Daar is vrouens wat hulle siele vir die regte paar skoene sal verkoop. Ek? Wel ek is ‘n meisie wat eerder agter die blink klippies aan is. Ironies genoeg kan ek klere nog versaak om ‘n diamant halsnoer in die openbaar te verskyn. Dit sal egter heeltemal onvanpas wees om sonder skoene te verskyn.
Hoekom sal g’n mens weet nie. Dit is egter ‘n feit dat ‘n mens moet skoene dra. Toegegee, die teer kan nogal seer brand in die somer en die klippies kan nogal geniepsig wees. Yskoue tone is ook nie plesierig nie. Skoene het dus hulle doel. Veral as jy ‘n nuwe paar in die hande kan kry.
Ek beskou myself nie as ‘n veeleisende mens nie. Al wat ek van die skoenrakke soek is ‘n netjiese stel sandale in die somer en ‘n goeie paar stewels in die winter. As dit nie te veel te vra is nie, kan ek verkieslik iets geskik in swart en bruin kry? Verkieslik in verskillende ontwerpe. ‘n Paar informele skoene sal ook gaaf wees. Dit is seker ook nie te veel gevra dat dit ‘n seisoen lank moet hou en netjies lyk nie?
My vereistes is nie verregaande nie. Ek het nie ekstra lengte nodig nie en ek soek iets waarmee ek kan ronddraf as dit nodig is. Ek is nie ‘n aanhanger van pyn nie en ek betaal beslis nie vir iets wat my pyn gaan besorg nie. Ek gaan ook nie ‘n paar skoene net vir skou aantrek nie.
Ek dink my verwagtinge is redelik. Helaas! Om skoene te kry waarvan ek hou, is soos om wors in ‘n hondehok te soek. Die logiese gevolgtrekking is dus dat ek vol strooi is. Dit bring my by die tweede krisis. Daar is nie skoene in my grote nie. Deesdae is dit ‘n onbegonne taak om ‘n skoen groter as ‘n 6 te kry. Alle vrouens dra mos ‘n nommer 4 of 5. Of die groter skoene word eerste opgeraap.
Die winkels koop die groter skoen grotes nie aan nie of dit is die eerste grotes wat gekoop word. Ek wonder egter of winkels regtig hulle mark goed navors. Weet hulle wat die populasie se skoengrotes is? Weet hulle wat die populasies se bragrotes is? Weet hulle hoe lank die gemiddelde vrou is of waar haar borste sit?
As die inligting nie vrylik beskikbaar is nie, kan dit met ‘n eenvoudige steekproef bepaal word. Dan sal daar skoene en klere wees wat pas.
Is ek die uilspieël of sukkel julle ook om skoene en klere te koop?
Breinvasbrand: Watse kledingstuk word met Mary Quant geassosieer.
Breinlosbrand: Olga was reg met 9 Augustus.
Wie runnik saam?