Wie verdien opleiding?

8 03 2015

Jaarliks word Internasionale Vrouedag op 8 Maart gevier.  ‘n Dag waarop vroue se ekonomiese, politiese en maatskaplike prestasies gevier moet word.  Natuurlik is dit ook ‘n dag waarop daar op vroueregte en opheffing van vroue oor die wêreld gefokus word.  Een van die doelwitte wat bo aan die agenda is, is die opleiding van vroue.

Ek, Xena N. Phoenix, is ‘n selferkende feminis, maar ek verpes die bewegings wat spesifiek op vroue opleiding gefokus is.  Ek kan nie sien wat geslag enigsins met opleiding te doen het nie.  Die dae wat mans voorkeur geniet het met verdure opleiding is dekades terug verby.  Ek het vandag iewers gesien dat wêreldwyd daar meer vroue as mans by tersiêre instellings studeer.  Dit is dus min of meer in verhouding met die aantal vroue wat die aarde bewandel.  Hoekom word daar dan alewig daarop gehammer dat meer gedoen moet word om vroue op te lei?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie teen vroue opleiding nie.  Ek glo sterk daaraan dat vroue finansiël op hulle eie bene moet kan staan en nooit ten volle van ‘n man afhanklik moet wees nie.  Terselfde tyd glo ek nie aan huismans nie.  Mans het net soveel reg tot opleiding en ‘n beroep as Eva’s.  Netsoos ek nie glo dat ‘n man bo ‘n vrou bevoordeel moet word omdat hy ‘n man is nie, glo ek ook nie dat ‘n vrou bo ‘n man bevoordeel moet word net omdat sy sit as sy piepie nie.  Ek glo aan regverdigheid.

Baie mense glo dat opvoeding en opleiding ‘n reg is.  Ek stem saam, maar tot op watter vlak?  Ek dink die meeste mense sal toegee dat die reg tot een of ander beroepopleiding moet strek.  Dit is die ideaal.  Die realiteit is egter dat almal nie professionele beroepe kan volg nie.  Verder is daar dikwels net ‘n beperkte getal mense wat vir ‘n spesifieke kursus opgelei kan word.  Ek weet toe ek geswot het, het ons klasgeld omtrent ‘n derde van die koste van jou opleiding gedek.  Ek is nie seker wat die situasie vandag is nie, maar ek is seker dat klasgelde net gedeeltelik gedek word.

Dus:  as daar vir ‘n sekere kursus net ‘n beperkte aantal plekke het, vir wie moet die plekke toegeken word?  Veral waar dit vir ‘n baie gespesialiseerde beroep gebruik word.  Moet dit summier net vir vroue beskikbaar wees?  Dalk net vir mans, wat immers nie swanger kan word nie?  Dalk net vir die top presteerders of diegene wat die kursus kan betaal?

Moet dit nie diegene wees wat die meeste gaan terug ploeg nadat hulle gekwalifiseerd is nie?  Soveel as wat opvoeding ‘n reg is, is dit regverdig om ‘n beperkte plek op te eis, as jy geen planne het om die beroep te volg nie?  Dit is goed en wel om ‘n veiligheidsnet te soek, maar moet die net met status gepaard gaan?  Daar is tog soveel kursusse wat altyd plek vir nog een het, moet dit juis iets wees waarvan daar ‘n tekort is en daar net ‘n beperkte hoeveelheid opleidingsmoontlikhede is?

As jy beplan is om gholf vir ‘n lewe te speel, is dit regverdig teenoor die gemeenskap om medies te gaan swot?  Net sodat jy jou gholfstokke as ‘n dokter kan gaan swaai?  Terwyl daar dalk iemand ander is wat uitgeskop word, maar wat bereid is om mense se pyn en ellende daagliks te gaan aandurf?  Dit is maar net een voorbeeld.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wanneer word Vrouedag in Suid-Afrika gevier?

Breinlosbrand:  Kameel was reg met 1945