Vuur genoeg?

31 10 2010

Ring of fire van Johnny Cash.  Die man se stem het seker ‘n paar vure begin.





Hoekom blog jy?

30 10 2010

Dit is soort van tradisie.  Een of ander tyd kom ‘n blogger by ‘n tyd wat Son woord droogte gedoop het.  Eendag as ek in die regte bui is, sal ek nog die vergelyking tussen ‘n stukkende blog en Stukkende gedig van Breyten Breytenbach tref.  In die huidige plek en ruimte is ek gelukkig hopeloos te vlak daarvoor.

 Ek dink die meeste mense begin blog vir een rede en selfs ‘n ideaal.  Tog hou ‘n mens aan blog vir ander rede.  Die hoofrede is seker omdat jy dit geniet.  Blog is hopeloos te veel werk as jy nie genot daaruit put nie.  Vir baie mense is hulle blog ‘n aanlyn dagboek, maar ek het regtig nog nooit daardie begeerte gehad nie.  Hoekom blog ek dan?  Verskeie redes, maar ek dink dit gaan hoofsaaklik oor die volgende redes.

  • Mense wat my goed ken weet dat ek alles omtrent tot op die been analiseer.  Sommige mense sal dit wroeg noem – ek persoonlik beskou myself as ‘n denker.  Blog help nogal om my gedagtes te orden en boek daarvan te kan hou.
  • Ek is verslaaf aan allerhande interessante brokkies.  Met ‘n blog het ek ‘n goeie verskoning om oor alles wat ek wil op te lees.  Dit kan dan sommer vir ‘n blog onderwerp ingespan word.
  • Noem my verwaand, maar saam met die vorige punt, dink ek dat ek ‘n bydrae lewer om meer inligting in Afrikaans beskikbaar te stel.  Moenie my vra hoekom nie, maar baie mense google in Afrikaans – hopelik kan ek hulle in die regte rigting help.
  • Die mense waarmee ‘n mens in aanraking kom.  Dalk nie almal goed vir jou nie, maar daar is baie min vervelige mense in die omtrek. 
  • Ek het ‘n spesiale talent vir strooi praat.  Dit moet seker vir iets goed wees, maar vir die oomblik gebruik ek dit om mee te blog. 
  • Dit is ‘n goeie platform om idees te deel en jou idees uit te daag.  Ek is mal oor ‘n goeie debat. 

Vandag wil ek eerder vra hoekom blog jy?  As jy dan nie self ‘n blog het nie, hoekom lees jy wel blogs?  Wat van blog haat jy?  En as jy besonders dapper is, wat is jou grootste grief as jy ander blogs lees? 

Dalk moes ek eintlik huiswerk uitgedeel het.  Ek neem aan julle kan ‘n skimp vang.





Province, Die Curriecup kom weer

30 10 2010

 

Ek gaan nie veel sê nie.  Ek sal nie sommer vir Leon my woordvoerder maak nie, maar in die geval sê hy dit die beste.

WP!!!!!!!

Maak van die Haai Bokkoms!!!!!!!!

 





Klokke se bok

29 10 2010

Hallo Maatjies

Ek het tog weer ‘n nuwe maatjie gemaak.  Sy naam is Klokkie.  Klokkie die blokkie!  😆

My ouma Heldina het my altyd vertel dat ‘n heks lekker kaas kan maak met bokkie se melkies.  😯 Ek hou van kasies en melkies.  Ek het vir die Klokkie gevra waar hy sy melkies bêre, maar hy het net vir my gegorrel.  :mrgreen: 

Ook maar lekker dom!  😈  Die bokkie weet nie waar sit sy melkies nie.  Dit is die stokkies wat bo-op die kop sit.  😛  Hulle werk amper soos proppies.  ‘n Heksie moet dit net afskroef en die Klokkie vra om op sy kop te staan in ‘n blikemmer.  Al die melkies sal dan in die bliksempie loop.  :mrgreen:  Sien maklik.

Ek weet nie so lekker hoe ‘n heksie kaas maak nie.  😯  Ek kan darem tjoklits maak.  Jy maak net modder bokkies met die melkies en as dit hard word is dit tjoklit.

Sien julle?  Ek is nie net die mooiste heksie wat ek ken nie, maar ook die slimste.

Tara Maatjies.





Lunch Week 17

29 10 2010

Liedjiepret

(Geen een woord titels sal aanvaar word nie.  Die vertaalde titels van 3 liedjies is verskuil.  Identifiseer dit met die sanger.)

Die mag van een woord is ver bo begrip.  Dit kan jou laat wonder of dit liefde is, al vertel jou verstand jou dit kan nooit meer as vriende wees nie.   Miskien wil jy bly die aand, maar ‘n dag later sal jy jou hare uit jou kop uit ruk. 

Liriekeraai

(Liedjie en sanger)

  1. My my, I tried to hold you back but you were stronger
    Oh yeah, and now it seems my only chance is giving up the fight
  2. Now everytime I think of you I shiver to the bone.
    To run away from you was all
    that I could do
    to run away from you.
  3. I’d have thought
    That with time
    Thoughts of her
    Would leave my head
  4. Rock ‘n roll and brew, rock ‘n roll and brew
    They don’t mean a thing when I compare ’em next to you
    Rock ‘n roll and brew, rock ‘n roll and brew
    I know that you and I we got better things to do
  5. I say can you believe it?
    As we’re lying on the couch
    The moment I could see it
    Yes, yes, I can see it now




Haas Das Se Nuuskas! :)

29 10 2010

Mickey Arthur, voormalige Protea-afrigter, in sy biografie, Taking The Mickey sê hy het ’n sterk vermoede gehad dat daar met die uitslag van ’n bepalende kitswedstryd teen Pakistan drie jaar gelede geknoei is.

 “Van al die instrumente wat daar is om mee REGUIT te bou – ’n Waterpas, profiele, maatband, fishline, Square – is ’n sambok wraggies die enigste ene wat vir hierdie Groenie van my werk hoor!!! EISH!!!!! Sx.” Sien julle dit as rasisties? Sunette Bridges het die op haar Facebook profiel gesit… wat is julle mening?

“Vavi, gaan hang jouself of vlieg hel toe.” Met dié woorde het die skat- ryk sakeman mnr. Kenny Kunene gister ’n siedende aanval op mnr. Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, gedoen. Kunene het gister in antwoord op Vavi se uitlatings gesê hy wil Vavi reghelp: “Die partytjie het nie R700 000 gekos nie. Dit was meer.”  Die hele storie maak nie net vir Vavi siek nie, maar sommer vir my ook!

Mnr. Pieter Muller wie se vrou Maryna, vier jaar gelede onder raaiselagtige omstandighede langs die N1 in Pretoria dood is, is besig om haar versekeringspolisse van R15 miljoen te laat uitbetaal. Hy is of was ook een van die hoofverdagtes. Daar is nog niemand in hegtenis geneem vir haar dood nie.

Mnr. Dawie Groenewald, ’n beweerde baasbrein van die renosterstropersindikaat wat verlede maand aangekeer is, het vroeër vanjaar ’n diefstalsaak by die polisie ingedien oor renosterhorings wat glo uit sy besit gesteel is. Groenewald (42), ’n skatryk sakeman van die stad, sy vrou, Sariette (34) en nog nege mense, waaronder drr. Carel Toet en Manie du Plessis, veeartse van Modimolle (Nylstroom), is verlede maand gearresteer weens hul beweerde betrokkenheid by renosterstropery. Is dit net ek of is dit makliker om te sê die horings is gesteel… sodat jy met dit kan handel dryf en niemand sal vrae vra nie??

Mnr. Thys Badenhorst (60) en sy vrou, Hazel (59) het gekyk hoe al hulle besittings wat hulle al 38 jaar bymekaar maak deur ‘n brand verwoes word! En om alles erger te maak het hulle vier honde, saam met vyf voëltjies in die kamers doodgebrand! 👿 Dit nadat ongeveer 12 raadswerkers die veld aan die brand gesteek het terwyl daar sterk winde gewaai het! Ek hoop hulle word almal krimineel aangekla!!

Winona Ryder is vandag ‘n hele 39 jaar oud! En as julle nie vir haar ‘n geskenkie het nie, moenie worry nie… sy sal sommer self een gaan kry by haar naaste winkel en dit sal jou niks kos nie… ook nie vir haar nie! 😉  

Fluit fluit my storie is uit… Geniet die naweek… GO WP!!!

Selene





Rugby Sake

28 10 2010

Pretoria is eintlik ‘n doodrustige plek, tensy jy gaan moeite doen kan jy vergewe word as jy vergeet dat jy in Pretoria is.  Daar is egter twee uitsonderings.  Eerstens as die Jakarandas bloei en tweedens wanneer dit groot rugbytyd is.  Jy word dan so met ‘n dosis Pretoria geklap, dat jy sommer verstaan hoekom daar met ‘n gedeelde matras en ‘n gedeelde kombers na Pretoria opgeruk is.  Noudat ek daaraan dink – dit is seker geensins toevallig dat die Curriebeker finaal gewoonlik in die jakaranda tyd is nie.

Groot rugby beteken nie juis veel wanneer die ossies nie speel nie.  Kyk, wanneer die osse deurdring, is die plek ‘n rugby ondersteuner hemel.  Nie net noodwendig met Baberton Daisies, horings en eiers wat aan motors hang nie.  Daar is meer as genoeg ondersteuners van watter span die Ossies moet aandurf en hulle word nie verswelg nie.  Tog, hoe kan ‘n mens nou skoor met ‘n span wat nie die finaal gehaal het nie.  Dit is lekker om die sout in te vryf, maar dit raak ook maar gou vervelig.

Die week was Pretoorsdorp so stil, ‘n mens vergeet amper dat daar groot rugby die naweek gespeel word.  Van die oor en waar draakstekery, beledigings en weddery het niks die jaar kop uitgesteek nie.  Ek dink mense beplan maar om aandag aan hulle tuine te spandeer en om die swembad skoon te maak.  Die meeste van hulle in elk geval.

Punt is, dit is die naweek die Curriebeker finaal!

Siende dat ek onder die plaaslike spanne net vir WP en almal wat teen die Bokkoms speel skree, is dit nou nie juis ‘n raaisel vir wie ek duim vas hou nie.  So styf, dat ek selfs vir die eerste keer in jare nie eers my reputasie of geld op die spel geplaas het nie.  Ek hoop dat my weerhouding van dobbel die knoop sal deur hak vir die Manne van die Kaap.  😉

Vir wie skree jy?  Of moet ek eerder vra weet jy wat ‘n lynstaan is?  Hoe voel jy oor die algemeen oor rugby?  Gaan jy rugby kyk?  Gaan jy ‘n riel dans as WP wen?

Breinvasbrand:  Waar sal ‘n mens die Internasionale Rugby Raad (IRB) se hoofkantoor kry?

Breinlosbrand:   Olga was reg met Dogmatix.





Lunch Week 17

28 10 2010

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Queen Latifah; Cordozar Calvin Broadus; Eminem;  Kimberley Jones;  Robert Van Winkle; Snoop Dogg;  Lil’ Kim;  Dana Owens; Marshall Mathers; Vanilla Ice

Gemeenskaplike faktor?





Koerantbrokkies

28 10 2010

Kort voor 2 gister het daar ‘n brand in die ou landroshof in Pretoria uitgebreek.  ‘n Deel van die dak het ook ineengestort en daar is heelwat  dokumente en hofstukke verwoes.  Die hooflandros, Desmond Nair, beskou dit as ‘n tragedie.  Ek ook, dit was een van die mooiste geboue in Pretoria.  Om nie eers te praat van die invloed op die regstelsel nie.  Die brand het glo in twee kantore op die tweede verdieping begin en vinnig oor die hele verdieping versprei.  Weens die rook moes gevangenes van PTA Sentraal ook ontruim word en na ander selle geneem word.  Dit is onseker of brandstigting die brand veroorsaak het.

Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het kaalvuis onder die “SEB-elite en politieke hiënas” ingeklim.  Dit volg na ‘n 40ste verjaarsdagpartytjie van Kenny Kunene wat glo R700 000 gekos het.  Verskeie swart ekonomiese bemagtiging miljoenêrs en ANC lede het oa soesji van vroue in hul onderklere se lywe af geëet.  Volgens Vavi:  Lede van die “SEB-elite en politieke hiënas” stuur ’n boodskap aan matrieks dat dit nie nodig is om hard te werk nie, want “’n paar politieke toesprake en ’n monopolie maak van jou ’n miljardêr”  Volgens hom word die armes se integriteit onderskat.  Volgens my is dit weer ‘n geval van easy come, easy go.

Vanessa Goosen is na 16 jaar uit ‘n Thaise Tronk vrygelaat. Goosen was ‘n Mej SA finalis wat op 17 April 1994 op die Bangkok-lughawe in hegtenis geneem oor heroiën wat in wetenskaptydskrifte gevind is.  Sy het het destyds volgehou dat sy onskuldig was, maar het op aanbeveling skuldig gepleit.  Haar dogter is in die tronk gebore en is eers op 3 jarige ouderdom uit haar ma se sorg geneem.  Sy bly nou by haar ouma in Cradock.  Goosen sal na verwagting volgende week na SA terugkeer en ek reken sy sal dan seker aan haar boek begin werk.

Imperial Crown Trading (ICT) het toestemming gekry om op 164 plekke langs die Vaalrivier te soek vir steenkool.  Die departement van mynwese het die prospekteerreg toegeken sonder dat grondeienaars langs die rivier geraadpleeg is – iets wat wetlik vereis word.  Omgewingkenners reken dat steenkoolmyne wat mag volg ‘n ramps sal wees vir die ekologie van die rivier.  Dit maak seker nie saak nie.  ICT is immers diep by die ANC opgekruip.

Oor na Pravin Gordhan, wat gister sy midtermyn begroting toespraak gelewer het.  Water, elektrisiteit en vervoer gaan nog duurder word, want SA moet aan hulle infrakstruktuur werk.  “Daar moet vir betroubare elektrisiteitsvoorsiening, skoon water en beter vervoerdienste betaal word. Dus sal ons in die tydperk wat voorlê verdere stygings in tariewe sien.”  Terselfde tyd gaan die regering voort met die NGV – buig of bars.

‘n Hond se agterpote is in Fok-fok-plakkerskamp buite Sabie afgekap.  Die hond het glo die bure se kos gesteel en as straf het sy Mozambiekse eienaar sy pote met ‘n byl afgekap.  Die hond kon dus ook nie verder steel nie.  “Sy was erg verswak, ontwater en geheel en al gedisoriënteerd toe ek haar by die plakkershut kry,” sê me. Petro Oosthuizen, ’n DBV-inspekteur in Sabie.  Die hond is van kant gemaak en Alfred Maganzi (65) – die eienaar se ander hond is gekonfiskeer.  Daar is ‘n klag van dieremishandeling teen hom gelê.  Ek voel na mens mishandeling.

Ten slotte – ons het nogal lanklaas van Panjo gehoor.  Panjo en sy twee tier vrinne kan moontlik uit Goosey Fernandes se sorg verwyder word.  Dit nadat Fernandes sy tiere beskikbaar stel vir trou foto’s en velduitstappies.  Sy permitte om die tiere ten toon te stel is geweier.  Sou dit aan die lig kom dat Fernandes sy tiere ten toon stel, kan die tiere gekonfiskeer word.  Fernandes reken sy permitte is in orde en dat hy ‘n goeie tier hanteerder en goed opgeleide fotograwe gaan gebruik.  Die foto’s sal op sy plaas geneem word en hy sien nie die groot bohaai nie.  Ek dink dat Fernandes regtig begin krap waar dit nie jeuk nie.  Hy gee heel nuwe betekenis aan pushing his luck.

Verjaarsdae: Die Statue of Liberty is in 1886 ingehuldig.  Swart Maandag van 1929 toe die Wall Street Mark in duie gestort het – dus die voorloper van die groot depressie.  Paul Müller het in 1948 die Nobel Prys vir medisyne gekry vir sy nuwe insekdoder – DDT.

Nou vir vlees en bloed mense:  Bill Gates; Julia Roberts en Joaquin Phoenix (geen verbindenis nie).





Internet geslag

27 10 2010

Ek is ‘n groot aanhanger van algemene kennis.  Ek sal die hele dag doodgelukkig wees as ek kan chappie papiertjies lees.  Daar is mense wat wil sien, mense wat wil doen, mense wat wil weet en ander wat nie ‘n duiwel omgee nie.  Ek is baie beslis in die wat wil weet se kliek.

Algemene kennis word deur baie as nuttelose inligting beskou.  Hoe iets wat soveel deure vir jou oopmaak nutteloos kan wees, gaan my verstand te bowe.  Algemene kennis verbreed jou uitkyk en maak jou wêreld net soveel groter.  Gewoonlik hoef jy nie eers moeite te doen om dit te kry nie.  Jy sal goed doen as jy net onthou wat jy in die laerskool geleer het en verder net na die wêreld oplet.  Maklik.

Soms kan mense se gebrek aan algemene kennis my stom laat.  Ons sit nou die dag in ‘n groep en praat van vroulike legendes.  Almal dink dadelik aan Marilyn Monroe en ‘n paar onthou van Diana as ‘n nagedagte.  Op die punt noem iemand Cleopatra.  Dadelik is die groep verdeeld – die eerste groep is opgewonde oor die moontlikhede wat Cleopatra bied en begin sommer ook oor Nefertiri te praat.  Die ander?  Hulle weet nie wie Cleopatra is nie.

Cleopatra wat seker meer vrou was as wat Marilyn en Diana saam was.  Die heerser van Antieke Egipte en die minnares van Julius Ceasar en Mark Antony.  Hoe kan iemand nie weet wie Cleopatra is nie?

Goed en wel, almal hou nie van geskiedenis nie.  Baie mense het Macbeth op skool gedoen en nie Julius Ceasar nie.  Hoekom sal ‘n mens iemand Google as jy nie eers weet van haar bestaan nie?  Maar werklik mense, ek het regtig gedink almal het darem Asterix gelees en gekyk.  Kon hulle regtig vir Cleopatra mis?

Dit bring my tot iemand wat my nou die dag vertel het die internet maak die huidige geslag dom.  Ons is blykbaar meer geneig om Google te beraadslag as ons eie oordeel.  Volgens hom is Google se woord wet en sal mense dit dikwels nie bevraagteken nie.  Mense sal ook nie sommer self ‘n probleem probeer oplos nie.

Natuurlik het ek gestry – ek is immers doodgelukkig verslaaf aan die internet.  Na die Cleopatra voorval moet ek egter oor sy siening dink.  Het die gemak van die internet ons lui gemaak?  Intelligensie is nie verwant aan kennis nie, maar eerder wat met die “aangeneemde” kennis gemaak word.  Om te weet is een ding, maar wat gaan jy maak met wat jy weet?

Die internet is immers ‘n baie geduldige dienaar.  As jy die lus en die tyd het, sal jy bewyse van bykans enige iets opspoor.  Jy sal argumentsonthalwe kan bewys dat die AK 47 oorlog en vrede bewerkstellig het.  Sou jy nie dadelik jou wenkbroue gelig het oor vrede nie, het jy waarskynlik ‘n probleem.

Die internet kan vriend of vyand wees.  Kritiese denke is wat bepaal of dit jou vriend op vyand gaan wees.  Sou jy alles vir soetkoek opeet, dan is ek bevrees het jy internet se dienaar geword.  Met kritiese denke bly jy altyd in beheer.  En nie noodwendig net met internet gebruik nie.

Hoe voel julle hieroor?  Weet julle darem wie Cleopatra was?

Breinvasbrand:  Wat was Obelix se hondjie se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Owen Parnell.