10 Lesse in verkope

22 11 2010

Ek moet toegee dat ek nog nooit my lewe uit verkope gemaak het nie.  Ek moes wel op ‘n stadium verspreiders werf en was redelik goed daarmee.  Tog het dit nie die verspreider geld gekos nie en het my inkomste nie afgehang van hoeveel verspreiders ek kon werf nie.  Dit is dalk wat die verskil maak.  Ek was ook ‘n goeie joler en kon heelwat by verkeersligte insamel.  In die geval het ek gevat en min anders terug gegee as die versekering dat dit vir goeie saak gaan.  Ek reken dus dat ek met veiligheid kan sê dat ek wel ‘n vaardigheid of twee op getel het.

Na die verkoopsmense waarmee ek onlangs te doen gehad het, voel ek genope om ‘n paar basiese beginsels te deel.  Dalk help dit hulle om ‘n lewe van hulle gekose beroep te maak.  Aan die ander kant is ek dalk ver in die minderheid met wat ek verwag met kliente diens.  In daardie geval verloor hulle dalk net vir my en is dit geen verlies nie.  As iemand dalk my handtekening of geld soek, volg gerus die volgende stappe.

  1. Ek is ‘n vrywillige koper.  Dit verskil van ‘n desperate koper.  Daar is ‘n wensenlike verskil wat basies beteken dat ek nie die een is wat die gatkruip werk gaan doen nie.  Ek sal wel ‘n bietjie gatkruip aan jou kant waardeer.
  2. Klein kopers is ‘n snaakse ding.  Hulle bly nie noodwendig altyd klein nie.  In die toekoms soek hulle dalk iets groters en sal nie sommer jou neusoptrekkery vir ‘n klein transaksie vergeet nie.
  3. 10 klein transaksies kan dalk meer vir jou sak beteken met die helfte soveel inset of moeite as 1 groot transaksie.
  4. Ek bel net een keer.  As my besigheid vir jou belangrik is, neem ‘n boodskap en kom terug na my toe.  Ek gaan nie terug kom na jou nie.  Verwys terug na punt nr 1 – ek is nie desperaat nie.
  5. As jy nou regtig pateties is en ek moet opsluit jou werk vir jou doen, stuur dit asseblief vooraf vir my.  Ek sal dit vinniger kan doen sonder swape wat hardop wonder wat gedoen moet word of wat lamlendig probeer keer.  Terloops, ek gaan vergoeding vir jou werk verwag.
  6. Ken jou huiswerk, ek gaan dit beslis nie vir jou doen nie.  Onthou egter ek gaan ook my huiswerk doen en ek gaan jou wragtig uitvang as jy my ‘n rat voor die oë probeer draai.
  7. Ek lyk net dom, ek is nie regtig dom nie.
  8. Moenie per sms met my kommunikeer nie.  Bel my sommer, dan weet jy wat gaan aan.  SMS kan wel gebruik word om iets te bevestig wat ons reeds bespreek het.
  9. Kom jou afsprake na – ek het regtig nie tyd om te mors nie.  Verwys weer na punt nommer een.
  10. Basiese standard 6 rekeningkunde.  Bruto (gross) salaris is dit wat die werkgewer jou vertel hy jou betaal.  Netto is wat op die einde van die dag in jou rekening land, na die aftrekkings soos belasting en pensioen afgetrek is.  As jy sukkel, bruto is die groter totaal.

Ek dink dit is genoeg om te verteer.  Miskien is daar iemand anders wat bereid is om lepel oor te vat en die verkoopsmense verder te voer.

Breinvasbrand:  Wie het Woolworths Suid-Afrika gestig?

Breinlosbrand:  Nell was reg met C6H8O6.

 





Lunch Week 21

22 11 2010

Sjoe, die etenstye is nou mondig

Algemene Kennis

  1. Wie was die seerower wat bekend was as Blackbeard?
  2. Teen wie het Billie Jean King die “Battle of the Sexes” tennis toernooi gewen?
  3. Watter prys het Annelie Botes onlangs met haar boek; Thula-Thula; gewen?
  4. Waarvan is Gill Marcus die president?
  5. In watter halfrond is Suid-Afrika geleë?




Prioriteite met jou toelaag

22 11 2010

Ek skud soms net my kop as ek inkopies doen.  Met ‘n brood wat R10 kos en ‘n liter melk wat ook al R10 (of selfs meer kos) wonder ek dikwels wat voer diegene met minimum lone hulle kinders.  Erger, wat doen die mense met geen inkomste?

Ek sien nou die dag op die nuus dat vrugte as ‘n luukse item beskou word.  Net nou die dag het ‘n pakkie appels R20 gekos.  Mens kry selde piesangs vir onder R8 / kilogram.  500 g perskes jaag jou maklik R30 uit die sak uit.  Dit is malligheid, nie eers luuks nie.  En dit is nie eers die regtige duur vrugte nie.  Hou nou in gedagte dat SA ‘n land met ‘n vigs pandemie is.  Die mense moet hulle immuniteit versterk en dit word onder meer met vrugte gedoen.  Die gewone mens moet 2 vrugte ‘n dag inneem.  Dit maak net nie sin dat vrugte as ‘n luukse item gelys word nie.

Klaarblyklik is ek die enigste een wat daaroor my kop breek.  Die wat die minste daaroor bekommerd is, is die sogenaamde armes van die land.  Op die oomblik word ‘n basiese inkomste toelaag gedebatteer.  Daar word gevoel dat daar te veel mense wat met niks sit omdat hulle te oud is vir kindertoelaag en te jonk is vir ouderdomspensioen.  Om meer werk te skep is te groot uitdaging, dus moet meer mense gevoer word.  Gelukkig het iemand halt geroep en voorgestel dat daar eers ontleed moet word wat met die huidige toelae gedoen word.

Die grootste deel van die toelae word aan lugtyd spandeer.  Nog erger.  Kindertoelae is net beskikbaar vir kinders onder 6 jaar oud as ek reg onthou.   Ek mag verkeerd  (ek beskou ‘n selfoon as ‘n luukse item), maar ek dink dat hulle nie selfone het nie nie.  Iemand anders spandeer dus hulle kosgeld op vir die voorreg om op ‘n selfoon te speel / praat.  Navorsing bewys ook dat kinders aan die agterspeen suig sover dit hulle toelaag aangaan.  Dit is ‘n geval van bou ‘n nasie, kry ‘n toelaag en bogger die kind.

Aangesien die armes nie hulle prioriteite reg het nie, moet iemand dit dalk vir hulle doen.  In plaas om vir hulle geld te gee, moet hulle dalk ‘n weeklikse kospakkie kry.  Goed, daar is seker probleme soos allergië en goed waarvoor mense gril.  Ek verwag darem nie dat armes moet krepeer of goed moet eet wat ek as oneetbaar beskou nie.  Dalk is kosbewyse die antwoord, hoewel dit seker vernederend by die kassiere sal wees.

Tog, kan ‘n mens hulle toelaat om die maatskaplike toelaes te vermors?

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wat is die chemiese formule van Vitamien C?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met 22 jaard of te wel 20.12 m.