Twilight wil my nie glo dat ek deesdae net Wikipedia lees nie. Goed, ek jok dalk ‘n bietjie, maar ek lees nie naastenby soveel as wat ek graag sal wil lees nie. Die bib se ure is vir my ‘n steen des aanstoots. Geen werkende mens kan met hulle belaglike ure tyd kry om bib toe te gaan nie. Ek krap gereeld by boekwinkels rond, met die gevolg dat ek soveel boeke identifiseer, dat ek skoon in ‘n depressie verval omdat ek nie almal kan koop nie. Dan koop ek niks.
Laat ek dan kyk hoe ek Sonlig kan help. Ek het regtig geen probleem om ‘n roman (of romantiese fiksie as jy wil) te lees nie. Nadat ek honderde indien nie duisende van hulle gelees het, weet ek een ding. As jy een gelees het, het jy almal gelees. Geen wonder ook nie, daar is spesifieke reëls waaraan ‘n skrywer van die genre moet voldoen. Ek sal dus nie sommer geld mors om een te koop nie. Wel, tensy ek een wat ek baie geniet het iewers tweedehands kan raakloop. Ek sal ook maklik kinder of jeugstories lees. Dit bly altyd ‘n plesier en ‘n belegging. Ek hou ook egter van boeke van iets om die lyf. Boeke wat vrae stel, veral as daar nie ‘n swart en wit antwoord is nie. Blameer die filosoof in my. Ek hou ook van ‘n verrassende einde aan ‘n storie.
Deesdae lees ek op nogal baie op aanbeveling iets. Ek soek ook deesdae van die ouer, mens kan seker sê klasieke boeke op. As mense na dekades nog daarvan kan praat, dan moes daar iets daarin gewees het. Ek het juis onlangs “A Christmas Carol” van Charles Dickens aangeskaf. Die boek was die fondasie van hoe Kersfees vandag gevier word. Leo Tolstoy se “War and Peace” wag ook vir my verlof. Op die oomblik lees ek “Slumdog Millionaire” van Vikas Swarup. Dit is oorspronklik uitgegee as “Q & A”. Raai wat sou ek nou gedoen het as ek nie huiswerk gehad nie?
So van die huiswerk gepraat, ek het nou heeltemaal afgedwaal. Deesdae is daar nogal ‘n neiging om meer bewaringsbewus te wees. Daar was ook heelwat debatte gewees oor wat met wild wesies gemaak moet word. Die idee van rehabilitasie is nogal gewild. Raai egter waar het daardie idee ontstaan?

Baie van ons het die fliek gesien, wat gebaseer was op ‘n boek, Born Free, van Joy Adamson van 1960. Elsa was ‘n wees leeuwelpie wat in 1956 saam met die res van haar werpsel gevind is. Haar susters was later na dieretuine gestuur, maar Elsa het by George en Joy Adamson groot geword. Later het hulle besluit om haar, wat tussen mense groot gemaak is en geleer was om nie te jag nie, vry te laat. Hulle moes haar dus weer ‘n leeu maak en leer hoe om te jag. Hulle kry dit ook reg en Elsa raak weer ‘n wilde leeu. Dit is min of meer waar die fliek eindig.
Tog was daar oorspronklik 3 boeke, wat nou in een saamgebind is. Die boek maak ‘n mens lus om vir jouself ‘n tentjie te koop en iewers in Afrika tussen die wilde diere te gaan woon. Daar is byvoorbeeld gevalle waar Joy gaan stap net so tussen die wild. Dit moet ‘n ervaring en ‘n half wees. Dit beskryf Joy se verhouding met Elsa in meer besonderhede. Dit volg ook op oor wat met Elsa gebeur het nadat sy vrygelaat is: onder andere haar eie kinders, die Adamsons verhouding met haar welpies, haar dood en hoe die welpies gerehabiliteer moet word.
Dit is die naaste wat baie van ons gaan kom aan ons eie leeu, maar wys ook dat rehabilitasie nie so maklik is wat dit klink nie. Die boek lees maklik en daar is ook foto’s van Elsa en haar familie in. Dit is ‘n moet as die bewaring van diere jou na aan die hart lê en jy stilletjies wens dat jy ook wilde Afrika kan invaar.
“Ek is Anna” het destyds die land aan die praat gehad. Dit bly ‘n boek wat elkeen met oë moet lees. Die skrywer het my egter vasgevang. Goed, sy het ‘n storie gehad om te vertel, maar sy kon beslis skryf ook. Ek het na die volgende boek uitgesien, wat toe ook onder haar eie naam verskyn het. “Nooit is ‘n lang lang tyd” was geen Anna nie, maar ‘n lekker lees ligte boek gewees. Toe verskyn “Die besoeker” en ek koop dit net daar.

Ek is bevrees dit is die laaste boek van Anchien Troskie wat ek sal koop sonder om dit vooraf te lees. Ek het ‘n engel (soos uit die hemel uit) vreemd gevind, maar ek kon nog daarmee leef. Die boek het nogal die potensiaal gehad om ‘n goeie storie te word. Die hoofkarakter was iemand wat dwelms aan skoolkinders koop en dan wil uit. Troskie is ‘n aangename skrywer, dit is maklik om haar te lees. Tog is dit amper asof sy te veel afgebyt het en dit nie kon deurvoer nie. Dalk is dit omdat die persoonlike ervaring makeer, maar ek dink sy het ‘n goeie storie behoorlik opgemors het.
Dit is dan ‘n boek wat ek aanbeveel vermy moet word. Tensy jy verveeld is en niks anders het om te lees nie. Die boek stel teleur, maar daar is erger boeke in omtrek. Troskie moet dalk eerder op Romans konsentreer.
Dit is dan my raad. Dalk kan Girl van die Suburbs, Toortsie en Seegogga verdere aanbevelings doen.
Wie runnik saam?