Hoekom sal ek tog my tyd en energie aan ‘n VIGS skrywe afstaan? Soos iemand nou die dag uitgewys het. Almal is gatvol vir VIGS, hulle kry ‘n oordosis daarvan in die media en skool. Dit is in elk geval glad nie nodig nie. VIGS is ‘n siekte vir moffies en lesbene. Dit is hulle straf omdat hulle afskuwelike seksuele dade pleeg. Anders kry net swart mense dit. Dit kan ook nie anders nie. Soos die goed aanteel moet die natuur die getalle afbring. Dit raak my nie. Ek is ‘n heteroseksuele, wit vrou – ek weet nie eers hoe ‘n kondoom lyk nie. Ek is verhewe bo VIGS.
Nee, ek dink nie werklik so nie. Daar is wel baie mense wat presies so dink en wat waarskynlik sterk aanstoot gaan neem met wat ek gesê het en nog verder gaan sê. Eendag gaan daar dalk pille wees wat die MIV virus sal kan hok slaan, maar daar sal nooit pille vir sotlikheid wees nie. VIGS diskrimineer nie. As meer blankes dit besef het en in ag geneem het, sou die hoogste infeksies nie onder die blanke jong mense gewees het nie.
Nie almal wat MIV positief is het daarvoor gesoek nie. Dit is wel waar dat jy met ‘n verantwoordelike leefwyse jou kanse op MIV infeksie kan beperk, maar daar is geen waarborge nie. Neem nou die vrou wat in haar lewe net met haar man seks gehad het en dan die skoknuus verneem dat sy MIV positief is. Sy word dan boonop deur haar man verwerp as ‘n slet, terwyl sy deur hom die infeksie opgedoen het. Meneer is net nie bereid om dit te erken nie. Hy is nie gay nie, hy is nie swart nie, hy is nie vuil nie . . .
Wat nog van babas wat MIV van hulle ma’s gekry het? Hulle het niks gedoen waarmee hulle Vigs kon verdien nie. Daar is vandag nog mense wat deur bloedoortappings met MIV besmet word. Daar is verkragtings, besmette mediese toestelle, opsetlike besmetting. Alles goed waarteen nie een van ons gevrywaar is nie.
Nie dat ek met die regering se bewusmakingspogings saam stem nie. Dit is bloot net nie effektief nie, dit behoort verder te strek as net die bevordering van kondome. VIGS is die enigste siekte wat al ooit polities beskerm is. Dit kon dus nooit met aggressie aangepak en uitgeroei word nie. Aan die ander kant is daar geen ander keuse as om VIGS slagoffers (en daarmee saam ook VIGS) te beskerm nie. Wanopvattings en voordele vier vandag nog hooggety – en nie onder die onopgevoede ploerte nie.
Het jy al ooit daaraan gedink dat een van jou vriende dalk MIV positief is? Een van jou familielede? Hulle verkies dalk om dit vir hulleself te hou uit vrees vir jou minagting en verwerping. Genadeloosheid en ondeurdenke woorde skop die een wat lê nog verder. Asof hulle nie genoeg het waarmee hulle moet verwerk nie.
Ek het wel ‘n punt wat ek probeer maak. Tot die dag wat die algemene publiek se houding teenoor VIGS gaan verander, gaan dit beskerm moet word. Terwyl dit beskerm moet word, sal geen aanslag suksesvol wees nie.
Ken jy iemand wat VIGS het? Is jy bang vir VIGS-lyers? Sal jy een met die hand groet? Wat sal jy doen as een van jou vriende of familie jou vertel hulle is MIV positief? Sal jy bereid wees om die wêreld te vertel as jy MIV positief is.
As jy dalk nou selfvoldaan reken dat jy nooit in daardie bootjie sal kom nie, het jy ‘n probleem.
Breinvasbrand: Watter lid van Queen is dood weens VIGS verwante longontsteking dood, ‘n dag nadat hy erken het dat hy MIV positief is?
Breinlosbrand: Demoerin was reg met WikiLeaks.
Wie runnik saam?