Huiswerkers en Covid-19

17 03 2020
poodle lying on comfortable bed

Photo by Roberto Nickson on Pexels.com

Is dit toevallig dat Ramaphosa die land in ‘n noodtoestand omtrent die Corona virus verklaar het op ‘Ides of March’?

Goed en wel, dit is al vir ‘n paar weke aanduidings dat COVID-19 meer as net ‘n effense ontwrigting gaan wees.  Tog is dit asof die paw-paw Maandag behoorlik die fên getref het.  Vergaderings wat soos domino’s wegval, afsprake wat gekanselleer word, handreinigers wat sommer met die intrapslag by die kantoor in jou gesig gedruk word.

Suid-Afrikaners het besluit hulle moet iets meer doen omtrent die Corona uitbraak as net memes maak.  Hulle gaan nou boonop vir goud.  Alles goed en wel vir ‘n week of twee, maar wat gaan gebeur as die storie vir 6 maande of 6 jaar aanhou?  Tyd sal seker leer.

In elk geval, daar loop ek toe ‘n artikel raak dat dat Suid-Afrikaners hulle bediendes op betaalde verlof moet plaas terwyl die pandemie voortwoed.  Ek is ‘n redelike mens en kan die meriete van die saak insien.

Aan die een kant, as jou werker vir meer as een huis werk, moet jy in ag neem wat sy daar kan optel.  Al groet jy haar nie met die hand nie, werk sy met jou wasgoed, skottelgoed, bed, oppervlaktes ens.  Baie plek om die virus aan jou oor te dra, veral aangesien die virus glo vir 9 dae op ‘n oppervlakte kan oorleef.  Dit is iemand wat dus die COVID-19 op jou huis kan kom afdruk.  Wie gaan nou in elk geval alles ontsmet nadat sy haar werk gedoen het.

Aan die anderkant – as werkgewer is jy verantwoordelik vir haar gesondheid onder jou dak.  Dus, kan jy verantwoordelik gehou word as jy die oorsaak is dat sy die Corona virus opdoen.  Behoede jou veral as sy dalk sterf daarvan – al is die wet vir nou nie baie duidelik nie.

Goeie geldige argumente.  Dan kom ‘n politikus en laat jou weer oor die wysheid wonder om enigsins ‘n huiswerker te hê.  Volgens Phumzile van Damme:  “Oh, and you can clean your own house.  You can’t risk a life just because you don’t want to clean or do your own garden.”

Weet jy wat, Phumzile? Ek kan my eie huis skoonmaak; beter, vinniger en met aansienlik minder frustrasies as met my werker.  My luiheid, waarna jy so neerhalend verwys, gee ‘n arm vrou ‘n inkomste waarvoor sy haarself nie dood hoef te werk nie.  Sy is nou dalk nie die bes betaalde werker in die land nie, maar sy het min rede om te kla.  Deur my eie huis skoon te maak, besef ek dalk dat sy nie die frustrasie werd is nie.  Ek wen ‘n paar rand, sy verloor ‘n beduindende aandeel van haar inkomste.   Boonop kan ‘n snotty politikus soos Phumzile van Damme dan nie op my luiheid neersien nie.  Dit is voordelig vir my, ek sal Van Damme wys waar Dawid die wortels gegrawe het, maar dit is die werker wat vir die gelag gaan betaal.

Daar is ‘n lied wat gaan:  “Whatsoever you do, to the least of my brothers, that you do unto Me.” So ja.  Ek is die sucker wat maar weer die politieke bollie sal opvreet.  Ek sal die risiko van die werker oorweeg en daar volgens handel, sonder om haar te na te kom.

Wat gaan julle doen omtrent julle huis- en/of tuinwerkers?  Sal julle betaalde verlof oorweeg?  Vir hoe lank?  Dink julle dat dit ‘n beduidende risiko is?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gevalle van COVID-19 aangeteken?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Ragab.





Prostitusie

24 02 2020
amsterdam canal lights red light district

Photo by Skitterphoto on Pexels.com

Julle weet teen die tyd al dat die HAT ‘n foto van my as die definisie van nuuskierig het.  Verder, word ek dikwels verwyt dat ek te maklik veroordeel (judgemental).  As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan nie, is dit om foto’s te neem waar ek nie mag nie.

Sit nou ‘n mens soos ek in Amsterdam (Nederland) en jy kan verseker wees dat ek in die rooiligdistrik gaan rondneus.  Om die rooiligte nou behoorlik te beskou, is ons na donker in die berugde distrik in.  Na so ‘n paar draaie, is ons nogal half teleurgesteld.  Geen rooi ligte nie.  Ons onderneem om net nog om die hoek te gaan kyk, en daar is dit.

Ek het nou nie veel nut vir die dames nie.  Nogtans het ‘n paar dinge my die aand geskok.  Die mans maak regtig die deur oop om die besigheid daar en dan te beklink.  Daar is heelwat van die stalletjies met toe gordyne.  Diegene wat op skou was, is baie ongeërgd.  Hulle speel op hulle selfone of gesels met hulle kollegas soos ‘n mens maar tydens ‘n stil oomblik by die werk maak.  Die skokkendste van alles is dat ek nie ‘n foto wou neem nie.

Dit is debateerbaar dat prostitusie die oudste beroep op aarde is.  Dit mag dalk nie die oudste wees nie, maar dit is beslis een van die eerste beroepe vir vrouens.  Dit was vir eeue lank die enigste manier vir vrouens om ‘n inkomste te verdien as sy nie ‘n manlike figuur gehad het wat vir haar gesorg het.  Dit bestaan vandag nog, in alle lande en in alle sfere.

Prostitusie word dikwels met minagting bejeën.  Hoe regverdig is dit?

Ek is nie seker of daar mense (daar is immers manlike prostitute ook) is wat prostitute wil word nie.  Dit is egter ‘n feit dat baie (die meerderheid?) mense daar ingedwing word.  Soms fisies – sonder dat die slagoffer enigsins ‘n keuse het; soms deur desperaatheid.  Wat is immers die grootste sonde?  Om jou lyf te verkoop of om jou kinders te laat doodgaan van die honger as jy hulle kon help?

Durf ons neersien op prostitute?  Behoort ons nie eerder dankbaar te wees dat ons nie in dieselfde posisie gedwing is nie?  Daardie nag in Amsterdam het ek besef dat as ek ‘n foto sou neem van een van die vrouens, buit ek haar ook uit.  Watse reg het ‘n mens om ‘n ander uit te buit?

Sê ek dat prostitusie ‘n aanvaarbare beroep is?

Kan enige een ‘n oordeel vel oor wat aanvaarbaar is om te oorleef?

In ‘n ideale wêreld sal niemand in die posisie ingedwing word nie.  Die omstandighede wat mense in prostitusie indwing, is was onaanvaarbaar is.  Dit is wat uitgeroei moet word.  Nie die mens wat ‘n slagoffer van hulle omstandighede is nie.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was die prostituut in die Bybel wat Joshua gehelp het om Jerigo te ontsnap?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Moore?





5 minute te laat en geskiedenis is in as

16 04 2019

images3164XL2Q

‘n Paar jaar gelede was ek bevoorreg genoeg om in Parys te gaan draai.  Die vooruitsig het my nou nie sprakeloos van opwinding gemaak nie.  Nogtans, dit is Parys en ek wou die geleentheid nie vermors nie.  Ek wou die Mona Lisa met my eie oë sien, ek wou die Eiffel Toring opvaar en ek wou Quasimodo speel.  Ek het so effens vergeet van die catacombs.

In elk geval, ons vaar Frankryk binne met die Eurostar.  Ons beplanning was agter mekaar:  ons sou ons bagasie by die hotel gaan afgooi en dan na die Notre Dame gaan.  Klaarblyklik is die toue meer doen baar in die middag.  So gesê (met ‘n klein gesukkel om die hotel te kry), so gedaan.  Ons het nie juis gesukkel om die Notre Dame op te spoor nie.

Ons loop nogal verby die ry aan die kant van die kerk.  Die lengte stem min of meer ooreen met ‘n ry vir ‘n kassier op ‘n Saterdag laat oggend oor maandeinde.  Nou nie ‘n plesier nie, maar doenbaar.  Om die hoek van die kerk sien ons die tou wat ons sterk herinner aan die 1994 verkiesing.  Wel, ons was gewaarsku.  Ons gaan val maar gedwee in die ry en omtrent ‘n uur en ‘n half later is ons in die kerk.

Binne die Notre Dame besef ons toe mos dat ons by die verkeerde ry ingeval het.  Die ry vir die toring is die een aan die kant van die kerk.  Grrr, ons is toe reeds in die kerk en het gou vinnig daar uit.  Raai wat?  Daar mis ons die afsnypunt met 5 min.

Wel, dit was nou maar daar-na-toe.  Ons was nogtans in Parys en ons het toe maar na die Arc de Triomphe.  Dit was wel soos ‘n lastige stukkie vleis wat in jou tande vassit.  Die beste flos was die onderneming om een dag terug te gaan en die toring te trappe te klim.  Iets wat ek inderwaarheid die jaar wou verwesig.  Was dit nie vir 15 April 2019 nie.

3000

Kan ek dit die grootste tragedie sedert 2001 noem?  Die Notre Dame is ‘n Katolieke Kerk, maar dit het nie net Katolieke en Protestante in vervoering gehad nie.  Almal het dit gerespekteer en bewonder.  Alles, behalwe ‘n vlammetjie wat iewers ontstaan het en die hele gebou amper in puin gelaat het.

Dit kan herbou word en die torings staan nog.  Dit gaan egter nie dieselfde wees nie.  Skielik is ek van vooraf spyt oor daardie 5 minute.  Siende dat die torings nog staan en ek dit in elk geval gemis het, is ek sommer spyt dat ek deur die kerk gejaag het.  Het ek genoem dat ek al my foto’s van die vakansie verloor het?

Tipies van die leier van die Paashaasbende.  Kerm oor foto’s terwyl die wêreld toegekyk het hoe een van die grootste monumente verbrand.  Hoe weerloos is die mens en sy wêreld nie teen die element van vuur nie?  Die Notre Dame het die Franse Revolusie en Tweede Wêreld oorlog oorleef.  Net om in 2019 verbrand te word.  Klaarblyklik uit niks.

So kom alles tot niks.

Breinvasbrand:  Wat beteken Notre Dame?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was die regste.  Ek het droog gemaak met die vraag.  Felicity Huffman het nog nooit ‘n Oscar gewen nie, maar sy was vir Transamerica benoem.

 





Vloek met voorreg

28 11 2017

Deesdae is daar ‘n nuwe woord wat soos ‘n bom rond gegooi word.  Voordeel.  Wel, streng gesproke is dit eintlik ‘privilege’.  Iets wat sekere mense taamlik gemaklik laat lewe danksy as wat hulle gebore is.

Voordat ons op ons perdjies spring, dit gaan oor meer as net ras.  Alhoewel, die blote ras van ‘n persoon kan ‘n bydraende faktor wees hoe maklik hulle sukses gaan behaal.  Daar is egter ‘n mynveld van ander faktore ook.  Enige iets wat die opdraande pad na sukses ‘n bietjie meer gelyk kan maak.

Dit sluit goed in soos ouderdom, geslag, kultuur, geloof en oriëntasie in.  Natuurlik help dit as jou ouers ryk, geleerd en suksesvol is.  ‘n Stewige bate danksy ‘n oupa of oupagrootjie is ook nie te versmaai nie.  Dit gaan selfs sover of jy met een of twee ouers groot geword het.

Mens kan dit seker nie as kaf afmaak nie.  Neem vir Jan en Pieter.  Jan bly by sy ongehude moeder wat geen onderhoud vir hom kry nie.  Sy het twee ander kinders en werk as ‘n kassier by die kafee.  Pieter bly by sy ma en pa.  Sy pa is ‘n prokureur op die dorp en sy ma was voorheen ‘n finansiële raadgewer.  Hy is die enigste kind.

Tussen Jan en Pieter, wie is die mees waarskynlik om ‘n universiteitsgraad te behaal?

Gestel nou Jan is slimmer as Pieter.  As Pieter met iets sukkel, is sy ma waarskynlik in ‘n beter posisie om hom te help.  Sy is nie net beskikbaar nie, maar het formele opleiding na skool gehad.  Indien sy nie kan nie, kan Pieter ‘n tutor kry om hom te help.  Jan se ma het Wiskunde gelos in st 7.  ‘n Tutor maak meer per uur as wat sy ‘n dag maak en is dus buite die kwessie.

Pieter kan aan sport deelneem.  Sy ouers kan die sportfooie en toerusting met gemak bekostig.  Hy het toegang tot sportwetenskaplikes, ‘n gimnasium en privaatafrigtings.  Jan kan nie rugby speel nie, sy ma kan nie vir sy suster skoolskoene koop en vir hom rugbystewels nie.  Pieter kwalifiseer vir ‘n sportbeurs.  Jan kan nie sy rapport kry nie, omdat sy skoolgeld agterstallig is.

Jan werk na skool as ‘n petroljoggie om sy ma te help.  Jan kan dus nie al sy take doen nie.  Pieter se ma doen sy take vir hom.

Ensovoorts.  Natuurlik gaan dit vir Pieter makliker weer om goed te presteer op skool en hy sal dus makliker vir naskoolse studies aanvaar word.  Jan – ja, wel!  Universiteitsgelde kom nie uit ‘n kafeesalaris uit nie en hy het niks gedoen wat hom vir ‘n beurs te laat kwalifiseer nie.  Hy was te besig om te probeer oorleef.  Sy ma word ook nie deur die bank as voldoende sekuriteit aanvaar nie.

Was dit Jan se skuld?  Natuurlik nie.  Hy kon nie sy sterre kies nie?

Is die kompetisie (die sterkste moet oorwin) tussen die seuns regverdig?

Was dit Pieter se skuld?  Hy kon immers ook nie sy sterre kies nie?

Behoort Jan ten koste van Pieter bevoordeel word om sy agterstand uit te wis?

 

 





Toiletpapier se dae getel?

12 09 2017

the-end-of-the-toilet-paper-as-we-know-it

Daar is niks verkeerds om jou sente om te draai nie.  ‘n Klein bietjie hier en ‘n klein bietjie daar kan nogal ‘n groot bedrag aan die einde van die jaar maak.  Vra maar enige een wat hulle kleingeld in ‘n emmer gegooi het en later gaan bank het.

Die vraag is net hoe ver moet ‘n mens gaan om ‘n paar sent (deesdae rand) te spaar?  Daar is deesdae selfs mense wat ophou om toiletpapier te koop om hulle beursies te laat rus.  Nie almal gaan steel toiletpapier by die werk, skool of openbare toilette om oor die weg te kan kom nie.  Daar is regtig mense wat sonder toiletpapier klaar kom omdat hulle te suinig is om daarvoor te betaal.  In hierdie geval gaan ek op suinigheid konsentreer en nie armoede nie.

So, hoe werk dit?  Basies, jy kry vir jou en jou gesien ‘n spul sagte lappies.  Babadoeke werk glo ideaal.  Jy vee dan daarmee af wat afgevee moet word en sit dit in ‘n wasgoedsak tot jy dit kan was.  Dit help glo om die lappie so effens nat te spuit voordat jy vee.  Wanneer dit wasdag is, gooi jy dit saam met jou handdoeke in en was dit soos altyd.  Jy laat dit droog word en sit dit terug in die badkamer vir verdure gebruik.

Ek praat hier nou net vir myself, maar ek glo nie toiletpapier gaan ooit so duur wees nie.  Ek gaan eerder sonder koffie of so iets.  Ek is egter aan die lui kant.  Ek kan net dink hoe die toiletsakkie moet stink en ek het ‘n vermoede dit gaan nie so maklik skoon kom soos wat voorgegee word nie.  Sterinappi emmertjie dalk, maar selfs dit gaan nie vir my werk nie.

As ‘n mens dalk nie van toiletpapier wil afsien vir jou sak nie, sal jy daarvan afsien vir die omgewing?  Ek het ‘n paar interessante statistieke gehoor by my vriendin Google.  Blykbaar gebruik ‘n gemiddelde Amerikaner 23.6 rolle toiletpapier ‘n jaar.  Ek vermoed ons kan maar aanvaar dat ‘n gemiddelde Suid-Afrikaner dieselfde hoeveelheid gebruik, al voel dit effens min.  Dit neem glo omtrent 6.8 kg houtpulp, 140 liter water en nog ‘n klomp bleikmiddels.

Een bloekomboom gee glo 1000 toiletrolle.  Suid-Afrikaners sal dus in ‘n jaar ongeveer 1.3 miljoen bome deur hulle gatte trek.  Toegegee, die bome sal almal vervang word met ander bome.  Wat gaan gebeur as bome nie meer gebruik word nie?  Dit sal seker moet plek maak vir nog ‘n inkopiesentrum of behuisingkompleks.  Wat op die lang duur nie regtig bome gered het nie.

Ons het egter die laaste jaar of wat besef dat ons nie met water moet mors nie.  In ‘n jaar neem die vervaardiging van jou gemiddelde persoonlike toiletpapier 3304 liter water in beslag.  Dit is omtrent 9 liter ‘n dag per persoon of 500 miljoen liter per dag vir die land.  Behoort ons die water te spaar?

Ek sal dit kan oorweeg, maar beslis nie met ‘n lappie of 10 nie.  Daar is iets soos ‘n bidet waarmee jy die nodige kan was na gebruik.  ‘n Bidet neem glo ‘n halfliter water op ‘n slag.  Jy sal dus 18 keer ‘n dag moet gaan pottie om gelyk te breek met jou toiletpapier.  ‘n Gesonde persoon gebruik glo 4 – 10 keer ‘n dag die toilet.  ‘n Mens kan dus tussen 4 en 7 liter ‘n dag spaar sonder toiletpapier.

Is dit iets wat jy sal oorweeg?  Vir jou sak en / of die omgewing?  Maak dit vir jou enigsins sin?

Ek is bevrees, dat ek nogsteeds eerder toiletpapier sal koop.





Tronkstatistieke

4 09 2017

jail-thumb

Die reg is rassisties.

Ek het ‘n paar jaar gelede na die onderwerp in ‘n pendelvoertuig geluister terwyl ek van die lughawe na my hotel vervoer was.  Vir die doel vir die bespreking moet ek noem dat ek ten tye van die gesprek in Amerika was.  Dit was dus Amerikaanse inligting wat onder bespreking was.  Dit is dalk ook nodig om te noem dat dit voor Trump was.

Blykbaar is die meerderheid van gevangenes swart, vreemd aangesien swartes in Amerika ‘n minderheidsgroep is.  Navorsing het bevind dat swartes in die reg benadeel word.  Hulle is minder geneig om borgtog te kry en meer geneig om tronkstraf of selfs die doodstraf te kry as die meerderheidsgroep in Amerika.  Om dinge te vererger, is hulle ook die groep wat ekonomies die slegste af is.  Die verskyning was dalk nie te blameer op rassisme as sulks nie, maar op ekonomiese diskriminasie.  Wat ook op rassisme neerkom.

Die praatjie het my nogal laat dink.  Eerstens onthou ek iewers ‘n les dat ‘n sinvolle hipotese direk afhanklik is van die regte vrae wat gevra moet word.  As die hipotese nie reg is nie, gaan die navorsing nie waarde toevoeg nie.  Was die navorsing aangewend om rassisme in die reg te bewys?  Was ander vrae aangespreek wat rassisme in die reg sou uitskakel?  Was die vrae dalk geignoreer omdat die blote vraag rassisties was?  Hoekom word radio’s nie net vir musiek aangewend nie?  Laastens, wat is die situasie in Suid-Afrika?

In Suid-Afrika hoor ons dikwels dat die reg moet transformeer.  Dit kom basies daarop neer dat daar te veel blanke regslui is, wat dalk tot nadeel van die nie-blanke oortreders is.  Beskik die blanke regter oor die nodige agtergrond om oor ‘n nie-blanke in die beskuldige bank te oordeel?  Ek – stiksienig soos ek maar is – het altyd gedink dit gaan oor reg en verkeerd.  Die reg is veronderstel om blind te wees.

In elk geval, nadat ek jare lank gewonder het oor die prentjie is Suid-Afrikaanse tronke, het ek uitendelik die syfers gekry.   Ek kon ook bevolkingsyfers kry om my klein brein te amuseer.

Blykbaar is 79.6% van diegene in die tronk swart.  Siende dat 79.4% van die land se bevolking swart is, stem die syfers ooreen.  Dit is seker laer, aangesien ek ‘n vermoede het dat die meerderheid van buitelanders in die groep ingesluit is.  Blankes is 9.2% van die land se bevolking, maar net 1.6% van die gevangenis se bevolking.  Asiate en Indiërs is 2.6% van die bevolking, teenoor 0.6% in tronke.  Die skokgroep is die kleurlinge, wat 18.2% van die tronk bevolking is, maar net 8.8% van die landsbevolking is.

As ons nou die Amerikaanse studie volg, word daar teen kleurlinge as gevolg van ras gediskrimineer.  Wel, daar was al gesê dat die groep in die vorige regering nie blank genoeg was nie en in die huidige regering nie swart genoeg nie.

Terloops, net 2.6% van die gevangenes is vroulik.  Is ons regstelsel seksisties ook?

Ek sal afsluit dat ek net iemand is wat begin somme maak as iemand vir my twee of meer syfers gee.  Ek is nie ‘n krimiloog of ‘n maatskaplike werker nie, dus is ek nie gekwalifiseer om die data te analiseer nie.  Dit is en bly immers ‘n baie komplekse probleem wat – my insiens – verder strek as net ras.

Glo julle dat die reg blind is?





Hiermee neem ek . . .

7 08 2017

o-family-weddings-facebook

Die mensdom se idee van trou het die afgelope dekade of wat aansienlik verander.  Die dae wat ‘n bruid byvoorbeeld uit haar kinderhuis getrou het, is waarskynlik getel.  Baie voornemende bruide bly al jare by haar lewensmaat.  In die gevalle waar hulle nog apart woon, bly sy waarskynlik op haar eie.  Niemand verwag meer dat ‘n bruid voor haar troue moet bedank nie.  Bruide dra ook nie meer wit of sluiers nie.  Dikwels word die verloofring sommer as ‘n trouring ook gebruik.  Daar is natuurlik die meer drastiese veranderinge ook.  ‘n Troue kan bestaan uit twee mense van dieselfde geslag wat hulle boedels onder een seiltjie wil gooi.

Ek merk deesdae op dat daar ‘n beweging is wat vir eens en vir altyd tradisionele troues wil uitwis.  Ek het seker al 6 artikels in 2017 gesien van hoekom seker trou tradisies afgeskaf moet word.  Dit gaan min of meer oor die feit dat ‘n vrou nie ‘n stuk eiendom is wat van eienaar verwissel nie.  Ek dink min vrouens sien die tradisies so in en baie vrouens sien met groot opgewondenheid na die tradisies uit.

As ‘n mens die TV moet glo, skryf almal deesdae hulle eie beloftes.  Ek is terloops nie seker of dit in Suid-Afrika toegelaat word nie.  Die idee is basies dat die tradisionele beloftes uitgedien is.  Mense wil nog steeds ‘n verband smee met die maat van hulle keuse, hulle wil net iets meer realisties belowe.  So glo baie mense dat dit onmoontlik is om aan een persoon die res van jou lewe gebind te wees.  Hulle wil dus nie belowe dat hulle getroud sal bly tot die dood hulle van mekaar skei nie.

Baie troupaartjies bring ook hulle kinders na die onthaal toe.  Die kinders is nou nie noodwendig altwee se kinders nie.  Dit is amper al te verwagte dat die bruid / bruidegom se kinders sekere rolle gaan vervul.  ‘n Seun gee soms sy ma weg of kan sy pa se “best man” (strooijonker) wees.  Dit is ook algemeen dat daar soms “kind gevra” word.  Dit is soos ouers vra, jy vra net jou voornemende eggenoot se kinders se toestemming om te vra.

Ek sien egter deesdae ‘n nuwe neiging.  Die voornemende stiefouer lê ook tydens die seremonie beloftes aan die kind af.

Persoonlik dink ek nogal dat dit `n mooi gebaar is.  Die kind/ers word tog deel van die nuwe familie.  Selfs al sou die getroude paar hulle eie rigtings gaan, gaan`n goeie mens nooit die kinders afskryf nie.

Wat dink julle van die nuwe trougebruike?  Het troues oor tyd verbeter of het die heiligheid van troues heeltemal verkrummel?

Breinvasbrand:  Wie het die liedjie Pasgetroud gesing?

Breinlosbrand:  Dean Kamen





Arm en Arm

1 08 2017

P1400769.JPG

Ek roem my graag daarop dat ek nie met my kop in ‘n gat lewe nie.  Ek het gewoonlik ‘n goeie idee wat in die wêreld aangaan.  Ek weet daar is mense wat nie ‘n dak oor hulle koppe het nie.  Nee, dit is nie noodwendig onder ‘n brug of in ‘n stormwatersloot in die middestad nie.  Ek was al vroeg (en laat genoeg) op straat om slapende figure op die sypadjies te onderskei.  Toegegee, ek moes al fyn trap oppad na ‘n afspraak in die stad om nie ‘n slapende raak te trap nie.

So weet ek ook dat daar vlugtelinge is.  Mense wat so desperaat is om hulle vaderlande te ontsnap, dat hulle bykans enige iets sal probeer.  Ek het al gelees van veerbote wat sink bloot net omdat daar te veel vlugtelinge daarop was.  Tog het ek nog nooit ‘n vlugteling gesien nie.  Regstelling:  tot onlangs het ek nog nooit ‘n persoon gesien wat ek as ‘n vlugteling kon eien nie.  Ek weet daar is vlugtelinge in Suid-Afrika, maar hulle lewe gewoonlik tussen ons eie mense.  Daar is seker baie te sê dat ons mense soos vlugtelinge in hulle eie land, maar die week praat ek mos oor Frankryk.

Daar is heelwat vlugtelinge in Frankryk en dit is ook geen geheim dat die Franse hulle nie juis met ope arms verwelkom nie.  Mens kan rede insien – hoeveel terroriste aanvalle was daar die laaste paar jaar in Frankryk?  En waar het die terroriste vandaan gekom?

Nou kyk, die Franse is ook maar ‘n anderste spul (my afleiding meer as my ervaring).  Julle weet seker ook wat het in die 1700’s met die adelikes en koninlikes gebeur het.  Waar hulle naaste bure in die 40’s en 50’s al van die doodstraf begin afsien het, het Frankryk nog in 1939 openbare teregstellings gehad.  Madame Guillotine het in 1977 nog twee slagoffers gehad en is in 1981 finaal afgetree.  Daar is nou nog mense wat haar wil terughê.  As ‘n mens boonop onthou dat hulle Gallië was, moet ‘n mens eerder nie aan hulle verkeerde kant kom nie.

Ek dwaal alweer af – dit is immers nou nie dat die Franse die vlugtelinge voor die voet wil uitroei nie.  Hulle soek nou net nie die vlugtelinge by hulle nie.  Die vlugtelinge het erger dinge om hulle oor te bekommer as of hulle nou welkom is.

Wat is die prentjie wat jy van ‘n vlugteling het.

Mense wat met net die nodigste (indien) enige iets vlug.  Wat bly vir jou oor as jy nie meer ‘n huis het nie?  As jy gelukkig is om nog te lewe?  As jy uit nood jou in ‘n land bevind wat jou nie goedgesind is nie, maar jou darem laat lewe?

Ek kon ‘n groepie vlugtelinge van ‘n afstand beskou waar hulle op ‘n stuk gras, waar ‘n pad vurk, uit gekamp (gewoon) het.  Ek moes ‘n paar keer daar verby gaan en die huishoudelikheid het my elke keer getref.

Elke oggend is die kamp netjies gemaak.  Al hulle besittings is netjies in ‘n bondel gesit en met iets toegegooi.  Hier het die een ma haar dogter se hare geborsel en op die ander punt het ‘n ander ma haar seun help aantrek.  Daar was self die een oggend ‘n “bakleiery” tussen ‘n ma en ‘n kind wat nie iets wou doen nie.  Deur die dag was die stukkie gras verlate behalwe vir die netjies bondels en saans is daar kamp gemaak.

Soos reeds genoem, het ek al daklose mense gesien en gewoonlik is hulle verby die punt van omgee.  Hierdie mense gee nog om, hulle het nog trots en in ‘n vreemde, teensinnige land, het hulle nog hoop.

Daar word gesê dat ‘n mens arm mense en arm mense kry.  Die groepie vlugtelinge mag arm van besittings wees, maar nie arm van gees nie.  Mag hulle hoop nie beskaam word nie.

Breinvasbrand:  Wat is Gallië in Engels?

Breinlosbrand:  Krappie en Fakkel was reg met Euro.





En terug na vroedvroue

3 10 2016

Ek het al lankal gewonder hoekom babas deesdae altyd deur ‘n ginekoloog in die wêreld ingehelp word.  Nie so lank gelede nie het vrouens met ‘n vroedvrou by die huis gekraam.  Daar is nou nog vrouens wat die praktyk verkies.  In die tyd wat ek gevul het, was gewone huisdokters die norm.  Dit was in die tyd en dae wat ‘n huisdokters nog operasies gedoen het, dus kon hulle ook met ‘n keiser help as dit moes.  Dit is nou nie dat ek so oud soos die berge is nie.  In elk geval, die afgelope dekade of twee het ginekoloë was ginekoloë verantwoordelik om babas te vang.

Ek moet nou ook noem dat ‘n ginekoloog mos eintlik ‘n ginekoloog en verloskundige is.  OBGYN soos die Amerikaners hulle noem.  As ek die storie regverstaan, is die vrouedele die ginekoloog se werk en die babas die verloskundiges se werk.  Siende dat net ‘n ginekoloog bevoeg is vir ‘n papsmeer, het baie vroue hulle eie persoonlike ginekoloog ook.  Al is daar geen planne vir ‘n pienkvoetjie nie.

Nou begin alhoemeer ginekoloë die verloskundige deel van hulle name skrap.  Dit is nie soseer ‘n geval dat hulle hou van ‘n rustige nagrus nie – keisers het reeds daarvoor gesorg.  Dit is ook nie dat hulle bang is om hulle hande vuil te maak met bevallings nie.  Die meeste van hulle kan bloot nie meer die versekering bekostig wat hulle moet hê om ‘n vrou in kraam te kan bystaan nie.

Ek praat nou uit geheue van ‘n artikel wat ek onlangs gelees het.  Blykbaar is die versekering vir verloskunde R650 000 per jaar.  Dit werk glo op R4000 per bevalling uit.  Skielik verstaan ek ook hoekom dokters kla dat hulle krepeer van armoede.  Ek gee hulle heeltemal gelyk – dit is ‘n fortuin.

Die versekeringmakelaars gooi ook maar hulle hande in die lug.  ‘n Glipsie by geboorte is maar ‘n duur storie.  Boonop neem dit soms jare voordat die foutjie ontdek kan word, die hulpelose baba is soms al ‘n volwassene.  Natuurlik moet iemand betaal vir die voorval en die versekering moet dit dek uit die premies wat ingewin is.

Die blote feit dat die versekering so buitengewoon hoog is, is ‘n aanduiding dat eise nie net teoreties is nie.  Vraag is dus of dokters nalatig of roekeloos met bevallings is?  Of hardloop mense deesdae te maklik om ‘n eis te gaan instel?  Ek neem aan vroedvroue sal seker soortgelyke versekering moet hê.  Gaan mense maar eendag op eie genade hulle babas moet baar?  Gaan hulle professionele mense vrywaring moet gee teen moontlike eise?  Dan weer, aan die ander kant, wie neem verantwoordelikheid as daar iets met die geboorte fout gaan?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Watter karakter in die Cosby Show was ‘n ginekoloog?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 2001.





Wat is ‘n skool sonder reels?

31 08 2016

Ek het noudie dag gehoor van ‘n tienerseun wat ‘n tattoe vir sy verjaarsdag gesoek het.  Dadelik het ek gewonder wat die skoolreëls omtrent tattoes is.  Ek vermoed dat ‘n tattoe nie goed vertoon in ‘n skooluniform nie, maar dit is nou nie dat die oortreder huistoe gestuur kan word om dit te gaan afwas nie.  As die tattoe eers daar is, is dit daar.  Die enigste manier om dit uit die skoolgronde te verwyder is met mens en al.  Nogtans kan jy seker nie iemand ‘n opvoeding ontsê oor ‘n tattoe nie.

My skool het nie reëls omtrent tattoes gehad nie.  Dit was bloot ondenkbaar dat ‘n skoolkind ‘n tattoe kon kry.  Dit blyk egter dat ons nog baie onskuldig was.  Baie ander skole het daaroor reëls gehad, lank voordat ek die hoërskoolbanke getref het.  Dit is nogal snaaks hoe baie mense nie hulle skoolliede (wat ten minste een keer ‘n week gesing was) kan onthou nie, maar hoe hulle skoolreëls altyd by hulle sal bly.

Soos 4 vingers bevoorbeeld.  Dit was die grootste afstand wat jou rok van die grond af mag gewees het as jy gekniel het.  Ouer dames ken dit seker as die 2 vingers reël.  Gekleurde hare was uit soos koekies in ‘n weeshuis.  Ek verstaan skole laat dit deesdae toe.  Jou kuif mag nie in jou oë gehang het nie en die oomblik as jou hare oor jou kraag gehang het, moes dit vasgemaak word.  Laasgenoemde was ‘n toegewing wat natuurlik net vir meisies gegeld het.  ‘n Ander gewilde een was dat jou naels nie oor jou vingerpunte mag gesteek het nie.  Meisies mag net ‘n seëlring en een oorbel per oor gedra het.  Die aanvaarbare oorbelle was natuurlik voorgeskryf.

Hoe enige van die reëls van jou ‘n beter student sou maak, het ek geen idee nie.  Nogtans was die reëls nie onredelik nie en niemand is dood daarvan nie.  Wel, seker ook maar met genade.  Party mense het niks daarvan gehou nie en het onderwysers se geduld tot die uiterstes beproef daaroor.  Ek neem aan dat daar met sekerheid gesê kan word as die reëls nie daar was nie, sou daar oor iets anders gerebelleer geword het.

In die tyd wat gekleurde kinders die skole ingekom het, was hulle onderworpe aan dieselfde reëls.  Tot ‘n mate, Moslem meisies was toegelaat om ‘n langbroek onder hulle rokke te dra en om hulle hoofde te bedek.  Dit was immers hulle geloofsvereistes.  Swart meisies se hare was nie voorgeskryf nie – wel, behalwe dat hulle kuiwe nie in hulle oë mag gehang het nie en dat hulle hare moes vas wees as dit oor hulle krae gehang het.  Persoonlik vind ek dit ‘n tikkie vergesog om kinders te dwing om hulle natuurlike hare te laat reguit maak.

Is daar vandag nog plek vir skoolreëls of trek dit net die aandag af van wat werklik belangrik is?  Wat is die nut van skole sonder reëls?  Mens kan mos self jou kind leer lees, skryf en reken, en dan ‘n boek in die hand stop.  Kan reëls rassisties wees?  Is reëls wat vir ‘n sekere ras geskryf is nie rassisties nie?

Breinvasbrand:  Waar is Helpmekaar Kollege gesetel?

Breinlosbrand:  Mnr Nel was eerste reg met Britanje.