Vuurwerke Verkope

30 12 2010

So kom ons tot ‘n einde van nog ‘n jaar en soos altyd sal sekere goed seker nooit verander word nie.  Die Oujaar sal seker nie self sy ry kry nie, dit moet mos weggeblaas word.  Al is daar heelwat wette daarteen en elke jaar oproepe dat mense dit nie moet doen nie.  Party mense het nie ore en sal seker eers end kry wanneer hulle met ‘n klapper in die anus opeindig. 

Ek was vanmiddag in Graskop gewees en het hierop afgekom. 

Let op.  Dit is ‘n stalletjie buite, waar dit onder andere ook aan die son blootgestel is.  Dit is dus ‘n wesenlike ontploffings gevaar.  Julle kan ook sien, behalwe vir die volume, is dit nogal menere.  Daarby is daar duidelike wette omtrent die verkoop van vuurwerke, wat nogal duidelik hier beskryf word.  Ek haal aan wat vir my perfek sin maak:

It is not possible for any informal sale of fireworks (hawkers, roadside or any open-air sellers) to conform with this Act. It is imperative that any informal displays of fireworks for sale or sellers of fireworks in the open air are reported to the SAPS as quickly as possible.

Ek kon dit nie net daar laat en elkeen sy brood en botter gun nie.  Ek het die plaaslike polisiekantoor daarvan in kennis gestel en het so half en half moed geskep toe die konstabel so effens geinteresseerd klink.  Hy het belowe om dadelik iemand uit te stuur.  Dit was nie eers 10 minute nie, toe sien ek die bakkie daar verby ry.  Met ‘n vervlakste polisieman wat nie ‘n blou duit omgee oor die onwettige verkoop van vuurwerke nie. 

De hel met die diere.  De hel met al die dronklappe wat met die vuurwerke gaan kyk hoe hulle diere kan opblaas.  De hel met al die minderjariges wat dit gaan koop en moontlik ook nog hulleself daarmee gaan verongeluk.  Niemand gee ‘n duiwel om nie. 

Ek gaan more weer kyk en is sommer baie lus om ‘n vuurhoutjie in te gooi as die polisie nie hulle werk wil doen nie. 

Vir almal wat more hulle diere moet kalm hou, sterkte.  Ek hoop julle kry genade, met krag slaan julle dalk net ‘n paar mense wat dit verdien dood. 

Hoe voel julle oor vuurwerke?  Wat van net 10 minute op die laaste dag van die jaar?  Moet ‘n mens maar die mense los om ‘n geldjie te kry soos hulle goed dink?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan TNT in plofstowwe?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1912.





Koekies Eet

30 12 2010

Daar is min dinge so aangenaam soos tuisgebakte koekies.  Verslind gaan jy dit verslind, die vraag is net hoe.   Eers moet jy jou drinkdingetjie regkry.  Koffie of ‘n glas melk, maar daar is mense wat sweer by tee.  As jy wil werk warm sjokolade ook en ek het as kind niks oorgekom om die koekie met ‘n koeldrank af te sluk nie.  As jy iets sterkers verkies, kan ek nou nie regtig iets aanbeveel nie.  ‘n Soetwyntjie sal seker werk. 

Koekie eet is ook nie so eenvoudig soos dit klink nie.  Party mense moet dit eers in ietsie doop en dan die deurweekte stukkie op presies die regte oomblik hap.  Ander gril hulle dood as die koekie nat is en nog ander kan die krummels wat agtergelaat word nie uitstaan nie.  Daar is ook die mense wat vreeslik gesteld is op etiket wat dit as onbeskof beskou. 

Hoe hou jy van jou koekies?  Hoe eet JY ‘n Oreo?  Wat is jou gunsteling koekies en bak jy dit ooit self?

Breinvasbrand:  Wanneer was Oreo’s ontwikkel en geproduseer?

Breinlosbrand:   Demoerin was reg met Nomvula Mokonyane.





Gauteng Bestuurders

29 12 2010

Ek is nie ‘n getroue Gautenger nie.  Iewers het ek met die verloop van jare geleer hoe om soos ‘n gesoute Gautenger te bestuur.  In die land van Rome moet jy mos maak soos die Romeine.  As jy nie die ongeskrewe reëls van die provinsie volg nie, gaan jy elke dag gevloek word.  Gautengers het nog geduld met die besoekers aan die provinsie, maar daar is geen genade met een wat ‘n GP kar rondry nie. 

Gautengse bestuurders is natuurlik in geen ander provinsie welkom nie.  Hulle word as verwaand, arrogant en uiters slegte bestuurders gesien.  Niemand kla natuurlik as die Gautengse geld soos water stroom nie, maar dit is ook al van Gauteng wat goed en reg is.  Geld is stom, maar almal het ‘n bek vol van hoe daardie geld verdien word.  Maar ek dwaal af . . .

Gauteng bestuurders word besonders haastig gesien.  Ek stry nie, almal sal haastig wees as jy op ‘n gereelde basis ‘n uur of 3 vassit in die verkeer.  Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie, as jy ‘n tydjie kan spaar met jou voet in die hoek, dan vat jy dit.  Blykbaar neem die verkeer op die hoofpaaie jaarliks met 21 000 karre toe.  Dit klink verskriklik, maar volgafstand is ‘n luukse.  Jy moet doodeenvoudig leer hoe om ‘n ruimte optimaal te benut.  Almal is haastig, as jy nie indruk nie, gaan jy eers in Bloemfontein of Polokwane die nodige afrit kan neem. 

Alles praktiese redes hoekom Gautengers ry soos hulle ry.  Dit is natuurlik voordelig ook.  Dit moet ‘n positiewe invloed op jou reflekse hê en dit hou jou op en wakker.  Dit is ook ‘n uitstekende manier om te ontstres.  Dit help jou ook natuurlik om senuwees van staal te kweek. 

Natuurlik is dit ver van logies vir die ander provinsies.  Plekke wat dink dit is ‘n verkeersknoop was daar meer as twee karre gelyk by ‘n robot is.  Hulle sien net nie die voordele van die Gauteng-bestuur in wanneer hulle saam met jou ry nie.  Hulle is veral blind wanneer jy nie by ‘n kruising wil kamp in hulle dorpe nie en vinnig deurskiet nie.  TSK!

Wat het geword van gasvryheid en leer van nuwe vaardighede?

Hoe voel julle oor Gautengse bestuurders?

Breinvasbrand:  Wie is die premier van Gauteng?

Breinlosbrand:  Anaphylaxis, hoewel DMI se beskrywing is ook reg.





Lewe met Allergie

27 12 2010

Om een of ander rede word allergie altyd met nies en loperige oë en neus verbind.  Ek self is goed bekend daarmee.  Wanneer die jakarandas blom of dit is kosmos tyd, lyk dit kompleet of ek die heeltyd tjank.  Boonop raak ek doof omdat my ore toegeslaan het en kom slaap daar elke aand ‘n vrot stink hond in my mond. 

Allergiese reaksie, wat ook gediagnoseer kan word as hooikoors of sinusitus.  Jy voel asof jy doodgaan, maar jy weet darem dat dit nie die geval is nie.  Daar is ook heelwat maniere om dit te bestuur om die simptome te minimaliseer.  Dit is nie aangenaam nie, maar dit waai gou genoeg oor. 

Aan die ander kant is daar mense wat op ‘n daaglikse grondslag moet waak teen allergie.  Ek dink nou spesifiek aan mens wat allergies is vir koring.  Klink maklik genoeg, sny koring uit.  Tot jy besef hoeveel goed het koring in.  Dit beteken nie net vermy brood en stampkoring nie.  Dit sluit koeke, terte en koekies in.  Baie stollingsagente het ook koring in.  Alle pastas is koringprodukte .  In ‘n samelewing soos in Suid-Afrika vat dit nogal toewyding om koring in geheel te vermy.  Almal aanvaar ook altyd iemand eet eiers, maar daar is heelwat mense wat allergies is daarvoor. 

Sleg voel is darem nog nie dood gaan nie.  Daar is allergië wat letterlik mense se dood in minute kan veroorsaak.  Net een ontydige by of een etiket wat jy verkeerd gelees het.  Het julle al opgelet in hoeveel produkte is daar ‘n waarskuwing dat daar moontlik neute in die produk kan wees?  Daar is selfs ‘n waarskuwing as ‘n spesifieke produk in dieselfde fabriek gemaak word as wat neutprodukte in gemaak word.  Die mense gaan nie net ‘n dag of wat sleg voel nie, hulle gaan dringende mediese behandeling benodig, mits dit natuurlik betyds is.

Kan julle julleself indink in hoe ‘n mate dit ‘n mens se lewe beperk.  Jy moet nie net weet wat al die bestandele is van wat jou voorgesit word nie, maar ook waarmee dit in aanraking kon kom?  Boonop is neute mos ook lekker.  Dit is voorwaar die straf van vadere.  Dieselfde geld vir mense wat allergies is vir seekos. 

Gee my dan eerder ‘n rooi neus en toe ore.  Ten minste kan ek nog eet wat ek wil.

Waarvoor is jy allergies?  Hoe beinvloed dit jou lewe?  Wat is die ergste allergie waarvan jy al gehoor het?

Breinvasbrand:  Wat is die algemene reaksie van mense wat allergies is vir neute as hulle daaraan blootgestel word?

Breinlosbrand:  Olga was reg met steenkool, uie en knoffel.





Ander Nuttelose Kersfeite

24 12 2010

Nog vir ou laas nog ‘n paar stukkies onbruikbare inligting wat te interessant is om te los.

  • Pous Julius I het in die vierde eeu die 25ste Desember tot Kersfees verklaar.
  • Die Kerskrans wat op mense se deure gehang word, simboliseer ‘n lang lewe en is ‘n teken van verwelkoming aan almal wat die huis binnekom.
  • Elke mens het ‘n ander hoogtepunt rondom Kersfees.  86% van mens geniet tyd saam met familie en vriende die meeste.  7 % is dankbaar dat hulle nie hoef te werk nie en 3% sien uit daarna om hulle trommeldik te eet.  Net 2% van mense beskou geskenke as die beste ding van Kersfees.
  • Jingle Bells is eintlik vir Danksegging (in Amerika) geskryf.  Die Amerikaanse regering het op ‘n stadium probeer om Danksegging die gewildste vakansiedag in die VSA te maak.
  • Stille nag was geskryf vir ‘n koor nadat die kerk se orrel gebreek het en hulle op kitare aangewesig was.
  • Die Noorweërs het lank terug geglo dat hekse en kwaadwillige geeste op Ou Kersnag uitkom en hulle besems steel om mee rond te rits.
  • Robert Louis Stevenson het sy verjaarsdag, 13 November, na sy dood aan ‘n vriendin bemaak.  Die vriendin was ‘n Kersbaba en het nie van haar verjaarsdag gehou nie.  Stevenson is natuurlik die skrywer van Treasure Island.
  • In Britanje is daar die “Holy Days and Fasting Days Act of 1551” wet, wat tegnies gesproke vandag nog nie herroep is nie en dus nog eintlik van krag is.  Volgens die wet moet elke burger op Kersdag ‘n Christelike kerk diens bywoon en hulle mag glad in ‘n voertuig na die diens vervoer word nie.

Ek het hierdie en al die ander feite wat ek die week uitgedeel het, hier gekry.





Geseënde Kersfees

24 12 2010

Ek is een van daardie mense wat altyd weet.  Dit is seker hoekom ek nog altyd die skaapwagters bewonder het wat uitgesonder was om eerste die goeie tyding te verneem.  Kyk net hoe het die engele hulle gegroet.  “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.”

Dit is dan my Kerswens vir julle.  Mag julle nooit bang wees nie en altyd die ontvangers van goeie tyding wees.  Mag julle vreugde sommer almal rondom julle ook aansteek. Mag Kersfees vir julle ‘n tyd van vreugde en blydskap wees, so dat julle dit 365 dae saam kan dra tot julle die volgende dosis ontvang.

Mag julle Kersfees waarlik geseënd wees. 





Nuttelose Inligting oor Kersvader

23 12 2010

Ek het nou die dag gedink dat ek dalk Kersvader moet vervang die dag wat hy aftree.  Ek is dik genoeg en daar is seker niks wat sê dat hy manlik moet wees nie?  Hier is vir julle ‘n paar interessanthede oor Kersvader.

  • Kersvader het aanvanklik nie een kleur jas gedra nie.  Daar is antieke prentjies van hom in groen, blou en pers.  Dit was seker voordat hy getrou het en sy vrou besluit het rooi is sy kleur.
  • Sy troue moes dus in 1920 gewees het, van dit is van daardie tyd wat hy net rooi dra.
  • Kersvader moet op Kersdag by 842 000 000 huise uitkom.  Dit wil gedoen wees.
  • Kersvader het aanvanklik net 8 takbokke gebruik.  Hulle was Dasher en Dancer, Prancer en Vixen, Comet en Cupid, en Dunder en Blixem.  Rudolph het eers in 1939 deel van die span geraak.  As ek moet raai, was dit om al die ander verkeer wat Kersvader moes trotseer te waarsku.
  • Jy sal 364 geskenke kry as jy alles moet kry in die “The 12 days of Christmas” genoem word.
  • Kersvader se elwe kom van die heiden nasies se Natuurvolk.
  • Coca Cola was die eerste maatskappy wat Kersvader in hulle bemarking gebruik het.




Lag in die kerk

23 12 2010

Ons het as studente ‘n kapelaan gehad, kom ons noem hom Fr H.  Dit was Fr H vreeslik lekker om vir my gas te gee.  Om elke hoek en draai, selfs van die kansel af.  Hy het seker verkeerdelik gehoop dat die kansel hom teen wraak sal beskerm.  Snaaksie!  Niks intimideer my nie, nie eers ‘n predikant op die kansel nie.  Ek het terug getart, selfs as hy op die kansel gestaan het.

Fr H het nogal ‘n langasem gehad het.  Ons was eintlik nie veel gepla, hy het baie boeiend en vermaaklik gepreek.  Hy, lief vir sy eie stem soos hy was, was ook lief vir sy eie tyd.  Hoe langer hy preek, hoe langer voordat hy huis toe kon gaan.  Eendag vertel hy ons vol bravade dat ons hom moet stop as hy 10 minute lank preek en sommer dood moet skiet as hy by 15 minute kom.  Niemand het dit ernstig opgeneem nie, maar ek het van daardie dag af altyd die oor op die horlosie gehou.

Die een dag van hy my terloopse blik op my horlosie gevang.  Hy het nie eers gebloos nie.  “Onthou om my te stop!” het hy my herinner en met sy preek begin.  Die volgende oomblik word ek uit my ry gepluk om ‘n voorbeeld van te maak.  Hy wou wys wat die verskille tussen my en hom was en dat elke mens uniek is.  Die hoofverskil – volgens hom – was dat ek baie mooier was as hy.  Natuurlik het ek bloedrooi gebloos en hy het net vir die gemeente vertel dat hulle my nie jammer moet kry nie.  Ons het dit glo vooraf beplan.  Ek kan tot vandag toe nie glo dat ‘n predikant so in sy preek kan lieg nie. 

Na ‘n paar insidente soos die, het ons natuurlik ‘n band van kattekwaad gebou.  Elkeen het natuurlik been en steen gekla oor die ander een, maar dit eintlik in die stilligheid geniet.  Fr H is later gestuur om sy PhD te doen en ek het graad gevang.  So ‘n paar jaar later land ons weer saam in die kerk.  Hy as ‘n hulppriester vir die spesifieke diens opgetree en ek was een van die gemeentelede.

In die openingslied vang ons mekaar se oë en bars altwee van die lag uit.  Natuurlik het een of ander sot mos eeue terug besluit mens mag nie in die kerk lag nie, tensy dit ‘n beleefde Ha Ha is vir ‘n predikant se flou grappie.  Dus probeer ons altwee ons lag in die gesangeboek wegsteek.  Te vergeefs.  Elke keer wat ons op kyk, begin ons weer.  Ons moes maar later eerder sorg dat ons nie vir mekaar kyk nie.

Hoekom is goed altyd so besonders snaaks in ‘n kerk?

Breinvasbrand:  Wat gee Le Bafana vir stout kinders?

Breinslosbrand:  Vee was reg met 1987.





Nuttelose Inligting oor Kerskaartjies, pos en Etes

22 12 2010

Voor die tyd van smse was daar ‘n tyd van Kerskaartjies.  Ons het altyd van November rond Kerskaartjies gekry en dit was altyd oor ‘n lyn in die sitkamer gehang.  Kerskaartjies suig deesdae ver aan die agterspeen.  Snaaks hoe ons in Suid-Afrika maklik die ou goed los wanneer daar iets nuuts op die horison verskyn.  Kersfees is ‘n familiefees en waar kom familie nou ooit bymekaar sonder om te eet?  Ek het hierdie stukkies inligting gaan uitkrap.

  • In Victorianse Engeland het die mense posbodes robins genoem omdat hulle uniform rooi was.
  • Die eerste Kerskaartjies is op 9 Desember 1842 in Engeland gemaak.
  • In 1937 het Oostenryk die eerste seëls uitgereik om Kersfees mee te herdenk.
  • UNICEF het in 1949 die eerste Kerskaartjies vir liefdadigheid gemaak.
  • In Oekraïne word die Kerstafel met twee tafeldoeke gedek.  Een van die doeke is vir die afgestorwe familielede en voorvaders en die ander vir die lewendige familie.  Dat spoke nou soveel kan mors.  TSK!!
  • In navolging van die Romeine en die Middeleeue, is dit vir die Britse offisiere tradisie om die kelners te wees vir die manskappe tydens die Kersete.  Die Romeine het lank voor Kersfees mos Saturnalia gevier.  Hiëragie was op sy kop gekeer, slawe was base en die gepeupel het die stad oorgeneem.
  • Gelukkig kan tradisie tog verander as dit nodig word.  In die vroeë Engeland het hulle tradisioneel varkkop met mostert vir ‘n Kersete geëet.




Hoender vol pekel

21 12 2010

Ek het eendag iewers gelees dat tot 71 persent van mense vervaldatums nagaan voordat hulle iets koop.  Ek neem aan dat dit veral waar is met goed wat ‘n hoë risiko het.  Soos hoender, of dit nou gevries is of nie.  Dit bly ‘n salmonella fabriek en kan jou dae lank in die toilet hou.  Natuurlik op ‘n manier waar jy nie so lekker seker is watter kant moet na die bak gedraai wees nie.

Rapport het Sondag met ‘n ander ding vorendag gekom.  Supreme Poultry wat gevriesde pakke hoender verskaf verwerk hulle hoender nadat die vervaldatum bereik is.  Hulle ontvries glo die hoender, was dit, spuit dit vol pekelwater en plaas dit weer terug in die mark.  Supreme Poultry verskaf hoender aan Pick n Pay en Shoprite winkels.  Ek het gehoor, maar kon dit nie bevestig nie, dat hulle ook hoender aan KFC en Nando’s verskaf.

Hulle reken dit is heeltemaal wettig en dat dit vir menslike of dierlike gebruik aangewend kan word.  Dit is glo ‘n algemene praktyk onder hoender verskaffers.  Ek vind dit besonders interessant dat hulle reken dat dit nie noodwendig nog ‘n jaar op die rakke gaan wees nie.  Dit is genoeg om maar in die toekoms jou eie hoender te slag, dan weet jy darem wat gebeur daarmee.

Vandag het die prentjie so ‘n bietjie verander.  Hulle erken nog dat hulle die hoender verwerk, maar reken dat dit nie vir menslike gebruik is nie.  Terselfde tyd is hulle ‘n bietjie vaag oor waarvoor dit dan gebruik kan word.  Hulle stel dit wel duidelik dat dit nie aan enige kettingwinkel verskaf is nie.  Een van die bronne wat met Rapport gepraat het, wil glo die maatskappy in onguns bring nadat hy oor seksuele teistering afgedank is.

Snaaks hoe die woordvoerders nie dieselfde storie het nie.

Die verwerking van hoender is nie ‘n aangename gedagte nie.  As die hoender dan veilig genoeg is vir menslike gebruik, hoekom gee hulle dit dan nie vir liefdadigheidsinstansies nie?  Goed, geld groei seker nie in hulle pekelwater nie.  Dit is blykbaar iets wat hulle al vir jare doen.  As niemand so ver dood is nie, maak dit dan regtig enigsins saak?

Dit bly nog steeds gross.  Hierdie is dalk ‘n geval van wat die oog nie sien nie, die hart nie kan seer maak nie.  Ek wonder nou hoe word ander vleise verwerk?  Dink julle hulle verwerk spek en viennas ook?  Wat nog van iets soos eiers en melk?  Het ‘n vervaldatum enigsins ‘n nut?

Breinvasbrand:  Watter jaar het Nando’s tot stand gekom?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Danny en Chacha