Almal weet dat ‘n bakkers dosyn 13 eenhede is. Of anders gestel: Koop 12 brode en kry een verniet. Die gebruik kom basies van ‘n tyd wat ‘n bakker erg verkwalik was as hy met sy brode verneuk het. Brode was mense se hoof voedselbron en dit was nie aanvaarbaar om die brood uit iemand se mond te neem nie. In Egipte sou ‘n ‘skelm’ bakker se oor aan sy bakkery vasgekap geword het en in Babilon sou hulle sommer die bakker se hand af kap. In die dertiende eeu kon ‘n Engelse bakker ‘n stewige boete kry en op plekke ook sy hand verloor het.
Terwyl ‘n mens kan verstaan hoekom die gemeenskap so streng op hulle brood was, moet ons ook simpatie met die bakkers hê. ‘n Handvol meel is beslis nie so akkuraat soos ‘n koppie meel nie. Al het hulle die beste bedoelinge op aarde, kon die brood met tye te kort skiet. Die bakkers moes hulle self op een of ander manier beskerm het.
Vandaar die Bakkers Dosyn. Hulle het ‘n ekstra item aan die koper besorg (wat 12 gekoop het) om te verseker dat hulle nie te kort skiet nie.
Vandag is ons in die situasie waarin die koste van ‘n item nie net meer raak nie, maar die hoeveelheid ook dikwels verminder. Die kwaliteit word ook dikwels aangepas. Nie noodwendig altyd ‘n beter kwaliteit of selfs ‘n gesonder kwaliteit nie. Natuurlik het jy as ‘n verbruiker ‘n keuse: Vat dit of los dit. As genoeg mense saam met jou los, sal die nodige veranderinge vinnig genoeg omgeswaai word. Gaan vra maar vir Coke. Hoewel, die meeste verskaffers doen dit stilletjies en hoop niemand kom dit agter nie. Die hoop word selde beskaam.
Ek koop gewoonlik nie ‘n dosyn brood op ‘n slag nie, maar ek het nog nooit ‘n ekstra rolletjie by my dosyn rolletjies gekry nie. Ek kan nie met sekerheid sê of dit ooit ‘n gebruik in Suid-Afrika was nie. Ek het wel al op televisie gesien dat ‘n kind ‘n lekkertjie kry as hulle saam met hulle ma gaan inkopies doen het. Of ‘n stukkie droë wors as hulle saam slaghuis toe gaan. Dit is nie iets wat ‘n mens sommer in ‘n kettinggroep sien nie.
Aan die ander kant, mens kry tog soms nog ietsie ekstra. Ek het al gratis items by my gunsteling restaurant gekry. Gewoonlik wanneer ‘n nuwe Woolworths tak oopmaak, deel hulle gratis muffins of iets uit (jy gaan die res van hulle bestaan daarvoor terug betaal). Baie kere het winkels ook ‘n kry een gratis promosie.
Almal hou van daardie ietsie verniet. Kan daardie ietsie te groot of te veel raak? Soos ‘n oorsese reis as jy X aantal van ‘n mediese produk koop? Is dit skelm of net goeie bemarking? Daardie ietsies of IETSE se kostes moet tog van iewers verhaal word.
Breinvasbrand: Wie is die Kompetisie Kommissaris van Suid-Afrika?
Breinlosbrand: Olga was reg met Brümilda van Rensburg.
Wie runnik saam?