Vandat ons die eerste keer ons voete in die kleuterskool sit, word ons opgelei dat mammas (en juffrouens) van blomme hou. Dit is mos ook maklik. As jy verby ‘n blommetjie loop wat jou bekoor, pluk jy hom om vir jou ma te gaan gee. Dit maak nie saak of jy dit nou ‘n stingel van 2 cm of 20 cm los nie, dit moet hulle mos plesier gee.
Later – nadat jy ‘n paar skoublomme in jou onkunde verwoes het – leer jy darem ook dat jy maar ‘n blom kan los as hy jou bekoor. Jy leer om later net blomme vir spesiale geleendhede te pluk. Later kry jy ‘n kredietkaart en kom op die punt wat die prys van die bos blomme jou bedoelinge moet oordra. Daardie kleuter onskuld van mooi blomme pluk om iemand se hart bly te maak is seker vir altyd verlore.
Seker nie in alle gevalle nie. Almal weet seker dat ‘n enkele gesteelde roos heelwat meer waarde het as ‘n ‘n 100 langsteel rose, al kos ‘n 100 lang steel rose amper net soveel soos ‘n naweek weg – jou petrol ingesluit. Die gesteelde roos was impulsief, iets wat geld nie kan koop nie. Nou nie juis dat ek romanse kan spel nie.
Ek onthou hoe het ons angeliere gekry op hoërskool toe die perfekte aangewys was. Op varsity het ons dafodille gekry toe ons tot die huisraad verkies is. Die beste van alles is dat ek weet ons het ook blomme gekry toe ons uitgetree het, maar vet weet wat. Gewoonlik wanneer ‘n ou jou na ‘n dinee vergesel het, was jy ook verseker van blomme. Ons kry soms blomme by die baas as ons verder gegaan het met iets as wat nodig was.
Ek het ‘n vriendin wat haar siel sal verkoop vir sonneblomme. Dit is dus seker geen verrassing dat haar huis vol sonneblomme is nie. My kamermaat op varsity het elke blom wat sy van iemand gekry het gedroog om eendag op haar begrafnis te gebruik. Sy het toe al kaste vol gedroogde blomme gehad.
Vandag wil ek by julle weet wat is julle gunsteling blomme? Waarvoor deel jy graag blomme uit? Hou jy ooit van blomme? Hoe voel mans oor blomme, iemand dapper genoeg om te erken dat hulle van blomme hou?
Breinvasbrand: As wat is ‘n Dianthus caryophyllus beter bekend?
Breinlosbrand: Olga was reg met Corrie van Zyl.
Wie runnik saam?