Ek hou nie baie van strepe nie. Wat kan in elk geval van ‘n streep gesê word behalwe dat dit maar ‘n verbeeldinglose lyn is. Militaristies en kaal. Niemand kan my seker blameer dat ek ‘n paar strepe verloor het nie. Boonop het my bont varkie aangebied om dit te gaan soek en het nooit terug gekeer nie.
‘n Baie lang storie om te verduidelik dat ek nie skroom om dinge te doen wat mense as strooi praatjies beskou nie. Julle ken die epos wat omgaan oor hoe om jy jouself kan vermaak? Een van die voorstelle is om jou parkering met ‘n noot te betaal. Wanneer jou kleingeld uitgekeer word, dan skree jy kliphard: “Ek het gewen! Ek het gewen!” Ja, ek het dit al gedoen. Baie. (Veral snaaks wanneer die mense wat by jou is nie weet jy gaan dit doen nie.) Ek wil baie graag nog die een van die haardroeër doen, eendag. . .
Die beste van sulke . . . e . . . sal ons dit gedrag noem is die toeskouers se reaksie. Daar is die wat jou aankyk asof jy van Neptunus af kom en ander vererg hulle bloediglik vir sulke verspottigheid. Party is oortuig dat jy nie normaal is nie en dan is daar die wat geamuseerd saam lag.
Die grootste rem aan ons voete is seker altyd wat gaan die mense sê. Hoekom? Wat maak dit saak wat die mense sê? Hulle moet nie met jou saam lewe nie en jy kan jouself nie ontsnap nie. Is dit dan nie die moeite werd om jouself gelukkig te maak of net ten minste met jouself pret te hê nie? Jy moet tog eendag vir jou kleinkinders stories vertel van toe jy jonk was en wat is nou die moeite werd om oor te vertel as jy jouself altyd ordentlik gedra het.
Ek het ‘n jaar terug ‘n wynproe by Groot Constantia bygewoon. Die les van die dag? Drink die wyn waarvan jy hou. As jy van bokswyn hou, koop dit. Om die wyn af te wurg omdat die etiket reg is, is net ‘n vermorsing van geld en boonop ‘n straf. Hoeveel verder gaan dit nie?
Hoekom jou strokiesboek in ‘n dik ingewikkelde boek wegsteek? Lees dit openlik. Die wat dit benede hulleself beskou is eintlik net jaloers dat hulle nie saam kan lees nie. As jy lus is om te gaan swaai – gaan. Moet net nie ‘n kind afgooi om ‘n swaai in die hande te kry nie, wag jou beurt af. As jy lus het om kliphard in die mall te sing, sing! Iemand begin dalk net saam sing.
As ander nie daarvan hou nie, is dit doodeenvoudig hulle probleem.
Hoeveel invloed het ander mense op jou?
Breinvasbrand: Wie was die skrywer van die Gossip Girl boeke?
Breinlosbrand: Olga was reg met Daniel Zaaiman
Wie runnik saam?