Lewe met Allergie

27 12 2010

Om een of ander rede word allergie altyd met nies en loperige oë en neus verbind.  Ek self is goed bekend daarmee.  Wanneer die jakarandas blom of dit is kosmos tyd, lyk dit kompleet of ek die heeltyd tjank.  Boonop raak ek doof omdat my ore toegeslaan het en kom slaap daar elke aand ‘n vrot stink hond in my mond. 

Allergiese reaksie, wat ook gediagnoseer kan word as hooikoors of sinusitus.  Jy voel asof jy doodgaan, maar jy weet darem dat dit nie die geval is nie.  Daar is ook heelwat maniere om dit te bestuur om die simptome te minimaliseer.  Dit is nie aangenaam nie, maar dit waai gou genoeg oor. 

Aan die ander kant is daar mense wat op ‘n daaglikse grondslag moet waak teen allergie.  Ek dink nou spesifiek aan mens wat allergies is vir koring.  Klink maklik genoeg, sny koring uit.  Tot jy besef hoeveel goed het koring in.  Dit beteken nie net vermy brood en stampkoring nie.  Dit sluit koeke, terte en koekies in.  Baie stollingsagente het ook koring in.  Alle pastas is koringprodukte .  In ‘n samelewing soos in Suid-Afrika vat dit nogal toewyding om koring in geheel te vermy.  Almal aanvaar ook altyd iemand eet eiers, maar daar is heelwat mense wat allergies is daarvoor. 

Sleg voel is darem nog nie dood gaan nie.  Daar is allergië wat letterlik mense se dood in minute kan veroorsaak.  Net een ontydige by of een etiket wat jy verkeerd gelees het.  Het julle al opgelet in hoeveel produkte is daar ‘n waarskuwing dat daar moontlik neute in die produk kan wees?  Daar is selfs ‘n waarskuwing as ‘n spesifieke produk in dieselfde fabriek gemaak word as wat neutprodukte in gemaak word.  Die mense gaan nie net ‘n dag of wat sleg voel nie, hulle gaan dringende mediese behandeling benodig, mits dit natuurlik betyds is.

Kan julle julleself indink in hoe ‘n mate dit ‘n mens se lewe beperk.  Jy moet nie net weet wat al die bestandele is van wat jou voorgesit word nie, maar ook waarmee dit in aanraking kon kom?  Boonop is neute mos ook lekker.  Dit is voorwaar die straf van vadere.  Dieselfde geld vir mense wat allergies is vir seekos. 

Gee my dan eerder ‘n rooi neus en toe ore.  Ten minste kan ek nog eet wat ek wil.

Waarvoor is jy allergies?  Hoe beinvloed dit jou lewe?  Wat is die ergste allergie waarvan jy al gehoor het?

Breinvasbrand:  Wat is die algemene reaksie van mense wat allergies is vir neute as hulle daaraan blootgestel word?

Breinlosbrand:  Olga was reg met steenkool, uie en knoffel.