Lyding na Rand en Sent

10 03 2015

Aaron Motsoaledi het onlangs aangekondig dat Suid-Afrika ‘n mediese ombudsman gaan kry.  Die doel daarvan is om mediese hofsake te beperk waar dit moontlik is.  Daar was ‘n 573% toename in mediese litigasie eise.  Dit lei daartoe die dokters amper te bang om  aan ‘n skapel te raak.

Motsoaledi reken dat daar ‘n paar aasvoëls is wat die stelsel melk (nou natuurlik nie sy presiese woorde nie).  Daar is mense wat daarop uit is om mediese voorvalle te melk vir elke moontlike sent wat hulle kan kry.  Of hulle geregtig is op die sente is ‘n bysaak.  In die proses word nie net die slagoffers bevoordeel nie, maar elke professionele persoon wat hulle in die pad gehelp het.  Behalwe die arme oorwerkte dokters wat hulle lewe in die staatshospitale waag vir ‘n appel en ‘n ei.

Ek dink nie dat Motsoaledi ver van die pad af is nie.  Vandat die ANC elke tweede week hof toe gesleep word, is Suid-Afrikaners deesdae vinnig om hof toe te hol.  Eintlik moet ek nie politiek blameer nie, ons is mos besig om meer Amerikaans as ‘n Amerikaner te word.  Ek hoor gereeld advertensies van prokureurs wat hulle hulp aanbied aan diegene wat met ‘n mediese prosedure gely het. Dit het beslis ‘n winsgewende bedryf geword.

Aan die ander kant, maak (staats?) hospitale dit ook net so maklik.  Party mense het regtig rilverhale wat hulle in ‘n hospitaal oorgekom het.  Soos die 23 jarige vrou wat in vroeër vanjaar in Baberton geboorte geskenk het.  Die dokters het haar meegedeel dat sy besig is om ‘n miskraam te hê.  Die vrou is toe basies alleen gelos om vir 33 uur in kraam te wees.  Teen die tyd wat die baba tussen haar bene vir asem gehyg het, moes sy hom maar self uittrek.

Die personeel het toe die baba op ‘n bloeddruk monitor gesit en hom toegelaat om te sterf.  Die lykie is toe aan die ma terug besorg met ‘n voorstel dat sy hom in haar vrieskas moet bêre tot ‘n lykshuis hom kan kom haal.  Die ma het gevra dat die baba in die hospitaal lykshuis gebêre moet word.  Teen die tyd wat die begrafsnis ondernemer die baba kom haal het, moes daar eers gesoek word.  Hy is toe in ‘n stoorkamer gekry.

Met sulke stories, verbaas dit enige iemand dat eise aan die toeneem is?

Is die antwoord regtig ‘n ombudsman?  Daar is duidelik ‘n probleem in die hospitale.  As dit aangespreek word, behoort die eise mos ook af te neem.  Die ombudsman kan dan die koring van die kaf skei.  In die tussen tyd, sal hy / sy moet kop hou soos ‘n weeluis om te doen wat gedoen moet word.

Breinvasbrand:  Wie was Aaron Motsoaledi  se voorganger as Minister van Gesondheid?

Breinlosbrand:  Olga was reg met mini en hotpants