Ek het al in die verlede daaraan geraak. Party liedjies is stories, ander van hulle smeek net weer ‘n storie om saam met hulle te gaan. Ek is nie die enigste een wat daarmee gefasineer word nie. Dit word soms songfics genoem. Ek het my al lankal voorgeneem om meer daarvan te doen, maar ek sal seker vinger moet trek om dit ‘n realiteit te maak. Dus – hier is nog ‘n songfic poging. Laat weet my wat julle daarvan dink.

Daar is geen veiligheid in onsekerheid.
Enige verantwoordelike volwassene weet dat daar finansiële voorsorg getref moet word om ‘n sekere lewenstandaard te handaf. Lewensversekering en ongeskikheidsdekking vir as die broodwinner nie meer die witbrood onder die arm kan verskaf nie. Korttermyn versekering om die apostel perde in die stal te hou as jou voertuig beskadig of gesteel word. Regsversekering vir wanneer iemand die klap kry waarvoor daar gesmeek is. Mediese fonds vir as een in die gesin skielik ‘n hospital geval word. Kritiese siekte versekering en verskil dekking om seker te maak die mediese fonds skiet nie te kort nie. ‘n Nimmereindige lys van onheile wat om elke draai skuil waarvoor jy moet voorsorg tref.
Nadia Swanepoel aanvaar dit as verloop van die lewe. Onsekerhede behoort ontleed te word, die waarskynlikhede moet opgeweeg word en stappe moet geneem word om seker te maak dat die veiligheidsnet die nodige beskerming kan gee. Wat Nadia nooit kon klein kry is hoekom die enigste aanvaarbare veiligheidsnet vir volwassenes geld is?
Dit is tog die onsekerhede van ‘n meer persoonlike aard wat die meeste verwoesting saai. Geld kan van ‘n verskeidenheid bronne gekry word, maar ‘n hart wat in stukkies is, bly verwoes. Daarvoor kan jy geen versekering of dekking kry nie. Daar word verwag dat jy die wêreld droë-oog moet aankyk en kop omhoog aangaan sonder om iemand te verontrief. Dapperheid is nie ‘n veiligheidsnet wat geld kan koop nie.
Dit maak dus sin om die nie-finansiële onsekerhede te ontleed en te bereken. Sou jy weet wat op jou wag, kan jy die nodige voorsorg tref. Dieselfde beginsel as met finansiële risiko’s, maar iets wat die gemeenskap afkeur. Ekonome mag voorspellings maak, maar diegene wat lig op jou toekoms kan werp, word ten strengste veroordeel.
Nadia weet dit alles, maar sy weier om dit te aanvaar. Die ringe op haar linkerhand is veronderstel om haar ewige trou te waarborg. Nogtans is daar ‘n groot gat in die middel waardeur ‘n lus maklik glip. Hoekom nie bepaal of lus ‘n onsekerheid is waarvoor sy vroegtydige waarskuwinge in plek kan stel nie.
As dit nie reeds te laat is nie. Derek is die afgelope paar weke nie homself nie. Dinge is glo chaos by die werk, maar dit het nog nooit van te vore sulke afmetings geneem nie. Voorsorg is tog beter as nasorg, dus het Nadia haar navorsing op die internet gedoen. Nou staan sy en wag vir die kaartleser wat al meer as ‘n halfuur laat is. Was dit nie dat diskresie gewaarborg en Madame Skoppens as een van die bestes gesien was nie, het Nadia al lankal haar besigheid elders geneem.
Maar soos dit was, moes sy behoorlik pleit vir die afspraak. Madame Skoppens se dienste is baie gesog en dit kan nie van haar verwag word om agteroor te buig sonder behoorlike vergoeding nie. Nadia was desperaat, dit was nie asof Derek die geld van hulle rekening sou mis nie. Sy brein was elders.
Nadia moet haar rug styf teen die muur druk wanneer die swart slap motor by die oprit indraai. Die bestuurder se venster is oop, net genoeg dat Nadia die bevel wat van agter af kom kan uitmaak: “Huis, James.”
Die stem is koud en stuur rillings teen Nadia se ruggraat af. Sy probeer verby die bestuurder kyk terwyl daar vir die hek gewag word. Die koue stem se eienaar is gebaai in die skadu van die swart ruite. Nadia kan net vaagweg die swart kat wat op haar skoot gekam word uitmaak.
Onseker wat van haar verwag word, loop Nadia maar betreurd agter die motor aan. James het reeds die agterste deur oopgemaak en die lang, maer vrou – geklee in ‘n jas – klim net na die kat uit. Met ‘n rol van die hovaardige kop word Nadia beveel om haar te volg. Die vertrek waarheen Nadia geneem word laat haar weereens aan die wysheid van haar besluit twyfel. Dit is donker en Nadia verstik amper in die vrou se parfuum.
Die vrou staan ondersoekend voor Nadia en strek dan ‘n maer, benerige, bleek hand uit.
“Na . . . Natuurlik.” Stotter Nadia en plaas die dik rol oranje note in die palm.
Die geld word met ‘n honende lag aanvaar, voordat dit in die jas gedruk word en die vrou die jas uittrek. Dan, asof die honende lag haar melodie is, begin die vrou te dans terwyl sy die kerse aansteek. Toe die klok die uur slaan, gaan sit sy skielik en haar oë priem deur Nadia.
“Sit!”
Nadia sak teenoor die vrou neer. Dit voel of die vrou se deurskynende groen oë haar op die plek vaspen. Nadia is bloot te swak om die kyk te kan breek. Dit vat haar ‘n wyle om te besef dat die vrou met haar praat, dat die vrou haar hele geskiedenis aan haar skets. Insluitende die dele wat Nadia eerder sou wou vergeet . Selfs ‘n paar goed wat Nadia self nie geweet het nie.
‘n Pak kaarte word na Nadia geskuif met die opdrag dat sy daarop moet blaas. Te bang om te stry, gehoorsaam Nadia onmiddelik. Die swart kop vrou trek die kaarte terug en deel twee van bo van die pak af. ‘n Koningin en ‘n drie. Dit vrou begin murmer in een of ander iets wat Nadia nie kan verstaan nie. Die volgende kaart is ‘n Boer van Klawers en skielik word Nadia se vrees met onheil vervang. Madame Skoppens bekyk haar ook asof Nadia die duiwel self agter haar staan. As Nadia kon, het sy nou eerder met die onsekerheid geleef. Sy sou weghardloop, as sy net in staat was om te beweeg.
Dit is asof ‘n bose storm in die lang oomblik van stilte opbou tot die koue, afgemete stem die storm volbring.
“Die man wie jy lief is, is heimlik getrou aan iemand naby jou. My raad is dat jy die stof van my huis van jou voete afskud en vergeet dat jy my ooit gesien het.”
Daarmee is die spel wat Nadia gevange gehou het verbreek en kan sy in die nag weghardloop na waar haar kar langs die oprit staan. Sy spring in haar kar, met geen ander begeerte as om so ver as moontlik van die onheilsnes te kom. Wanneer sy swak teen haar voordeur terug sak, is alles te vergeefs. Sy kan nog steeds die dame van donkerte aanvoel.
Nadia was tot in haar murg uitgeput. Sy gaan kruip sonder meer in haar bed en hoop dat slaap gou vergetelheid sal bring. Maar daar is vir haar geen rus nie. In ‘n desperate poging om van Madame Skoppens se verswelgende parfuum ontslae te raak, gaan stort Nadia. Sy was haarself om van die ervaring skoon te kom, maar dit is vergeefs. Toe sy terug in die kamer kom, is die parfuum nog steeds daar.
Derek is weer laat. Te bang om alleen met haar gedagtes te wees, begin Nadia opruim. Sy trek die beddegoed af en gooi dit in die wasgoedmandjie. Terwyl sy die bed vars oortrek, besef sy dat die parfuum weg is. Verlig gaan borsel sy haar tande, net om weer met die parfuum in die badkamer gekonfronteer te word. Sy gryp die laken van die mandjie en daar is geen twyfel dat dit die bron van die parfuum is nie.
Nadia laat toe dat woede van haar besit neem. Sy tel haar handsak op en maak seker dat alles wat sy nodig het daar in is. Vasbeslote ry sy terug na die swart huis met die donker aura. Die hek is oop en sy ry sonder meer in. Daar is geen verrassing, geen skok om Derek se bakkie voor die onheilsnes te sien.
Die deur is oop en sy volg die gedoofde geluide na ‘n ander vertrek as was sy vroeër was. Die uitgeteerde, sluwe slet is besig om al laggende Nadia se man te soen. Hy is nie onder een of ander towerspel nie. Dit kan Nadia duidelik sien toe sy oog op haar val en hy die brunet van hom afstoot.
Te min.
Te laat.
Die pistool in Nadia se hand tref Derek netjies tussen die oë. Voordat die heks kan gil, ontmoet sy die Skoppensboer saam met haar minnaar. Nooit weer sal sy kaarte uitdeel nie.
Breinvasbrand: Na watter liedjie verwys die skets?
Breinlosbrand: Olga was reg met Pumpkin Patch.
Wie runnik saam?