Met sekere mense onder ons wat binnekort Mevrou-Mevrou wil speel, moet ons seker vir haar ‘n paar woorde van wysheid gee.
Destyds toe ons nog die Jakaranda blog opgemors het, was Giggel altyd daar gewees met haar raad. Elke vrou moet ‘n Bauer pan hê. Ek is nie seker nie, maar ek reken enige swaarboompan wat jy net-net gelig kry sal werk. Hierdie pan is nie vir kombuis gebruik nie. Wanneer jou man aanjaag, dan sien jy hom reg met die pan. As hy boonop kla, dan foeter jy hom weer.
Klink vir my na raad wat kan werk. Persoonlik dink ek die beste manier hoe om huweliksprobleme te vermy is om nie te trou nie. Daar is seker nou weer mense wat hulle oë rol en agter hulle hande wil fluister.
So kom ons laat dit aan die kenners en die wat dink dat hulle kenners is. Hoe weet jy dat jy nie die grootste fout van jou lewe maak die dag wanneer jy trou aan een man sweer nie? Is trou sweer ‘n realistiese gedagte of maar net ‘n idealistiese dagdroom sonder enige fondasie. Na watter gevaartekens moet ‘n mens uitkyk? Hoe bou jy ‘n gelukkige huwelik? Wat moet jy nooit doen nie? Wat moet jy elke dag doen? Wanneer moet jy gly en wanneer moet jy bly?
Breinvasbrand: Met wie het Pieternella van die Kaap getrou?
Breinlosbrand: Olga was reg met Moses.
Wie runnik saam?