Gatswaai

20 12 2010

Before the merriment of commencement commences . . .

Dit is weer partytjietyd.  Vir baie mense is ‘n partytjie sinoniem met dans.  Watter beter manier is daar dan om die oujaar met al sy probleme en krisse te wys dat hy jou nie onder gekry het nie?  Dit is ook een manier om die die Nuwejaar met ‘n gejuig te ontmoet – met die hoop dat die gejuig ‘n volle 365 dae gaan hou.  Dit is nou natuurlik as jy kan dans. 

Ek is nou nie juis iemand wat onthou gaan word oor die manier wat ek dans nie.  Xena en ritme is nie juis woorde wat jy in dieselfde sin kan gebruik nie.  Boonop is ek baie lief vir my inhibisies en doen nie graag van hulle afstand nie.  Ek het ook nie juis ‘n los biscuit nie en voel inderwaarheid simpel om dit te skud.  Daarby drink ek nooit so baie dat ek skielik dink dat ek die dansvloer kan oorneem nie. 

Op hoërskool het ek gesorg dat ek ‘n waterdigte verskoning gehad het vir die groentjiesokkie.  Daardie verskoning het ek keer op keer gebruik.  Op universiteit het ons nou nie vooraf ‘n rooster gehad van wat ons wanneer moes doen nie.  As die HK sê julle gaan sleep, dan gaan sleep ons.  Die eerste wat ek geweet het dat ons by ‘n bokjol is, was toe ek en die jar in die saal in stap en saam moes begin dans het.  Nie ek of hy het al van te vore gedans nie.  Dit was die eerste bokjol en daar was vele wat daarop gevolg het.  So met die verloop van oriëntering het ek geleer om die basiese te doen. 

Ek kan nie iemand leer om te sokkie of two-step nie, maar met ‘n ou wat goed kan lei, land daar darem nie te veel eier in my gesig nie.  Ek verkies dit bo los dans – waar almal kan sien ek nie van ritme beskuldig kan word nie.  In ‘n groot groep maak dit gelukkig nie veel saak nie, want daar is altyd iemand wat erger dans. 

Dit is in elk geval vir my baie lekkerder om te kyk hoe ander dans.  Iemand wat kan is ‘n plesier om dop te hou.  Dit laat my dink aan ‘n Kerspartytjie wat ons vir ons Squeeza’s se kinders gehou het.  Nadat hulle geëet het, is die musiek oopgedraai en gou het almal gedans.  Daar was die een seun van omtrent 3 jaar oud wat nie een lied uitgesit het nie.  Die mannetjie het dans verpersoonlik, ek het nog nooit weer iemand sien dans soos daardie kind nie. 

Dalk is dit waar.  “White men can’t dance.” 

Dans julle?  In die openbaar of net waar niemand kan sien nie?  Het julle enige dans staaltjies wat julle wil deel?  Wat is die ergste / beste dans wat jy al ooit gesien het?

Breinvasbrand:  Wie het die “Dance-Off” in Grease gewen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Schanskop.





Nuttelose Inligting Omtrent Kersinkopies

20 12 2010

Kerskopies is nie net by tye ‘n uitdaging vir enige mens se geduld nie, dit kan ook vreeslik uitputtend wees.  As ‘n mens na die statistieke kyk, is dit ook geen wonder nie.

  • Die gemiddelde persoon wat Kersinkopies doen, sal omtrent 8 kilometer ver stap – net tussen winkels, parkeerareas en malls.
  • Die meeste mense is teen die 20ste Desember klaar met hulle Kersinkopies.  Om dit reg te kry gaan hulle 8 keer winkels toe in 6 en ‘n half dae.  (Ek is so nie gemiddeld of deel van die meeste mense nie.  My inkopies was in 3 dae gedoen en ek was in die tyd by ten minste 22 winkels!)
  • 33 % mans doen eers op Ou Kersdag hulle inkopies
  • 7 uit elke 10 honde kry ‘n Kersgeskenk van hulle eienaars.
  • 31 % van alle diamant verkope geskiet rondom Kersfees.
  • Daar is handelaars wat 70% van hulle jaarlikse omset tydens die Kerstyd maak.
  • Jy gaan glo ten 90 minute van jou tyd in een of ander ry deur bring.
  • 4 miljoen ton gemors word jaarliks geskep van geskenkpapier en inkopiesakke.
  • Daar word elke minuut 180 Barbies verkoop.




Vermy maar eerder Meneer Bene

20 12 2010

Dit is moeilik om te besluit of die Fort Klapperkop pad in Pretoria berug of beroemd is.  Van my ouer lesers ken dit dalk as ‘n vryerslaan.  Vandag is dit meestal bekend as gevaarlik.  Menige mense het daar al ‘n kar, beursie en / of selfoon aan iemand afgestaan wat hulle laat lewe het in ruil daarvoor.  Met die gevolg dat ‘n mens dit eerder vermy.

Aan die ander kant is dit van die mooiste uitsigte oor Pretoria.  Die maklikste is om van die R21 op die pad te klim en dan by elke stilhou hoekie stil hou.  Die pad het heelwat skerp draaie en klim konstant, maar dit maak nie saak nie.  Mens wil in elk geval elke paar meter stop om die fees voor jou oë in te drink.   Soos ek die storie verstaan neem die boewe oor sodra dit donker is.  Daar is mense wat gereeld daar bymekaar kom om die sonsak te bewonder met ‘n glas wyn.

Natuurlik is dit ook ‘n drawwers en fietsry paradys.  Vandag nog.  Persoonlik dink ek dat iemand wat die pad met stapper of trapper aandurf se bont varkie soek is.  Nie dat hulle hulle aan my wyse raad steur nie.

Ek en ‘n vriendin wou op ‘n stadium gaan kyk het waaroor gaan die mense nou eintlik te kere wanneer hulle van Fort Klapperkop praat.  Nadat ons eers die uitsig gesien het, was ons dadelik verlief en het gereeld weer gaan kyk.  Ons het ook gesorg dat ons die Fort gaan besoek, dit is tog immers die rede hoekom daar ‘n pad is.

Die eendag is ons by die eerste uitkykpunt van die R21 kant af.  Ons het skaars uitgeklim toe ons ‘n ekstra stukkie uitkykbederf kry.  ‘n Donkerkop man op sy fiets.  Alles wat ‘n meisie se polsslag kan opjaag.  Lank en lenig, met net genoeg spiere.  Sy fietsrybroekie het ook sy bene goed beklemtoon.  Die mooiste paar bene wat ek al ooit aan ‘n man gesien het.  Toe hy om die draai was, kon ons weer asem haal en die uitsig bewonder.

As jy dom is, moet jy sukkel.  Ons glo vas daaraan, maar ons kan nou ook nie toekyk hoe sulke bene sukkel omdat die eienaar dom is nie.  Ons ken al die klim wat voorlê, dus was ons glad nie haastig om Meneer Bene te gaan soek nie.  So twee of drie bene verder en daar kry die uitsig sommer ‘n nuwe kwaliteit.  Versigtig ry ons tot langs hom – ons wil nou ook nie verantwoordelik wees om sulke bene te breek nie.

“Hey!  Kan ons jou nie ‘n lift gee nie?”

Die man kyk op en sy mond val oop.  Fout, groot fout!  Hy het tande soos ‘n perd!  Elkeen is 3 cm lank en dan nog boonop 3 cm uitmekaar uit en is deur middel van spoegdrade aanmekaar verbind.

Tot vandag toe weet ons nie wat sy antwoord was nie.  Ons het wel ‘n baie waardevolle les geleer.  Moet nooit ‘n man aan sy bene beoordeel nie.

Breinvasbrand:  Watter Fort is op dieselfde gronde as die Voortrekker Monument?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bathabile Dlamini.

NS:  Die koerant is vir die volgende paar weke op vakansie.  Wie is nou in elk geval lus vir die nuus?