All breeders are bad

16 03 2015

Die mens bly maar ‘n amusante wese.  Iemand wat dink hulle is kaas spring op ‘n seepkissie en almal wat van kaas hou spring saam.  Hulle verklaar iets verbode en kort voor lank moet een van die 10 gebooie plek maak vir die nuwe een.  Dit word sommer dadelik as een van die doodsonde en almal staan reg om skuldenaars tot verantwoording te roep.  Dit is die enigste iets wat deesdae veroordeel kan word.

So is telers; enige telers; ‘n paar jaar gelede tot die nuwe duiwel verklaar.  Telers dryf hulle diere nie net tot die dood om babas te kry nie, maar is ook verantwoordelik dat daar iets soos weggooidiere is.  Die telers maak wins ten koste van arme weerlose diere wat van kant gemaak sal as hulle nie ‘n liefdevolle huis gegee word nie.  Die arme weesdiere is meer geregtig as hondjie of katjie wat geteel is.   Teel is terloops nie net op geregistreerde telers van toepassing nie.  Enige iemand wat hulle dier laat voortplant, al is dit net een keer, is reguit oppad hel toe.

Snaaks hoe mense dit sonder meer aanvaar.  Niemand wil vir die beplande babas praat nie.  Is daar telers wat oneties is en elke sent uit hulle diere probeer wurg?  Ja, beslis.  Is alle telers oneties?  Beslis nie.  Soos met alles op die aarde moet daar vooraf behoorlik huiswerk gedoen word.  Nie dat ek ooit sal verstaan hoe weggooidiere summier telers (goeies of slegtes) se skuld is nie.

Ek het ‘n paar jaar gelede myself gereed verklaar om die verantwoordelikheid vir ‘n troeteldier te aanvaar.  Ek het iets baie spesifiek in gedagte gehad en dus het ek verkies om teler te gebruik.  Ek het ‘n goeie twee jaar lank navorsing gedoen voordat ek op ‘n teler besluit het.  Siende dat ek ‘n fortuin sou moes betaal, het ek ‘n dier gesoek wat gesond is.  Verder wou ek die babas ontmoet voordat ek ‘n finale besluit neem.  As ek nie gehou het van hoe die teeldiere behandel word nie, sou ek nie met die koop voortgaan nie.  Soos reeds genoem, ek het ‘n gesonde dier gesoek (en ja, ek besef wel dat opregte diere meer geneig is om gesondheidsprobleme te hê) en gesonde babas kom nie van ouers wat mishandel is nie.  Ek het ook gou genoeg agter gekom dat telers wat oneties is geswartlys word deur hulle verenigings en die geskiedenis word behou.

So het ek op ‘n teler besluit.  Die eerste een het nie uitgewerk nie, omdat sy nooit moeite gedoen het om haar boodskappe op te volg nie.  Die tweede teler was heeltemal bereid om my voorwaardes na te kom, mits ek haar voorwaardes nakom.  Ek kon byvoorbeeld al haar beskikbare diere kom ontmoet, mits ek sou toelaat dat my skoene ontsmet word.  Ek het met my eerste besoek meer as twee ure daar deurgebring.  Ek het nie net die babas ontmoet nie, maar elke dier (waarvan party afgetree was) op die perseel.  Nadat ek my keuse gemaak het, was ek welkom om enige tyd vir haar te kom kuier.  Wat ek ook gereeld gedoen het.

Ek moes ‘n kontrak teken dat ek mooi na my baba sou kyk.  Deel van die kontrak het behels dat die teler eerste opsie het as ek ooit van my baba wou/moes ontslae raak.  Daar was ook ‘n gesondheidswaarborg ingesluit.  Sou ek nie na die dier omsien nie, kon die teler die dier terugneem.  Daar was voorskrifte oor geskikte kos en ek moes ook onderneem dat ek die dier by die eerste teken van siekte sou veearts toe neem.

Terwyl ek in die proses was om my kat te koop, het baie mense my erg verkwalik.  Iemand het selfs aanbeveel dat ek ‘n dier by die DBV moet aanneem en die verskil wat ek sou bespaar aan hulle skenk.  Vandag nog kry ek gereeld skewe kyke oor waar my kat vandaan kom.  Terselfde tyd verneem die teler gereeld hoe dit met die dier gaan.  Sy is dalk verkoop, maar is nog lank nie vergete nie.

Wanneer ek ook ‘n dekade of twee weer in die mark vir ‘n dier is, dink ek dat ek weer ‘n teler sal gebruik.  En ja, ek het geen beswaar daarteen om diere te koop nie.  Aanneem teen ‘n paar honderd rand bly nog steeds koop.

Hoe voel jy oor telers?  Het jy ‘n goeie of ‘n slegte ondervinding gehad?  Wat van troeteldiere wat wel een of twee keer voortplant voordat hulle reggemaak is?  Hoe voel julle oor weggooidiere?

Breinvasbrand:  Watter tipe hond word met die Dulux advertensies verbind.

Breinlosbrand:  Gautengelêng (Goed, ek raai net.  Bring bewyse as julle verskil.)

 

 


Aksies

Information

17 responses

16 03 2015
Olga

EERSTE!!!!!! Engelse skaaphond?

16 03 2015
Olga

Hoe voel ek oor telers? Ek het nog nooit sover deur ‘n teler gekoop nie. Bessie was wel die runt van ‘n werpsel waarvan die teler summier ontslae geraak het en haar aan sy seun geskenk het. Maar ek sal nie die ou brakkies en “backyard” telers summier afskryf nie. Alhoewel, ek dink ‘n mens wie eenkeer ‘n dier mishandel en verwaarloos het, behoort nooit weer toegelaat te word om ‘n dier aan te hou nie. Mense wie diere ten duurste van ‘n teler koop is geen probleem nie. Elkeen na sy eie.

17 03 2015
Xena Phoenix

Ek dink dit kan nogal interessant wees om met diere (kom ons wees interessant en maak dit sommer tiere) te teel waarvoor jy ‘n passie het. Om die beste van die spesie te prober voortbring. Persoonlik is dit vir my hopeloos te veel moeite. Ek is mos ‘n waarnemer en nie ‘n doener nie.

16 03 2015
scrapydotwo

Jy is n persoon so na my hart. Ek doen ook my navorsing en besoeke voordat ek regtig koop. Die prys is meestal nie die hoof rede vir my nie. Wat telers betref – daar is beslis baie goeie liewe telers maar dan kry mens die ouens wat n “goeie” dier koop en dan dit misbruik hetsy deur ishandeling of wreedhede. Die “puppy machines” is natuurlik vir my die wreedste van wreed. Selfs die teel van melkbeeste om hul uit te buit is ook nie goed nie. So kan mens voortbou.

17 03 2015
Olga

Hulle kan gelukkig nie meer hê as wat die natuur toelaat nie. Mens moet seker in gedagte hou dat in die natuur diere met elke “hitte” gedek sou word. Ek dink dis dus veilig om aan te neem dat die natuur dit so bedoel het. Maar ek weet ek sou dit nie toegelaat het nie.

17 03 2015
Xena Phoenix

Die telersverenigings is nogal streng. Daar is byvoorbeeld reëls oor hoe gereeld die teel diere gedek kan word. En soos reeds genoem, as ‘n teller droogmaak, word daar teen hulle opgetree.

Ek het nou die dag gehoor van melkkoeie wat iets soos 70 l melk ‘n dag gee. Dit is half onwerklik. Ek verstaan dat 15 – 20 l melk ‘n dag normaal is.

17 03 2015
scrapydotwo

Bly om te hoor dat vereniging nog sterk staan teen die wat droogmaak. Ek verstaan daar moet geproduseer word maar waarom dit oordoen.

17 03 2015
Sonlig

O wee! Ek het ‘n erger ding as jy gedoen. Ek het al (baie) troeteldiere by ‘n troeteldier winkel gekoop. En die kyke gekry.

17 03 2015
Xena Phoenix

Oe! Gaan jy vir my ‘n sitplek hou in die hel?

Daar is ook troeteldierwinkels en troeteldierwinkels. Party van hulle is beslis nie geskik om diere aan te hou nie.

17 03 2015
Toortsie

Ons is mos verbrandste koeitelers…
Ek verkies om ‘n “opregte” hond te koop wanneer ek een koop.

17 03 2015
Xena Phoenix

😉 Ek het nog nie ‘n hond wat met ‘n kat gekruis is gesien nie.

Ek hou nogal van melk (en vleis) dus gaan ek nie klippe gooi nie.

17 03 2015
Slegte teler | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

[…] het nie regtig besef dat alle telers sleg is voor ek nie Xena se stuk gelees het nie. Hoe verder ek gelees het, hoe meer het ek besef: Die see sal my nie skoon was nie! […]

17 03 2015
Sparkle

As ek ‘n waghond of bodyguard soek, sal ek ‘n bloedlyn hond van ‘n betroubare teler af kry. Ma’ my hart raak gou sag as ek die spca oudtjies sien wie almal huise soek. My eerste kat is ‘n petshopkat wat ek as ‘n geskenk gekry het. Die tweede kat was weer ‘n geskenk vir kat nommer 1. Katte nommer 3 was ‘n aanneemkat sowel as die drie honde

17 03 2015
Xena Phoenix

Blinkertjie, dit is hoekom ek ‘n fietspomp het in die plek van ‘n hart. Ek moet toegee dat pavement specials ook goeie waghonde kan wees.

My juffrou is ‘n snob. Sy meng nie met die gepeupel nie. 😉 Ek is net dankbaar sy het my nog nie uit die huis geskop nie.

17 03 2015
rondomtaliedraai

Die diere wat ek gekoop gekry het, het self in my lewe ingekom. Ek is teen enige misbruik van die natuur

17 03 2015
Xena Phoenix

Soos hulle in Gone in 60 seconds sê: You don’t bleep with mother nature. Daardie tannie vat nie strooi van kabouters nie.

17 03 2015
Die mens kan, maar behoort mens?s wat | Swartbelt vir diere

[…] elk geval, hierdie is my twee sent oor ‘n onderwerp of groep onderwerpe waaroor onlangs geblog is, wat my baie na aan die hart lê, en ook my bloed effens laat kook. […]

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: