O wat is geld . . .

17 01 2020

money-down-drain

Nou die dag begeer ek so effens op AirBnB rond.  Nie dat ek al ooit in een gebly het nie, maar dit kan mos nie skade doen om te weet wat beskikbaar is nie.

Nou moet ek noem, dat ek met ‘n swaar hart meer as ‘n R1500 / nag vir akkommodasie betaal.  As ek uitstedig is, wil ek beslis so min as moontlik tyd in die hotel of gastehuis deurbring.  Ek soek maar min – gee my ‘n skoon bed, ‘n privaat badkamer en wifi, dan is ek tevrede.  In die prysklas, kry ‘n mens gewoonlik ook ‘n puik ontbyt.

Soos ‘n mens rondkrap, rek ‘n mens se oë vir die R3000 p/n kamers en verstik jy amper oor ‘n R12000 kamer.  Mensekinders, dit is nog niks.  Hoe klink ‘n villa teen R150 000 per nag?

Goed en wel, daar kan 12 mense daar slaap – jy het ‘n uitsig oor die see en die villa kom met ‘n butler en chef.  Maar regtig?  R150 000?  Wie het soveel geld?

Vir R150 000 gaan hou ek (met ‘n maatjie) vir ‘n maand lank vakansie in Europa.  Ons sal in skoon privaat kamers, met privaat badkamers, wifi en ontbyt bly.  Ons sal die meeste besienwaardighede kan aftik, rondtoer en self aandenkings koop.

O ja, ons sal ook veroordeel word dat ons geld mors.  Baie mense sal wat gee om dit as ‘n jaarlikse salaris te kry, dit is amper 3 keer die minimum loon.  R150 000 kan ‘n Kia Picanto koop, maar nie veel meer nie.  Dit bly darem ‘n skaflike deposito vir ‘n kar.  Helaas, dit sal fyn soek kos om dit as ‘n deposito vir ‘n huis aan te wend.  Veral as jy registrasiefooie aan oordragskostes in gedagte moet hou.  Ek weet nie eers of dit genoeg is om ‘n baie basiese operasie te dek nie.

Eintlik is R150 000 niks.  Niks, maar beslis baie meer as wat in my spaarvarkie is. 

Breinvasbrand:  Watter land strek oor die meeste tydzones?

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Haaie.    





As kom nie altyd in sakke nie.

5 11 2019

ToffieDaar word gesê dat as gebrande hout is.  Tog is daar twee asse wat mense wat dit snap baie pyn, lyding en vernedering kan spaar.  Die eerste spreek vanself:  “As jy dom is, moet jy sukkel.” Die tweede een word huidiglik so netjies gedemonstreer, dat ek dit nie net kan laat verby glip nie.  “As jy jou vir ‘n toffie uitgee, moet jy verwag om gekou te word.”

‘n Rukkie terug was daar ‘n Suid-Afrikaanse All Black ondersteuner wat dapper genoeg was om alle Springbok ondersteuners te kom aanvat.  Hy het nie een goeie woord vir die groen en goud gehad nie.  Dit is immers sy goeie reg.  Nogtans, wanneer jy grootpraatjies op iemand se vertoning pak, moet jy bereid wees om die prys te betaal.  As jy nie jou grootpraatjies gestand gaan doen nie, gaan jy gemaak word om dit te eet.  Wat presies hier gebeur het.

imagesE1NG2OWH.jpg

Die Springbokke het nie teen die All Blacks gewen nie.  Dit beteken egter niks nie.  Die Engelse het die All Blacks oortuigend geklop en die Bokke het die Rose behoorlik geklop.  Die beste span het dus die Webb Ellis trofee gewen en aan elke egte, trotse, terloopse en selfs toevallige Springbokondersteuner die reg gegee om te spog.  Daarmee saam word die trofee baie vermakerig onder elke teenstaander se neus gevryf.  Dit is die voorreg van die wenspan en die straf van die verloorspanne.

As jy dus nie bereid is om jou woorde te sluk nie, moet jy maar twee keer dink voordat jy jou bek rek oor ‘n span.  Hoe verder jy dit rek, hoe meer mense gaan in die tou staan om seker te maak jy eet elke letter en leesteken van wat gehoor is.  Dit is deel van die pret en as jy ‘n goeie sport is, is dit binne ‘n paar uur (dae of dalk weke in ‘n wêreldbeker) vergete.

Tog is die dapper All Black ondersteuner nie lus vir ‘n ‘humble pie) of 1000 nie.  Vandag het sy vrou Jakaranda gebel en gevra dat die Springbok ondersteuners tog net moet ophou om hulle te teister.  Hoewel ek nie saam stem dat hulle kinders vir die grootbek van hulle vader verantwoordelik gehou word nie, moet jy bereid wees om gekou te word as jy jouself as ‘n toffie uitgee.  Nie agter jou vrou wegkruip nie.

Net my mening.  Dan weer, ek het in my hart blindelings gehoop en glo dat die Bokke gaan wen.

Hoe voel julle?  As jy sout in wonde gevryf het, moet jy aandring op genade wanneer dit jou beurt vir dieselfde behandeling is?  Gaan Bok ondersteuners te ver?

Breinvasbrand:  Daar is ‘n meme wat tans verkondig dat SA die wêreldbeker wen wanneer die Cheetahs die Currie Beker wen.  Nie om ‘n goeie storie met feite te bederf nie, maar die Cheetahs het nie in 1995 die Currie Beker gewen nie.  Wie het?

Breinlosbrand:  HesterNeyNel was reg met Our Lady.

32-to-12-meme-e1572724570670





Wegkruipertjie

13 03 2019

imagesDME3ZH9X

Daar word beweer dat die wêreld klein is.  In baie gevalle is dit skokkend presies hoe klein dit is.  Daar is byvoorbeeld die teorie van “7 degrees of separation”.  Dit behels basies dat daar 7 mense tussen jou en enige persoon op aarde is.  ‘n Geval van A ken B wat vir C ken tot jy by die spesifieke persoon uitkom.  Dit klink gek, nie waar nie?  Tog – ek ken iemand wat die koningin van Engeland se hand geskud het.  Dus is daar een persoon tussen my en Elizabeth.

Kyk ook hoe maklik dit is om op enige punt op aarde te kom.  ‘n Mens kan deesdae tot in Antartika gaan vakansie hou as dit jou behaag.  Toegegee, jy moet diep sakke hê daarvoor.  Nogtans is dit verstommend hoeveel mense die wêreld plat toer met los werkies.  Waarmee hulle gaan aftree, weet ek nie, maar hulle sal baie stories hê om op die ouetehuis se stoep te vertel.

Is dit dan nie verstommend hoe iets net tussen neus en ore kan verdwyn nie.  Ek kon byvoorbeeld vanoggend nie die spesifieke broek kry wat ek wou aantrek nie.  Dit was nie in my kas nie, dit was nie in die spaarkamer se kas nie en dit was nie in die wasgoedmandjie nie.  Ek is seker dit is iewers, maar vet alleen weet waar.

Dan praat ons nie eers van leeu se kind wat al amper ‘n maand lank in die Karoo rondloop nie.  Hulle kry hier en daar ‘n spoor, maar vuilbaard word nie met ‘n oog gesien nie.  Die beste spoorsnyers en tegnologie word ingespan, maar die mannetjie wys hoekom hy die koning van die oerwoud (of semi-woestyn) is.

Malaysian Airlines se vlug 370 is nou nog na 5 jaar soek.  Ons praat van ‘n massiewe vliegtuigwrak wat net verdwyn het.  Hier en daar is daar ‘n stuk gekry, maar die romp met al die siele daarin, is weg.  Iets wat mense nog vir jare gaan fasineer.  Dit het immers dekades geneem om die Titanic se wrakstukke op te spoor en hulle het geweet waar dit gesink het.

Mense kan ook nog verdwyn.  Dink maar aan die sogenaamde “Vermisde meisies”.  Hulle is al 3 dekades weg en niks van hulle is al gekry nie.

Die wêreld mag dalk klein wees, maar daar is baie goeie wegsteek / wegkruiphoekies?  Wie weet, dalk is daar net een wegsteekhoekie waarvan bittermin weet.

Breinvasbrand:  Wat was die naam van die tier wat oppad na die veearts uit die bakkie gespring het waarmee hy vervoer was en ‘n paar dae soek was?

Breinlosbrand:  Hesterleynel was reg met Tinkerbell.





Internasionale dag vir Vroue

8 03 2019

imagesKXNE9N64

Ek bewonder vrouens wat gatskop.  Daar is immers ‘n rede hoekom ek die naam Xena gaan kies het.  Letterlik gatskop is goed en gaaf, maar kom wees eerlik.  Dit is nou nie juis iets waarop vrouens hulleself kan roem nie.  Nie dat ‘n mens noodwendig geweldadig of aggressief moet wees om behoorlik gat te kan skop nie.  (Ek het amper die fout gemaak om te sê dat ‘n vrou nie sterk is nie.  Gmph!  Daar is ‘n rede hoekom vrouens kinders in die wêreld bring).

Dit laat my nou dink aan “Fiela se kind” (van Dalene Matthee vir die met ‘n gat in hulle opvoeding) waar Benjamin in ‘n grot lê en sulk oor matige bliksems.  Hy besin oor die mag van die vrou wat anders is.  Listiger.  Iets wat hy dikwels in Fiela en Nina gesien het, maar net een keer in Barta.  Die listige mag wat hom wel die moed gee om uit die grot te kruip en met sy lewe aan te gaan.

Ek het vanoggend ‘n artikel raak geloop van hoe vroue proteste ‘n verandering gemaak het.  Goed, ons geskiedenis vier ook ‘n vroueoptog, maar daar het nie juis veel daarvan gekom nie.  Soos enige goeie Suid-Afrikaner weet – ‘n optog beteken niks as jy nie ook iets afbreek of afbrand nie.  Selfs dan – jy kry media dekking en – as jy gelukkig is – leë beloftes.

Ek kon egter nie help om te giggel oor vrouens wat oorloë gestop of beinvloed het met die oudste manipulasie in die boek nie.  Julle weet, die bene wat toeklap en toebly tot mevrou anders besluit.  Oorloë.  Daar word dikwels gesê as vrouens die wêreld regeer, sal daar minder bloedvermorsing wees.  Uhm.  Die tannies het seker net nie genoeg belangestel om dit stop te sit nie.

In die 1600’s het die Iroquois vroue aangedring om ‘n vetoreg in oorlog te hê.  Die mans was natuurlik beterwetig, maar hulle het glo gou van plan verander toe hulle koud moes gaan slaap.

Die plan was in 2003 deur die vroue van Liberië herhaal.  Hulle het besluit dat daar geen seks sal wees totdat die burger oorlog tot ‘n einde kom nie.  Vir hulle moeite het hulle nie net vrede gekry nie, maar ook Afrika se eerste vroue president.

Mens sou dalk dink dat bendes dalk meer weerstand kan bied.  Vroue in Pereira, Colombië het in 2006 besluit dat hulle moeg is vir ‘n moordkoers dubbel die nasionale gemiddeld.  Hulle bene het toegeklap in ‘n poging om hulle mans te oortuig om van hulle wapens ontslae te raak en beroepsopleiding te ondergaan.  Die moordkoers het glo in 4 jaar met meer as 26% afgeneem.

Ek het my gunsteling tot laaste gebêre.  Die tannies in Ysland, het in 1975 gestaak.  90% van die vroulike bevolking het gevoel hulle waarde word geminag.  Hulle wou dieselfde betaling kry as mans en hulle wou in die regering verteenwoordig word.  Hulle het vir ‘n volle dag absoluut niks gedoen nie – nie by die werk nie en nie by die huis nie.  ‘n Jaar later is daar geslagsgelykheid wetgewing uitgereik wat diskriminasie by die werksplek gestop het.  In 1980 het Ysland hulle eerste vroulike president gehad.

Die swakker geslag?  Watwou!  Buidendien weet almal wat agter elke suksesvolle man staan.





Die mens in die gewaad

11 10 2018

Ek kon nou die dag met ‘n veer omgeslaan word toe ek hoor dat Moslems hoë agting vir katte het.  Ek – duidelik geen kenner nie – het sommer maar net aangeneem dat hulle ‘n kat as onrein gaan aanvaar.  Teen die tyd ken julle al die stories van aannamens.  Katte is welkom in Moslems se moskees en huise, juis omdat hulle as skoon en rein diere aangesien word.  Trouens, dit word as sonde gesien om ‘n kat skade te berokken.

Kan jy nou meer?  Dit het my egter laat dink oor wat agter die swart gewade skuil?

khimar_yemen

Ek is darem net halfpad in ‘n grot.  Ek weet dat baie van die dames hoogs intelligent en hoogsgeleerd is.  Verder was ek nog altyd net dankbaar dat ek nie hulle klere hoef te dra nie.  Wel, om eerlik te wees, wissel ek tussen meerderwaardigheid dat ek dit nie hoef te dra nie en diepte jammerte as ek hulle buite in die warmste somersdae sien.

Toegegee, ons almal weet (aanvaar?) dat hulle nie die maklikste lewens het nie.  Ons sidder soms oor hoe die dames in die tradisioneel Arabiese lande behandel word.  Ek meen, Saudi Arabië het eers noudie dag toegelaat dat vrouens mag bestuurslisensies kry.  Tog is daar tog meer tot die mens as bloot die feit dat sy gelowig en / of tradisioneel is?

Is sy ryk of is sy arm?  Hou sy van haar man of droom sy daaroor om gif in sy koffie te gooi?  Is sy tevrede oor die geloof waarin sy gebore is?  Hou sy van kinders, diere of plante?  Dra sy die uitrusting by die huis en kan sy in enige slaapklere wat haar aanstaan slaap?  Gaan sy soms gim toe of hou sy daarvan om aan sport deel te neem?  Kyk sy skelm Orange is the New Black of doen sy dit sommer openlik?  Skinder sy met haar vriendinne en wat beskou sy as die moeite werd om oor te skinder?  Wat verag sy in haar siel?  Wil sy haar sterre verander?

Hoeveel is sy maar dieselfde as gemiddelde Westerse vrou?

Ek het nog nooit moeite gedoen om te probeer uitvind nie.  Ek is nie eers seker dat ek welkom sal wees om te probeer nie.  Maar, in alle waarskynlikheid, is ons ooreenkomste seker meer as ons verskille.  Dit is ongelukkig net goed verberg agter swart lappe.

 





Katte en Pille

5 09 2018

deactivate-e-calm-down-your-crazy-cat-seconds-using-simple-trick.1280x600

Troeteldiereienaarskap beteken nie net ‘n sagte, wollerige, vermaaklike kameraad nie.  Nee, dit behels dat jy verantwoordelikheid neem om ‘n lewendige wese te versorg.  Dit sluit natuurlik goed soos mediese behandeling in.

Goed en wel – tot jy eendag besef dat jou troeteldier van keuse ‘n veearts benodig vir iets meer as net ‘n inenting.  Dit is erg genoeg dat die dier nie lekker voel nie.  Ons praat dan nie eers van ‘n veeartsrekening wat in jou naam uitgereik word nie.  Hoor my lied, as die siek troeteldier ‘n kat is, dan is jy in die moelikheid.

Probleem is dat siektes met medisynes – spesifiek pille – gedokter word en niemand het die katras hulle mening hieroor gevra nie.  Hulle protesteer met alles in hulle oor die behandeling.  As julle my nie glo nie, gaan vra maar my vriendin Google.  Om te probeer om ‘n kat ‘n pil in te gee beteken basies:

  1. Daardie pil gaan gespoeg word.
  2. Jou huis – ten minste die area waar jy jou lewe in jou hande gaan neem – gaan verwoes word.
  3. Die bloed gaan spat.
  4. Die kat gaan nie een druppel bloed verloor nie.
  5. Die pil(le) gaan nie vir ‘n vy in ‘n kat in nie.

jban55_hi

Helaas is ‘n kat nie so effektief teen kieme as wat hulle teen pille is nie.  So raak Mej Lispiek siek en moet ek met haar veearts toe.  Laviga is natuurlik bang sy moet betaal en die besluit om by Ouma Heldina te gaan kuier.  Die veearts is gaaf genoeg om die eerste dosis antibiotika met ‘n inspuiting te gee, maar ek kry 8 dosisse om op een of ander manier by ‘n moedswillige kat in te kry.

Sug!

Eerstens klink dit baie makliker om pille fyn te maak as wat dit is.  Dit moet ook behoorlik fyn wees.  Ek het een dag gedink ek draai Lispiek ‘n rat voor die oë om haar wurmpil in haar gunsteling kos te sit.  Sy het dit al te gretig gaan vreet; maar elke stukkie van die pil agter gelos.  Oh, why can’t a cat be more like a dog?

In elk geval – dit is antibiotika en sy moet dit in kry.  Ek kry raad dat vissmeer vir hulle onweerstaanbaar is.  Ek is dus vroegoggend uit om te gaan vissmeer koop en ek vergruis die pilletjie daar in.  Mense, ek was verheug toe sy dit eet asof dit lekkers is.  Die aand kom jaag sy my sommer in die kombuis aan toe ek die vissmeer bottel oopmaak.  Dit werk goed – tot met dosis nommer 4.  Ek het mos nou net bly geraak.  Skielik wil sy niks meer weet van vissmeer nie.  SUG!  Met ‘n groot gesukkel het ek die gedokterde vissmeer in, maar met die wete dat die truuk nie meer gaan werk nie.

Dosis nommer 5.  Sy is mal oor vla en ek maak nogal seker dat sy nog steeds mal is oor vla.  Kan nie genoeg daarvan kry nie – tot die pil daarin fyngemaak is.  Sy is klaar met pille, maar daar is nog drie dosisse oor.  Daar was dus net een genade.  Ek moes doodeenvoudig op die outydse manier haar dit pille moet ingee.

Ek het nie Xena vir ‘n naam gekies, omdat ek bang is nie.  Toegegee, hospitale is duur inrigtings – veral as jy ‘n veearts rekening moet betaal.  Ek het haar maar in ‘n beperkte omgewing die pil probeer gee en dit herhaal tot die pil in is.

Soos te verwagte storm Lispiek boos – maar met die pil in haar – na buite.  Ek het my nie gesteur nie – ek het eers op makliker maniere probeer.  Sy was die een wat vol streke was.  Sy het nie lank boos gebly nie:  toe ek my draai sit sy langs haar kosbak en dring aan op ‘n beloning.  Verskoon my?  Ek is die een wat die beloning verdien, nie sy nie.  Sy het verskil en gelukkig het sy vissmeer as ‘n aanvaarbare beloning erken.  Ook maar goed – ek soek beslis nie vissmeer as beloning nie.

Dit was dosis 6.  Dosis 7 het sy meer kere uitgespoeg, maar die boos stap oorgesien om dadelik ‘n beloning te eis.  Weereens was die vissmeer aanvaar.

Daar is nog een dosis oor.  Behoede my.





Sou nooit kon droom nie

20 04 2018

Trattoria

My ma het ‘n staaltjie wat sy altyd vertel van die priester wat verlief raak en trou.  Siende dat hy nie meer ‘n priester kon wees nie, moes hy maar gaan sing vir sy kos.  Dit was natuurlik ‘n Rooms Katolieke priester.

Dus was dit nogal ironies dat dit in Rome moes gebeur het.

In die land van Rome, maak jy soos die Romeine; en glo my – hulle is ietwat ongewoon.  Daar is byvoorbeeld een prys vir ‘n cappuchino wat jy by die kroeg drink en ‘n aansienlike duurder prys vir ‘n cappuchino by ‘n tafel.  Enige artikel oor Italië maak dit duidelik dat dit sonde is om ‘n cappuchino na 11 in die oggend te drink.  Hulle kos is ook baie streeksgebonde.  Net omdat jy iets in Rome geniet het, beteken dit nie dat jy dit in Milan ook gaan kry nie.

Die grootste skok vir ons Suid-Afrikaanse gestelle is dat jy vir absoluut alles betaal.  Daar is ‘n fooi vir die tafeldoek, ‘n fooi vir die brood op die tafel, ‘n fooi as daar lewendige musiek is ens.  Toegegee, jy betaal nie fooitjies nie, maar jy hoes vir absoluut enige iets anders.  (Ek het Sofia van Golden Girls soveel beter verstaan nadat ek ‘n draai in Italië gemaak het).

Gelukkig is ek en Google op goeie voet en ek was ten volle voorberei en uitgehonger vir ‘n aand in ‘n trattoria.  ‘n Trattoria is ‘n eenvoudiger restaurant wat gewoonlik deur ‘n familie bedryf word.  Daarteenoor kry ‘n mens ‘n ristorante, wat ‘n meer formele (en dus duurder) restaurant is.  Voorberei – in die sin dat ek weet daar gaan vreemde fooie wees en ek seker gemaak het ons het genoeg kontant.  Kredietkaarte is net so uit as cappuchino in die aand.

In elk geval, daar aangekom, is daar ‘n oom (vermoedelik die pa van die familie) wat kitaar speel.  Nadat hy moeg is, stuur hy sy hoed om en daar gaan hy.  Wel, die eienaar is nog nie klaar gemusiek nie.  Daar begin hy die enigste Engelse lied speel wat hy ken.  Country roads.  Hy dring boonop daarop aan dat almal moet saam sing.  As ons nie genoeg sing nie, maak hy sommer sy eie woorde op.  Gewoonlik:  “I don’t know English” op maat van die musiek.  En ja – benewens die koor van Country Roads, kon hy en sy gesin nie Engels praat nie.

So daar sit ek – op ‘n sypaadjie in die hartjie van Rome – en sing kliphard Country Roads vir my kos.  Iets wat ek nooit in ‘n 1000 jaar sou droom ek ooit sal doen nie.

Elke keer as iemand nuuts opdaag, word nog ‘n tafel sypaadjie toegesleep en dan sing ons weer.  Een van die kliente het later “Country Roads” met “House of the rising sun”

Ons moes wel betaal het vir ons kos (tafeldoek, brood ens), maar die oom het so lekker kitaar gespeel, dat hy nooit neergeskryf het wat ons bestel het nie.  Ons moes hom weer wys wat ons bestel het.  Ons het darem ‘n paar euro afslag gekry.  Na ‘n gratis loopdop, het ons vir oulaas in Rome “Country Roads” gesing, nogal spyt dat ons die volgende aand nie weer kon kom nie.

Wat moes jy al doen wat jy nooit verwag het jy sal doen nie?

 





Oordeel ‘n boek aan sy buitekant

1 03 2018

Ek het ‘n paar jaar terug Afrikaanse flieks afgesweer.  Na die groot ophef wat oor Liefling gemaak is, het ek besluit nooit weer nie.  As dit die beste is wat Afrikaans kan bied, dan is daar geen hoop nie.  Ja, ek weet lae begrotings is altyd die verweer, maar oempf kos niks.  Daar was geen oempf.

Hier en daar het ek wel uitsonderings gemaak.  Ek het byvoorbeeld Ballade gaan kyk.  Ek sal dit nou nie die beste fliek ooit noem nie, maar ek het darem nie gevoel of ek my geld mors nie.  Ek het ook hier en daar ‘n paar DVD’s gekyk.  Party het belofde getoon dat ek dalk te vinnig alles oor dieselfde kam geskeer het en ander weer het my punt bevestig.

Onlangs het Raaiselkind die silwerdoek getref.  Ek het my bedenkinge gehad.  Eerstens foeter ‘n fliek mos altyd die boek op.  Tweedens, Diaan Lawrenson?  Regtig?  Paula vir die ma?  Ek kon niks goeds daaruit sien kom nie.  Laastens was Sally Campher die vervaardiger.  Ek bid jou aan!  Yollie van Orkney Snork Nie.  Die persoonliking van vlak.  Wel, eintlik sal vlak in die gesig gevroetel wees met Yollie van Tonder.  Daar moet immers ‘n diep mens aan die stuur van sake staan vir ‘n fliek soos Raaiselkind.

Dit is natuurlik baie onregverdig van my; om die aktrise aan die karakter gelyk te stel.  Tog is dit dadelik die beeld met ‘n skril aankondiging wat by my opkom.  Ja, daar was ander rolle ook.  Dit was haar rol wat my afgesit het van Koöperasie Stories.  Nie dat ek haar al ooit blameer het vir die skrywer se fasinasie van die makbere.  Sy was ook iewers ‘n speurder of ‘n ding gewees.  Niks wat regtig uitgestaan het nie.

In elk geval, deesdae maak sy flieks en duik diep.  Dit het nie vir my na ‘n blink plan geklink nie.  Ek het egter besluit om ‘n kans te vat omdat Annelie Botes heel in haar noppies met die fliek was.  As sy tevrede was, het sy of lae standarde of hulle het haar storie nie vermorsel nie.

Ek was verkeerd.  Dalk omdat ek baie lae verwagtinge gehad het, maar die fliek was heel aangrypend.  Ek sal dit self as goed bestempel.

Natuurlik is daar ‘n paar goed wat nie sin maak nie.  Soos hoekom is die ma in die eerste plek gearresteer as sy eintlik vir ondervraging ingeneem is?  Sy kry haar boeie eers by die kar en dan word sy by die polisiestasie ondersoek ook.  Dit het my terloops in die boek ook gepla.  Nogtans dink ek dat die fliek wel hulle doel behaal het.  Mense wat na outistiese kinders omsien, lewe in ‘n nagmerrie.  Alleen, met ‘n kind wat hulle laaste nerwe skeur en met bittermin ondersteuning en baie verwyte en veroordelings.

Annelie Botes het die verhaal geskryf nadat een van haar kollegas se kinders met outisme gediagnoseer is.  Sy het self aanvanklik die ma van die kind verdryf en later die diagnose afgemaak as ‘n nuwe naam vir stoutigheid.  Sy het haarself opgevoed en glo sake met die ma reggemaak.

Ten slotte – ek het al ‘n paar mense ontmoet wat almal vertel hulle kind is outisties en die kind is duidelik nie outisties nie.  Ek wonder dikwels of hulle nie dinge aanroep nie.  As hulle na fliek soos Raaiselkind kyk, skaam hulle hulleself?  Of is dit maar net water op ‘n eend se rug.





Kroonjuwele

25 10 2017

Openbare vervoerstelsels is seker die beste studie van die mensdom.  Daar sal jou paaie met alle soorte kruis.  Of dit ‘n goeie ding is, is ‘n heel ander vraag.  Ten minste kom daar goeie stories daar uit.  😉

Ek sit eendag op ‘n halte en wag vir ‘n waterbus of is dit ‘n watertaxi?  Die stelsel wat Venesië verskaf om besoekers en inwoners te vervoer na sekere punte.  Ons moes ‘n ruk wag vir die boot wat ons wou neem.  Daar was nie WiFi nie, dus moet jy jouself maar vermaak terwyl jy wag.  Jou mond kan immers net solank oop hang oor die feit dat jy in Venesië is.

Daar kom later ‘n man in om ook blykbaar vir ‘n boot te wag.  Dit blyk asof hy inkopies kom doen het, want hy hou ‘n sakkie voor hom vas.  Hy mag dalk Italiaans wees, maar boeremeisies staar mos nou nie oopbek vir mans nie.  Wel, nie gewoonlik nie.

Ek gesels maar met my reismaat en maak so tussendeur my selfoon skoon.  Die pakkieman het intussen sy staan langs die ingang gekry – basies langs ons, maar nou nie in ons persoonlike ruimte nie.  Nog iemand kom die halte binne en weereens – dit is immers ‘n natuurlike reaksie – kyk ek op.  Net om in die oog gesteek te word.  Mense, ek was amper blind.

‘Wat de hel?’

‘Nee, dit kan nie wees nie.  Sien ek reg?’

Niemand sal dit glo nie.  Wag, ek moet ‘n foto neem.’

Het jy op jou kop geval?  Jy kan nie daarvan ‘n foto neem nie.’

O vrek, jy staar!  Kyk weg!!!’

KYK WEG!!!’

De hel met die persoon wat ingekom het, kyk weg.’

‘Moenie na die ingang kyk nie.’

Wanneer kom daardie dekselse boot?’

Die skedule is agter die vent, moenie kyk nie.’

‘Nog mense – moenie opkyk nie!’

Uiteindelik het die boot opgedaag en gelukkig het die pakkieman besluit om eerder te wag vir die volgende boot.  Sien, dit was nie kommando met ‘n rebelse gulp nie.  Nee, hier wat die kroonjuwele uitgetrek om behoorlik lug te kry.  Helaas, doen die strategiese pakkie net mooi niks om dit van die kant af te verdwerg nie.

 





Begroot begin met T

23 10 2017

budget2

YouTube het iewers besluit dat ek begrotings lesse nodig het.  Hulle beveel letterlik honderde video’s omtrent begrotings aan.  Ek het uit blatante nuuskierigheid na ‘n paar gekyk en nou kry ek duisende aanbevelings.  Begroting is waarskynlik nie die regte word nie, dit is eerder asof elkeen ‘n gekker besuinigingsmaatreël as die vorige het.  Elkeen word ook uit iets anders gemotiveer:  van lang, uitgerekte vakansies, om skuld vry te lewe of sommer net om op 40 af te tree.

Ja, daar is mense wat met gemak op 40 aftree.  Ek ken selfs iemand wat voor hulle 45ste verjaarsdag voltyds afgetree het.  Ek gaan nou nie een van die gelukkige swernote wees nie.  In die eerste plek, is ek nie groot op besuiniging nie.  Wat moet ek in elk geval met myself aanvang tussen 40 en 133?  Laaste en seker die belangrikste – ek kan nie myself onderhou tussen 40 en 133 nie.

Ek sal nou nie omgee vir ‘n paar oorsese (of selfs plaaslike) vakansies nie, maar helaas – ek en besuiniging is nie juis maatjies nie.  Ek hou van toiletpapier en is verder te lui om voltyds te besuinig.  Ek verdrink darem nou ook nie in skuld nie, dus het ek nie een of ander mal ingryping nodig nie.  Nogtans dink ek nie dat ‘n begroting ‘n slegte idee is nie.

As iemand belangstel; hier is my weergawe van ‘n begroting.  Begroting is seker ‘n ambisieuse term, sien dit meer as ‘n maand-op-maand plan van hoe my pakkie peanuts verdeel moet word.  My sogenaamde begroting is basies ‘n groot T-rekening en werk op basiese debiete en krediete.  Jip, min of meer soos ‘n grootboek veronderstel is om te werk.

My begroting is ‘n lewendige document (Excel natuurlik) en word deur die maand aangepas – gewoonlik in beplanning met die volgende maand se uitgawes.  Ek hou nie rekord van my vorige begrotings nie, ek sien nie die nut daarvan nie.

Die basiese beginsel is dieselfde.  My debiete is basies die geld wat ek die maand gaan ontvang.  Die krediete is al my vaste uitgawes (maandelikse rekeninge), items wat die maand betaal moet (bv lisensies) word  en enige iets wat ek die maand wil doen (bande of kar diens).  Ek het darem ‘n bietjie asemskep ruimte, in die sin dat ek geld kan rond beweeg om sekere behoeftes in ‘n sekere maand te betaal.  Dit wat oorbly, is wat ek kan spandeer vir die maand op goed soos kos, vermaak, inkopies ens.

Daar is ruimte vir verbetering – ek kan jaarlikse of  instandhoudings uitgawes voortydig probeer vergroot.  Soos as ‘n kar diens my R2400 kos, begroot ek elke maand R200 daarvoor.  Ek doen dit tans nie.  Ek bly min of meer by die begroting, maar konsolideer dit nooit nie.

Ek begroot gewoonlik apart – in ‘n aparte rekening/e vir iets buitengewoons.  My amptelike begroting sal ‘n bedrag wys wat ek hiervoor (groot aankope, vakansie ens) wil spaar die maand, maar ek het gewoonlik ‘n ander begroting daarvoor.  Ek begroot gewoonlik op die maksimale bedrag, met oorskiet net om veilig te wees en probeer dan alles op minimaal doen.  Daar behoort dus altyd oorskiet te wees, wat ek los vir die volgende projek.

My begroting is dus maar droog en vervelig soos ‘n begroting seker maar is.  Ek ken mense wat tot op die laaste sent vir hulle inkopies begroot en daagliks hulle uitgawes met hulle begroting laat klop.  Hopeloos te veel moeite na my sin.  Sien julle hoekom ek nie op 40 sal kan aftree nie?

Hoe begroot julle?  Sal dit jou help om op 40, 50, 60 of 80 af te tree?