Vuurwerke Verkope

30 12 2010

So kom ons tot ‘n einde van nog ‘n jaar en soos altyd sal sekere goed seker nooit verander word nie.  Die Oujaar sal seker nie self sy ry kry nie, dit moet mos weggeblaas word.  Al is daar heelwat wette daarteen en elke jaar oproepe dat mense dit nie moet doen nie.  Party mense het nie ore en sal seker eers end kry wanneer hulle met ‘n klapper in die anus opeindig. 

Ek was vanmiddag in Graskop gewees en het hierop afgekom. 

Let op.  Dit is ‘n stalletjie buite, waar dit onder andere ook aan die son blootgestel is.  Dit is dus ‘n wesenlike ontploffings gevaar.  Julle kan ook sien, behalwe vir die volume, is dit nogal menere.  Daarby is daar duidelike wette omtrent die verkoop van vuurwerke, wat nogal duidelik hier beskryf word.  Ek haal aan wat vir my perfek sin maak:

It is not possible for any informal sale of fireworks (hawkers, roadside or any open-air sellers) to conform with this Act. It is imperative that any informal displays of fireworks for sale or sellers of fireworks in the open air are reported to the SAPS as quickly as possible.

Ek kon dit nie net daar laat en elkeen sy brood en botter gun nie.  Ek het die plaaslike polisiekantoor daarvan in kennis gestel en het so half en half moed geskep toe die konstabel so effens geinteresseerd klink.  Hy het belowe om dadelik iemand uit te stuur.  Dit was nie eers 10 minute nie, toe sien ek die bakkie daar verby ry.  Met ‘n vervlakste polisieman wat nie ‘n blou duit omgee oor die onwettige verkoop van vuurwerke nie. 

De hel met die diere.  De hel met al die dronklappe wat met die vuurwerke gaan kyk hoe hulle diere kan opblaas.  De hel met al die minderjariges wat dit gaan koop en moontlik ook nog hulleself daarmee gaan verongeluk.  Niemand gee ‘n duiwel om nie. 

Ek gaan more weer kyk en is sommer baie lus om ‘n vuurhoutjie in te gooi as die polisie nie hulle werk wil doen nie. 

Vir almal wat more hulle diere moet kalm hou, sterkte.  Ek hoop julle kry genade, met krag slaan julle dalk net ‘n paar mense wat dit verdien dood. 

Hoe voel julle oor vuurwerke?  Wat van net 10 minute op die laaste dag van die jaar?  Moet ‘n mens maar die mense los om ‘n geldjie te kry soos hulle goed dink?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan TNT in plofstowwe?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1912.





Koekies Eet

30 12 2010

Daar is min dinge so aangenaam soos tuisgebakte koekies.  Verslind gaan jy dit verslind, die vraag is net hoe.   Eers moet jy jou drinkdingetjie regkry.  Koffie of ‘n glas melk, maar daar is mense wat sweer by tee.  As jy wil werk warm sjokolade ook en ek het as kind niks oorgekom om die koekie met ‘n koeldrank af te sluk nie.  As jy iets sterkers verkies, kan ek nou nie regtig iets aanbeveel nie.  ‘n Soetwyntjie sal seker werk. 

Koekie eet is ook nie so eenvoudig soos dit klink nie.  Party mense moet dit eers in ietsie doop en dan die deurweekte stukkie op presies die regte oomblik hap.  Ander gril hulle dood as die koekie nat is en nog ander kan die krummels wat agtergelaat word nie uitstaan nie.  Daar is ook die mense wat vreeslik gesteld is op etiket wat dit as onbeskof beskou. 

Hoe hou jy van jou koekies?  Hoe eet JY ‘n Oreo?  Wat is jou gunsteling koekies en bak jy dit ooit self?

Breinvasbrand:  Wanneer was Oreo’s ontwikkel en geproduseer?

Breinlosbrand:   Demoerin was reg met Nomvula Mokonyane.