Die splinter in iemand se oog

19 01 2020

Mense sien so graag neer op toeriste aantreklikhede.  Toegegee; daar is gewoonlik hordes mense en jy moet fyn staan om nie vertrap te word nie.  Ons sal maar eerder nie van die lang toue en die kaartjiepryse praat nie.  Tog, was jy regtig in Parys as jy nie die Eiffel gesien het of in London as jy nooit een van die stad se kenmerke gesien het nie.  Na my mening, kan jy maar jou neus optrek as jy klaar ondersoek het wat die bohaai was.

As ek oorsee is, gaan ek in soveel hoekies en gaatjies inkruip as waarby ek kan uitkom.  So beland ek en my suster so ‘n paar jaar terug by die London Toring brug op.  Natuurlik is kyk vry, maar as jy van bo af wil kyk, moet jy ‘n paar pond hoes.  Wat ons toe ook gedoen het.

architecture bridge buildings calm waters

Photo by Chris Schippers on Pexels.com

Wat ons nou nie besef het nie, is dat die boonste brug ‘n glasvloer het.  Jy kan dus bo staan en vir die rooi busse 42 m onder jou voete staar.

london bridge

Natuurlik, toe ons bo kom, is daar hordes mense wat op die vloer staan, sit, lê ens.  Enige iets vir ‘n goeie foto.  Aangesien ek die aangestelde fotograaf is en Sustermerrie die aangestelde model, is dit voor die handliggend.  Sy moet gaan lê vir die foto.  Sustermerrie het nie ‘n groot liefde vir hoogtes nie, maar hoe anders moet sy die mense wys sy was in London.

Sy staan dus toe maar versigtig nader, en toets-toets die glasblad so versigtig met haar voet.  Het ek genoem dat daar alreeds hordes mense is wat ook wil wys hulle was op die blad?  Ek wil my doodlag vir die getoetsery.  Ek wys vir haar uit dat hoeveel ander mense dit doen.  Sy steur haar min en kry maar so toets-toets haar lê.  Net ‘n gedeelte van haar bolyf, sy wil darem mos nie 42 m ver val in haar eerste en dalk enigste besoek aan London nie.

Ek neem die kamerafoto en die selfoonfoto’s en sy spring vinnig op ingeval die vloer net gaan verdwyn.  Dit is in elk geval tyd om oor te loop, om aan die anderkant te kom.  Ek neem ‘n paar foto’s en gaan agter haar aan.  Net om daar ‘n baie sarkastiese “Um Uhm” gestop te word.

Sien, ek het ook onbewustelik gou ‘n vinnige toetsie gedoen.  Sustermerrie het my natuurlik toe ook uitgevang.

Breinvasbrand:  Wanneer is die London Toring Brug geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  Frankryk is die land met die meeste tydzones, danksy hulle oorsese gebiede.  Rusland en die VSA is gesamenlik tweede.

NS:  Die hartseer deel van die storie, is dat ek my geheuekaart verloor het met die foto’s op.


Aksies

Information

4 responses

19 01 2020
scrapydo2.wordpress.com

Uitgevang. Almal is tog maar geneig om te doen wat ouens om jou doen. Jammer van die fotos!

21 01 2020
Xena Phoenix

Het jy al daardie groot glasbrug in China gesien?

Mens is nie veronderstel om op glas te kan loop nie. Dit is net onnatuurlik.

21 01 2020
scrapydo2.wordpress.com

OP TV ja. Ek kan my indink dat dit grillerig is.

19 02 2020
Olga

agteros kom ook in die kraal ne.
Sy het darem nog voel voel gaan le. Ek sou myself bevuil het.

Lewer kommentaar