Dan Cooper

24 11 2010

Snaaks hoe die mens deur onopgelosde misdade gefasineer kan word.  Wel, dalk is dit net ek.  ‘n Mens kry die sake soos die vermisde meisies wat eerder nie moes gebeur nie.  In jou wildste drome sal jy graag die een wil wees wat die tergende geheim wil oplos.  Dan kry ‘n mens daardie sake waar jy wens jy het daaraan gedink.  Jy wil graag die misdadiger wees wat die toffie vir die ondersoekers of staat gooi.  (Ek belowe, dit is gewoonlik waar niemand regtig skade gely het nie).  Een van daardie misdadigers vir wie jy eintlik jou hoed wil lig, is D.B. Cooper.

24 November 1971 (Vandag 39 jaar gelede) het ene Dan Cooper agter in die Boeing 727 op vlug 305 (FAA Reg. N467US) tussen Portland en Seattle gaan sit.  Hy het vir Florence Schaffner ‘n briefie gegee wat sy aanvaar het sy telefoon nommer was.  Sy het dit in haar sak gesit sonder om dit te lees.  Hy het egter haar aandag daarop gevestig en haar vertel dat daar ‘n bom in sy aktetas is en dat hy die vliegtuig kaap.  In die nota het het ook $200 000 ongemerkte note en twee stelle valskerms gesoek.

Die passasiers was nooit ingelig dat die vliegtuig gekaap is nie.  Cooper het versoek dat die vliegtuig in die lug moet bly tot sy eise vervul is.  Die FBI het vir hom 10 000 $20 note meestal van 1969 gekry en dit eers op mikrofilm vasgelê voordat hulle dit oorhandig het.  Cooper het burgerlike valskerms gesoek wat hy self kon “ontplooi” (manual ripcords).  Nadat hulle geland het, het hy die passasier laat gaan in ruil vir sy buit.  Hy het egter 4 van die bemanningslede agtergehou.  Nadat hulle te lank gevat het om die vliegtuig brandstof te gee, het hy weer gedreig om die vliegtuig op te blaas.  Dit het die grondpersoneel se allies in rat gekry en kort voor lank kon die vliegtuig weer opstyg.

Vliegtuie vlieg gewoonlik tussen 25 000 en 37 000 voet.  Cooper het geëis dat hulle op 10 000 voet (300o m)  moet vlieg teen ongeveer 170 knope (310 knope) met die landingstoerusting in gereedheid.  Hy wou Mexikostad toe gaan, maar die vlieëniers het hom vertel dat hulle net 1600 km so sal kan vlieg.  Cooper het ingestem dat hulle in Reno weer brandstof kan ingooi.  Die kajuit mag ook nie onder druk geplaas word nie.  ‘n Lugwaardin, Tina Mucklow, het langs hom gesit, maar hy het haar na die bestuurkajuit gestuur.

Die bestuurkajuit het ‘n popgeluid gehoor en gevra of hulle nog iets kan doen.  Cooper het hulle kortaf vertel nee en het kort daarna uit die vliegtuig gespring, met sy “bom” en buit.  Hy het wel sy swart das gelos wat jare later wel ‘n bietjie DNA kon oplewer.  Die vliegtuie waarmee die FBI hulle gevolg het, het nie gesien waar hy die vliegtuig verlaat het nie.  Hulle het later besef dat dit by die agterste trappe was.

Met die verloop van jare was daar leidrade gekry.  Onder andere $5880 is in 1980 gekry van die geld wat Cooper gehad het.  Tog kon nog Cooper of die res van die buit ooit gekry word.  Daar was al verskeie mense ondersoek wat moontlik Cooper kon wees en ‘n paar het self al verantwoordelikheid aanvaar, maar die FBI byt maar langtand.  Hulle glo dat hy die sprong in die donker, in boonop stormweer, nie oorleef het nie.

Interessant genoeg beweer die FBI ook dat Cooper ongeskik en vieslik was.  Die mense wat direk met hom te doen gehad het, reken weer hy was beleef en nice.  Dit laat ‘n mens wonder.  Suur druiwe dalk?

Into The Blast – The True Story of D.B. Cooper is in 2010 vrygestel dat ene Kenneth P. Christiansen Dan Cooper is.  Die FBI stem saam dat die omstandighede moontlik kan wees, maar reken dat Christiansen nie fisies soos Cooper lyk nie.  Sy gelaatskleur, hoogte, gewig en oogkleur verskil van die ooggetuies se verklarings (waarvan die FBI afwyk as dit hulle pas).

Ander getuies het van die goed wat deur Cooper in die vliegtuig agtergelaat is as Christiansen geidentifiseer.  Hy was ‘n valskermsoldaat en het vir dieselfde lugredery gewerk as waaraan die gekaapte vliegtuig behoort het.  Onder sy persoonlike goed is daar ‘n weggesteekte foto van ‘n aktetas en papier sak wat Cooper op die vlug gedra het.  Hy het glo ‘n haarstuk destyds gedra as hy uitgegaan het, maar nooit werk toe.  Na 1971 het hy nooit weer die haarstuk gedra nie.  Hy het in 1972 ‘n lening aan iemand gegee vir $5000 en self eiendom ten waarde van $16 500 kontant gekoop.  Hy sou dit nie op sy maandelikse salaris van $512 kon bekostig het nie.

Christiansen is in 1994 dood.  Sy familie het ‘n baie waardevolle muntstuk, ‘n posseëlversameling en $400 000 in die bank gekry.  Daar was ook ‘n plakboek van die lugredery, wat in die 50’s begin was, maar wat geen verwysing na die kapery of iets na 1971 ingehad het nie.

Was Christiansen D.B. Cooper of het hy iets anders op sy gewete gehad?  Wie sal weet?

Dit is in elk geval danksy Cooper dat alle passasiers deur metaalverklikkers op lughawens moet gaan.  Hy is ook die oorsaak van die Cooper vane, wat keer dat deure in vlug oopgemaak kan word.

Breinvasbrand:  Wie was die seun wat in 1980 die $5880 opgetel het wat glo deel van Cooper se buit was?

Breinlosbrand:  Olga was reg met will.i.am, Fergie, Taboo en apl.de.ap.





Lunch Week 21

24 11 2010

Toorwoorde

  1. Gee ‘n verklaring vir:  ”kobêmelk”?
  2. Wat beteken die volgende afkorting:  ”TFS”?
  3. Wat beteken die volgende uitdrukking:  ”spekskiet”?
  4. Gee ‘n sinoniem met die gegewe aantal letters vir:  ”seun – met 5 letters”?
  5. Skommel die volgende in ‘n sinvolle woord (die eerste letter is reg):  FISNUKE