Ons was geleer dat ‘n lewe nie aan geld en sent gemeet kan word nie. Ons was verkeerd geleer. Vra maar enige mediese fonds of hospitaal. Die pasient se lewe of selfs die kwaliteit van iemand se lewe is ‘n bysaak. Wat regtig saak maak is die wins aan die einde van die dag. En blykbaar is daar geen grense van hoe ver daar gegaan sal word om ‘n wins in die sak te steek nie.
In September vanjaar het Netcare hulle spyt uitgespreek dat hulle aangekla word nadat hulle deurgaans met die polisie saamgewerk het. Vandag was daar aangekondig dat Netcare met R4 miljoen beboet is nadat hulle skuld erken het dat hulle onwettige niere laat oorplant het. Daar is ook ‘n konfiskeerbevel van R3.8 miljoen teen die hospitaal. Die waagkans werd as ‘n mens in ag neem dat hulle ten minste R22 miljoen wins gemaak het. Van een hospitaal – waar hulle gevang is.
Die handel van menslike weefsel is teen die wet. Of eerder, meer prakties gesproke, geen “verskaffer” mag wins maak nie, maar kan wel poog om hulle onkostes te verhaal. Met goeie rede ook. Dit is een manier om die veiligheid van almal betrokke te probeer beskerm. Die skenker gaan dan hopelik nie gedwing word om te skenk vir ‘n ander mens se sak nie. Skenkers gaan nie ter wille van hulle organe opgeveil word – sonder dat hulle noodwendig ‘n sê in die saak het nie. Mense sal hopelik nie ten koste van ‘n pasient of hulleself hulle liggame wil opveil nie. Natuurlik word daar vir die geskenkte organe op ‘n manier betaal. Toetsing en verwerking kos ‘n plaas se prys en moet van iewers verhaal word.
Maklik om te praat as jou lewe of ‘n geliefde se lewe nie van ‘n moontlike skenker afhang nie. Of as daar nie ses honger mondjies by die huis sit wat gevoer moet word nie. Geld groei nie aan bome nie, maar jou liggaam is seker daar vir hoe jy dit goed dink. Soos die meeste Westerse lande berus ons ekonomie op ‘n vrye mark stelsel, so hoekom nie jou nier verkoop as jy kan doen met R40 000 nie? Jy kan mos met een nier ‘n vol lewe hê en daarmee kan jy ook iemand se lewe red. Daar is gerespekteerde medici wat voel dat orgaanhandel gewettig moet word.
In Netcare se geval hou die argument nie juis water nie. Hulle het toegelaat dat die niere van minderjarige kinders gekoop word. Wie het voordeel uit die transaksie getrek? Wie sê in elk geval dat enige van die “verkopers” nie gedwing was om te verkoop nie?
As jy dan ‘n nier kan koop of verkoop, hoekom nie ook ‘n hart nie? Waar gaan die lyn getrek word? Hoe gaan daar verseker word dat die verkoper dit vrywillig doen? Of dat mense nie ter wille van hulle organe vermoor word nie? Is die huidige stelsel van vrywillige skenker nie beter nie?
Wat dink julle?
Breinvasbrand: Wie het die eerste suksesvolle nieroorplanting gedoen?
Breinlosbrand: Olga was reg met People Opposing Woman Abuse
Ek het
Wie runnik saam?