vassit in die verkeer.  Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie, as jy ‘n tydjie kan spaar met jou voet in die hoek, dan vat jy dit.  Blykbaar neem die verkeer op die hoofpaaie jaarliks met 21 000 karre toe.  Dit klink verskriklik, maar volgafstand is ‘n luukse.  Jy moet doodeenvoudig leer hoe om ‘n ruimte optimaal te benut.  Almal is haastig, as jy nie indruk nie, gaan jy eers in Bloemfontein of Polokwane die nodige afrit kan neem. 

Alles praktiese redes hoekom Gautengers ry soos hulle ry.  Dit is natuurlik voordelig ook.  Dit moet ‘n positiewe invloed op jou reflekse hê en dit hou jou op en wakker.  Dit is ook ‘n uitstekende manier om te ontstres.  Dit help jou ook natuurlik om senuwees van staal te kweek. 

Natuurlik is dit ver van logies vir die ander provinsies.  Plekke wat dink dit is ‘n verkeersknoop was daar meer as twee karre gelyk by ‘n robot is.  Hulle sien net nie die voordele van die Gauteng-bestuur in wanneer hulle saam met jou ry nie.  Hulle is veral blind wanneer jy nie by ‘n kruising wil kamp in hulle dorpe nie en vinnig deurskiet nie.  TSK!

Wat het geword van gasvryheid en leer van nuwe vaardighede?

Hoe voel julle oor Gautengse bestuurders?

Breinvasbrand:  Wie is die premier van Gauteng?

Breinlosbrand:  Anaphylaxis, hoewel DMI se beskrywing is ook reg.