Waag jou lewe

25 11 2010

Ek is nie die grootste adrenalienjunkie nie.  Hopeloos te veel van ‘n bleeksiel daarvoor.  Tog sal selfs ek af en toe my voete van moederaarde af waag vir iets wat nie elke dag gedoen word nie. 

As ek byvoorbeeld in Kaapstad gaan wees in die naam van vakansie, gaan ek toeris wil speel.  Hoekom nie op die veerboot klim na Robbeneiland toe nie terwyl jy in die omgewing is.  Dit is goed en wel om die Platklip om elke hoek en draai te sien, maar hoe lyk al daardie hoeke en draaie van bo van die Platklip af?  Daar is mos ‘n kabelkarretjie, hoekom dit nie gebruik nie.  Jy kan selfs ‘n rit na die Boland neem om tussen die rotse rond te toer.  Ratanga Junction is mos ook vakansies oop. 

Hoekom nie as jy die tyd het en ‘n paar rand het wat net brand om uitgegee te word.  Een ding is verseker, die toeriste speletjies is nie goedkoop nie.  Deesdae is elke Jan Rap en sy maat daarop uit om met een of ander avontuur munt uit ‘n toeris te slaan.  Daar is seker niks daarmee verkeerd nie.  Vraag is egter wat kry die toeris in ruil?  Gaan alles maar net oor die skop van die ervaring?

Geen ervaring is die moeite werd as jy nie agterna daaroor kan praat nie.  Goed en wel, daar is risiko daaraan verbonde as jy oor ‘n brug wil spring met ‘n rek op jou bene nie.  Tog hoef die noodlot nie verder getart te word met voos tou, ‘n harnas wat net op genade werk of ‘n swak opgeleide operateur nie.  Die prys wat jy daarvoor betaal, behoort te verseker dat alle moontlike veiligheidsvoorsorg getref word.

Tog is dit te dikwels nie die geval nie.  Avontuursport word gesien as iets wat nie te moeilik kan wees nie.  Hoe meer geld aan veiligheid spandeer word, hoe minder pennies in die eienaar se sak.  Anders onderskat heelwat mense die omvang van die nuwe besigheid. 

Ek verwys nou byvoorbeeld na die vaart op Witbankdam waar die boot omgeslaan het en 6 mense verdrink het.  Die stuurman het geen bywys gehad dat hy bevoeg was nie.  Boonop was die boot oorlaai en mense was op dele van die boot waar daar nie mense moes gewees het nie.  Neem ook maar die ongeluk verlede jaar by die Big Swing.  Die operateur was nie goed opgelei nie en daar was probleme met die toerusting. 

Dit is net twee gevalle wat uitgevang is.  Is die ander maar net gelukkig tot dusver?  Hoeveel plekke neem veiligheid ernstig op voordat ‘n lyk of 10 hulle dwing om op te tree.  Selfs in die geval van dood, sal hulle ook eerder alles in hulle vermoë doen om eerder blaam te skuif as om te sorg dat so iets nooit weer gebeur nie. 

Hoe maak ‘n mens seker dat die aktiwiteit wat jy wil doen al die moontlike veiligheid voorsorg getref het?  Is jy dit nie aan jouself verskuldig nie?

Breinvasbrand:  Van waar is die eerste moderne reksprong in 1979 gedoen?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met Brian Ingram.





Wat gee hom meer reg op ‘n pad as ‘n ander?

25 11 2010

Ek kan die pipperella koors kry met die bestuurders wat hulleself as spietkops aangestel het.  Hulle wil links, regs en in die middel vir almal op die pad reguleer.  Boeta, bewaar jou as jy hulle nie dadelik gehoorsaam nie.  Padwoede is mos iets om op trots te wees.  ‘n Ware Khakimonster kan jou beboet of in erge gevalle arresteer.  Nie die selfaangesteldes nie.  Hulle sal jou kar beskadig, aanrand of selfs dood maak met die reg wat hulle vir hulleself toe eien.

Wat natuurlik baie interessant is, is dat hulle natuurlik glad nie tyd kry om hulleself te reguleer nie.  Miskien beskou hulle dit as ‘n beloning vir hulle selfopgelegde taak.  Anders is hulle eie optrede dalk net die maatstaaf waaraan hulle eie motoriste meet.  Om een of ander rede is hierdie reguleerders self agter die deur.  Hulle boender net almal anders daar uit.  Hulle opgeblase ego  neem seker baie ruimte op.

Deesdae is daar ‘n nuwe manier van regs draai by ‘n besige kruising.  Jy draai links en sorg dat jy oor die eiland kom wat die verkeer skei in die straat wat kruis.  Sonder enige ontsag druk jy dan voor mense in wat dalk al ‘n halfuur lank wag om ook oor die kruising te kom.  Lekker nie waar nie?  Verregaande  en arrogant ook as jy my vra.

Vanoggend druk een van hierdie skepsels weer voor my in.  Ek wil terloops die sertifikaart sien wat hulle alleenreg op die pad gee.  In elk geval, ek kners op my tande, swets onderlangs en maak seker dat die sot agter die indrukker nie dieselfde doen nie.  Die volgende oomblik druk ‘n ander kar van die baan links voor my indrukker in.  Mensekinders!  ‘n Mens sou sweer die tweede indrukker het ‘n moord begaan.

Dit was ‘n getoet, ‘n geflits van ligte en sommer ook ‘n uitskel van waar die eerste indrukker uit sy kar beleun het.  Dat hy sekondes voor dit dieselfde gedoen het was van min of geen belang nie.  Niemand durf dit met HOM doen nie.

As dit nou nie dit toppunt is nie. . . .

Hoe voel julle oor die selfaangestelde spietkops?





Lunch Week 21

25 11 2010

Couples Theraphy

(Rangskik die terme in pare wat by mekaar pas en gee die gemeenskaplike faktor van die groep).

Hoender; Spek; Vervoer; Skaap; Melk; Vark; Eier; Perd; Bees; Wol.

Gemeenskaplike faktor?