Ek het eendag iewers gelees dat tot 71 persent van mense vervaldatums nagaan voordat hulle iets koop. Ek neem aan dat dit veral waar is met goed wat ‘n hoë risiko het. Soos hoender, of dit nou gevries is of nie. Dit bly ‘n salmonella fabriek en kan jou dae lank in die toilet hou. Natuurlik op ‘n manier waar jy nie so lekker seker is watter kant moet na die bak gedraai wees nie.
Rapport het Sondag met ‘n ander ding vorendag gekom. Supreme Poultry wat gevriesde pakke hoender verskaf verwerk hulle hoender nadat die vervaldatum bereik is. Hulle ontvries glo die hoender, was dit, spuit dit vol pekelwater en plaas dit weer terug in die mark. Supreme Poultry verskaf hoender aan Pick n Pay en Shoprite winkels. Ek het gehoor, maar kon dit nie bevestig nie, dat hulle ook hoender aan KFC en Nando’s verskaf.
Hulle reken dit is heeltemaal wettig en dat dit vir menslike of dierlike gebruik aangewend kan word. Dit is glo ‘n algemene praktyk onder hoender verskaffers. Ek vind dit besonders interessant dat hulle reken dat dit nie noodwendig nog ‘n jaar op die rakke gaan wees nie. Dit is genoeg om maar in die toekoms jou eie hoender te slag, dan weet jy darem wat gebeur daarmee.
Vandag het die prentjie so ‘n bietjie verander. Hulle erken nog dat hulle die hoender verwerk, maar reken dat dit nie vir menslike gebruik is nie. Terselfde tyd is hulle ‘n bietjie vaag oor waarvoor dit dan gebruik kan word. Hulle stel dit wel duidelik dat dit nie aan enige kettingwinkel verskaf is nie. Een van die bronne wat met Rapport gepraat het, wil glo die maatskappy in onguns bring nadat hy oor seksuele teistering afgedank is.
Snaaks hoe die woordvoerders nie dieselfde storie het nie.
Die verwerking van hoender is nie ‘n aangename gedagte nie. As die hoender dan veilig genoeg is vir menslike gebruik, hoekom gee hulle dit dan nie vir liefdadigheidsinstansies nie? Goed, geld groei seker nie in hulle pekelwater nie. Dit is blykbaar iets wat hulle al vir jare doen. As niemand so ver dood is nie, maak dit dan regtig enigsins saak?
Dit bly nog steeds gross. Hierdie is dalk ‘n geval van wat die oog nie sien nie, die hart nie kan seer maak nie. Ek wonder nou hoe word ander vleise verwerk? Dink julle hulle verwerk spek en viennas ook? Wat nog van iets soos eiers en melk? Het ‘n vervaldatum enigsins ‘n nut?
Breinvasbrand: Watter jaar het Nando’s tot stand gekom?
Breinlosbrand: Olga was reg met Danny en Chacha
Wie runnik saam?