Surprise!!!!

7 11 2010

Ek kon nog nie die nut daarvan insien om iemand se kattebak te ondersoek wanneer hulle die perseel verlaat nie.  Voordat dit van waarde kan wees, moet die kattebak eintlik deursoek word wanneer ‘n mens nie perseel binnekom.  Daar behoort ‘n lys daarvan gemaak te word wat met die uitgang vergelyk word en enige verskille gehoort verduidelik te word.  Buitendien, sou ‘n mens iets wil steel, sal jy mos nou nie so dom wees om dit in die kattebak weg te steek nie. 

Ek gee gewoonlik die wagte gas as hulle my vra om my kattebak te ondersoek.  As hulle my vra, sê ek gerus nee.  Baie van hulle aanvaar my nee net so en laat my gaan.  Ander wil onthuts weet hoekom nie?  Laat niemand my van geykte antwoorde beskuldig nie.  Ek het hulle al vertel dat daar ‘n lyk in my kattebak is of dat ek nie wil hê dat hulle die gesteelde goedere moet sien nie.  My gunsteling deesdae is dat die dinosaurusse gaan ontsnap.  Baie min mense het al gaan kyk of ek die waarheid vertel. 

Een dag kry my suster toe die idee om vir hulle iets interessant in die kattebak te los.  Julle weet, ‘n verrassing – net om die lewe vir hulle interessant te hou.  Dit moet seker uit blote verveeldheid wees dat hulle in almal se chaotiese kattebakke wil krap.  Die verrassing het altyd by praat gebly, iets wat ons wou doen.  Ons het nooit daarby uitgekom nie – tot onlangs.

Ek kom by die wag en hy draf ywerig na die agterkant om wat-weet-wat te gaan kyk.  Toe hy die kap lig, spring my suster uit!  Sy skree nogal ook: “Surprise!”  Die wag het amper ‘n gat in die kar agterhom gespring en sekerlik ook van bloedgroep verander.  Ons, die ander karre en sy kollegas wou ons natuurlik skeur van die lag.  Gelukkig het hy ook die humor ingesien en nie wild en wakker begin skiet nie. 

Ek wonder of hy weer so ywerig gaan draf om in ander mense te goed te gaan krap. . . .