Boys and their toys

15 03 2015

Dit was die naweek groot nuus nadat die eerste suksesvolle penisoorplanting in Suid-Afrika gedoen is.  Die operasie was in Desember uitgevoer en die man kon 5 weke na die oorplanting seks hê.  Die operasie word as ‘n wetenskaplike deurbraak gesien en word sommer al klaar in dieselfde asem genoem as die eerste hartoorplanting in 1967.  Dit is dalk om appels met prentjies te vergelyk, maar dit is tog lekker om te weet dat SA nog steeds op mediese vlak gat kan skop.

Wat my wel verbaas is dat daar blykbaar baie mans is wat ‘n penis oorplanting benodig.  Nie omdat daar een of ander frats ongeluk was of dat die arme man ‘n slagoffer van peniskanker was nie.  Blykbaar is die hoofoorsaak van penisverliese besnydigings.  Natuurlik nie die besnydings wat deur ‘n mediese dokter uitgevoer raak nie, maar die soort wat iewers in die middel van nêrens gedoen word.  Die soort wat seuns blykbaar mans maak.

Siende dat die meerderheid van seuns mans raak sonder dat hulle besny is, is seker genoeg bewys dat die gebruik onnodig is.  Dit is egter nou nie heeltemal so eenvoudig nie.   Die mans wat weier om hulle aan die tradisionele gebruike onderwerp, word gewoonlik in hulle gemeenskappe as minderwaardig gesien.  Die tienerseuns het nie eers altyd ‘n keuse nie.  Daar is glo seuns in die voormalige model C skole wat glad nie die bohaai kan insien nie.  Hulle ouers dring egter daarop aan dat hulle besny word.

As die besnydenis (by inisiasie skole) dan so belangrik is, sal ‘n mens aanneem dat die uitvoerders dan darem sal verseker dat die messe skoon en steriel is.  Nie net veroorsaak die vuil messe dat jong mans se penisse afgesit moet word as gevolg van infeksie nie, maar elke jaar sterf van die jong mans by die skole.  MIV versprei ook natuurlik maklik by die skole en dan praat ons nie eers van die ander onheile nie.

Hoekom word dit nog enigsins geduld?  Tradisie gaan ook net so ver.  Wêreldwyd word tradisies wat gevaarlik en/of onmenslik is ten strengste veroordeel en afgekeur.  Is dit nie tyd dat tradisionele besnydenis waar daar wesenlike gesondheid risiko’s is finaal uitgeroei word nie?  Duidelik is tradisionele leiers nie van plan om eers te probeer om dit veiliger te maak nie.

Wat dink julle daarvan?  Is daar nog nut vir sulke gebruike?

Breinvasbrand:  Watter Leon Schuster liedjie is op My Ding a Ling se wysie gesing?

Breinlosbrand:  Olga en Sparkle was reg.  Jy “lend” iets aan iemand wat dit van jou “borrow”.