Lees, skryf en reken – watwou!

11 10 2016

Skole verskil van geslag tot geslag.  Wel, dalk nie die uniforms nie, maar die silabusse word elke nou en dan aangepas.  My ma was nogal verbaas dat ons nie meer phonetiese spelling op skool gedoen het nie.  Terselfde tyd het sy Boekhou op skool gehad.  Ons het dit rekeningkunde genoem.  Ons is geleer lees en skryf met klanke, nie die alfabet nie.  Boonop is die riller van naaldwerk finaal nek omgedraai toe ek hoërskool getref het.

Dit maak seker maar sin dat skole saam met die tye moet beweeg.  Ons was nog geleer tik, al het ek nog nie ‘n tikmasjien in my loopbaan raak geloop nie.  Nodeloos om te sê – ek gebruik tog my tik vaardighede (wat ek die vet weet waar opgetel het – ek kon nie reg tik om my lewe te red nie) daagliks.  Dit is egter veilig om te sê dat ‘n mens op skool vaardighede leer asook leer om die vaardighede toe te pas.  Die fondasie van die vaardighede is natuurlik lees, skryf en reken.

Is ek agter die klip of wat?  Ek sien van die oorsese skole (ek weet nie van Suid-Afrikaanse skole wat dieselfde doen nie) bied van kleinsaf Geslags Identiteitsklasse aan.  Die idee is om verdraagsaamheid te kweek vir kinders wat dalk ‘n bietjie skerp neig na die ander geslag.  Dit poog dan ook om kinders wat te veel van hulle eie geslag veilig te laat voel.  En – volgens teenstanders van die klasse – dien dit ook om gewone, gelukkige en tevrede kinders te verwar.

Verdraagsaamheid teenoor iemand wat nie nie soos jy is nie, is ‘n goeie ding.  Daar is gevalle dat dit van kleinsaf duidelik is watter kant van die draad ‘n spesifieke kind gaan wei.  Maar regtig?  ‘n Klas – wat oor ‘n aantal jare strek – net daarvoor?  Het I-Pads nou regtig onderwys oorbodig gemaak?

Die afgelope dekade of twee het seuns en meisies die kans gehad om enige droom wat hulle moontlik kon hê na te jaag.  Meisies kon houtwerk doen en seuns kon leer kook.  Seuns het korfbal gespeel en krieket, sokker en selfs rugby is nie ongewone sporte vir meisies nie.  Die enigste werklike verskil is die kleredrag en badkamers van elke geslag.  Kleredrag is seker los – baie skole laat deesdae toe dat meisies broeke mag dra, maar ek het nog nie van ‘n skool gehoor wat sal toelaat dat ‘n seun ‘n skoolrok kan dra nie.  Toegegee, nie eers die meisies wil die skoolrok (wat presies dieselfde is as wat hulle oumas op skool gedra het) dra nie.

Een van die tameletjies met die nuwe neiging is die toegang tot badkamers.  Waar moet die seun wat ‘n meisie wil wees (of die meisie wat ‘n seun wil wees) gaan piepie of verklee?  Hoe gemaklik gaan die meisies (seuns) wees as ‘n biologiese gebore seun (meisie) langs hulle verklee?  Dit is nie asof hy/sy dieselfde het as almal langs hom/haar nie.  Dalk is dit tyd vir private geriewe.

Ek kan nogal die punt verstaan dat dit verwarrend kan wees.  Net omdat jy as ‘n meisie nie van poppe hou nie, beteken dit nie dat jy nie meer ‘n meisie is nie.  Dit beteken net dat jy nie van poppe hou nie.  As iemand nou kom en voorstel dat jy dalk eerder ‘n seun wil wees, gaan dit nie onnodige trauma veroorsaak nie?

Ons moet egter ook onthou dat die trauma is wat baie homoseksuele en transgeslag mense ervaar.  Tot vandag toe is daar baie mense wat dit nie kan aanvaar dat ‘n man dalk ander mans verkies nie.  Dit word ten tye met geweld afgedwing.  Dit is ook ‘n probleem.

Soos julle weet is ek nogal ‘n voorstander dat elkeen sy eie leef moet leef.  Ek dink ook nie dat dit ‘n skool se plek is om die leef voor te skryf nie.  Maar wat maak dit saak wat ek dink?

Hoe voel julle oor iets soos geslags identiteitsklasse?

Breinvasbrand:  Wie was die eerste persoon wat in 1931 ‘n chirurgiese geslagsverandering gehad het.

Breinlosbrand:  Cliff Huxtable.





En terug na vroedvroue

3 10 2016

Ek het al lankal gewonder hoekom babas deesdae altyd deur ‘n ginekoloog in die wêreld ingehelp word.  Nie so lank gelede nie het vrouens met ‘n vroedvrou by die huis gekraam.  Daar is nou nog vrouens wat die praktyk verkies.  In die tyd wat ek gevul het, was gewone huisdokters die norm.  Dit was in die tyd en dae wat ‘n huisdokters nog operasies gedoen het, dus kon hulle ook met ‘n keiser help as dit moes.  Dit is nou nie dat ek so oud soos die berge is nie.  In elk geval, die afgelope dekade of twee het ginekoloë was ginekoloë verantwoordelik om babas te vang.

Ek moet nou ook noem dat ‘n ginekoloog mos eintlik ‘n ginekoloog en verloskundige is.  OBGYN soos die Amerikaners hulle noem.  As ek die storie regverstaan, is die vrouedele die ginekoloog se werk en die babas die verloskundiges se werk.  Siende dat net ‘n ginekoloog bevoeg is vir ‘n papsmeer, het baie vroue hulle eie persoonlike ginekoloog ook.  Al is daar geen planne vir ‘n pienkvoetjie nie.

Nou begin alhoemeer ginekoloë die verloskundige deel van hulle name skrap.  Dit is nie soseer ‘n geval dat hulle hou van ‘n rustige nagrus nie – keisers het reeds daarvoor gesorg.  Dit is ook nie dat hulle bang is om hulle hande vuil te maak met bevallings nie.  Die meeste van hulle kan bloot nie meer die versekering bekostig wat hulle moet hê om ‘n vrou in kraam te kan bystaan nie.

Ek praat nou uit geheue van ‘n artikel wat ek onlangs gelees het.  Blykbaar is die versekering vir verloskunde R650 000 per jaar.  Dit werk glo op R4000 per bevalling uit.  Skielik verstaan ek ook hoekom dokters kla dat hulle krepeer van armoede.  Ek gee hulle heeltemal gelyk – dit is ‘n fortuin.

Die versekeringmakelaars gooi ook maar hulle hande in die lug.  ‘n Glipsie by geboorte is maar ‘n duur storie.  Boonop neem dit soms jare voordat die foutjie ontdek kan word, die hulpelose baba is soms al ‘n volwassene.  Natuurlik moet iemand betaal vir die voorval en die versekering moet dit dek uit die premies wat ingewin is.

Die blote feit dat die versekering so buitengewoon hoog is, is ‘n aanduiding dat eise nie net teoreties is nie.  Vraag is dus of dokters nalatig of roekeloos met bevallings is?  Of hardloop mense deesdae te maklik om ‘n eis te gaan instel?  Ek neem aan vroedvroue sal seker soortgelyke versekering moet hê.  Gaan mense maar eendag op eie genade hulle babas moet baar?  Gaan hulle professionele mense vrywaring moet gee teen moontlike eise?  Dan weer, aan die ander kant, wie neem verantwoordelikheid as daar iets met die geboorte fout gaan?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Watter karakter in die Cosby Show was ‘n ginekoloog?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 2001.





Afbreek en Rede

28 09 2016

Hoe beskaaf is ‘n land nou eintlik as mense hulleself send to brandstigting, saakbeskadiging en vandalisme as hulle nie hulle sin kry nie?

Suid-Afrikaners sien dit gereeld.  Brand ‘n skool af as mense nie gelukkig is oor dienslewering nie.  Die skool lewer mos dienste.  Beskadig winkels as daar geprotesteer word vir lone – al is die winkels nie die werknemers nie.  Vernietig ‘n universiteit in ‘n poging vir gratis onderswys.  Dit maak seker sin, as daar geen universiteite is nie, kan daar mos ook geen studiegelde wees nie.  Doel bereik – wat maak opvoeding in elk geval saak?  Veral as die room van die opvoedingsleer nie besef dat hulle proteste deel vorm van hoekom daar nie geld is nie.

Suid-Afrika sal geen vordering maak tot tyd en wyl die onluste geduld word nie.  Eerstens – geld groei nie aan bome nie.  Tweedens – niemand kan iets verniet kry nie, tensy iemand vir iets betaal het wat hy / sy nie gekry het nie.  Derdens – hoe meer skade daar berokken word, hoe minder geld is beskikbaar om vir goed aangewend te word.  Dit is nie rocket science nie en dit is blerrie tyd dat die massas dit besef.  As daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.

Ek gaan dit tog noem:  noodweer is nie net ‘n regverdiging as daar op iemand se lewe ‘n bedreiging gemaak word nie.  Noodweer kan ook die beskerming van eiendom insluit.  Goed en wel, die eiendom moet iemand se lewe werd wees.  Dus, jy gaan nie met moord wegkom oor ‘n tuinstoel nie, maar as jou lewensmiddele bedreig word, het jy ‘n beter kans.  Vraag is wie / wat is meer werd – die protesteerende massas of ‘n geboue van ‘n paar miljoen rand?

Goed, goed – ons soek nie ‘n menseregte insident al weer op ons voorstoep nie.  Die massas is mos gevrywaar teen geweld, al skroom hulle nie om geweld te gebruik om hulle doel te bereik nie.  Wat is egter die alternatief?  Hoe leer mens mense wat nie rede kan insien om hulle hande tuis te hou?  Afbreek is maklik, maar hoe leer jy iemand om eerder op te bou?  Is dit ‘n verlore stryd?  Indien wel, hoekom enigsins probeer om mense op te lei wat nie kan leer om nie af te breek nie?

Ek dink om mee te begin moet enige student wat poog om ‘n gebou af te brand lewenslank van enige tersiêre instelling verban word.  Die mense wat skole afbrand in die naam van dienslewering, moet harde arbeid verrig om die skool weer op te bou.  Sonder betaling.  Voel ‘n bietjie hoe voel dit om jou gat af te werk vir iets waaruit jy nie persoonlik voordeel trek nie.  Dalk moet dienslewering summier opgeskort word in die gebiede waar dit met geweld geëis word.

Hoe dink julle kan die afwaardse neiging vir eens en vir altyd uitgeroei word?  Dit behoort mos natuurlik te wees – pas wat jy het op.  VERDIEN wat jy meer wil hê.

Breinvasbrand:  Watter jaar het pendelaars ‘n brand in die wagkamer van Pretoria stasie begin omdat die trein laat was?

Breinlosbrand:  24 September 1995.  Olga was dus reg.





Skoolverkeer pyn in mens se agterend

26 09 2016

Wanneer begin die lente skoolvakansie?  Ek kan nie meer wag nie.  Nee, ek gaan nie saam met die kinders vakansie hou nie.  Die oomblik wanneer hulle vakansie het, word my pendeltyd met ten minste twee derdes gesny.  Ironies!  Hoeveel skoliere ry self skool toe?  Veral as ‘n mens in ag neem dat ek basies verby ‘n spul kleuterskole en een skool ry.

Een van die skole het onlangs besluit om ‘n tweede aflaaisone vir hulle ouers te begin.  ‘n Besluit wat ek seker is die ouers baie waardeer.  Ek verwens daardie skool egter deesdae met ‘n passie.  Die ouers se lewe is aansienlik verbeter, maar my oggende het in ‘n nagmerrie ontaard.

Sien, in gewone skooltyd neem dit my 30 – 45 minute om verby die skole te kom.  Dit is ‘n afstand van minder as ‘n kilometer.  Verby die laaste skool, neem my dit so 10 minute om die laaste 8 km na my werk toe af te lê.  Dit was egter in die tyd en dae voordat die tweede stop – aan die laaste 100 m van die “skoollaan” ingebring is.

Nou – wel – die skoollaan is ontoeganklik vir die buurte wat dit omring.  Die skoollaan is een van die vloeistrate waarmee mens na die sakesentrum toe gaan.  Daar is heelwat buurte wat daar moet deursukkel soggens.  Die ouers wat van die teenoorgestelde kant kom, maak basies ‘n u-draai voor die skool.  Dit neem hulle 30 sekondes om hulle kinders af te laai.  Die verkeer vloei vry na die skool, dus het hulle geen frustrasie nie.  Niemand anders kom egter verby die skool nie.

Goed, ek oordryf.  Ek het al verby gekom – meer as ‘n uur later.  Ek het al langer as 20 minute gewag om by die skoollaan in te draai.  Nodeloos om te sê, ek moes maar vir my ‘n alternatiewe roete gaan soek het.  Die alternatiewe roete is aansienlik langer (in afstand) as die skoollaan.  Die ander alternatief is om ‘n uur vroeër te ry:  wat basies beteken is is binne 10 minute om 06:15 by die werk.  Dit werk op soveel vlakke nie vir my nie.  Laastens kan ek seker trek.

Kan skole regtig net die verkeerlogistiek beduiwel soos dit hulle pas?  Ek meen, dit werk vir hulle en dit pas hulle kliente uitstekend.  Wat maak die ander mense wat in die voet geskiet is saak?  Moet ek dit bloot aanvaar as my probleem en leer om daarmee saam te lewe?

Breinvasbrand:  Wanneer was die eerste Erfenisdag gevier?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1929.





Charmain Carr

19 09 2016

Daar is tydloos en dan is daar “The Sound of Music.”  Die fliek is al meer as 50 jaar oud en dit is nog steeds ‘n gunsteling van vele mense.  Dit voel half onwerklik om te dink dat die mense in die fliek aansienlik ouer is.  Goed en wel, almal weet dat Julie Andrews het verlede jaar 80 geword en Christopher Plummer word 87 die jaar.  Nogtans is ‘n mens geneig om aan die kinders te dink as – wel – kinders.  Kym Karath wat die jongste; Gretl; gespeel het, is al 58 jaar   oud.

Charmain Carr was die meisie wat as Liesl opgeëindig het.  Sy was ‘n student wat onder andere by ‘n dokter gewerk het, toe haar ma vir haar ‘n oudisie met The Sound of Music gereël het.  Sy het latere jare as ‘n binnehuise versierder naam gemaak.

Carr is die naweek aan komplikasies weens dementia oorlede.  Sy was 73 jaar oud.  Sy is as Charmain Anne Farnon gebore, maar moes ‘n ander van gekies het omdat die vervaardigers van Sound of Music geglo het haar van is te lank.

Soos julle weet, is Sound of Music gebaseer op ‘n regte Von Trapp familie.  Die ma is glo dood en die pa het ‘n goewernante gesoek omrede een van sy dogters siekerig was.  Suster Maria se sorg was uitmuntend, die dogter was in haar 90’s voordat sy gesterf.  Toevallig die laaste van die oorspronklike kinders wat gesterf het.

Georg en Maria het in Nov 1927 getrou en het saam drie kinders gehad.  Daar is volgens Wikipedia oor wanneer Maria se eerste kind gebore is – Februarie 1928 of 1929.  Hulle jongste kind, bestuur die Von Trapp Resort in Vermont.  Al 3 Maria se kinders lewe nogsteeds.

Maria is egter in 1987 op die ouderdom van 82 oorlede.





Mandoza

19 09 2016

Mduduzi Edward Tshabala 19 January 1979 – 18 September 2016

 





Hoekom doen ‘n mens dit aan jou self?

9 09 2016

Dit is al ‘n geruime tyd dat Edgars ‘n doring in my vlees is en vet weet hoekom ek dit duld.  Ek het vroeër vanjaar van die ander doring in my vlees, genaamd ABSA ontslae geraak.  Ek dink alhoemeer daaraan om Edgars ook warm plek toe te pos.  Ek is immers nie ‘n aanhanger van pyn nie en ek weier beslis om daarvoor te betaal.

Edgars was van die eerste rekeninge wat ek oopgemaak het.  Die redes is deesdae maar vaag.  ‘n Mens moet iewers ‘n kredietrekord begin bou en soos baie ander studente, was my klerekas nie geskik vir ‘n werkende dame nie.  Edgars was redelik gerieflik – dit het klere gehad wat ek sou dra, dit was redelik algemeen beskikbaar en jy kon by Jet en CNA ook koop.  Alles rentevry.  Ek praat onder korreksie, maar ek dink klublidmaatskap was toe R15 / maand.  Vir iemand wat ten minste een keer ‘n week gefliek het, was 50% afslag teen R15 ‘n maand nie te versmaai nie.

Ek het seker twee jaar gelede vir myself klere by Edgars gekoop.  Deesdae is dit ‘n onbegonne taak om iets te kry in Edgars wat jy bereid is om te dra.  Ek  het jare gelede al met Jet opgegee.  Hulle het nie juis ‘n verskeidenheid van ware nie, jou keuses val basies op vat of los.

Edgars was ook al verskeie kere in die media oor hulle prysverhogings.  Krap gerus maar die pryse op hulle winskope af.  Dikwels is die prys hoër.  Verlede jaar se mode is dikwels die jaar ‘n R100 duurder.  Die dae wat mense bereid was om in die tou te staan vir rooihanger uitverkopings is lankal vergete.  Dit is nie die moeite werd om by die winkel in te gaan daarvoor nie.  Vergeet ook daarvan om skoene by hulle te kry.

Edgars is ook besonders duur.  Nie net is hulle items nie die prys werd nie, maar deesdae is daar tot ‘n R22.80 rekeningbestuursfooi wat hulle aan jou wil afsmeer.  Ek is jammer, besighede is veronderstel om hulle administratiewe fooie te dek uit hulle inkomste.  Ek is nie verantwoordelik vir hulle bestuursfooie nie.  Ek betaal al R60 per maand vir klubfooi.  Dus word daar R993.60 per jaar van my verwag om ‘n lojale klient te wees.  Amper ‘n R1000.

Ek kry deesdae niks vir my klubfooie nie.  Toegegee, as ek dalk nog eenkeer ‘n week gefliek het, was dit die moeite werd.  Dit is in elk geval bokant my begrip hoe maatskappye van jou kan verwag om hulle te betaal om jou te beloon as ‘n goeie klient.  Hou jou beloning en ek hou my geld en dan is ons mos altwee beter af.  Wie kry R60 ‘n maand voordeel uit hulle klubfooie?  Hoe eties is dit om die klubvoordele aan mense in die platteland af te smeer?  Hulle kan niks daarvan geniet nie.

Hoekom de duiwel is ek nog by Edgars?  Is hulle regtig my kredietrekord werd of kan my ander rekeninge hulle vervang?  Is dit bloot toevallig dat ABSA hulle rekeninge bestuur?

Breinvasbrand:  Watter jaar en waar het die eerste Edgars winkel geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Johannesburg (Braamfontein).