Shopping Survival Guide

13 12 2010

Ek moet nog die mens ontmoet wat uitsien na die inkopies net voor Kersfees.  Haal diep asem, ontspan, plak ‘n glimlag op jou bakkies en onthou dat dinge erger kan wees. 

Hoe?  Jy kan die persoon wees wat heeldag op jou voete is en die suurgesig kliente moet help.  Teen minimum loon terwyl jy graag self jou inkopies wil afhandel en self eerder by die huis wil wees.  Die kassiere en ander helpers werk maklik 12 ure of selfs meer in die tyd.  Dit vat nogal aan die mens. 

Hou ook in gedagte dat al die bewaarskole in Desember toe is en in elk geval nie tot so laat soos die mense moet werk oop is nie.  Die ma’s (en pa’s) is waarskynlik boonop bekommerd oor hulle bloedjies se veiligheid terwyl hulle moet werk.  Ek weet van gevalle waar mense die Nuwejaar eerder werkloos in is as om hulle kinders so aan die genade oor te laat.  Baie werkgewers voel doodeenvoudig ‘n veer en sien nie rede in nie.  Is jy nie nou bly dat jy voor die kasregister staan in plaas van agter dit sit nie?

Die meeste plekke het tot die 23 ste Desember verlengde ure.  Baie mense glo vas dat die beste manier om die skares te vermy is om so vroeg as moontlik winkels toe te gaan.  Hulle vorm dan so in hulle ywer ‘n skare op hulle eie.  Almal het wel een ding in gemeen.  Hulle wil so gou as moontlik by die huis kom.  Tussen 6 en 7 is die meeste winkels hanteerbaar en baie bly oop tot 8 uur of 9 uur.  Almal is ook sommer meer ontspanne ook en jy word vinniger gehelp.

Op die punt, onthou dat die meeste mense na die groot sentrums toegaan.  Dit sluit die plattelanders in wat vir die dag stad toe kom om al hulle inkopies te doen.  Gaan dus na die ouer of meer onbekende sentrums toe.  Hulle pryse is ook nie gelaai met ekstra huur of net omdat hulle kan nie. 

Beplan vooraf wat waar gekoop moet word.  As jy met geen idee winkel toe gaan, is die kanse goed dat jy tyd gaan vermors met ronddwaal.  Die winkels maak dit ook nie juis makliker om geskenke te kan kies nie.  As jy eers moet rondkyk, vat ‘n oggend om die winkels deur te werk.  Rus dan gou ‘n uur of twee in Beker en Boontjie en gaan koop dit dan.  Dink ook mooi oor saam met wie jy gaan inkopies doen.  Party mense draai net doodeenvoudig te veel en ander se ongeduld kan ook jou een van die Kersversierings teen die dak maak. 

As jy aan die lui en/of slordige kant is, die meeste sentrums het toedraai stasies.  Vat een of twee koeldranke saam om die werkers se dag te maak.  Onthou, hulle sien nie juis die geld wat jy vir die geskenke betaal nie.  Net die erkenning van hulle as mense, maak hulle baie meer lus om vir jou moeite te doen.  (Loer vooraf wie draai netjies toe en sorg dat jy by hom of haar uitkom.)

Laastens, onthou dit is die feesseisoen.  Boelie jouself in ‘n feestelike bui in en jy steek dalk ‘n paar ander suurknolle ook aan. 

Watter ander raad het julle?

Breinvasbrand:  Wie was die eerste kunstenaar wat in 1990 ‘n Afrikaanse album op CD vrygestel het?

Breinlosbrand:  Vir moord op sy vrou en haar minnaar.





Is daar erger?

13 12 2010

In 1972 het ABBA naam gemaak met ‘n liedjie genaamd Ring-Ring.  Dit gaan basies oor ‘n meisie wat in spanning wag vir die foon om te lui.  Iewers in die 80’s het Karen Hougard baie dieselfde tipe idee gehad met Lui Lui telefoon.  Mens sal dink met al vandag se tegnologie sal dinge verbeter het.

Jy sit nog steeds op naalde en spelde en wag.  Jou eposse kry net vervlakste gemorsposse.  Net om seker te maak gaan loer jy elke nou en dan in die spam boksie.  Selfs daar is daar niks nie.  Jou landlyn is doodstil, jy het al gekyk of dit werk.  Jy weet dat Facebook en Twitter nie jou antwoord gaan bring nie, maar jy kyk maar vir in elk geval.  Jy piekel die selfoon orals saam, maar jy kry nie eers soveel as ‘n miss call of ‘n please call me nie.

So rek die twee tot drie dae na meer as twee weke.  Bel of epos jy hulle, hoor jy dat hulle ook wag.  Geen nuus is veronderstel om goeie nuus te kry, maar sal iets so lank vat as dit goeie nuus is?  Hoe lank kan ‘n lyntjie wag voordat dit gebreek word?

Wag

Wag

Wag

Wag

En nog steeds wag jy in jou malle verstand in.

Wat het die mense eeue terug gedoen as hulle vir iets gewag het per skip?  Die skip het maande geneen om sy tog te voltooi, as dit die vaart oorleef het.  Dit kon in ‘n storm omgekom het, beroof gewees het, verdwaal het, gestrand het of sommer net gesink het.  Hoe het die mense dit uitgestaan?

En ek wag nog steeds . . . .

 





Kersfeesete 1

13 12 2010

Ek neem aan dat die meeste mense die week gaan begin afskaal.  Ek sal die week dus my speletjie op Kersfees baseer en volgende week een groot bielie uitdaging opsit.

Algemene Kennis

  1. Wie het Stille Nag geskryf?
  2. Wat was die Wyse Manne se geskenke?
  3. Wie was die eerste mens wat ‘n Kersboom met kerse versier het?
  4. Hoeveel kerse het ‘n Advent krans gewoonlik?
  5. Wie het in 1645 probeer om Kersfees nietig in Engeland te verklaar?
  6. Watter Kerstradisie is deur Henry Cole begin?
  7. Van watter land was St Nicholas gebore?
  8. Waar is Jesus gebore?
  9. Wie was die koning van Juda toe Jesus gebore is?
  10. Wie is Johannes die Doper se ma?




Tronk Werklikheid

13 12 2010

Het julle al die nuwe “Moenie drink en bestuur” veldtog gesien?  Dit is ‘n groep mans wat hulle romantiese drome uitspel.  Aanvanklik dink jy net dat die pot darem maar erg sal moet sukkel vir ‘n deksel, maar dan word dit duidelik dat dit ‘n groep gevangenes is.  Hulle wag vir jou as jy dronk bestuur.  Spesifiek om hulle nuwe “liefde” te wees.

Hierdie advertensie grief my geweldig.  Nie dat ek noodwendig simpatie met dronk bestuurders het nie.  Hulle besopenheid kan die direkte oorsaak wees dat iemand hulle lewe verloor, wat hulle nie juis iets anders as ‘n moordenaar maak nie.  Ek kla nie oor die feit dat hulle tronkstraf in die gesig staar nie – in die stilligheid dink ek dat hulle dit verdien.  Verdien hulle om wens dronkenskap verkrag te word?  Nee!  Niemand verdien ooit om verkrag te word nie.

Die advertensie gee seker die harde werklikheid soos dit is.  Ek kan dit seker nie teen die veldtog hou nie.  Jy weet tog immers dat 2 glase wyn jou oor die wettige perk plaas en dat jy ‘n kans vat om nogtans so te bestuur.  As jy dom is moet jy sukkel.  Die werklikheid van die advertensie grief my geweldig.

Dit is goed en wel om te sê dat ‘n dronk bestuurder so goed soos ‘n moordenaar is.  Tog, is hy/sy net onnadekend of kwaadwillig daarop uit om iemand te beseer of dood te maak?  Kan die persoon oortuig word om eerder glad nie te drink voordat hulle agter ‘n stuurwiel in klim nie.  Die kanse is nogal goed daarvoor, tensy die persoon ‘n volslae alkoholis is.  Daar gaan die rehabilitasie agter tralies nie veel doen nie.  Verdien die persoon werklik om van hulle menswees beroof te word?

Onthou, dit gaan nie eers noodwendig oor tronkstraf oor dronkbestuur nie.  Jy kan partykeer vir iets simpels opgesluit word, selfs as jy iemand verwurg wat ‘n kind te nakom.  Jy gaan maak eers vriende in die selle en daarna sal iemand miskien na jou luister.  As jy gelukkig is, neem dit ‘n paar uur.  Dit kan dae of selfs weke lank vat, selfs al is jy onskuldig.  Is jou veiligheid dan onbelangrik omdat jy jou vir ‘n tydjie aan die verkeerde kant van die gereg bevind?

Die idee is tog seker om te straf en jou te laat verander dat jy nooit weer dieselfde doen nie.  Die probleem kom in wanneer jou klein en meer saggeaarde misdadigers tussen die gehardes hulle man moet staan.  Dit is soos om ‘n meestersgraad in misdaad te behaal.  “If you can’t beat them, join them.” Jy was dalk eintlik ‘n goeie ou voordat jy in is, maar wanneer jy daar uitkom, is daar weinig verskil tussen jou en jou boeties daarbinne.

Dalk moet daar ‘n poging aangewend word om die geharde misdadigers te skei van die ouens wat in ‘n oomblik te ver gegaan het.  Voor tronkstraf is daar nog hoop vir hulle, maar die tronkstraf sal die hoop vernietig.  As daar geen ander uitweg is nie, behoort hulle nie by die hardebaard tronkvoëls uit te kom nie.

Hoe voel julle hieroor?

Breinvasbrand:  Waarvoor is Andy Dufresne in Shawshank Redemption tronk toe gestuur?

Breinlosbrand:  Trippel 7