Julie, Augustus, September, Oktober, November, Desember . . . . Sedert Junie het daar nou al 6 maande verloop. ‘n Halwe jaar. Nogal baie tyd as jy my vra. Meer as genoeg tyd vir baie dinge. Veral as jy weet dat daar verskeie kinders is wat as akteurs vir seksflieks ingespan word. Dit is egter net my mening – ek meen, ek kry darem af en toe iets te doen.
Vrydag het die bom gebars dat die Polisie ‘n kinderpornografienes oopgevlek het. Die nuus het die meeste van ons met walging en woede vervul. Rapport het vandag ‘n bietjie meer inligting gehad en ek kan maar net vra: “Waar sal kinders se hulp vandaan kom?”.
Twee pleegkinders (6 en 8 jaar oud) het van babadae af by die betrokke familie gewoon. Klaarblyklik was hulle in die proses om die twee formeel aan te neem. Welsynwerkers het ingespring toe die twee kinders swakker op skool presteer het. Dit was in Junie vanjaar. Welwetende dat daar nog kinders in die nes is, het dit hulle 6 maande geneem om verder op te tree. ‘n Halwe jaar waar die kinders nie net in haaglike omstandighede gewoon het nie, maar ook op bloedstollende wyses uitgebuit is.
Ek kan nog aanvaar dat daar bewyse gesoek moet word om die kinderpornografieklag gewig te gee. Aan die anderkant verstaan ek dat nie een van die 8 volwassenes werk nie. Ekskuus, ek is seker voorbeoordeeld, volgens hulle is hulle boere en tuisteskeppers. Ten tye van hulle inhegtenisname het die huis krioel van kokkerotte en maaiers, en het die reuk van urine en ontlasting in die lug gehang. Ek twyfel of dinge veel beter was toe die maatskaplike werkers die pleegkinders kom wegneem het. Keuring van pleegouers is seker ook nie meer wat dit was nie. In die halwe jaar kon die Gautengse departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling nog nie tyd vind om by die betrokke maatskaplike werkers uit te vind hoe die hef aan die vurk steek nie.
Kan ons Maatskaplike Rade nog vertrou word om na die weerlose kinders van die gemeenskap om te sien? Sal hulle ondersoek instel as jy hulle laat weet van kinders wat honger ly of wat mishandel word? Is ek net ongeduldig of is 6 maande ‘n aanvaarbare tyd vir ‘n kind in nood om te wag?
Met die wat Maatskaplike Rade nie juis welsyn as ‘n prioriteit opneem nie, wat staan ons te doen? Is dit dalk tyd om te doen wat gedoen moet word? Ek neem aan die Rade gaan nie 6 maande wag om jou te laat aankla vir ontvoering nie.
Ek weet nie! Ek weet net ek vertrou die “Welsyn” niks nie. As een saak van ontvoering dalk die aandag op laksheid en onverskilligheid kan vestig en regstel, word ek vandag nog ‘n ontvoerder. Ek is net nie so seker dat ek my aandag net by ontvoering gaan bepaal nie. Daar sal waarskynlik ‘n moord of 2 ook op my kerfstok hê. As ek dan die beskermheer van kinders by die staat moet oorvat, kan ek net sowel die takie ordentlik doen.
Hoe voel julle hieroor?
Breinvasbrand: Wie het Oliver Twist geskryf?
Breinlosbrand: Demoerin was reg met Samuel Cohen.
Wie runnik saam?