Hy moor nie, hy steel nie, hy het nie AIDS nie . . .

30 11 2010

Hoekom sal ek tog my tyd en energie aan ‘n VIGS skrywe afstaan?  Soos iemand nou die dag uitgewys het.  Almal is gatvol vir VIGS, hulle kry ‘n oordosis daarvan in die media en skool.  Dit is in elk geval glad nie nodig nie.  VIGS is ‘n siekte vir moffies en lesbene.  Dit is hulle straf omdat hulle afskuwelike seksuele dade pleeg.  Anders kry net swart mense dit.  Dit kan ook nie anders nie.  Soos die goed aanteel moet die natuur die getalle afbring.  Dit raak my nie.  Ek is ‘n heteroseksuele, wit vrou – ek weet nie eers hoe ‘n kondoom lyk nie.  Ek is verhewe bo VIGS.

Nee, ek dink nie werklik so nie.  Daar is wel baie mense wat presies so dink en wat waarskynlik sterk aanstoot gaan neem met wat ek gesê het en nog verder gaan sê.  Eendag gaan daar dalk pille wees wat die MIV virus sal kan hok slaan, maar daar sal nooit pille vir sotlikheid wees nie.  VIGS diskrimineer nie.  As meer blankes dit besef het en in ag geneem het, sou die hoogste infeksies nie onder die blanke jong mense gewees het nie. 

Nie almal wat MIV positief is het daarvoor gesoek nie.  Dit is wel waar dat jy met ‘n verantwoordelike leefwyse jou kanse op MIV infeksie kan beperk, maar daar is geen waarborge nie.  Neem nou die vrou wat in haar lewe net met haar man seks gehad het en dan die skoknuus verneem dat sy MIV positief is.  Sy word dan boonop deur haar man verwerp as ‘n slet, terwyl sy deur hom die infeksie opgedoen het.  Meneer is net nie bereid om dit te erken nie.  Hy is nie gay nie, hy is nie swart nie, hy is nie vuil nie . . .

Wat nog van babas wat MIV van hulle ma’s gekry het?  Hulle het niks gedoen waarmee hulle Vigs kon verdien nie.  Daar is vandag nog mense wat deur bloedoortappings met MIV besmet word.  Daar is verkragtings, besmette mediese toestelle, opsetlike besmetting.  Alles goed waarteen nie een van ons gevrywaar is nie. 

Nie dat ek met die regering se bewusmakingspogings saam stem nie.  Dit is bloot net nie effektief nie, dit behoort verder te strek as net die bevordering van kondome.  VIGS is die enigste siekte wat al ooit polities beskerm is.  Dit kon dus nooit met aggressie aangepak en uitgeroei word nie.  Aan die ander kant is daar geen ander keuse as om VIGS slagoffers (en daarmee saam ook VIGS) te beskerm nie.  Wanopvattings en voordele vier vandag nog hooggety – en nie onder die onopgevoede ploerte nie. 

Het jy al ooit daaraan gedink dat een van jou vriende dalk MIV positief is?  Een van jou familielede?  Hulle verkies dalk om dit vir hulleself te hou uit vrees vir jou minagting en verwerping.  Genadeloosheid en ondeurdenke woorde skop die een wat lê nog verder.  Asof hulle nie genoeg het waarmee hulle moet verwerk nie.

Ek het wel ‘n punt wat ek probeer maak.  Tot die dag wat die algemene publiek se houding teenoor VIGS gaan verander, gaan dit beskerm moet word.  Terwyl dit beskerm moet word, sal geen aanslag suksesvol wees nie. 

Ken jy iemand wat VIGS het?  Is jy bang vir VIGS-lyers?  Sal jy een met die hand groet?  Wat sal jy doen as een van jou vriende of familie jou vertel hulle is MIV positief?  Sal jy bereid wees om die wêreld te vertel as jy MIV positief is.

As jy dalk nou selfvoldaan reken dat jy nooit in daardie bootjie sal kom nie, het jy ‘n probleem.

Breinvasbrand:  Watter lid van Queen is dood weens VIGS verwante longontsteking dood, ‘n dag nadat hy erken het dat hy MIV positief is?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met WikiLeaks.





Vreemde Wêreld

30 11 2010

Mense is darem maar vreemde wesens.  Kyk maar gerus net na die koerante die afgelope tyd.

Eerstens het die regtige hekse aanstoot geneem met Manda Reyneke se verwysing na haarself as die wit heks.  Reyneke sou ook ‘n kersie brand en met die gees van waarheid praat om te hoor of Helberg regtig dood is.  Geen normale mens kan Reyneke ernstig opneem nie.  Dit was bloot bangmaakpraatjies waarvoor nie eers die Nigeriërs geval het nie.  Die South African Pagan Rights Alliance voel anders.  Wit heks kan glo ‘n verwysing wees na ‘n tipe toorkuns.  Volgens Damon Leff, hulle direkteur, beskou hekse toorkuns as hul godsdiens en nie as ’n toweragtige manier om te intimideer, af te pers of geweld te veroorsaak nie.  Die hekse vrees glo dat die saak gebruik gaan word om vooroordele teen en die belastering van regte hekse te bevorder.

As ek nie so bang was om getoor te word nie, het ek nou sommer reguit gesê dat die hekse juis aandag op hulle gevestig wil hê.  Geen haan sou andersins die verband tussen Reyneke en regte hekse gebring het nie.  Nou weet Suid-Afrika dat daar hekse is wat toor in plaas van bid.

Nog steeds by Reyneke.  Ene Koos Botha (moes sy van nie dalk Van Der Merwe gewees het nie?) reken dat daar ‘n heksejag onregverdige veroordeling van Reyneke is.  Volgens hom is sy op 47 op haar topvermoë.  Ek haal aan:  “Me. Manda Reyneke het haar Boerebloed nie verwater in ’n see van ordentlikheid soos sommige Afrikaner-vroue nie, maar nou word dit aan die groot klok gehang.”  Botha voel dat die skuld op Helberg se skouers moet rus.

So met ander woorde behoort Reyneke nie vir haar drange verantwoordelik gehou te word nie.  Die feit dat sy op die stadium getroud was is seker maar net ‘n onbelangrike besonderheid.  Dat Helberg eintlik met haar dogter uitgegaan het, maak seker ook nie saak nie.  Ma se drange geniet voorkeur, al is Helberg oud genoeg om haar seun te wees.

Nou kom ons by die sepie aktrise wat aan ‘n vrou verloof geraak het.  Lindie Stander het al ‘n paar maande gelede haarself aan Lucille Koen verloof, elkeen nogal met ‘n ring ook.  Eers moes ek gaan soek het wat die aktrise blykbaar gewild maak.  Sy vertolk glo die rol van Suster Elize in Binnelanders en was op ‘n stadium ook ‘n aanbieder van Pasella.  Hoekom ek nog die moeite doen om die kommentaar van sulke artikels te lees, weet ek nie.  Dit is altyd dieselfde.

Wat die kersie op die koek is, is die mense wat van nouaf Binnelanders gaan boikot omdat een van die aktrises openlik gay is.  Al weet ek nie eers wie Stander is nie, weet ek dat sy beslis nie die enigste gay aktrise / akteur in die land is nie.  Ek wonder nou:  As jy een program boikot omdat een van die toneelspelers gay is, moet jy seker almal boikot waar daar ‘n gay persoon in speel.  Jy moet seker die mense agter die skerm ook in ag neem.  Kan jy nou iets kyk as die haarkapper van die reeks gay is?  Wat gaan daar oorbly om te kyk.

Gee die duiwel wat hom toekom.  As iemand goed is in wat hy/sy doen, maak dit seker nie saak met wie of wat hulle slaap nie.  Gayheid gaan nie deur ‘n televisieskerm afsmeer nie.  Anders weet hulle dalk iets wat ek nie weet nie.

 





Lunch Week 22

30 11 2010

Uilspieël

(Watter een pas nie en hoekom pas dit nie?)

  1. Tarzan; Alf; E.T.
  2. Simba; Cadbury; Willards
  3. Blikkies; Jasper; Rooies
  4. €1; €2; €5
  5. William Cowle; OJ Simpson; Shrien Dewani