Ek byt gewoonlik langtand aan iets wat nie tasbaar is nie. Ek wil sien en ervaar. Ook nie heeltemaal waar nie. Ek gaan nie iets glo wat die kenners my vertel nie, tensy dit logies vir my sin maak. Aan die ander kant is daar goed wat bloot net nie op ‘n tasbare of sigbare manier verduidelik kan word nie. In daardie geval moet jy maar vir eers die saak oplos, of die ontasbare verklaring glo. Wat dikwels dan ook die enigste logiese verklaring is.
Net omdat iets nie in ons ervaring is nie, beteken nie dat dit onmoontlik is nie. Eeue terug wou die mense ook nie die Grieke glo dat die aarde rond is nie. Daar is terloops vandag nog mense wat glo dat die aarde plat is. Sou ons nie soms vir die wilde verduidelikings val nie, sal ons dalk ook oor ‘n paar eeue as stiksienige sotte uitgelag word. Nuwe idees lei tot nuwe kennis. Maar ek dwaal af. . .
Ek wil eintlik oor intuïsie praat. Wat sommige aanvoer dat net vrouens het, maar nie mans nie. Die sesde sintuig of te wel wat die Engelse ‘n gut feeling noem. Daardie stemmetjie wat jou van binne af waarsku of dalk ‘n woordjie in die regte rigting fluister. Wie weet waar kom dit vandaan?
Ek weet nie, maar ervaring het my al geleer om daardie stemmetjie te vertrou. Hoe sy weet wat aangaan, weet ek nie, maar sy is net nooit verkeerd nie. Ek het al menige kere al my kop gestamp omdat ek my gat aan haar afgevee het.
Aan die ander kant, hoeveel kan ‘n mens regtig om ‘n stem vertrou? Kan jy byvoorbeeld jou lewe waag as jou stemmetjie jou vertel alles sal reg wees, as jou gesonde verstand anders skree? Kan jy jou laaste pennie op ‘n belegging waag waarteen die kenners jou gewaarsku het as jou stemmetjie jou vertel om voort te gaan?
Ek wonder wat kan die stemmetjie korrup maak? Kan jy self die stemmetjie voorsê met jou eie begeertes of domastrantheid? Immers kan jy nie die stemmetjie verantwoordelik hou vir wat dit jou laat aanjaag nie.
Glo julle in intuïsie? Waarmee het intuïsie jou al gehelp? Steur jy jou aan intuïsie?
Breinvasbrand: Wie is die lede van die Black Eyed Peas?
Breinlosbrand: Olga was reg met Max Sonnenberg.
eerste.
Fergie, will i am, taboo enapl.de.ap klink na die een of ander horror show.
Bwahahaha… nogal waar
Ek hoor soms stemme in my kop, maar dit kan dalk ook wees as ek te veel bier in het. . . 😆
Ek sit absoluut niks vertroue in iets wat nie bewysbaar en tasbaar is nie – hoe gaan die regte gesegde – Glo is SIEN !
Ek glo nie die stemme in jou kop, en die gut-feel (6de sintuig) is dieselle nie. Die stemme in my kop raas so erg, ek kan in elke geval nie uitmaak wat hulle sê nie.
Vir die stemmetjie in die kop het jy pille nodig. Dit is wat jou gewoonlik in die tronk kry. Moet nie, ek herhaal, MOET NIE na hulle luister nie.
Ek verwys na die stemmetjie in jou binneste. Jy weet, waar jou hart of fietspomp is. Wel, dalk is die stemmetjie in jou maag, niemand weet verseker nie.