Prostitusie

24 02 2020
amsterdam canal lights red light district

Photo by Skitterphoto on Pexels.com

Julle weet teen die tyd al dat die HAT ‘n foto van my as die definisie van nuuskierig het.  Verder, word ek dikwels verwyt dat ek te maklik veroordeel (judgemental).  As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan nie, is dit om foto’s te neem waar ek nie mag nie.

Sit nou ‘n mens soos ek in Amsterdam (Nederland) en jy kan verseker wees dat ek in die rooiligdistrik gaan rondneus.  Om die rooiligte nou behoorlik te beskou, is ons na donker in die berugde distrik in.  Na so ‘n paar draaie, is ons nogal half teleurgesteld.  Geen rooi ligte nie.  Ons onderneem om net nog om die hoek te gaan kyk, en daar is dit.

Ek het nou nie veel nut vir die dames nie.  Nogtans het ‘n paar dinge my die aand geskok.  Die mans maak regtig die deur oop om die besigheid daar en dan te beklink.  Daar is heelwat van die stalletjies met toe gordyne.  Diegene wat op skou was, is baie ongeërgd.  Hulle speel op hulle selfone of gesels met hulle kollegas soos ‘n mens maar tydens ‘n stil oomblik by die werk maak.  Die skokkendste van alles is dat ek nie ‘n foto wou neem nie.

Dit is debateerbaar dat prostitusie die oudste beroep op aarde is.  Dit mag dalk nie die oudste wees nie, maar dit is beslis een van die eerste beroepe vir vrouens.  Dit was vir eeue lank die enigste manier vir vrouens om ‘n inkomste te verdien as sy nie ‘n manlike figuur gehad het wat vir haar gesorg het.  Dit bestaan vandag nog, in alle lande en in alle sfere.

Prostitusie word dikwels met minagting bejeën.  Hoe regverdig is dit?

Ek is nie seker of daar mense (daar is immers manlike prostitute ook) is wat prostitute wil word nie.  Dit is egter ‘n feit dat baie (die meerderheid?) mense daar ingedwing word.  Soms fisies – sonder dat die slagoffer enigsins ‘n keuse het; soms deur desperaatheid.  Wat is immers die grootste sonde?  Om jou lyf te verkoop of om jou kinders te laat doodgaan van die honger as jy hulle kon help?

Durf ons neersien op prostitute?  Behoort ons nie eerder dankbaar te wees dat ons nie in dieselfde posisie gedwing is nie?  Daardie nag in Amsterdam het ek besef dat as ek ‘n foto sou neem van een van die vrouens, buit ek haar ook uit.  Watse reg het ‘n mens om ‘n ander uit te buit?

Sê ek dat prostitusie ‘n aanvaarbare beroep is?

Kan enige een ‘n oordeel vel oor wat aanvaarbaar is om te oorleef?

In ‘n ideale wêreld sal niemand in die posisie ingedwing word nie.  Die omstandighede wat mense in prostitusie indwing, is was onaanvaarbaar is.  Dit is wat uitgeroei moet word.  Nie die mens wat ‘n slagoffer van hulle omstandighede is nie.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was die prostituut in die Bybel wat Joshua gehelp het om Jerigo te ontsnap?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Moore?


Aksies

Information

15 responses

24 02 2020
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre

Ja mater, die oordeel kom ons aardwesentjies hoeka nie toe nie, maar ons is maar lief om dit te doen. Ek is net dankbaar die keuse was nog nooit voor my of naastes se deur nie. Ragab was die vrou wat Josua se bas gered het.
Groetnis.

17 03 2020
Xena Phoenix

Dit bly maar sleg dat mense soms geen ander keuse het nie.

24 02 2020
Olga

As mense dit vrywillig doen, is daar seker ook nie ‘n probleem nie, almal na sy of haar smaak ne. Ek moet se, dit sit nie reg aan my nie. Die ene vir wie ek jammer voel is die persoon wat dit uit nood doen of omdat sy daarin gedwing was.

17 03 2020
Xena Phoenix

Leef ‘n mens se eie leef.

Ek hou nog steeds minder van ‘n verkeersoffisier.

24 02 2020
rondomtaliedraai

Daar is baie nood in die lewe … ons kom die oordeel nie toe nie.

17 03 2020
Xena Phoenix

Een of ander heilige het iets gesê van “what you have in excess is what have been stolen from the poor.”

20 03 2020
rondomtaliedraai

Hartseer maar so waar.

25 02 2020
HesterLeyNel

Sal ek nou my nek uitsteek en sê dat seks volgens my oordeel nie die grootste sonde op aarde is nie? To each his own.

17 03 2020
Xena Phoenix

Ek gun wel mense ‘n beter lewe.

26 02 2020
Positief

As daar nie ‘n mark vir prostitusie was nie, sou dit nie bestaan het nie, so vir wie oordeel mens? die prostituut of die klient?

27 02 2020
Olga

Gewillige “koper”gewillige “verkoper. Wat ookal hulle fancy tickle.

17 03 2020
Xena Phoenix

Oor die algemeen – word die vrou veroordeel. ‘n Man is mos maar net ‘n man. Grootste klomp bog as jy my vra.

3 03 2020
Dr Christa van Staden

Ek hou van die vasbrand en losbrand … goed geskryf.

4 03 2020
MaanKind

Omdat ek paalfiksheid doen en aan verskeie Pole groepe op Facebook gehoort, is daar ook een groep waar daar eksotiese paaldansers is en ook sekswerkers wat as deel van hulle werk, ook eksotiese paaldans doen. Dis meestal lieflike intelligente vroue, wat dit uit eie keuse doen.

17 03 2020
Xena Phoenix

Dit is interessant. Sal graag verder daaroor wil krap.

Lewer kommentaar