Scrapy se taak vir die week is om oor boeke te skryf. Wat ek al ten minste 300 keer gedoen het en ek haat dit om myself te herhaal. 😉 Dus moes ek verder as my neus dink om die onderwerp ‘n ander baadjie aan te trek.
Ek dink menige mense wat blog droom daarvan om eendag ‘n regte egte skrywer te wees. In ag genome dat meer as 80% van die wêreldbevolking gelettered is, is dit seker ‘n redelike gevolgtrekking dat meer as 80% van die wêreldbevolking kan skryf. Tog is nie almal wat kan skryf, skrywers nie. As jy jouself regtig die dag ‘n skrywer wil noem, moet jy sekerlik iets daarvoor kan wys. Wat beter is daar om jou skryf mee te bewys as ‘n gepubliseerde boek?
Die probleem is egter om ten minste 50 000 woorde aanmekaar te flans in iets wat ander mense sal betaal om te lees. As ek die storie regverstaan moet jy ook bereid wees om redelik vinnig die proses te herhaal sodat die uitgewer waarde vir hulle belegging kry. ‘n Belegging waarvan jy (al is jy redelik goed en gemiddeld suksesvol) baie min van sal sien. Almal is nou nie J.K. Rowling of E.L. James wat die mark gaan storm loop nie. Ons praat hier van uiters harde werk, terwyl jy jou regte werk moet doen om jou brood en botter te kry, vir bittermin beloning. Behalwe nou vir ‘n boek, ‘n regte boek, wat eintlik joune is.
‘n Eie boek is dus ‘n baie mooi prentjie wat net so moeilik is om in te kleur. Nogtans bly dit vir baie mense ‘n droom vir eendag.
Ek weet darem nie of ek myself as ‘n skrywer sien nie. Benewens die feit dat ek ‘n luiaard van die eerste waters is, is ek nou nie regtig die letterkundige tipe nie. My swakste vakke op skool was Tale. Ek het my al verstout dat my Afrikaans beter as gemiddeld is, maar Better Afrikaans het my oortuig ek verkeer onder ‘n waan. Wie sou nou ooit kon raai daar is 3 verskillende maniere om ‘n woord te spel? Ek dwaal nou egter af. Ek is nie ‘n goeie storieverteller nie, mense begin altyd te gaap as ek ‘n sappige skinderstorie vertel.
Maar kom ons verbeel ons vir ‘n oomblik dat daar ‘n boek in my broek sit. Watter tipe boek sal ek wil skryf? Die reine waarheid? Iets anders. Ek sal beslis nie die moeite doen vir iets wat ander al gedoen het nie. Vir vandag sal ek ‘n storie oor ‘n vroulike spioen wil skryf. Sy sal egter nie haar ding met geweld doen nie (daarvoor is James Bond, Jason Bourne en Evelyn Salt daar). Nie dat ek iets het teen vrouens wat gatskop nie, kyk maar na wie ek myself vernoem het. Ek dink net dat daar ‘n gaping is vir ‘n vroueheld wat op ‘n slim manier die wêreld red. Slim beteken nie seksueel nie. Ek dink eerder aan manipulasie, listigheid en outydse kul jou hier en kul jou daar.
Die toon sal sarkasties wees, hopelik met vlymskerp humor. Dit moet ‘n lekker leesboek wees, maar intelligent en realisties. Ernstig, maar tog vermaaklik.
Dalk moet ek eerder die idee verkoop. Ek sal beslis nooit so ‘n vrou (of man) kan skep nie.
Skryf jy ‘n boek in jou wildste drome? Watse tipe boek sal jy graag wil skryf?
Breinvasbrand: Wie is die skrywer agter Jason Bourne?
Breinlosbrand: Blykbaar die Romeine. Dit is ook waar die woord Plumber sy ontstaan te danke het.
Wie runnik saam?