Jou God

19 12 2010

So ‘n ruk terug het ek ‘n skrywe gehad waar ek mense gevra het wat die kleur van ‘n spesifieke bloes was.  Dit was na aanleiding van ‘n debat met ‘n vriendin oor wat presies die kleur nou eintlik is.  Ironies genoeg was daar baie mense wat nie saam met my of haar gestem het nie.  ‘n Kleur is tog immers ‘n konstante.  Tog was daar soveel menings oor wat presies die kleur is. 

Kleur is eintlik baie eenvoudig, veral as dit met ‘n mens vergelyk word.  Wat is die mens?  Die produk van agtergrond, gebeure en karakter wat op ‘n manier saamvloei om jou persoonlikheid te vorm?  Hoe vlak dit ookal klink, het voorkoms tog ook ‘n invloed van hoe ‘n persoon ervaar gaan word.  So word ‘n vet mens as lui gesien en iemand wat vermink is, maak mense summier bang.  Een mens kan ‘n verskeidenheid goed gebrandmerk word.  Etikette of labels soos ons almal dit kan ken. 

Die etiket is selde die algehele prentjie en kan ook dikwels onverdiend wees.  Die etiket is wat gebruik word om die spesifieke persoon aan ‘n ander te beskryf.  Na gelang van die etiket, sal iemand besluit of hulle nader kennis wil maak met die persoon.  As Sannie nou byvoorbeeld as ‘n tert bekend staan, kan almal wat dit hoor meer daarin belangstel om hulle mans as op te pas as om te kyk of Sannie regtig ‘n tert is.  Intussen was Marie eintlik net jaloers omdat haar man hardop gedink het Sannie het mooi bene.  Sannie het eintlik niks eers met die saak te doen nie. 

Netso kan iemand anders dink dat Sannie ‘n hart van goud het of dat Sannie ‘n dowwe Dolla is.  Die persoon wat die etiket bestudeer kan altyd die kans waag om Sannie te beproef ten spyte van die etiket en sal heel moontlik ‘n geheel en al ander etiket aan Sannie toedig.  Aan die eenkant moet ‘n mens versigtig wees met die etikette wat jy vir ‘n ander skep en aan die ander kant moet jy onthou dat ‘n etiket selde die hele storie het.  Onthou ook, die oomblik dat jy ‘n etiket aan ‘n persoon toedig (soos bv. tert), jy die etiket (tert) geskep het.  Mens kan amper sê jy het die karakter geskep.

Kom ons gaan ‘n stappie verder, ‘n mens is tasbaar.  Maklik om in ‘n hoek te dryf vir ‘n hart tot hart gesprek om die egheid van die etiket te bepaal.  Ons is so lief vir etikette, dat ons alewig God ook vol etikette plak.  Ek dink nou byvoorbeeld aan Verlosser; Liefde; Heerser; Genadeloos en Vergelder.  Soos in die geval met mense, gebruik ons ook die self-gekose etiket om God aan ander bekend te stel of te beskryf.  Net soos mense, is daar die keuse om die etiket te ignoreer en die ware Karakter te leer ken.  Ons moet egter ook ingedagte hou dat die etiket mense kan afskrik. 

Iemand vertel my noudie aand iets van elke verskillende kerk ‘n verskillende God aanbid.  Al die kerke roem tog daarop dat hulle Christenne is.  Almal aanbid tog een God, hoe kan dit dan vir iemand wat dieper kyk na ‘n verskillende God lyk.  Mense hou daarvan om die Bybel te verdraai soos dit hulle geval en daarmee saam probeer hulle God se beeld manipuleer na hulle smaak.  Daarmee saam kan hulle dan hulle eie optrede as God se wil regverdig.  God se wil soos hulle dit wil hê.

Ons stap einde toe met advent en berei ons self voor om die Christus kind opnuut te ontvang.  Dit is dus seker geleë om te besin Wie ons werklik gaan ontvang. 

Hoe lyk die God wat JY geskep het?  Sal jy die Here kan erken as Hy jou met die hand kom groet?  Is jy bereid om God beter te leer ken en dalk jou beeld van Hom aan te pas?  Is dit ‘n skrikwekkende gedagte omdat jou god dalk nie naby die Ware God gaan kom nie.  Stel jy mense voor aan jou verbeelding en verdraaiings of aan die Lewende God? 

 Het jy die moed om werklik na God te soek en Hom te leer ken?