Fooitjie kreune

23 08 2018

tips-jar-1024x580-800x500_c

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin die idee van ‘n fooitjie die witlig uit my uit irriteer.  Ek is ‘n semi-ordentlike mens en soos enige semi-ordentlike mens gee ek fooitjies waar dit verwag word.  Dit begin net hopeloos te veel deesdae verwag, op meer plekke waarmee ek gemaklik of tevrede is.

Kom ons dink gou ‘n oomblik oor fooitjies.  Dit behoort ‘n beloning te wees vir iemand wat jou buite verwagting gehelp het.  Ek dink byvoorbeeld aan die petroljoggies wat eendag my wiel vir my reggemaak het.  Dit is nie in hulle posbeskrywing om kliente se wiele reg te maak nie.  Nogtans het hulle dit vol vreugde gedoen.

Dit is nogal ‘n dun lyn om te onderskei.  Tegnies, behoort ‘n mens nie vir hulp of plein ordentlikheid te betaal nie.  Die onderskeid is seker tussen diens en hulp.  Wat egter van die diens wat iemand lewer nadat jy daarvoor betaal het?

Kom ek gee ‘n voorbeeld.  Jy gaan na ‘n restaurant en bestel ‘n biefstuk.  Dit kos argumentsonthalwe R150.  Die besigheidsmodel van die restaurant is dat iemand jou vra wat jy wil eet, hulle bestel dit vir jou en bring dit vir jou.  Agterna vat hulle jou vuilbord weg.  Daarvoor betaal jy ten minste R15.  Jou ete kos jou dus R165.

Die probleem is dat jy nie self jou bestelling kan plaas of self jou kos in die kombuis gaan haal nie.  Dus betaal jy iemand eintlik net om hulle werk te doen.  Netsoos jy nie ‘n kassier gaan betaal om jou inkopies op te lui nie, hoekom moet jy ‘n kelner betaal?

Wel, jy is ‘n semi-ordentlike of selfs ‘n ordentlike mens.  Jy weet dat die kelner nie betaal word nie en van jou afhanklik is vir ‘n inkomste.  Wie se verantwoordelikheid is dit egter om die werknemers betaal?  Die werkgewer s’n!  Van die geld wat hy uit die klient maak!

Dit is wat my die olga in maak.  Dat ek iemand se salaris moet betaal wat ek nie in diens geneem het nie.

Ek het nou die dag iets gelees dat die hele fooitjiekultuur uit slawerny ontstaan het.  Mense wou nadat slawe bevry is, nie die nuwe werkers betaal nie.  Die oud-slawe kon wel vir ‘n fooitjie werk.  ‘n Stelsel wat simpel is.

Dit is deesdae egter nie net meer kelners, karwagte en petroljoggies wat jy ‘n fooitjie voor moet gee nie.  Terloops, baie mense voel dat 10% in ‘n restaurant ‘n belediging is.  Diegene voer aan dat dit 20% moet wees.  Ek weet – ek het al dikwels 20% fooitjies uitgedeel, maar dit grief my as dit verwag word.  Ek weier egter om ‘n fooitjie aan haarkappers te gee.  Genugtig, ek betaal honderde rande vir ‘n haarsny.  Ek verpes dit ook om gastehuise ‘n fooitjie te gee.  Weereens – ek het die volle prys betaal.  Ek sal dit heroorweeg as iemand my swaar tas gedra het of ek ‘n groot gemors gemaak het.

Hoe voel julle oor fooitjies?  Voel julle dalk ook dat die werknemers hulle werkers moet betaal vir die werk wat hulle gedoen het.  Dink julle dalk ons behoort die ontvangsdame by die dokter ‘n fooitjie te gee?  Dalk ‘n fooitjie vir die handlanger van die loodgieter?  Hulle kry mos ook ‘n slegte salaris wat aangevul moet word?

Waar trek ‘n mens die lyn?





Poef en betaal

22 02 2018

Image result for tax

Daar is min dinge op hierdie aarde wat my bitter maak soos belasting.  Ek weet die Bybel sê jy moet die koning (regering) gee wat hom toekom, maar kom ons wees nou reguit.  Gee beteken jy vat iets en oorhandig dit aan ‘n ander.  Ek weet nie van julle nie, maar SARS wag nie vir my om te gee nie.  Nee, SARS gryp wat hulle wil hê en verder kyk hulle boeties en sussies waar jy verder geskroef word.

Voordat my maandlikse peanuts by my uitkom, het SARS alreeds hulleself daaruit gehelp.  Met mening.  Wanneer daar besluit word my pakkie peanuts word met 7% vermeerder, gryp SARS byvoorbaat sommer ‘n ekstra 10%.  Vir jare juig SARS harder oor enige verhoging as ek.  Kry ek ‘n paar ekstra peanuts as beloning, kry ek maar eintlik net SARS se oorskiet.  Hulle werk mos net so hard vir daardie peanuts as ek.  Daarom het hulle seker eerste reg op enige bonusse.

Dit is ‘n bitter pil om te sluk, maar die regering probeer nie eers die sluk makliker maak nie.  Wat kry ek nou eintlik vir my belasting?  Een of ander tyd gaan ek opgeskroef word vir tolgeld.  Waar ek nie vir die voorreg van die pad (wat met ondermeer my belasting gebou is) moet betaal nie, is dit koes-koes vir slaggate.  Ek moet vir ‘n medies, sekuriteit en aftrede betaal.  Ek het jare lank aan studielenings afbetaal en ek betaal my huidige studies self.  SARS sal wel ‘n manier kry om my te skroef met die Nasionale Gesondheid Versekering.  Ek betaal dus vir my eie en ander se opvoeding en gesondheidsorg.  In plaas van ‘n dankie, word daar net na meer peanuts gegryp.

Ek betaal al meer as ‘n dekade lank belasting.  In die tyd moes ek helaas al sake by die polisie aangemeld het.  In die tyd was daar al by my motorhuis, motor en huis ingebreek.  Ek het ‘n handvol selfone en ‘n skootrekenaar onvrywillig geskenk.  Raai hoeveel van die sake was geondersoek?  Raai hoeveel ondersoekbeamptes het ek al ontmoet?  0!  Belangstelling van SAPD?  -300%!

Nou word BTW boonop verhoog.  Ek is beslis nie lus om meer belasting te betaal vir minder nie.  Dus, moet ek maar my besteding besnoei.  Tans, kry SARS ongeveer R140 van elke R1000 wat ek spandeer.  Na 1 April, moet ek kry SARS ongeveel R140 as ek R933 spandeer het.  Hulle sal R150 kry vir elke R1000 wat ek uitgee.  Ek moet does 6.7% besnoei om seker te maak SARS kry nie ‘n sent ekstra nie.  Dalk moet ek die 6.7% in ‘n belastingvrye rekening stoot en kyk of ‘n mens nog rente kan verdien.  Ek weet nie of die 6.7% ‘n annuïteit kan koop nie, maar dan kan SARS vir jou geld gee.

Ek weet nog nie hoe ek my petrol verbruik gaan verminder nie, maar ek het beslis genoeg gehad van die bodemlose belastingput.

Hoe voel julle oor belasting?  Hoe kan ‘n mens jou belasting sny?





Vrugte Verlies

24 01 2018

Composition of various exotic fruits isolated on white backgroundEk hou van vrugte.  Baie!  Dit is vir my geen straf om ‘n paar porsies ‘n dag in te kry nie.  Ek neem gewoonlik vrugte werk toe vir middagete.  Ek sal ook nooit die vrugtebak (vars of gestowe) oorsien in ‘n buffet nie.  Ek weet, die meeste mense koop brood en melk op ‘n gereelde basis.  Ek?  Ek koop vrugte en melk.

Ek moet egter erken dat ek deesdae oorweeg om vrugte van my inkopielys te skrap.  Ja, vrugte is pepperduur, maar ek kan – erg teensinnig – daarmee lewe.  Die ding wat my teen die mure uitdryf is die kwaliteit van die vrugte.

Eerstens, ek het nie die lus of die tyd om elke dag winkel toe te gaan om ‘n paar vrugte te koop nie.  Ek gaan een keer ‘n week winkel toe en dan koop ek alles wat ek die volgende 7 dae gaan nodig kry.  Ek verwag wat ek ookal koop dan vir ten minste 7 dae gaan hou.  Ek het nooit probleme met die melk nie.  Ek koop selde brood, maar ek het daarmee ook nie ‘n probleem nie.  Vrugte aan die anderkant?

Is dit regtig te veel gevra om te verwag dat my vrugte vir ten minste 7 dae moet hou?  Ek het reeds genoem dat dit pepperduur is.  ‘n Mens kan dit amper ‘n luukse item noem.  Ek kan stuipe kry as ‘n piesang (deesdae tussen R15 en R23 ‘n kilogram) na 3 dae pap en oorryp is.  Jy kan deesdae al meer as R30 vir ‘n sakkie appels betaal.  dan moet dit beslis nie na pruimedante lyk nie.  Appels se skille is nie geplooi nie.  Ek kan ‘n winkeleienaar gooi met ‘n verlepte appel.

Asof ‘n erg verlepte appel nie teleurstellend genoeg is nie . . . Weet julle hoe voel dit om ‘n byt uit ‘n lekker sappige appel te neem en dan te ontdek dat dit vrot is binne?  Ek waag dit deesdae nie meer om aan ‘n appel te hap nie.  Ek sny dit eerder in kwarte.  Of jy ‘n paar veselperskes (better bekend as mango’s) gekoop.  Wanneer jy dit skil om aan dit smul, is hulle almal vrot binne.

Hoeveel keer het julle al druiwe of perskes gekoop en twee dae later is dit vol wolle.  Ek waardeer fungusse, maar ek soek dit nie op my goue – ek bedoel duur – vrugte nie.

Ek het almal probeer.  Checkers, Pick n Pay, Fruit & Veg, Spar en selfs Woolworths.  Jy loop met ‘n trollie vol geld in, kry ‘n halwe mandjie vrugte en jy gooi twee derdes weg.

Is dit net ek?  Bederf my gesig dalk die vrugte?  Kies ek dalk vrugte soos my agterent?

Hoe voel julle deesdae oor die vrugte wat julle koop?





SA, sing maar jou maar jou laaste aria . . .

31 03 2017

pravin-2

Want sy naam is Zuma.

Eintlik het ek nie eers woorde nie.  Selfs ‘n donkie stamp nie twee keer sy kop teen dieselfde klip nie.  Na die hele Nene fiasco, sou ‘n mens hoop dat ‘n sekere dom drol die president sy les sou geleer het.  Nou vra ek myself af – is dit sy doel om SA te vernietig?

Vroeër vanjaar was daar oproepe om die Rand te vernietig en sodoende die sogenaamde “wit monopolië” te vernietig.  Dinge het juis net begin goed lyk na die Van Rooyen skandaal.  Die rand het dag na dag versterk.  Pravin Gordhan se roadshows het begin vrugte afwerp.  Die president was stil en dit het almal uitstekend gepas.  As sy mond toe is, kan hy mos nie aanjaag nie.

Behalwe dat kinders wat gewoonlik stil is, besig is om kwaad te doen.  Die Rand het hom gewaarsku toe hy vir Pravin Gordhan terug geroep het.  Die minste wat hy kon gedoen het is om te wag tot die man sy goeie werk oorsee voltooi het.  Het Zuma hom daaraan gesteur?  Nee!  Dit was seker nog te sterk na sy sin.

Hoekom?  Hoekom?  Hoekom?

Soos iemand vanoggend op Twitter gevra het.  Wat moet die man nog doen om die trekpas te kry.  Meer as 700 korrupsie aanklagte, Nklandla (ek wonder wie het vir hom geld geleen), Nene/Van Rooyen, algehele minagting van vroue, staatskaping en verkeerde vriende nie genoeg nie.  Moet hy eers katjies verdrink en op televisie moord pleeg (woorde gesteel)?

Waarskynlik sal dit nie eers help nie.  As jy in die woordeboek onaantasbaar gaan opsoek, gaan jy ‘n foto van hom daar sien.  Vet alleen hoekom!

‘n Eerbare man sou al lankal sy pie gevat en gewaai het.  Oops!  Ons praat nie net van iemand sonder ‘n greintjie eerbaarheid nie, maar van iemand wat allergies is vir eerbaarheid.  Die ANC is siende blind en horende doof.  Die DA het al weer ‘n mosie van wantroue gaan instel – maar sonder die ANC se stemme, gaan dit weer flop!

Moet iemand nou wragtig eers reg in eie hande neem?  Kan Suid-Afrika nog 2 jaar met die ongeluk uithou?

Gordhan vir president!

 





Afbreek en Rede

28 09 2016

Hoe beskaaf is ‘n land nou eintlik as mense hulleself send to brandstigting, saakbeskadiging en vandalisme as hulle nie hulle sin kry nie?

Suid-Afrikaners sien dit gereeld.  Brand ‘n skool af as mense nie gelukkig is oor dienslewering nie.  Die skool lewer mos dienste.  Beskadig winkels as daar geprotesteer word vir lone – al is die winkels nie die werknemers nie.  Vernietig ‘n universiteit in ‘n poging vir gratis onderswys.  Dit maak seker sin, as daar geen universiteite is nie, kan daar mos ook geen studiegelde wees nie.  Doel bereik – wat maak opvoeding in elk geval saak?  Veral as die room van die opvoedingsleer nie besef dat hulle proteste deel vorm van hoekom daar nie geld is nie.

Suid-Afrika sal geen vordering maak tot tyd en wyl die onluste geduld word nie.  Eerstens – geld groei nie aan bome nie.  Tweedens – niemand kan iets verniet kry nie, tensy iemand vir iets betaal het wat hy / sy nie gekry het nie.  Derdens – hoe meer skade daar berokken word, hoe minder geld is beskikbaar om vir goed aangewend te word.  Dit is nie rocket science nie en dit is blerrie tyd dat die massas dit besef.  As daar nie geld is nie, is daar nie geld nie.

Ek gaan dit tog noem:  noodweer is nie net ‘n regverdiging as daar op iemand se lewe ‘n bedreiging gemaak word nie.  Noodweer kan ook die beskerming van eiendom insluit.  Goed en wel, die eiendom moet iemand se lewe werd wees.  Dus, jy gaan nie met moord wegkom oor ‘n tuinstoel nie, maar as jou lewensmiddele bedreig word, het jy ‘n beter kans.  Vraag is wie / wat is meer werd – die protesteerende massas of ‘n geboue van ‘n paar miljoen rand?

Goed, goed – ons soek nie ‘n menseregte insident al weer op ons voorstoep nie.  Die massas is mos gevrywaar teen geweld, al skroom hulle nie om geweld te gebruik om hulle doel te bereik nie.  Wat is egter die alternatief?  Hoe leer mens mense wat nie rede kan insien om hulle hande tuis te hou?  Afbreek is maklik, maar hoe leer jy iemand om eerder op te bou?  Is dit ‘n verlore stryd?  Indien wel, hoekom enigsins probeer om mense op te lei wat nie kan leer om nie af te breek nie?

Ek dink om mee te begin moet enige student wat poog om ‘n gebou af te brand lewenslank van enige tersiêre instelling verban word.  Die mense wat skole afbrand in die naam van dienslewering, moet harde arbeid verrig om die skool weer op te bou.  Sonder betaling.  Voel ‘n bietjie hoe voel dit om jou gat af te werk vir iets waaruit jy nie persoonlik voordeel trek nie.  Dalk moet dienslewering summier opgeskort word in die gebiede waar dit met geweld geëis word.

Hoe dink julle kan die afwaardse neiging vir eens en vir altyd uitgeroei word?  Dit behoort mos natuurlik te wees – pas wat jy het op.  VERDIEN wat jy meer wil hê.

Breinvasbrand:  Watter jaar het pendelaars ‘n brand in die wagkamer van Pretoria stasie begin omdat die trein laat was?

Breinlosbrand:  24 September 1995.  Olga was dus reg.





Skoolverkeer pyn in mens se agterend

26 09 2016

Wanneer begin die lente skoolvakansie?  Ek kan nie meer wag nie.  Nee, ek gaan nie saam met die kinders vakansie hou nie.  Die oomblik wanneer hulle vakansie het, word my pendeltyd met ten minste twee derdes gesny.  Ironies!  Hoeveel skoliere ry self skool toe?  Veral as ‘n mens in ag neem dat ek basies verby ‘n spul kleuterskole en een skool ry.

Een van die skole het onlangs besluit om ‘n tweede aflaaisone vir hulle ouers te begin.  ‘n Besluit wat ek seker is die ouers baie waardeer.  Ek verwens daardie skool egter deesdae met ‘n passie.  Die ouers se lewe is aansienlik verbeter, maar my oggende het in ‘n nagmerrie ontaard.

Sien, in gewone skooltyd neem dit my 30 – 45 minute om verby die skole te kom.  Dit is ‘n afstand van minder as ‘n kilometer.  Verby die laaste skool, neem my dit so 10 minute om die laaste 8 km na my werk toe af te lê.  Dit was egter in die tyd en dae voordat die tweede stop – aan die laaste 100 m van die “skoollaan” ingebring is.

Nou – wel – die skoollaan is ontoeganklik vir die buurte wat dit omring.  Die skoollaan is een van die vloeistrate waarmee mens na die sakesentrum toe gaan.  Daar is heelwat buurte wat daar moet deursukkel soggens.  Die ouers wat van die teenoorgestelde kant kom, maak basies ‘n u-draai voor die skool.  Dit neem hulle 30 sekondes om hulle kinders af te laai.  Die verkeer vloei vry na die skool, dus het hulle geen frustrasie nie.  Niemand anders kom egter verby die skool nie.

Goed, ek oordryf.  Ek het al verby gekom – meer as ‘n uur later.  Ek het al langer as 20 minute gewag om by die skoollaan in te draai.  Nodeloos om te sê, ek moes maar vir my ‘n alternatiewe roete gaan soek het.  Die alternatiewe roete is aansienlik langer (in afstand) as die skoollaan.  Die ander alternatief is om ‘n uur vroeër te ry:  wat basies beteken is is binne 10 minute om 06:15 by die werk.  Dit werk op soveel vlakke nie vir my nie.  Laastens kan ek seker trek.

Kan skole regtig net die verkeerlogistiek beduiwel soos dit hulle pas?  Ek meen, dit werk vir hulle en dit pas hulle kliente uitstekend.  Wat maak die ander mense wat in die voet geskiet is saak?  Moet ek dit bloot aanvaar as my probleem en leer om daarmee saam te lewe?

Breinvasbrand:  Wanneer was die eerste Erfenisdag gevier?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1929.





Hoekom doen ‘n mens dit aan jou self?

9 09 2016

Dit is al ‘n geruime tyd dat Edgars ‘n doring in my vlees is en vet weet hoekom ek dit duld.  Ek het vroeër vanjaar van die ander doring in my vlees, genaamd ABSA ontslae geraak.  Ek dink alhoemeer daaraan om Edgars ook warm plek toe te pos.  Ek is immers nie ‘n aanhanger van pyn nie en ek weier beslis om daarvoor te betaal.

Edgars was van die eerste rekeninge wat ek oopgemaak het.  Die redes is deesdae maar vaag.  ‘n Mens moet iewers ‘n kredietrekord begin bou en soos baie ander studente, was my klerekas nie geskik vir ‘n werkende dame nie.  Edgars was redelik gerieflik – dit het klere gehad wat ek sou dra, dit was redelik algemeen beskikbaar en jy kon by Jet en CNA ook koop.  Alles rentevry.  Ek praat onder korreksie, maar ek dink klublidmaatskap was toe R15 / maand.  Vir iemand wat ten minste een keer ‘n week gefliek het, was 50% afslag teen R15 ‘n maand nie te versmaai nie.

Ek het seker twee jaar gelede vir myself klere by Edgars gekoop.  Deesdae is dit ‘n onbegonne taak om iets te kry in Edgars wat jy bereid is om te dra.  Ek  het jare gelede al met Jet opgegee.  Hulle het nie juis ‘n verskeidenheid van ware nie, jou keuses val basies op vat of los.

Edgars was ook al verskeie kere in die media oor hulle prysverhogings.  Krap gerus maar die pryse op hulle winskope af.  Dikwels is die prys hoër.  Verlede jaar se mode is dikwels die jaar ‘n R100 duurder.  Die dae wat mense bereid was om in die tou te staan vir rooihanger uitverkopings is lankal vergete.  Dit is nie die moeite werd om by die winkel in te gaan daarvoor nie.  Vergeet ook daarvan om skoene by hulle te kry.

Edgars is ook besonders duur.  Nie net is hulle items nie die prys werd nie, maar deesdae is daar tot ‘n R22.80 rekeningbestuursfooi wat hulle aan jou wil afsmeer.  Ek is jammer, besighede is veronderstel om hulle administratiewe fooie te dek uit hulle inkomste.  Ek is nie verantwoordelik vir hulle bestuursfooie nie.  Ek betaal al R60 per maand vir klubfooi.  Dus word daar R993.60 per jaar van my verwag om ‘n lojale klient te wees.  Amper ‘n R1000.

Ek kry deesdae niks vir my klubfooie nie.  Toegegee, as ek dalk nog eenkeer ‘n week gefliek het, was dit die moeite werd.  Dit is in elk geval bokant my begrip hoe maatskappye van jou kan verwag om hulle te betaal om jou te beloon as ‘n goeie klient.  Hou jou beloning en ek hou my geld en dan is ons mos altwee beter af.  Wie kry R60 ‘n maand voordeel uit hulle klubfooie?  Hoe eties is dit om die klubvoordele aan mense in die platteland af te smeer?  Hulle kan niks daarvan geniet nie.

Hoekom de duiwel is ek nog by Edgars?  Is hulle regtig my kredietrekord werd of kan my ander rekeninge hulle vervang?  Is dit bloot toevallig dat ABSA hulle rekeninge bestuur?

Breinvasbrand:  Watter jaar en waar het die eerste Edgars winkel geopen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Johannesburg (Braamfontein).





Dit lyk goed op papier . . .

20 06 2016

Soos julle teen die tyd weet, het ek meer as my regverdige deel luiheid weg.  Nietemin het ek nog altyd weggeskram daarvan om ‘n gereelde huiswerker te kry.  Ek kom soortvan reg; skottelgoed kan gewas word terwyl ek soggens water kook, die bad kan skoongemaak word terwyl ek afdroog en mens kan afstof terwyl jy TV kyk.  My huis is dus leefbaar – wel, volgens my standaarde in elk geval.  Wanneer my standaarde my nie meer aanstaan nie, kry ek ‘n vrou in wat dinge kom regklap.  So een keer ‘n maand of dalk 2 maande.

Elke nou en dan wonder ek of ek nie maar die vrou moet kry om weekliks in te kom nie.  Ek weet dat sy wel ‘n dag oop het in ‘n week wat sy graag wil vul.  Gewoonlik rondom die tyd vererg ek my vir ‘n politikus en dan besluit ek om die eerder alleen op te snork.  Nie juis dat dit (spesifiek in 2016) Mmusi Maimane of Julius Malema raak nie.  Hulle voel nie die paar honderd rand aan hulle sak nie.

Dalk moet ek julle die ooreenkoms tussen my en die vrou wat my help verduidelik.  Sy daag op, doen wat haar hand vind om te doen en ek betaal haar die bedrag wat sy bepaal.  Dit was aanvanklik R100 per dag, maar dit het al oor die jare gegroei na R160.  Huidiglik stryk sy nie, maar sou ek haar weekliks gebruik, gaan ek van haar verwag om te stryk.  Die vrou bepaal nie net haar eie loon nie, maar sy bepaal ook haar begintye, eindtye, breektye en eintlik ook haar werk.  Sy verstaan nie Afrikaans of Engels nie – dus, as ek wil hê sy moet iets spesifieks doen, moet ek dit met gebare aan haar verduidelik.  Sy werk haar beslis nie dood nie – daar is tye wat sy voor 14:00 al huis toe gaan.  Sy het nog nooit later as 15:00 gewerk nie.

Ek kan daarmee lewe, al frustreer dit die daglig met tye uit my uit.  Dit sal egter onregverdig van my wees om iemand anders te kry as die vrou al jare lank my met tye kom help.  Dit is een ding om my begroting te rek om haar meer gereeld te kom help.  Dit is ‘n heel ander ding om aan die wet te voldoen.

Die oomblik as die vrou meer as 24 uur ‘n maand werk, moet ek aan sekere wetlike vereistes voldoen.  Die wet het ‘n edele doel – dit poog om te verseker dat huiswerkers nie soos slawe mishandel word nie.  Dit is egter ‘n doring in vlees wat ek nie daar wil duld nie.  Niemand kan my dwing om daaraan te voldoen nie, ek voel wel ‘n paar honderd rand verskil aan my sak.

Eerstens, sou ek die vrou weekliks kry, sal ons die 24 uur ‘n maand net-net maak of net-net mis.  Ek het genoem dat ek verkies dat sy moet stryk, dus aanvaar ek dat sy meer as 6 ure op ‘n dag sal werk (dit kielie my in elk geval dat haar tarief per dag dieselfde is vir iemand wat ‘n 4 slaapkamer huis het en iemand wat ‘n 2 slaapkamer huis het.  Toegegee, sy is haar eie baas, sy bepaal haar loon.)

In elk geval, die oomblik dat ek haar weekliks wil gebruik, moet ek haar ‘n kontrak gee.  Siende dat sy nie Afrikaans of Engels verstaan nie en ek nie Sepedi verstaan nie, het ons duidelik hier ‘n probleem.  Benewens dit, moet ek in die kontrak spesifiseer wanneer sy mag eet (hoe moet ek weet wanneer is sy honger – sy vat gewoonlik haar KFC saam met haar huistoe), wanneer sy mag koffie / tee drink en seker ook wanneer sy kan piepie.  Op die oomblik bepaal sy dit self en dit pas my uitstekend.

Verder moet ek haar een dag betaalde verlof gee vir elke 17 dae wat sy gewerk het.  Ek kan seker vrygewig wees oor Kersfees.  Die afgelope paar jaar verwag sy in elk geval haar Christmas.  Sy is geregtig op betaalde familie verantwoordlikheid verlof.  Ek beskou myself as ‘n redelike mens, dus is dit nie ‘n probleem nie.  Ek dink nie sy sal ooit nodig hê om oortyd te werk nie.

Ek moet haar ook registreer vir die werkloosheid versekerings fonds.  Dit is gewoonlik net hier waar ek besluit de hel met die stront.  Dit gaan nie oor die 1% van haar loon wat ek daarin moet betaal nie (wel, eintlik 2%, want moet ek nou regtig die ander 1% van haar loon aftrek?  Die kleingeld soek daarvoor is so nie die pyn werd nie).  Benewens nou die gesukkel om haar te registreer, moet ek ‘n maandlikse verklaring stuur dat sy by my werk.  Terloops, dit is ook die werkgewer se verantwoordelikheid om te sukkel tot jy nie meer geregistreer is nie.  Terwyl ek ook die administratiewe rompslomp kla, ek moet vir haar ‘n betaalstrokie vir haar gee met haar loon.  Dit is regtig minder moeite om self skoon te maak.

Kan ek op die punt noem dat ek haar aansienlik meer as minimum loon (R91-52 vir ‘n 8 ure dag) betaal en indirek tot haar verblyf bydra?  Die oomblik wanneer sy weekliks begin werk, word ek wetlik verplig om voor 1 November elke jaar haar salaris met 8% te verhoog.  Dit is blykbaar inflasie met 2.5%.  Hoewel ek kan verstaan hoekom dit gedoen word, is dit doodeenvoudig nie volhoubaar nie.  Die meeste mense se salaris verhoging is aan inflasie gekoppel, party mense kry nie eers inflasie nie.  As die huiswerker se salaris bokant dit groei, gaan daar ‘n dag kom waarop die werkgewer dit nie meer kan bekostig nie.  Wie gaan dan aan die kortste ent trek?

Die wetgewers het daaraan ook gedink.  As jy jou huiswerker afdank (retrench) moet jy haar 1 week se salaris vir elke jaar wat sy vir jou gewerk het.  Dit sal haar seker help, maar vir hoe lank?

Dan kom kerm Malema nog daaroor dat mense vir hulle troeteldiere mediese versekering het, maar nie vir hulle huiswerkers nie.  Regtig?  Vir een dag ‘n week?

Saak gesluit.  Ek kom eerder op my eie klaar.

Hoe voel julle?  Wat reken julle is noodsaaklik vir huiswerkers.

Breinvasbrand:  In “Susters van Eva”, wie is die huiswerker wat vir almal werk?

Breinlosbrand:  HesterLeyNel was reg met elektriese skok of dodelike inspuiting.





Waarskuwing: Gim Kleedkamers

29 03 2015

As ek kon het ek natuurlik nooit ‘n voet daar gesit nie.  Ek praat nou nie van die gim nie, maar van die gim se aantrekkamers.  Helaas is dit nie altyd moontlik.  Sien, my neus vra gewoonlik nie vir toestemming om te loop nie.  Water drink is goed en gesond, maar dit het ook ander newe effekte wat ‘n besoek aan die aantrekkamer regverdig.  Soms smeek jou hande om gewas te word.  Dit is ook nie altyd moontlik om te verklee voordat jy by die gim kom (Nota aan self:  baie mense verklee terwyl hulle bestuur.  Wat keer jou?).  Tussen jou dagboek en ESKOM is dit ook met tye noodsaaklik om by die gim te stort.  ‘n Lang relaas om te verduidelik dat ek nie die kleedkamers kan vermy nie.

Hoekom wil ek dit vermy?  Doodeenvoudig.  Elke keer wat ek my lewe in een waag is daar ‘n vrou (of meer) wat haar volle Evasgewaad in my oog steek.  Nee, dit is nie dat ek staar nie.  Ek is halfpad blind (Nota 2:  Haal dalk jou bril af as jy die kleedkamer moet betree), maar dit is blerrie moeilik om dit mis te kyk.  Dit is aansienlik minder pynlik om te aanskou as sy diskreet is.  Helaas, party vroue het geen voorbehoude nie.

Ek sien gereeld hoe iemand haar so met room smeer dat alles bespat word.  Dit is nie vreemd om ‘n vrou poedelnaken op ‘n bankie te sien sit terwyl sy met haar selfoon speel nie.  Ander van hulle blaas weer hulle hare droog voordat hulle aantrek.  Party loop ook skynbaar doelloos rond.  Diegene wat diskreet voor hulle toesluitkassie hulle ding doen, is nogal skaars.

Toegegee, mens kan hulle nou nie regtig blameer nie.  Die gim het ‘n spul afgeskorte (dankie tog!) storte.  As jy nou regtig issues het (soos die uwe) kan jy wel daar aan en uit trek.  Dit is egter baie beknop en daar is geen waarborg dat jou skoon klere droog gaan bly nie.  Die akrobatiese toertjies wat jy moet uithaal om dit reg te kry, tel seker as ekstra oefening.

Dit gaan net my verstand te bowe dat hulle nie ordentlike aantrekhokkies kan maak nie.  Ek dink aan ‘n toonbank (te hoog vir kaal, dik stêrre om op te kan spring) vir jou klere, plek om aan en uit te trek en natuurlik ‘n stort met deure sodat dit wat moet droog, droog bly.  Daar is Gims wat so ingerig is, sekerlik kan die Besige Maagde dieselfde doen?  Dalk kan hulle sommer ook die toilette van die kleedkamer skei.

Ek weet al die vroue het niks wat ek nie ook het nie.  Dit beteken nie dat ek dit wil sien nie.  ‘n Klein bietjie privaatheid het niemand al ooit skade gedoen nie.

Wat dink julle?  Is ek die een met die probleem?  Hoe voel jy oor gemeenskaplike kleedkamers / badkamers?  Hoe voel jy daaroor om sulke geriewe te deel?  Wat as jy dit met die teenoorgestelde geslag moet deel?

Breinvasbrand:  In watter gemeenskap was die eerste loodgieters gekry?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Mr. Brownlow.





En jy kry hulle op die pad

18 03 2015

Die goue reël van die pad is “Hou links”.  Die reël se status kan dalk  verlaag word.  Ek meen, baie paaie het meer as een baan en dit is onmoontlik vir almal om links te hou.  Dit is ook heeltemal wettig om onder die regte omstandighede regs verby te steek.  Partykeer is dit net veiliger en logies om regs te hou.  Buitendien bestuur alle lande nie links nie, dus sal ‘n universele reël meer van toepassing wees.

Ek het ‘n voorstel.  Maak die goue reël van die pad “Moenie ‘n poephol wees nie.”  Die reël is goed genoeg vir daaglikse gebruik in enige omstandighede, maar ja, Rome is nie in eendag gebou nie.  Dit is seker maar in die mens se DNA om dan en wan ‘n poephol oomblik te hê.  Die ongeluk is dat party mense heeltemal misbruik daarvan maak.  Sommige kom net nooit uit hulle poephol oomblik uit nie.  Natuurlik voel hulle ‘n veer daaroor, ‘n poephol kan nie omgee hoe dit ander mense beinvloed nie.

Terug na die pad.  Gestel nou jy moet van ‘n dubbelbaan by ‘n stopstraat regsdraai.  Die enkelbaan waarin jy moet draai is vol.  Daar is basies twee keuses.  Opsie poephol:  Draai regs en sny sodoende die verkeer wat reguit kan aangaan af.   Dit is mos jou beurt om te ry.  Dit is nie baie hoflik nie.  Die ander opsie is om solank die mense wat kan ry, toe te laat om so te doen terwyl jy vir ‘n gaping wag.  Wat natuurlik deur die linksdraai-steler poepholle uitgebuit word tot die gevolg dat jy self lus is om ‘n poephol te word.

Dit bring my by die poepholle wat net nie hulle beurt kan afwag nie.  Hulle sal opsluit die noodbaan, sypadjie of teenoorgestelde baan gebruik om 100 m verder in te druk.  Natuurlik kan jy die poephol wees wat weier dat hulle indruk.  Nie dat hulle ‘n gatjie verdien nie, maar die kar aan die ander kant het niks verkeerds gedoen nie.  Hulle verdien nie om soos ‘n poephol behandel te word nie.  Wat van die poepholle wat van die vorige blok jaag om die verkeerslig op groen, oranje of selfs rooi te vang en daardeur almal wat regs wou draai afsny?  Of die poephol wat gesien het wat gebeur en dan opsluit wil storm wanneer die lig groen raak, ongeag die karre wat in die middel van die kruising hulle rybeurt afwag?  Ek praat nie hier van verkeersligte wat pyltjies het nie.

Parkeerareas floreer ook van poepholle.  Daar is mense; jammer, ek bedoel poepholle; wat doodeenvoudig sal weier om op ‘n besige Saterdagoggend iemand uit ‘n parkering uit te laat kom.  Wel, behalwe as hulle verseker is dat daar geen ander parkering is nie.  Of wat van die poepholle wat sommer iemand se parkering onder hulle neuse uitsteel (gewoonlik ‘n linksdraai-steler).  Ek meen regtig?  Gaan kul eerder op jou belastingvorms.

Watter poepholle identifiseer jy op die paaie?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gas verkeersligte gebruik in Desember 1868?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Ou Engelse Skaaphond.