Ek ly aan akute oorywerige verbeelding. Saam met so ‘n tikseltjie algemene kennis kan dit ‘n baie gevaarlike kombinasie wees. Veral as dit deur ‘n ware gebeurtenis geinspireer is. Tog weet almal dat daardie moord in Gugulethu ‘n slang in die gras het. Ek mag seker ook spekuleer wat die slang nou eintlik is. Met die verstande dat my verklaring met ‘n streepsak sout geneem word en as niks meer as duimsuigery gesien word nie.
Vir die agtergrond is daar die Indiese bruid van Noorweë wat met die Indiese bruidegom van Engeland in Indië getrou het. Daarmee lei ek af dat beide die families tradisievas is. Volgens Indiese tradisie sou dat waarskynlik ‘n gereelde troue gewees het, sonder dat die bruid en die bruidegom mekaar noodwendig vooraf geken het. Volgens die Indiese tradisie sou die bruid se familie ook ‘n bruidskat aan die bruidegom se familie se familie moes oorhandig. Siende dat beide die families as ryk kan deurgaan, sou dit nogal ‘n aardige bedraggie gewees het.
Streng gesproke is die gebruik van ‘n bruidskat sedert 1961 onwettig in Indië. Onwettig beteken egter nie dat dit nie meer beoefen word nie. Indië is nou nie juis bekend daarvoor dat hulle vroueregte voorop stel nie. Vrouens is weinig meer as ‘n besitting, al is die familie ryk en wel opgevoed. Daar word ook geslags spesifieke aborsies gedoen. As die ma (of seker die pa) vooraf weet dat die baba ‘n dogter gaan wees, kan sy ‘n aborsie laat doen om die familie van die bruidskat te spaar. Daar was ook al gevalle waar ‘n dogtertjiebaba dood gemaak is vir geen ander rede as dat sy ‘n meisie is nie.
Ons het ook al gehoor dat die bruid verskriklik gehuil het op pad terug van die troue af. Daar kan ‘n verskeidenheid redes wees daarvoor, vandat sy met die troue (of bruidegom) ontnugter was, in die eerste plek nie wou trou nie of dalk iets geweet het dat sy nie wou weet nie.
Die Indiërs is ‘n baie trotse nasie, wat eer baie hoog aanstel. Die bruidegom se familiebesigheid is nogal ernstig in die rooi. Ek het nogal gewonder of haar pa (familie) dalk nie iewers die bruidegom se familie iets geskuld het nie. Die dogter moes dalk opgeoffer word om die bruidegom se familienaam te red. ‘n Baie klein opoffering – nee, wag, dit is net te gekompliseerd en bisar.
Aan die anderkant, daar is ‘n gebruik in Indië wat bruidskatdood of bruidsverbranding genoem word. Dit behels dat die bruidegom en/of sy familie voel dat die bruidskat te klein is. Hulle martel en teister die bruid dan om haar familie te dwing om die bruidskat te vergroot. Die marteling of teistering is soms so erg dat die bruid selfmoord pleeg. Alhoewel, haar aangetroude familie kan haar ook doodmaak om haar familie vir die klein bruidskat te straf. Bruidsverbranding is wanneer die bruid lewendig verbrand word oor die bruidskat wat as te min gesien word.
Natuurlik die gebruik ook kastig onwettig. Nogtans is daar in 2008 8172 gevalle van bruidskatdode aangemeld (ons praat nou nie van die wat dalk nooit aangemeld is nie) en jaarliks is daar sowat 2500 voorvalle van bruidsverbranding. Dit word dikwels as ‘n selfmoord of ‘n ongeluk vermom. Stowe is blykbaar nie baie betroubaar in Indië nie, die afwesigheid van brandwonde wat vergelykbaar is met die wat deur ‘n stoof veroorsaak is, is van minder belang.
Europa gaan nou nie baie gelukkig wees as een van hulle beskermlinge doodgemaak word omdat daar gevoel is die bruidskat is te min. Aan die anderkant weet almal hoe is misdaad in Suid-Afrika en mense word vir niks dood gemaak nie. Die bruid se familie sal weet en sal weens tradisie maar eerder stil bly. Hulle sal wel weet en dit is al wat saakmaak.
Wat dink julle? Is daar ‘n toekoms vir my as ‘n skrywer van moordverhale? Soos Tom Clancy gesê het: “The difference between fiction and reality? Fiction has to make sense.”
Breinvasbrand: Wie het 7 sakke sout gesleep?
Breinlosbrand: Olga was reg met Charles Dickens.
Wie runnik saam?