Daardie binne gevoel

23 11 2010

Ek byt gewoonlik langtand aan iets wat nie tasbaar is nie.  Ek wil sien en ervaar.  Ook nie heeltemaal waar nie.  Ek gaan nie iets glo wat die kenners my vertel nie, tensy dit logies vir my sin maak.  Aan die ander kant is daar goed wat bloot net nie op ‘n tasbare of sigbare manier verduidelik kan word nie.  In daardie geval moet jy maar vir eers die saak oplos, of die ontasbare verklaring glo.  Wat dikwels dan ook die enigste logiese verklaring is. 

Net omdat iets nie in ons ervaring is nie, beteken nie dat dit onmoontlik is nie.  Eeue terug wou die mense ook nie die Grieke glo dat die aarde rond is nie.  Daar is terloops vandag nog mense wat glo dat die aarde plat is.  Sou ons nie soms vir die wilde verduidelikings val nie, sal ons dalk ook oor ‘n paar eeue as stiksienige sotte uitgelag word.  Nuwe idees lei tot nuwe kennis.  Maar ek dwaal af. . .

Ek wil eintlik oor intuïsie praat.  Wat sommige aanvoer dat net vrouens het, maar nie mans nie.  Die sesde sintuig of te wel wat die Engelse ‘n gut feeling noem.  Daardie stemmetjie wat jou van binne af waarsku of dalk ‘n woordjie in die regte rigting fluister.  Wie weet waar kom dit vandaan?

Ek weet nie, maar ervaring het my al geleer om daardie stemmetjie te vertrou.  Hoe sy weet wat aangaan, weet ek nie, maar sy is net nooit verkeerd nie.  Ek het al menige kere al my kop gestamp omdat ek my gat aan haar afgevee het. 

Aan die ander kant, hoeveel kan ‘n mens regtig om ‘n stem vertrou?  Kan jy byvoorbeeld jou lewe waag as jou stemmetjie jou vertel alles sal reg wees, as jou gesonde verstand anders skree?  Kan jy jou laaste pennie op ‘n belegging waag waarteen die kenners jou gewaarsku het as jou stemmetjie jou vertel om voort te gaan?

Ek wonder wat kan die stemmetjie korrup maak?  Kan jy self die stemmetjie voorsê met jou eie begeertes of domastrantheid?  Immers kan jy nie die stemmetjie verantwoordelik hou vir wat dit jou laat aanjaag nie.

Glo julle in intuïsie?  Waarmee het intuïsie jou al gehelp?  Steur jy jou aan intuïsie?

Breinvasbrand:  Wie is die lede van die Black Eyed Peas?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Max Sonnenberg.





Eiers

23 11 2010

Eiers is seker een van die mees algemeenste voedselsoorte.  Terselfde tyd is eiers ook een van die kosse wat verskriklik baie van persoonlike smaak beinvloed kan word.  Daarby is eiers nogal veelsydig ook en niemand gaan my vertel dat ‘n eier op enige manier nog steeds net ‘n eier gaan wees nie.

Ek sal maar erken dat ek redelik pedanties en seker selfs weird is as dit by my eiers kom.  Seker baie verwaand as ‘n mens in aanmerking neem dat ek nie eers ‘n eier kan bak nie.

Ek hou net mooi niks van roer eiers nie.  Ons het dit sirkus eiers genoem toe ek klein was.  Ek kan nie sê wat presies my afsit nie, maar ek eet dit nie sommer nie.  Ek eet wel omelette – eintlik is ek mal oor omelette.

Ek hou ook van gebakte eiers.  Ideaal gesproke is die wit heeltemaal gaar en die geel loperig.  Ek gril my dood as die wit nog skoon deurskynig is.  As dit darem gestol is, is dit beter, maar ek eet eerder my eier te hard as te sag.  Dus moet my gekookte eiers verkieslik ook hard wees.  Ek is mal oor eierslaai op broodjies.

Soos reeds genoem bak ek nie eiers nie en gaan af en toe uit om ontbyt by ‘n restaurant te gaan eet.  Sou hulle egter rubber eiers bedien, sien hulle my nooit weer nie.  Genugtig, my ma het my geleer dat dit doodsonde is om met kos te mors.

Hoe hou julle van julle eiers?





Lunch Week 21

23 11 2010

Uilspieël

(Watter een pas nie en hoekom pas dit nie?)

  1. Tony Blair; John F. Kennedy; Hendrik Verwoerd
  2. Kaia; Skedonk; Paleis
  3. Omelet; Quiche; Spookasem
  4. Tswana; Swati; Swahili
  5. Sneeu; Tornado; Hael