In Suidelike Afrika het Cecil John Rhodes ‘n fortuin gemaak, beslis nie vriende nie. Ek vermoed nogal dat die vernietiging van sy standbeeld baie stoere Afrikaners se harte sal laat sing. Rhodes het immers geen ooghare vir die Boere gehad nie. Hy het beslis ook geen respek vir nie-blankes gehad nie. Daar is beslis rede om hom te verag. Nogtans was ek nog altyd iemand wat geglo het dat jy die duiwel moet gee wat hom toekom.
Die media het onlangs gegons oor studente wat Rhodes met alle geweld en bollie van die Universiteit van Kaapstad wil verwyder. Hulle voel dat hy ‘n simbool van verdrukking, rassisme en kolonialisme is. Iets wat Rhodes se bors waarskynlik sou laat swel het van trots. Natuurlik is daar ook nou mense wat graag Rhodes Universiteit in Grahamstad se naam wil verander. Nog ander wil die Rhodes uit die Mandela Rhodes Beurs gaan haal. Toegegee, Rhodes sal waarskynlik nie oor die laasgenoemde kla nie, mits sy geld ook uit die beurs gehaal word.
Daar is natuurlik ‘n rede hoekom Rhodes se standbeeld in UCT is en hoekom die universiteit in Grahamstad na die mannetjie vernoem was. Rhodes het die nodige skenkings gemaak waarop die universiteite gebou is. ‘n Standbeeld en vernoeming is seker die minste wat uit dankbaarheid gedoen kon word. 110 jaar later, is dit egter nou ‘n belediging. Ek wonder of Rhodes se geld en / of grond aan sy boedel terug besorg gaan word.
Amper vergeet ek. Rhodes het homself groot ryk uit Afrika gesteel. Hy was seker nou nie die eerlikste sakeman ooit nie, maar het hy regtig alles gesteel? Indien wel, wat van die Oppenheimers, die Ruperts en die Motsepe’s? Gaan al Suid-Afrika se super rykes oor dieselfde kam geskeer word?
Baie mense stem saam dat Rhodes nie op UCT hoort nie, maar verkies dat die standbeeld eerder geskuif word. Malema skree weer dat alle Apartheidssimbole vernietig moet word. Soos in gryp ‘n hamer en vee plat. Is dit wat regtig nodig is? Kan daar nie net nuwe standbeelde opgesit word nie? Rhodes, Botha, Van Riebeek en Kruger was deel van die geskiedenis. As hulle dan nie vereer kan word nie, kan hulle herinner dat Geskiedenis nie herhaal moet word nie.
Ek verstaan ook dat die UCT studente voel dat die universiteit te Europeërs is. Hulle soek ‘n Afrika universiteit. As ‘n stoere Tuks alumnus gee ek toe dat UCT een van die beste universiteite op die kontinent is. 😉 Amper so goed soos Tukkies. Min mense sal hulle neuse vir UCT optrek. Dit is beslis nie te danke aan die Afrika insae nie. Ek glo beslis ook nie UCT sal hoog aangeskryf word as dit ‘n Afrika universiteit word nie.
Wat sal sal tog word van Afrika se jeug?
Breinvasbrand: Wie het die Rhodes Monument ontwerp langs UCT?
Breinlosbrand: Olga was reg met London.
Wie runnik saam?