LGBTQIA

19 02 2016

Dit was seker veronderstel om eenvoudig te wees.  As jy ‘n man is, gaan jy ‘n vrou as ‘n maat kies en jou lewe met daardie vrou deel.  Omgekeerd was natuurlik ook waar.  Tog het dit nooit heeltemal so uitgewerk nie.  In baie kulture was dit aanvaarbaar dat ‘n man meer as een vrou kies.  Daar was ook kulture (ver in die minderheid) waar ‘n vrou meer as een man kon hê.  Ek is nie seker hoeveel sê sy in die saak gehad het nie.

Die basiese boustene was nogtans dieselfde.  Wag, amper laat ek julle bloos.  Kom ons volstaan by mans gaan saam met vrouens.  Dit het nooit heeltemal so gewerk nie.  Van die vroegste tye het party mans ander mans gekies.  Ek verstaan dat die dames in harems mekaar ook vermaak het.  Dit is nou nie asof hulle vry was om ‘n maat van hulle keuse te gaan soek nie.  Hoe dit ook al sê, duisende jare later en daar is baie mense wat gegrief word deur die gedagte van seuntjies en dogtertjies hoort saam.  Verder nog, party mense neem aanstoot met daar is seuntjies en daar is dogtertjies.

Ek gaan nou nie by die filosofie omtrent die onderskeid ingaan nie.  Die ‘uitgeworpendes’ het basies genope gevoel om hulle eie gemeenskap te begin.  In die 90’s is die gemeenskap LGB gedoop.  Van daar af het dit LGBT geword.  Almal (buiten heteroseksuele mense) het nog nie welkom gevoel nie, so het die LGBT, LGBTQ geword.  LGBTQ is later LGBTQI en nog later LGBTQIA ens.  Almal voel nog nie heeltemal tuis nie en gelukkig is daar 26 letters in die alfabet.  Wie weet in elk geval waarvoor staan LGBTQIA?  Of self LGBT?  Laat ek julle vandag ‘n bietjie help.

LGBTQIA

  • L:  Lesbeen
  • G:  Gay (ek het gedink gay is ‘n omvattende term vir gay mans en vroue.  Blykbaar is ek verkeerd)
  • B:  Bi-Sexual
  • T:  Transgender (met ander woorde, iemand wat eers een geslag was en toe ‘n ander geslag geword het)
  • Q:  Questioning / Queer (Iemand wat nie seker is wat hulle verkies nie.  Queer (ek sweer ek vertaal net, ek het nie die term gekies nie) verwys na iemand wat nie heteroseksueel is nie).
  • I:  Intersexual (mense wat basies altwee geslagte is)
  • A:  Asexual (so iemand wat nie seksueel is nie) of Ally (iemand wat simpatiek teenoor die LGBTQIA gemeenskap staan).

Sal ek vergewe word as ek sê dit is nogal ‘n mond vol?

Ek het nogal gedink dat Heteroseksueel, Homoseksueel en Bi-seksueel alle moontlikhede denkbaar kan dek.  Blykbaar is ek en die seining reg uit die donker eeue.  Dit is glo net die punt van die ysberg.  Mense kan glo die volgende seksuele voorkeur hê.

  • Heteroseksueel:  Dit is mense wat aangetrokke voel tot mense van die ander geslag.
  • Homoseksueel:  Mense wat aangetrokke voel tot hulle eie geslag.
  • Bi-seksueel:  Mense wat aangetrokke voel tot beide geslagte.
  • Panseksueel:  Pan beteken basies alles.  Panseksuele mense raak blykbaar eerder op ‘n persoonlikheid verlief, ongeag van die geslag.  Dit is dus nie dat hulle tot mans en vrouens aangetrokke voel nie, eerder dat geslag nie vir hulle saak maak nie.
  • Aseksueel:  Mense wat nie van dogtertjies of seuntjies hou nie.

Daar het julle dit.  In ‘n neutedop en vol mynvelde.

Breinvasbrand:  Wat beteken cisgender?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Loftus Versfeld.





Toeka Toekel: Skeepskatte

22 04 2015

Scrapy se uitdaging vir die week is diere.

Snaaks genoeg word katte oor die algemeen verbind met vroue eienaars.  Dus was ek nogal verbaas toe ek nou die dag van skeepskatte hoor.  Daar is tog seker ‘n rede hoekom hulle seeMANNE genome word.  Veral in die tyd toe skeepskatte floreer het.

Katte is blykbaar baie aanpasbare diere en aard gewoonlik baie goed op skepe.  Daar was hulle hoofdoel natuurlik om rotte en muise te vang.  ‘n Eeu of twee gelede het knaagdiere toue en seile ernstige skade berokken.  Hulle het natuurlik ook die kosvoorraad van die skeepslui en die vrag wat gedra is vernietig.  Boonop was hulle ook draers van dodelike siektes gewees.

Katte was verder ook iets huisliks aanboord.  Baie mense het hulle as geluksbringers op die skip beskou.  Dus was die katte op die hande gedra, wat die kieterjasies natuurlik soos ‘n handskoen gepas het.  Party, soos Convoy, het selfs hulle eie hangmatte gehad.

As hoë skeepslui het hulle natuurlik ook al die belangrike gaste ontmoet.  Verskoon my.  Baie bekende mense het die voorreg gehad om DIE kat van die skip te ontmoet.  Kyk net hoe moet Winston Churchill vir Blackie van “HMS Prince of Wales” groet.

Blackie en Convoy is natuurlik nie die enigste bekende skeepskatte nie.

Simon van “HMS Amethyst” het in 1949 die bevelvoerder van die skip geselskap gehou tydens die Yangtze Voorval.  Die Chinese het die skip aangeval en Simon is ernstig beseer in die bomaanval wat die bevelvoerder gedood het.  Simon was erg gebrand, maar hy kon kruip om hulp te gaan soek.  Die medici het hom gekry, vier stukke skrapnel verwyder en Simon het tot almal se verbasing die dood gekul.  Hy het sy pos as rotvanger volgestaan in die maande voordat die skip kon ontsnap.  Met sy terugkoms in Engeland, was Simon bevorder tot “Able Seacat”.  Dit het egter nie beteken dat hy kwarantyn vry kon spring nie.  In kwarantyn is hy aan ‘n virus infeksie dood.  Simon het ‘n eervolle Vloot begrafnis gekry.

Jan Wilson se kat kon netsowel “Unsinkable Sam” gewees het.  Sam was aanvanklik ‘n Duitser wat diens gedoen het op die “Bismarck”.  In 1941 het die skip na ‘n geveg gesink en net 117 van die 2201 bemanningslede het dit oorleef.  Sam was een van die bemanningslede en die “HMS Cossack” het hom gered.  Dit is elke kat vir homself en Sam het geen problem gehad om skielik ‘n Brit te word nie.  Die “HMS Cossack” was deur ‘n torpedo getref en 159 bemanningslede het gesterf.  Sam was nie een van hulle nie.  Hy is oorgeplaas na die “HMS Royal Ark” gesink het.  Raai wie het weer oorleef?  Sam het toe maar besluit om nie weer sy lewe aanboord te waag nie en hy het toe maar eerder ‘n pos aanwal aanvaar.

Jenny was die kat op die Titanic.  Daar is twee weergawes oor wat met haar gebeur het, maar ek gaan met my gunsteling weergawe ploeg.  Jenny is van die Titanic se susterskip, Olympic, oorgeplaas nadat sy kleintjies gekry het.  Jenny het kort voordat die Titanic Southampton moes verlaat besluit dat die skip nie haar teenwoordigheid werd was nie.  Toe vat sy haar kinders een vir een van die skip af.  Die Ierse laaitie wat na haar moes omsien was toe wys genoeg om ook sy tassies te bak.

Emmy van “RMS Empress of Ireland” wou niks weet om by die huis te bly nie.  Die 28 Mei 1914 kon niemand haar oortuig het om op die skip te klim nie.  Die skip moes sonder haar uitvaar.  Die skip het die volgende dag met ‘n ander skip gebots en meer as ‘n 1000 mense is dood.

Vandag word daar nie meer regtig van skeepskatte gebruik gemaak nie.  Hulle word nie meer as higiënies gesien nie.  Tog is daar blykbaar ‘n kat wat Hollandse skepe verkies.  Hy sal afklim om te gaan rondsletter op land.  Die skepe sal dan hom soms agterlaat.  Dan vaar hy maar met ‘n ander skip, tot hy weer ‘n Hollandse skip kan kry.

Daar is nog vele ander katstories, te veel om hier te noem.  Google gerus maar shipcats.

Breinvasbrand:  Waarheen het die skip gevaar waarop Jan Wilson se kat gesit is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Theodore Roosevelt.





Die ongekontaktes

27 01 2015

Dit klink amper soos ‘n fliek oor ruimtewesens.  Dit is moeilik om te glo dat daar vandag nog mense is wat nie kontak met die res van ons het nie.  Dit klink half onwerklik.  Mense wat op aarde woon, maar wat nie deel van die wêreld is nie.  Mense wat nie weet van ander lande, gelowe of tegnologie nie.  Mense wat bekend staan as die “uncontactable”.

Ek het al dikwels gespekuleer of daar dalk iewers in die Amasone ‘n nasie (Amasones) is wat nog nooit ontdek is nie.  Wat sal hulle dink as hulle ontdek hoe groot die wêreld eintlik is?  Dit was egter altyd eintlik maar ‘n “Sê nou” speletjie.  ‘n Wetenskaplike fiksie, waaroor ek nou nooit regtig te lank gedink het nie.

Daar is egter regtig nog mense wat heeltemal onafhanklik van die wêreld bestaan.  Mense wat nog nooit aan die moderne lewe en volke bekend gestel is nie.  Groepe waarmee die wêreld nie kontak het nie.  Daar is groepe waarvan die wêreld weet van hulle bestaan (deur aanvalle of lugfoto’s), maar of kontak geweier is of net nie gekontak kon word nie.  En ja, daar is baie van hulle in die Amasone.

Ek gaan vandag volstaan by die inwoners van die Noord Sentinel Eiland.  Verskoon my vertaling, maar ek gaan na hulle verwys as die Sentinelese.

Ek kan altyd ‘n goeie F-jou storie waardeer en vir eeue lank gooi die Sentilenese eintlik vir die moderne samelewing die vinger.  Daar word vermoed dat die Sentinelese al vir 60 000 jaar op die Noord Sentinel Eiland in die Bengaalse Baai woon.  Die Sentilenese se eiland is laagliggend en dig bebos.  eiland is ongeveer 72 km² groot.  Vandag bly daar vermoedelik tussen 50 en 400 mense op die eiland.  Weens die digte bos kan niemand verseker sê nie, dit is nie so maklik om ‘n helicopter te stuur om gou te gaan tel nie.  Hulle val onder Indië of eerder hulle geniet Indië se beskerming.  Dit is nie asof iemand hulle gevra het of hulle deel van Indië wil wees nie.  Indië kan ook nie daar maak en breek soos hulle wil nie.

Die Sentilenese is duidelik al eeue terug ontdek, waarom nog die afgesonderheid?  Basies maak die Sentilenese almal dood wat sonder ‘n uitnodiging op hulle drempel opdaal.  Hulle hou ook van hulle eie geselskap en sien dus nie die nodigheid in om ander oor te nooi nie.  Daar word ook vermoed dat hulle in die bos wegkruip wanneer dit hulle pas.

Daar was al mense wat probeer het. Maurice Vidal Portman, ‘n Brit, het in 1880 met ‘n groot weermag gaan probeer maatjies maak.  Die Sentilenese het vermoedelik in die bosse weggekruip.  Portman het na dae se gesukkel, het hulle ‘n ou paartjie ontdek wat nie kon weghardloop nie en vier kinders.  Hy het hulle Port Blair toe geneem, waar die ou mense siek geword het en gesterf het.  Portman het toe die kinders met geskenke terug geneem.  Die kinders het verdwyn en dit was die laaste sien van hulle.

Die Indiese regering het verskeie kere in die 70’s, 80’s en 90’s geskenke gaan aflewer met die hoop op vriendskap.  Hulle moes ook vining wegduik vir pyle.  ‘n Vragskip het in 1981 op die koraalriwwe om die eiland gestrand.  Hulle het geduldig vir ‘n paar dae vir hulp gewag, toe die Sentilenese hulle van die boot wou kom afhaal.  Soos die bewapende Sentilenese nader gerooi het, het die kaptein hulp ontbied en is die die bemanning met ‘n helicopter ontruim.  In 2006 het die Sentilenese twee vissers wat in hulle see kom krap het dood gemaak.  Toe ‘n helikopter hulle lyke kom soek het, was die helikopter met pyle bestook.

Selfs toe die Indiese vloot na die 2004 Tsunami kom kyk het of die Sentilenese nog lewe, was hulle met pyl en boog verjaag.  Daar word vermoed dat die Sentilenese die Tsunami op die hoogste punt van die eiland gaan uitwag het.  Blykbaar was daar min of geen Sentilenese dood in die Tsunami nie.

Die Sentilenese jag, vang vis en vergader kos in die woud om te oorleef.  Hulle maak hulle meter lange pyle met staal van die skepe wat rondom hulle eiland vergaan het.  Hulle vra niks – behalwe om alleen gelaat te word.

Vandag weet mense beter as die kolonialiste van destyds.  Mens kan nie net met ‘n reuse skild en ‘n paar biere gaan kennis maak nie.  Een van die gevare van kontak is dat die Sentilenese (en ander verlore volke) nie noodwendig immuniteit het teen ons kwale nie.  ‘n Vreemde virus of bakterieë kan hulle in groot getalle doodmaak.

Hoe dit ook al sê, hulle is beslis ‘n interessante nasie.  Vandag weet ons niks van hulle taal, geskiedenis, filosofie, medisyne, wetenskap (hoe het hulle geweet daar kom ‘n tsunami) ens nie.  Ons kan ons afleidings maak, maar kan dit nie toets nie.

Ek moet egter wonder – met ‘n geslote populasie soos hulle, hoe groot probleem is inteling?

Wat dink julle van die Sentilenese?  Is dit reg om kontak af te dwing op die groepe wat nie gekontak is nie?  Moet dit op hulle terme gebeur?  Kan daar ingemeng word as daar een of ander tragedie op die eiland is?

Ek weet waar ek ‘n antropoloog kan word, maar waar kan ek leer om vinnig ‘n onbekende taal te leer?

Breinvasbrand:  Wat is die naam van die skip wat in 1981 naby die Noord Sentinel Eiland gestrand het?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  ‘n Debiteur skuld jou geld en jy skuld ‘n krediteur geld.





Hondsdolheid

27 09 2012

Kyk daar is siektes en siektes.  ‘n Paar wat jy so in die verbygang optel en verloor sonder om jou testament na te gaan.  Daar is die waarvan mens met respek praat, innig bid dat jy nooit ‘n slagoffer word nie, maar as dit jou tref, is dit maar die verloop van die lewe.  Jy probeer jou bes, maar een dood is ons almal skuldig.  Dan is daar die siektes wat die blote gedagte ‘n mens laat gril en waarvan jy hard probeer om nie prentjies te sien nie.  ‘n Voorbeeld daarvan is hondsdolheid, wat natuurlik nie net honde tref nie. 

Dit klink half verkeerd dat ‘n mens hondsdolheid kan kry.  Tog sterf tot 55 000 mense ‘n jaar aan die siekte en amper die helfte van die sterftes kom van Afrika.  Dit is beslis nie een van die maklikste dode wat ‘n mens kan hê nie. 

Die siekte is deel van die Rhabdo familie virusse.  Dit word gewoonlik deur die speeksel van ‘n besmette warmbloedige organisme oorgedra na ‘n ander warm bloedige organisme.  Soos wanneer jy die oulike meerkatjie se koppie wil krap en die mal ding byt jou.  Of die simpel hond lek die wond op hand.  Alles natuurlik net van toepassing as die dier binne ‘n paar dae mal is of iewers stokstyf bene in die lug gevind word. 

Hondsdolheid kan wel in ‘n groot mate voorkom word deur troeteldiere daarteen in te ent.  Sover my kennis strek moet honde en katte elke 3 jaar ingeënt word in Suid-Afrika en jaarliks in die gebiede wat ‘n hoë voorkoms van hondsdolheid het.  Dit beskerm die diere teen moontlike infeksie, veral omdat mens hulle nie kan oortuig om van diere wat vreemd optree weg te bly nie. 

Mense word gewoonlik beskerm deur ‘n bietjie verstand te gebruik wanneer hulle met diere omgaan.  Diere, selfs geliefde troeteldiere, wat skielike gedragsveranderinge ondergaan moet nie hanteer word nie.  Dit is gewoonlik ‘n skielike aggressie, maar nie noodwendig nie.  Sou iemand deur ‘n dier gebyt of gelyk word, wat dalk hondsdolheid het, moet enige oop wonde vir 10 – 15 minute met seep en warm water gewas word.  Mense moet binne die eerste 10 dae van moontlike infeksie met die entmiddel behandel word.  Die oomblik wat die simptome ontwikkel, is dit gewoonlik verby. 

Die virus wys gewoonlik eers griepagtige simptome, maar dit word binne dae opgevolg met angs, verlamming, verwarring, slapeloosheid, irritasie, paranoia en lei dan op die einde na malheid.  Baie mense (en diere) raak ook bang vir water en dus word die siekte dikwels na verwys as hidrophobia.

Daar is wel mense wat Hondsdolheid oorleef het en agterna die storie kon vertel.  Die behandeling staan bekend as die Milwaukee Protokol.  Dit is omtrent 8 % effektief.  Mense wat hondsdolheid opdoen word hiervolgens in ‘n koma geplaas en dan met verskeie middels behandel.  Die idee is dat die skade aan die brein tydelik is, en ter syde gestel kan word as brein funksie tydelik gestop kan word. 

Voorkoming bly egter nog steeds beter as genesing.

Breinvasbrand:  Wie was die eerste mens wat in 2005 hondsdolheid oorleef het en wie se behandeling gelei het tot die ontstaan van die Milwaukee protokol? 

Breinlosbrand:  JWW was reg met Prime Circle.





Groepsdruk is ‘n wetter

4 06 2012

Ek is redelik lou waar dit sport aangaan, volg dalk die hoofgebeure in die verbygaan, kyk dalk iets van groot belang, maar dis dit.  Die uitsondering is die Comrades Marathon.  Ek wend ‘n daadwerklike poging aan om ten minste ‘n gedeelte jaarliks te kyk.  Die fasinasie vir die Comrades is seker baie weird vir iemand wat reken jy hardloop net as jou lewe bedreig word.  Ek dink dit is maar ‘n samevoeging van ‘n vriendin se pa wat ‘n getroue Comrades atleet was, ‘n Daan Retief boekie wat rondom die Comrades gebou is en ene Charl Mattheus wat homself per ongeluk gediskwalifiseer gekry het in 1992.  (Mattheus is terloops vandag nog my gunsteling). 

Die berigte wat die 2012 Comrades voorafgegaan het, het meestal gekonsentreer oor ‘n voormalige olimpiese atleet wat haar eerste Comrades sou hardloop.  Blykbaar het die langafstand atlete van Bloemfontein haar nie ernstig opgeneem nie, omdat sy nog nooit die Comrades gehardloop het nie.  Om haarself te bewys en sommer ook omdat sy as Suid-Afrikaner nog nooit die Comrades gehardloop het nie, het sy ingeskryf.  Ek verwys nou natuurlik na Zola Pieterse of Zola Budd as wie sy altyd bekend sal staan. 

Die ironie was vir my treffend.  Ek wil my verstout en sê dat Zola Budd seker een van die bekendste, beroemdste of berugste atlete in Suid-Afrika is.  Bekender as enige ander atleet van Bloemfontein.  Budd bly immers al ‘n klompie jare in die VSA.  Of die bekendheid weens omstredenheid of talent verwerf is maak nie juis saak nie.  My persoonlike gevoel is dat die kombinasie van die twee sal veroorsaak dat Budd moeilik vergete sal word. 

Budd se grootste sonde was natuurlik dat sy die mense van haar laat kennis neem het in die vroeë 80’s.  Sy het onder meer in 1984 – toe sy net 17 was – die 5000 m wêreldrekord gebreek.  Dit was nie erken nie, want sy was ‘n blanke Suid-Afrikaner en daarmee dus gelykstaande aan slang bollie op die bodem van die see.  Daily Mail het wel potensiaal gesien en met haar pa en Britanje gekonkel dat Budd deur haar oupa burgerskap in Britanje kon kry.  Met die burgerskap kon sy in 1984 aan die Olimpiese Spele deelneem. 

Natuurlik was die stap omstrede.  Julle sal my vergewe dat ek van 1984 bitter min onthou.  As ek moet raai neem ek aan daar was ‘n groep Suid-Afrikaners wat bankvas agter Budd gestaan het (ek onthou in 1992 was daar baie mense wat nog steeds groot aanhangers van haar was) en daar was seker Suid-Afrikaners wat gevoel het sy het die land verraai.  Nie dat die Suid-Afrikaanse stem veel saak gemaak het nie, internasionaal was sy behandel asof sy persoonlik self vir apartheid verantwoordelik was.  Baie onredelik as enige logiese mens gevra word. 

Almal het groot dinge van Budd verwag by die 1984 spele.  Sy het die finale rondte gehaal en Britanje (seker Suid-Afrika ook) het al klaar ‘n goue medalje getel.  Toe gebeur dit: 

Mary Decker – die ander gunsteling in die 3000 m – hardloop in Budd vas en doen ‘n heupbesering op.  Natuurlik het LA nie gedink dat dit ‘n ongeluk was nie.  Hulle het Budd summier skuldig bevind en luidkeels hulle ontevredenheid te kenne gegee.  Soveel so dat Budd geintimideerd genoeg gevoel het om seker te maak sy wen nie (dit is in elk geval Budd se storie).  Dit was natuurlik ‘n media sirkus.  Britanje was aan Budd se kant en die VSA aan Decker se kant.  Die IAAF het haar onskuldig bevind.  Budd het ‘n verskoning aan Decker gebied, maar die het dit vir haar in haar gesig terug gegooi.  Decker het wel jare later erken dat sy nie gewoond was om in ‘n bondel te hardloop nie en vir die ongeluk verantwoordelik is. 

Budd het rekords in Britanje en die Statebond spele gebreek later, insluitende die 1500 m, die myl, 3000 m en die 5000 meter.  Sy het weer teen Decker gehardloop, maar het elke keer die onderspit gedelf.  Ek verstaan dat sommige van haar Verenigde Koninkryk en Suid-Afrikaanse rekords (junior en senior) nog steeds staan. 

Budd kon in 1988 nie aan die Olimpiese Spele deelneem nie.  Sy is skuldig bevind dat sy glo aan ‘n Suid-Afrikaanse resies deelgeneem het, wat sy ten sterkste ontken het.  Sy het wel in 1992 in Barcelona weer aan die Olimpiese Spele deel geneem, maar kon nie die finale rondte haal nie. 

My insiens is Budd iemand wat die talent gehad het, maar nie die vel om ‘n professionele atleet te wees nie.  As sy in 2012 na haar atletiekprestasies (wat wel daar was) nog geboelie kan voel om die Comrades te hardloop, dink net hoe was sy as ‘n 18 jarige.  Met ‘n dikker vel en ‘n de-hel-daarmee houding het sy ‘n paar ekstra titels en medaljes gehad. 

Wat is jou mening omtrent Zola Budd?

Breinvasbrand:  In die 80’s, wat was kenmerkend aan Budd se oefeninge en resies?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Harry Webb.





Kietsie Kat

25 05 2012

Daar kan baie gesê word van die voordele wat ‘n troeteldier vir jou inhou.  So dikwels raak ‘n kat of ‘n hond soos een van die gesin.  Iemand wie se giere verdra word en wie se geluk van groot belang is.  Hulle is pragtig en soooo oulik, maar dit is maar net ‘n hond of ‘n kat.  Almal het honde en katte.  Nou nie juis iets om oor opgewonde te raak nie. 

Dieselfde geld (ek reken met kleingeld) as jy visse, voëls, marmotte, hase, muise of hamsters het.  Dit is so – wel, seker maar gewoon.  Nou nie juis iets waaroor ander se monde gaan oophang nie.  Slange en iguanas is meer eksoties, maar daar is ‘n paar mense in die straat wat dieselfde het. 

Maar as dit nou ‘n tier (of ‘n leeu, luiperd, jagluiperd, puma ens) is wat saans jou voete voor die televisie warm hou, is dit in ‘n heel ander klas.  Niemand gaan net hulle skouers oor jou troeteldier ophaal nie.  Dink net om elke dag jou Strepies te vat om te gaan stap of om Strepies veearts toe te neem.  Selfs ‘n takie soos om Strepies te bad of om Strepies se hopies op te tel raak ‘n heel ander storie.  Buitendien gaan niemand verby Strepies probeer loop nie en om Strepies te laat purrrr is ‘n lekkerkry soos geen ander nie. 

Die goeie nuus is dat Strepies nie regtig ‘n onmoontlike troeteldier is nie.  Inderwaarheid is daar in die VSA alleen ten minste 10 000 tiere wat as troeteldiere aangehou word.  As ‘n mens in ag neem dat daar maar net sowat 5 000 in die wild oor is, is dit nie ‘n onbeduidende getal nie.  Mens kan ‘n tier nou nie met die geld in jou gatsak betaal nie, maar in die omgewing van $13400 (R111 700) aanlyn of selfs so min soos $500 – $ 1000 (R4170 – R8340) kan daar ‘n PLAN gemaak word. 

Helaas is die koste van die tier maar die minste.  Eerstens soek Strepies vleis, verkieslik iets soos perdevleis.  Beesvleis kan sy of haar maag omkrap.  Strepies gaan ook ‘n baie spesifieke veearts benodig.  Dan moet jy ook vir Strepies ‘n hok bou wat groter as jou gewone meenthuis (of twee) se erf is.  Dit maak dit nogal ‘n baie duur stokperdjie, maar as jy geld het om te mors, is dit seker jou geld. 

Hier is die probleem egter.  Al spandeer jy duisende rande op Strepies gaan Strepies altyd wild bly.  Dit vat eeue se generasies van teel om ‘n dier huismak te kry.  Al jou moeite en onkostes en in alle waarskynlikheid gaan jy ‘n tier hê wat jy miskien – as jy gelukkig is – soms deur sy hok se tralies kan vryf.  Vir die meeste mense, is daar geen ander keuse as om Strepies uit te sit nie. 

Wat nou nie lekker in die oorspronklike prentjie pas nie.  Wie weet, dalk in my volgende lewe – wanneer ek ryker is en Strepies meer huislik. 

Terwyl ek opgelees het, het ek afgekom op ‘n verwysing na ‘n man wat ‘n tier in sy woonstel aangehou het.  Saam met onder andere ‘n kaaiman (tipe krokodil).  Net in Amerika.

Watter eksotiese dier sal jy graag wil aanhou? 

Breinvasbrand:  Wat was Joy Adamson se leeuwyfie se naam?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Dot Serfontein.





Wat is in ‘n DVD?

23 05 2012

Ek onthou hoe ek eendag vir ‘n DVD-speler gaan soek het.  Video’s was oppad uit en daar was al hierdie moet-hê goed op DVD.  Wat niks help as daar nie ‘n DVD-speler is nie.  Die mannetjie by HiFi Corporation het my daardie dag iets vertel wat vir my half sinneloos geklink het.  Basies dat ‘n mens goedkoper spelers kry wat net Suid-Afrikaanse DVD’s kan speel en dan ‘n effens duurder keuse wat alles kan speel. 

Ek het eers my tong ingesluk, ek soek beslis ‘n DVD -speler wat die flieks wat die moeite werd is om te kyk kan speel.  Dit blyk toe darem dat hy bedoel dat die Suid-Afrikaanse keuse sal alles speel wat ‘n mens in Suid-Afrika kan koop.  Wat meer het ‘n mens nodig?  Dit is mos nou nie dat ek elke dag in ‘n ander land is om DVD’s te koop nie. 

Ek het soort van daarvan vergeet.  Ek het in elk geval ‘n paar jaar later eers vir myself ‘n DVD-speler gekoop.  Daar was ‘n hoop wat geskree het Samsung en ek het so in die verbyloop een in die waentjie gegooi.   Ek dink dit het maar R300 gekos (was dalk R250), maar dit was waarde vir geld.  Ek gebruik hom gereeld – soms daagliks – en hy het nog geen klagtes gehad nie.  Ek ook nie. 

In elk geval, daar ontdek ek verlede jaar weer Golden Girls.  Koop sommer dadelik Seisoen 1 en Seisoen 2 nadat iemand my jaloers gemaak het met haar stel.  Dadelik ‘n treffer en my kamermaat is net so mal daaroor as ek.  Die ongeluk van die saak is ons het skaars begin kyk, toe is ons klaar.  En helaas – geen van die plaaslike winkels het enige ander seisoene nie.  Ons praat van Musica, Look & Listen, Phase 2 Music, Super CD, Music Moods in ten minste 4 provinsies. 

Amazon het wel, daar is egter ‘n waarskuwing dat dit “Region 1” DVD’s is.  Ek gaan vra toe raad by my goeie vriendin, Google, wat my vertel dat dit DVD’s is wat vir die Noord- Amerikaanse mark bedoel is.  Ek vind toe uit dat DVD’s in Suid-Afrika “Region 2” is.  As jy nou wonder wat die streke is, dit alles gaan oor geld vir die filmstudio’s.  Sien, terwyl ‘n fliek in Suid-Afrika nog draai (of nog nie eers begin draai het nie), is die DVD in die VSA al beskikbaar.  Om seker te maak ons gaan kyk dit op die silwerskerm, is die DVD’s streek gebonde wat beteken jy nie so maklik ‘n DVD van die VSA kan kyk nie. 

Gewoonlik iets wat my nie pla nie.  Tot ek Seisoen 3 en Seisoen 4 op TakeALot raak loop, maar net streek 1 vir die res kan kry.  Behalwe nou as ek bereid is om tot R900 vir ‘n streek 2 seisoen te betaal – mits ek dit natuurlik te koop kan kry.  Dan pla die storie my nogal baie. 

Ek is op die punt om sommer ‘n ander Streek Vrye DVD speler te koop.  Ek bekla my lot weet by my goeie vriendin, Google, en sy het sommer dadelik goeie raad.  Blykbaar is Hollywood se bemarking idee nie so waterdig nie.  Die meeste DVD spelers kan met ‘n “hack” streekvry gemaak word.  Met ‘n paar drukke op die afstandbeheerder op die regte tyd. 

Ek het dit gisteraand probeer, maar dit klink effens makliker as wat dit is.  Dalk moet ek gou na ‘n YouTube video soek.  As jy dieselfde gedagte het, die stap kan jou waarborg nietig maak. 

Nou nie hieroor of daaroor nie, maar siende dat ek my DVD’s wettig bekom, dink ek dat ek enige DVD op my speler (ook wettig gekoop) behoort te kan speel.  Blykbaar het New Zealand dieselfde mening en soek hulle ‘n wet dat vervaardigers DVD-spelers streek vry moet maak.   

Ek reken dit is ‘n skelmspul.  Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan DVD?

Breinlosbrand:  Mnr Nel was reg met Vleis Visagie.

NS:  Take A Lot het omtrent al wat ‘n boek, DVD of CD is en hulle is baie goedkoper as die winkels.





Net ‘n stukkie papier

23 11 2011

Swart Dinsdag inderdaad.

Die omstrede inligtingswet is vanmiddag ingestem met 229 stemme teen 107.  Twee mense het buite stem gebly.  Die ANC het so ver gegaan as om sy lede onbeskaamd te dreig om seker te maak hulle kry die groen lig.  Interessant genoeg is Cosatu een van die grootste teenstanders van die wet.  Die DA, Cope, IVP, ACDP, OD en die VF+ is ook skerp teen die wet self.  Selfs die Nelson Mandela Stigting en Openbare beskermer het vir wysigings aan die wet gevra.  Dan praat ek nie eers van die Media en menige redelike mense nie.  Wie steur hulle daaraan?  Beslis nie die ANC nie.

Daar is nog ‘n hekkie of twee voordat die wet afgevaardig kan word, maar soos die ANC stoomroller kan ‘n mens nie daarop hoop nie.  Ek is geen regskenner nie, maar die gene wat weet reken dat die wet die einde van vryheid van spraak sal wees en baie beslis teen die grondwet is.  Ek haal sommer direk aan:

16. (1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is –
(a) die vryheid van die pers en ander media;
(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.
(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie –
(a) propaganda vir oorlog nie;
(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of
(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is
en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.

En:

32. (1) Elkeen het die reg op toegang tot –
(a) enige inligting wat deur die staat gehou word; en
(b) enige inligting wat deur ’n ander persoon gehou word en wat vir die uitoefening of
beskerming van enige regte benodig word.
(2) Nasionale wetgewing moet verorden word om aan hierdie reg gevolg te gee, en kan
voorsiening maak vir redelike maatreëls om die administratiewe en finansiële las op die staat te
verlig.

Kom ons neem eers ‘n stappie terug en besin oor wat die grondwet nou eindlik is.  Volgens die woordeboek is die grondwet die wet wat onder alle omstandighede geldig is en waarop alle ander wette gebou word.  Dit is die rugsteen van ons wetgewing en dus die oppergesag oor enige ander wet, reël of regulasie.

Die grondwet is belangrik omdat dit ons basiese regte waarborg.  Verder stel dit die waardes waarna ons as ‘n land moet strewe en stel dit doelwitte van hoe dit bereik moet word.  Dit is veronderstel om ‘n afdruk vir vrede, geregtigheid en harmonie  te wees en dit beskerm minderhede se belange, aangesien die meerderheid met ‘n stem hulle belange kan beskerm.

Dit is duidelik dat die grondwet dieselfde waarde vir die ANC het as ‘n stukkie toiletpapier.  Wat ‘n baie gevaarlik stand van sake is.  Om aan enige van die regte te karring het die ANC ‘n twee derde stem nodig.  Vandag het hulle met 67 % van die stemme hulle sin gekry.  Hulle kan dus die nodige twee derdes stem kry om enige van die regte in die grondwet te wysig.  Behalwe – en dit is die groot geheim.

As die ANC nie ‘n twee derde meerderheid in ‘n nasionale verkiesing haal nie.  Wat heeltemal binne bereik is as mense hulle gatte lig en gaan stem.  Jou party hoef nie te wen nie, maar om daardie twee derdes te keer is elke teenstem broodnodig.

Op daardie noot dink ek dat die dag gekom het wat die verskeie groot partye dalk net een groot opposisie party moet vorm.  Vergeet al die klein onderliggende verskille en ideale.  Dit kan later kom.  Begin om die ANC uit die kussings te lig en die grondwet veilig te hou.  Verbeter dienslewering en gun elke mens sy plek in die son.  Baklei dan eers oor die goed wat nie die heil van elke Suid-Afrikaner bevorder nie.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wanneer was die Fort gebou waar die Grondwet hof vandag is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Johannes Jacobus Steyn.





Soos ou Vrinne

4 11 2011

Ek, as kind van die 80’s, het myself altyd as bevoorrreg gesien oor die kinderprogramme wat ons bevoorreg was om te sien.  Ek weet ek was al nostalgies daaroor, maar die kwaliteit van die storie (plot as jy wil) word vandag nog moeilik nagedoen.  Veral waar dit programme van die kleinere mense aangaan.  In my dae kon jy nie waag om ‘n episode te mis nie, jy sou gemis het.  Vandag is elke storie mos net hoe lief jy die wêreld moet hê.

In my agterkop het ek wel geweet dat die stories wat aan ons opgedis word van Japan af kom.  (Dit is nou behalwe die wat handpoppe was, dit was Suid-Afrikaans).  Die programme staan bekend as Anime, ‘n verjapanesing van Animasie.  Van hulle kom van 1917 af, maar hulle kenmerkende styl (seker dat al die ooms soos Heidi se oupa lyk en almal ‘n St Bernard hond soos Josef het), kom van die 60’s af.  Dit het die wêreld in die 80’s getref, net betyds vir die uwe.

Wat ek nie geweet het nie, is dat baie van my gunstelinge inderwaarheid kinderboeke was.  Volkskatte van omtrent ‘n eeu voordat ek my opwagting gemaak het.  Dit het dus dekades lank kinders vermaak – voordat iemand besluit het dat dit te traumaties, intelligent of “vervelig” vir die jongspan was.  Stories soos Oliver Twist en Tom Swayer, was altyd meer as ‘n boek bekend as die karaktertjies wat hulle lewendig gemaak het.  Maar dieselfde sou dalk gebeur het as die ander die aarde oorspronklik in Engels getref het.  Ek sal maar die vertalings moet gaan soek of leer om hulle in die oorspronklike vorm te waardeer.

Heidi is die bekendste en dit is seker ook nie ‘n geheim dat Johanna Spyri haar die lig laat sien het nie.  Kan julle glo dat die juffrou wat seker vir altyd in die berge gaan rondhardloop al in 1880 haar verskyning gemaak het?  Daar was twee opvolge van Heidi, maar nie een van die twee was deur Spyri geskryf nie.  Seker die dat hulle nooit regtig impak gehad het nie.

Ek kan nie onthou dat ek al ooit Pippie Langkous op televisie gesien het nie, maar sy was wel daar gewees.  As ‘n lang meisie met self twee vlegsels, was ek dikwels met Pippie vergelyk en was ons haar dikwels voorgelees.  Pippie is gebore nadat Astrid Lindgren vir haar dogter ‘n storie moes vertel het toe die siek was.  Pippie is seker een van die kleurvolste karakters.  Die 8 jarige het dalk nou nie juis maniere om oor huistoe te skryf nie, maar sy is die sterkste meisie op aarde.  Met ‘n seerower vir ‘n pa en ‘n kas vol geld, kon sy in elk geval maak soos sy wil.  Soos om haar perd rond te dra.  Pippie kom al van 1945.

Tot hier was daar geen verrassings nie.  Een van die eerste stories wat ek kan onthou was Maya Die By.  Ek dink destyds kon ek nie eers praat nie.  Maya was al in 1912 uitgegee in Duitsland as Die Biene Maja.  Dit is deur Waldamar Bonsels gekryf gewees en draai van Maja se ontwikkeling tot sy eendag ‘n verantwoordelike grootby is.

Nog ‘n ou bekende is Pinnochio.  Die houtpop wat so graag ‘n regte seuntjie wil word.  Danksy anime sal Pinnochio se getroue volgeling altyd Gina, ‘n kuiken eend, wees.  Al was dit eintlik’n kriek genaamd Jimmy.  Pinnochio was in 1883 deur Carlo Collodi geskep.  Pinnochio was dus ‘n Italiaanse seuntjie.  Die weergawe wat ons op televisie gesien het, was al in 1972 gemaak.

Onthou julle Remi, die swerwers kind?  Sy pa het hom as baba opgetel en eers aan sy ma gegee, maar toe tye begin druk het, is Remi deur die pa verkoop aan ‘n straatmusikant.  Saam reis hulle deur Frankryk en maak Remi verskeie vriende, onder andere Mev Milligan en haar seuntjie Arthur wat op ‘n boot bly.  Remi het nie ‘n maklike lewe gehad nie, die straatmusikant sterf later en Remi moet na homself omsien.  Daar is dikwels mense wat die seun se vertroue misbruik.  Op die einde kom dit uit dat hy Mev Milligan se verlore seun is.  Remi is ‘n karakter in die boek Sans Famille van Hector Malot.  Sans Famille vertaal na Sonder Familie en het in 1878 verskyn.

Soos ek die storie verstaan, het Nils Holgerson destyds mans in die kroeg vermaak.  Dit was voor die dae van Supersport, maar vermaaklik bly vermaaklik.  Onthou die seun wat terwyl hy stukke uit die Bybel moet leer (14 bladsye) ‘n dwerg word en saam met die wilde ganse gaan toer deur elke provinsie in Swede?  Nils was die skepping van Selma Lagerlöf en het in 1906 sy verskyning gemaak as Nils Holgerssons underbara resa genom Sverige.  Sy wonderlike avonture was aanvanklik as twee boeke uitgegee, maar is gou genoeg een gemaak.

Selfs Moomin wat in die 90’s groot was, kom saam met die berge.  Die wit trolle van Finland is deur Tove Janssen geskep en in 1945 het die eerste boek verskyn.

Tot my groot teleurstelling kon ek niks van Niklaas kry nie.  Die arm seun wat by sy oupa groot word.  Sy beste maatjie is die meulenaar se dogter, maar die meulenaar het nie juis ooghare vir Niklaas nie.  Niklaas, onder die aanmoediging van sy oupa, teken graag, maar die meulenaar beskou dit as n mors van tyd en reken Niklaas behoort eerder te werk.  Niklaas raak wel later ‘n bekende skilder, maar wie Niklaas geskep het, weet ek helaas nie.

Breinvasbrand:  Wat was Heidi se ouers se name?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met 7 Oktober 1900.





Die Huis van Dagbreek

8 10 2011

House of the Rising Sun was nog nooit een van my gunsteling liedjies nie.  Ek is hopeloos te vlak daarvoor.  Ek is geneig om liedjies aan mense of gebeure te koppel.  In die geval, koppel ek House of the Rising Sun aan ‘n episode van Noot vir Noot jare terug wat vir my vreksnaaks was.

Die man was gevra wat doen hy vir ‘n lewe.  Hy het heel kontant geantwoord dat hy ‘n prostituut in Pofadder was.  Almal was so ‘n halwe sekonde verstom.  Hy verduidelik toe maar dat hy ‘n begrafnisondernemer van een of ander plek was.  Dalk, maar ek is nogal redelik seker dat hy van daardie dag as die prostituut (of is dit not prostitot) van Pofadder bekend staan.

Met die Noot Assosiasie was daar ‘n prentjie van ‘n vervalle huis.  Johan het die man nog gespot dat dit seker sy werksplek moet wees.  Toevallig was die liedjie wat daaraan gekoppel was House of the Rising Sun.  Ek weet, ek weet.  Small things, maar kan ek julle herinner dat Einstein deur ‘n atoom amused was?

Daar is nogal ‘n paar interessante onbruikbare inligting omtrent die liedjie.  Soos dat dit die eerste no 1 liedjie ooit was wat langer as 4 minute lank was.  Daar is ‘n weergawe dat die slangnaam van ‘n tronk in New Orleans was.  Die veel interessanter weergawe is dat dit ‘n eufinisme na ‘n bordeel was.  Die bordeel in New Orleans het aan ene Marianne Le Soleil Levanbehoort.  Marian is blykbaar Opkomende Son (Rising Sun) in Frans.

Daar was nogal ‘n gegapsery van epidermiese porporsies gewees vir die deuntjie.  Bob Dylan het dit gegaps van Dave van Ronk vir ‘n album in 1962.  Eric Burdon het namens Van Ronk wraak geneem.  Hy het Dylan se weergawe geleen en dit in ‘n groot treffer omskep.  Die Animals het 1964 die eerste keer daarmee opgetree saam met Chuck Berry.  Die mense was so mal daaroor, dat hulle sommer op toer opgeneem het – sommer in een opname.

Die Animals was boonop die eerste groep na die Beatles wat ‘n nommer 1 treffer in die VSA gehad het.  Hulle het boonop die Beatles met die lied van die nommer 1 posisie afgeskop.  Die Beatles was nie in die gesig gevroetel nie, hulle het die Animals met ‘n telegram geluk gewens.  “‘Congratulations from the Beatles (a group)’.”  Snaaksies.