Nuttelose Inligting oor Kerskaartjies, pos en Etes

22 12 2010

Voor die tyd van smse was daar ‘n tyd van Kerskaartjies.  Ons het altyd van November rond Kerskaartjies gekry en dit was altyd oor ‘n lyn in die sitkamer gehang.  Kerskaartjies suig deesdae ver aan die agterspeen.  Snaaks hoe ons in Suid-Afrika maklik die ou goed los wanneer daar iets nuuts op die horison verskyn.  Kersfees is ‘n familiefees en waar kom familie nou ooit bymekaar sonder om te eet?  Ek het hierdie stukkies inligting gaan uitkrap.

  • In Victorianse Engeland het die mense posbodes robins genoem omdat hulle uniform rooi was.
  • Die eerste Kerskaartjies is op 9 Desember 1842 in Engeland gemaak.
  • In 1937 het Oostenryk die eerste seëls uitgereik om Kersfees mee te herdenk.
  • UNICEF het in 1949 die eerste Kerskaartjies vir liefdadigheid gemaak.
  • In Oekraïne word die Kerstafel met twee tafeldoeke gedek.  Een van die doeke is vir die afgestorwe familielede en voorvaders en die ander vir die lewendige familie.  Dat spoke nou soveel kan mors.  TSK!!
  • In navolging van die Romeine en die Middeleeue, is dit vir die Britse offisiere tradisie om die kelners te wees vir die manskappe tydens die Kersete.  Die Romeine het lank voor Kersfees mos Saturnalia gevier.  Hiëragie was op sy kop gekeer, slawe was base en die gepeupel het die stad oorgeneem.
  • Gelukkig kan tradisie tog verander as dit nodig word.  In die vroeë Engeland het hulle tradisioneel varkkop met mostert vir ‘n Kersete geëet.