All breeders are bad

16 03 2015

Die mens bly maar ‘n amusante wese.  Iemand wat dink hulle is kaas spring op ‘n seepkissie en almal wat van kaas hou spring saam.  Hulle verklaar iets verbode en kort voor lank moet een van die 10 gebooie plek maak vir die nuwe een.  Dit word sommer dadelik as een van die doodsonde en almal staan reg om skuldenaars tot verantwoording te roep.  Dit is die enigste iets wat deesdae veroordeel kan word.

So is telers; enige telers; ‘n paar jaar gelede tot die nuwe duiwel verklaar.  Telers dryf hulle diere nie net tot die dood om babas te kry nie, maar is ook verantwoordelik dat daar iets soos weggooidiere is.  Die telers maak wins ten koste van arme weerlose diere wat van kant gemaak sal as hulle nie ‘n liefdevolle huis gegee word nie.  Die arme weesdiere is meer geregtig as hondjie of katjie wat geteel is.   Teel is terloops nie net op geregistreerde telers van toepassing nie.  Enige iemand wat hulle dier laat voortplant, al is dit net een keer, is reguit oppad hel toe.

Snaaks hoe mense dit sonder meer aanvaar.  Niemand wil vir die beplande babas praat nie.  Is daar telers wat oneties is en elke sent uit hulle diere probeer wurg?  Ja, beslis.  Is alle telers oneties?  Beslis nie.  Soos met alles op die aarde moet daar vooraf behoorlik huiswerk gedoen word.  Nie dat ek ooit sal verstaan hoe weggooidiere summier telers (goeies of slegtes) se skuld is nie.

Ek het ‘n paar jaar gelede myself gereed verklaar om die verantwoordelikheid vir ‘n troeteldier te aanvaar.  Ek het iets baie spesifiek in gedagte gehad en dus het ek verkies om teler te gebruik.  Ek het ‘n goeie twee jaar lank navorsing gedoen voordat ek op ‘n teler besluit het.  Siende dat ek ‘n fortuin sou moes betaal, het ek ‘n dier gesoek wat gesond is.  Verder wou ek die babas ontmoet voordat ek ‘n finale besluit neem.  As ek nie gehou het van hoe die teeldiere behandel word nie, sou ek nie met die koop voortgaan nie.  Soos reeds genoem, ek het ‘n gesonde dier gesoek (en ja, ek besef wel dat opregte diere meer geneig is om gesondheidsprobleme te hê) en gesonde babas kom nie van ouers wat mishandel is nie.  Ek het ook gou genoeg agter gekom dat telers wat oneties is geswartlys word deur hulle verenigings en die geskiedenis word behou.

So het ek op ‘n teler besluit.  Die eerste een het nie uitgewerk nie, omdat sy nooit moeite gedoen het om haar boodskappe op te volg nie.  Die tweede teler was heeltemal bereid om my voorwaardes na te kom, mits ek haar voorwaardes nakom.  Ek kon byvoorbeeld al haar beskikbare diere kom ontmoet, mits ek sou toelaat dat my skoene ontsmet word.  Ek het met my eerste besoek meer as twee ure daar deurgebring.  Ek het nie net die babas ontmoet nie, maar elke dier (waarvan party afgetree was) op die perseel.  Nadat ek my keuse gemaak het, was ek welkom om enige tyd vir haar te kom kuier.  Wat ek ook gereeld gedoen het.

Ek moes ‘n kontrak teken dat ek mooi na my baba sou kyk.  Deel van die kontrak het behels dat die teler eerste opsie het as ek ooit van my baba wou/moes ontslae raak.  Daar was ook ‘n gesondheidswaarborg ingesluit.  Sou ek nie na die dier omsien nie, kon die teler die dier terugneem.  Daar was voorskrifte oor geskikte kos en ek moes ook onderneem dat ek die dier by die eerste teken van siekte sou veearts toe neem.

Terwyl ek in die proses was om my kat te koop, het baie mense my erg verkwalik.  Iemand het selfs aanbeveel dat ek ‘n dier by die DBV moet aanneem en die verskil wat ek sou bespaar aan hulle skenk.  Vandag nog kry ek gereeld skewe kyke oor waar my kat vandaan kom.  Terselfde tyd verneem die teler gereeld hoe dit met die dier gaan.  Sy is dalk verkoop, maar is nog lank nie vergete nie.

Wanneer ek ook ‘n dekade of twee weer in die mark vir ‘n dier is, dink ek dat ek weer ‘n teler sal gebruik.  En ja, ek het geen beswaar daarteen om diere te koop nie.  Aanneem teen ‘n paar honderd rand bly nog steeds koop.

Hoe voel jy oor telers?  Het jy ‘n goeie of ‘n slegte ondervinding gehad?  Wat van troeteldiere wat wel een of twee keer voortplant voordat hulle reggemaak is?  Hoe voel julle oor weggooidiere?

Breinvasbrand:  Watter tipe hond word met die Dulux advertensies verbind.

Breinlosbrand:  Gautengelêng (Goed, ek raai net.  Bring bewyse as julle verskil.)