Die ouers van enkel kinders is gewoonlik baie beslis hieroor: “Ons bederf ons kind glad nie.” Enkel kinders stem volmondig saam. “Ek is nie bederf nie.” Hulle glo hulle self beslis.
Dit is soos ‘n kennis met ‘n enkel kind my kort voor Kersfees vertel. “Die jaar gaan Santie maar min geskenke kry, want een van haar geskenke was baie duur.” Die vrou het ons toe alles van Santie se geskenke vertel. Nie net was haar groot geskenk duurder as my hele geskenk begroting nie, maar haar min geskenke was meer as wat ek in totaal gekoop het. Verskeie van die geskenke was ook meer as ‘n R1000 elk. Gelukkig word Santie nie bederf nie. Anders was ek beslis jaloers op die snotkop.
Santie is natuurlik nie die eingste onbederfde enkelkind wat ek al ontmoet het nie. Oor verskeie kulture en ekonomiese klasse is daar een ding wat paal bo water uitstaan. Wanneer dit kom by verjaarsdae, Kersfees en paasfees; het ouers nie remme nie. O, ekskuus. Daar vroetel ek in hulle gesigte. Kom ek stel dit eerder so: hulle definisie van matigheid en my definisie van matigheid verskil soos dag en nag. Toegegee, ek is dalk net ‘n suinige vrek. Feit bly staan dat ouers wat meer as een kind het, effens meer besadig is as dit kom by Kersfees, Paasfees, verjaarsdae, ‘n uitstappie winkels toe, of sirkus toe of . . .
Van waar ek op die wal staan lyk die verskil vir my as volg: Ouers met meer as een kind, koop iets (of ‘n paar ietse) vir ‘n spesiale geleentheid. Enkel ouers koop alles en gooi sommer ‘n iPhone in om dit ekstra spesiaal te maak.
Nee, ek het niks teen enkelkinders nie. Ek was self vir ‘n jaar of so ‘n enkelkind gewees. Sou ouerskap in my sterre wees, sal ek waarskynlik self die ouer van ‘n enkelkind wees. Dan doen ek waarskynlik presies dieselfde.
Hoe voel julle?
Breinvasbrand: By wie het Oliver Twist gebly terwyl hy siek was en wie Oliver later ontdek het sy oupa is?
Breinlosbrand: O aarde! Ek het droog gemaak. Ek wou julle vertel het dat Kaliel vir Saul vertel het dat jy saam met ‘n kat van ‘n skip moet afklim. Toe onthou ek dat Saul vere vir skepe gevoel het. Verkeerde storie! (Dammit! Dit is hoekom mens altyd eers seker moet maak van die vraag)!! Kaliel het dit vir Lukas (Benjamin) vertel! In Fiela. Ek vonnis myself om altwee die boeke die naweek te lees terwyl ek die eier van my gesig af krap.
Toortsie was in elk geval reg.
Wie runnik saam?