Waar is my sand kasteel?

28 02 2015

Hallo Maatjies,

Tannie Hestia was reg met Alter Bahnhof Hotel in Swakopmund.  Joh, julle!  Sy is sommer baie slim.  Sy is seker ook ‘n heksie.  Tannie Skrabbel het ook geweet dit is in Sterkkoppenbek.  Reg hier op die maan.

P1110126

Ek gaan ‘n sandkasteel bou!  ‘n Baie groot een!  Grootste een!

Wie gaan my vandag kry?  Weet julle waar my sandkasteel den is?

1

2

3

Julle is aan!





Akkedis of ‘n ding

27 02 2015

P1310958





Ontvoering Mymeringe

26 02 2015

Deesdae is besoektye in hospitale meestal net ‘n formaliteit.  Die een uitsondering is egter die kraamsaal.  As jy nie die pa of ouma is nie, is daar geen kans dat jy kan ingaan nie.  Dan ook net nadat jy formeel ingeteken het.  Dit is natuurlik ‘n pyn in die agterent, maar niemand wil seker vir ‘n ma gaan vertel dat haar nuwe baba verdwyn het nie.  Veral nie dat iemand net ingeloop het en ‘n kind van die rak afgekies het nie.

Dit het al gebeur.  Ek dink byvoorbeeld aan Michaela Hunter wat in 1994 van haar ma se sorg geneem is vir ‘n bad demonstrasie.  Die vrou, Sonja Combrinck, het egter nooit weer met Michaela terug gekom nie.  Micheala is amper eers twee jaar later gevind nadat Combrinck se vriend haar na ‘n polisiestasie geneem het.  Hy het aanvanklik glo geglo hy is die pa.  Combrink was 12 jaar tronkstraf opgelê waarvan sy 8 jaar gesit het.

Die hele storie moes vir Michaela traumaties gewees het.  Sy was vir twee jaar lank was sy Shannon en sy het skielik ‘n heel nuwe huis en ouers gehad.  As tweejarige kon sy nog maklik aanpas en onthou sy seker weinig van die tyd wat sy ontvoer is.

Daar was vandag ‘n aankondiging dat Zephany Nurse gevind is.  Zephany was 17 jaar gelede, toe sy 3 jaar oud was, uit die Groote Schuur hospitaal ontvoer.  Sy was haar ouers se eerste kind, maar hulle het nog 3 ander gehad.  Een van hulle was vanjaar ‘n groentjie by Hoërskool Kaapstad.  Die kinders saam met die gr 8 meisie, was verbaas dat sy baie soos ‘n sekere matriekmeisie gelyk het.  Sy en die matriekmeisie het vriende geword en toe het haar ouers 1 en 1 bymekaar getel.  Die matriekmeisie se ouderdom stem ooreen met hulle vermisde dogter se ouderdom.  Die polisie is gebel en nadat die Valke ondersoek ingestel het, het DNS toetse bewys dat die meisie wel die vermisde kind was.

Sy was as die enigste kind van mense in hulle 50’s groot gemaak enkele kilometers van waar die Nurse’e gewoon het.  Daar was ‘n paar ongeruimdhede.  Daar is geen rekord van haar geboorte nie en sy is eers as ‘n 6 jarige by binnelandse sake geregistreer.

Ek vermoed dat dit nogal ‘n nagmerrie moet wees vir almal wat betrokke is.  Die meisie is nie ‘n tweejarige wat nie ‘n ton vrae gaan hê nie.  Die persoon wat sy as haar ma geken het, is gearresteer vir haar ontvoering.  Skielik het sy ook ‘n ander familie, maar terselfde tyd is sy ook so te sê ‘n volwassene.

Ek kan my net verwonder wat in haar kop sal aangaan.  Hopelik het die grootmaakouers goed vir haar gesorg.  Maak dit op vir die angs waardeur die biologiese ouers is?  Hulle het elke jaar haar verjaarsdag gevier en nooit opgehou soek na haar nie.  Anders as Michaela sal die meisie kan besluit of sy haar vermeende ontvoerder gaan ondersteun of verwerp.  Sy sal seker ‘n sê hê in wat verder gaan gebeur.  Hoewel sy seker eerder vir ‘n rukkie van die aarde wil afklim om tot verhaal te kom.

Mens kan seker net al die betrokkenes sterkte toewens.

Breinvasbrand:  Wanneer verjaar die misdaad van ontvoering?

Breinlosbrand:  Dalenatjie was reg met C.J. Langenhoven.





Toeka Tokkel 9: Beroep

25 02 2015

Scrapy daag ons uit om oor werk / beroepe te skryf.  Ek het toevallig nou die dag van my eerste werk geskryf.  Ek het nie regtig veel meer om daarby te voeg nie.  Ek is ‘n miskruier van beroep en ek is allergies vir werk.

Ek verwonder my altyd hoe daar op universiteite toegesak word die dag nadat matriekuitslae vrygestel word.  Ek kan net nooit verstaan hoe hulle kan verwag (eis) om net daar plek te kry nie.  Diegene wat plek gekry het, moes al (in my dae) voor April aansoek gedoen het.  Veral as jy enigsins op koshuisplek gehoop het.  Wat besiel die mense dan om ‘n goeie 6 maande na die sluitingsdatum die universiteite te bestorm?  Het hulle na hulle matriekuitslae gekyk en dan besluit hulle kan ‘n dokter, rekenmeester of landmeter word?

Ons was al letterlik in die laerskool gemaan dat ons moet besluit wat ons eendag wil word.  In st. 5 het ons aanlegtoetse gedoen om te bepaal na watter tipe skool ons moes gaan en watter keusevakke ons moes neem.  Ek onthou my uitslae nog goed:  “Rekeningkunde en Tik”;  “Rekeningkunde en Duits” en “Rekeningkunde en Bedryfsekonomie”.  Daar was seker rekeningkunde in my sterre gewees op daardie stadium.  Ek was nie juis gepla nie, ek het al in graad 2 amptelik en finaal besluit dat ek ‘n Juffrou gaan word.

Ons sou weer aanlegtoetse in St 8 gedoen het.  Iemand het egter besluit dat aanlegtoetse ‘n mors van tyd en geld is en ons moes toe maar op ons eie kies watter pad ons wou loop.  Ek (soos baie ander) het my vakke so gekies dat ek bykans enige iets kon gaan swot het.  Ek het ook min of meer in die tyd gekies dat onderwysers te min betaal word.  Ek het dus die onderwysplan in geheel geskrap.  Ook maar goed.  Ek het eendag in St 9 my Wiskunde onderwys gedreig dat ek sal terug kom skool toe om vir haar seun Wiskunde te kom doseer.  Sy het my op en af gekyk en gesê:  “Gelukkig weet ek Xena dat jy nooit ‘n onderwyser sal word nie.”

In my eerste jaar het ek en ‘n vriendin besluit om aanlegtoetse by die universiteit te gaan doen.  Ons moes ‘n paar moontlike beroepe vir onsself kies.  Ek het sommer vir die snaaksigheid soldaat as een van my moontlike beroepe gelys.  Die resultate het gewys dat ek amper enige iets onder die son kon gaan doen, insluitende om ‘n soldaat te wees.  Die toetse is só behulpsaam.  Die sielkundige het my aangeraai om iets (enige iets) te kies en ‘n akademikus te word.

Dit het natuurlik nie gebeur nie, wel miskien net nog nie gebeur nie.  Wie weet wat die toekoms inhou.  Tot tyd en wyl fassineer werk my vreeslik.  Ek kan ure lank daarvoor kyk.

Breinvasbrand:  Wie se huis is Arbeidsgenot?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1991.





Wragtig alweer?

25 02 2015

Rondomtalie het dit genoem en gister was dit orals nuus:  Die poskantoor gaan staak.  Alweer!

Net om julle geheue te verfris, hulle het in 2014 vir 3 maande lank gestaak.  Die staking is 3 maande terug eers beëindig.  Aanvanklik het dit nie juis gepla nie.  Totdat jy iets van oorsee af bestel en eers later onthou die poskantoor staak.  Gelukkig het jy die versekering opsie gevat, maar jy sal nogal verkies dat jou aankope nie uit beginsel verwoes word nie.  Skielik ontvang jy rekeninge per MMS en / of epos.  Jy besef ook dat koeriers baie meer gerieflik as die poskantoor is.  Boonop is hulle nie so duur as wat jy gevrees het nie.  Jy sien amper nie meer die nodigheid van ‘n poskantoor in nie, behalwe vir jou internasionale pakkie wat gyselaar gehou word.

Tel dit werklik as ‘n staking as daar in elk geval nie veel gedoen word nie?  Nadat die staking opgeskort was, het dit nog 2 maande geneem voordat my pakkie afgelewer is.  Twee poskaarte wat ek in dieselfde tyd gestuur het, het een letterlik drie dae gelede sy bestemming bereik en ‘n ander is nogsteeds ‘oppad’.  Ek het in 2011 vyf kalenders in die pos gegooi.  Net twee het hulle bestemming bereik.  Julle sal verstaan hoekom ek nie veel vertroue in die poskantoor het nie.

Alhoewel, die werkers het tydens die staking bewys al doen hulle min, is dit skadelik as hulle absoluut NIKS doen nie.  Koerante het gepraat dat die land lam gelê is met die staking.  Skade is beslis gedoen, maar wie het nou regtig die meeste gely?  Epos / MMS state is nie net meer betroubaar en gerieflik om te ontvang as geposte state nie, maar aansienlik minder moeite en goedkoper.  UNISA wat nie take en studentebriewe kon uitstuur tydens die staking nie, het hulle kontrak met die poskantoor beëindig.  Daar word ook gepraat van ‘n reddingspakket vir die poskantoor.  Afriforum voer aan dat die SAPO verbruikers R180 miljoen skuld vir kompensasie vir die laaste staking.

Dinge lyk nie goed vir die poskantoor nie.  Wanneer ding nie goed vir die organisasie lyk nie, lyk dit beroerd vir die werkers.  In plaas om hand in eie boesem te steek en te besin oor die skade wat hulle reeds aangerig het, beplan hulle nog ‘n staking.  Hulle is selfs verwaand genoeg om ‘n 15% verhoging te eis.  Die nuwe hoof wat na die staking aangestel is, moet al klaar weer wyk.

Gaan hulle wegkom daarmee?  Waarskynlik!  Die staat het alreeds aangedui dat hulle ‘n groter pond vleis van belasting betalers gaan eis.  Hoekom word dit toegelaat?  Vet weet.  Ek hoop dat van die private maatskappye kan hand op steek en dalk die poskantoor nietig maak.  Almal weet tog dat jy nooit ‘n afperser gee wat hulle wil hê nie.  Waar kan jy in elk geval meer geld eis as jy weet jy verdien dit nie.  Dalk moet ons ‘n kultuur skep van bewys eers wat jy werd is en eis dan.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wanneer is Telkom van die Poskantoor geskei?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Heidelberg





Sodom en Galilea

23 02 2015

Noudie dag gesels ek met iemand wat saam met my op skool was.  Om eerlik te wees, op skool het ons nie veel vir mekaar te sê gehad nie, maar dit is nou ook nie dat ons mekaar nie kon verdra nie.  Tydens die gesprek merk ek op dat haar kinders oulik is.  Sy skryf dit toe dadelik toe daaraan dat hulle op die platteland grootword.  Ernstig?  Sou haar kinders dan nie oulik gewees het as hulle in die stad groot word nie.

Sy is natuurlik nie die enigste Plattelander wat dink dat alles wat goed en heilsaam is uit die Platteland kom nie.  Baie stedelinge stem natuurlik ook heelhartig saam.  Almal in die Platteland is goeie, vriendelike, gasvrye mense en daar is bloot net nie plek vir allerhande onheile nie.  Mense bly daar in vrede saam en kuier oor en weer soos een groot familie.

Ek is egter in die Platteland gebore, ek het in die platteland groot geword en daar gematrikuleer voordat ek Pretoors toe is.  Ek het regtig niks teen die Platteland nie.  In die stad kan ek wel elke dag van die week kerk toe gaan (as ek wil), ek kan omtrent enige stokperdjie of sport beoefen en as ek in protes my inkopiemandjie net so neergooi omdat winkel X nie het wat ek wil hê nie, hoef ek nie ‘n 100 km te ry na ‘n ander winkel met die hoop dat hulle dit wel het nie.

Ek het egter geen illusies oor die wonder van die Platteland nie.  Ek weet al van menige mense wat wreed ontnugter was met wat hulle in die Platteland gekry het.  Want sien, in die Platteland is die “Adellikes” en die “little people (ek bedoel die gepeupel)”.  As jy nie as ‘n adellike is nie, is jy nie regtig deel van die gemeenskaplikheid van die platteland nie.  Die adellike kring word ook baie jaloers bewaak om te verseker dat dit eg en onverdund bly.  As jy nie in die adellikes van die dorp gebore is nie, moet jy van die adellikes van ‘n soortgelyke dorp afstam.  Ek wonder soms of hulle troues onder mekaar reël net om te verseker dat dit nie met gepeupel bloed vermeng raak nie.

Die Platteland is basies ‘n klein dam.  Die adellikes het alleenreg tot die dam en die ander moet verkieslik buite sig bly.  Die meerderheid van die paddas wat dink hulle is groot, is objektief gemeet heel gemiddeld.  Hulle weet dit, maar verseker dat hulle nie ontmasker word nie.

Beteken dit dan dat die Stad vry van klieks is?  Geensins nie.  Die kliek by die kerk is egter nie dieselfde kliek by die skool en die sportklub nie.  Die paddas wat regtig groot is, kan bekostig dat mense dit vir hulleself uitmaak.  Hulle hoef dit nie af te dwing nie.  Bowenal hoef hulle nie in elke liewe dam te kwaak nie.

Soos reeds gesê:  al bly ek lekker in die stad, sal dit darem nie geweld vat om my terug in die platteland te kry nie.  Ek sal egter nie teleurgesteld wees nie.

Breinvasbrand:  Watter plattelandse dorpie het AG Visser en Eugene N. Marais huis genoem?

Breinvasbrand:  Gananja Sadrag, Miseal Mesag en Asarja Abednego.





Is alle verhoudings seksueel?

22 02 2015

Dawid en Jonathan.  Dit is ‘n idiomiese uitdrukking (in meer as een taal as ek dit nie mis het nie) wat ‘n innige vriendskap beskryf.  ‘n Vriendskap soos tussen Dawid, die skaapwagter, en Jonathan, die koningseun.  ‘n Vriendskap wat nie deur nyd of selfbevordering geskaad was nie.  Dit was immers voorspel dat Dawid Saul as koning sou opvolg, iets wat Jonathan se geboortereg was.  Voorwaar ‘n model vriendskap.

Nou die dag kry ek ‘n epos wat beweer dat die vriendskap tussen Dawid en Jonathan verder as gewone vriendskap was.  Die epos gaan verder om te beweer dat hulle getroud was – soos Meneer en Meneer wat gelukkig vir altyd sal saamwoon.  Die epos het boonop omtrent ‘n 100 teksverse om die beweringe te staaf.

Dawid en Jonathan was blykbaar nie die enigste homoseksuele paartjie in die Bybel nie.  Blykbaar was Naomi meer as Rut se skoonma.  Rut het Naomi aangekleef soos wat ‘n man en ‘n vrou mekaar aangekleef het.  Ek kan nou nie sê of Orpa deel van ‘n orgie was nie.  Of wat word ‘n liefdes verhouding tussen 3 mense genome?  Terloops, ek kon nog nooit die wonderskone liefdesverhaal tussen Rut en Boas sien nie, maar dit is ‘n ander storie.

Die laaste gay paartjie van die Bybel wat die epos noem is Daniël en Aspenas.  Om dinge interessant te maak is dat beide die mans glo eunogs was.  Volgens die epos, het die kastrasie nie hulle seksuele drifte beïnvloed nie.  Alhoewel, volgens Geskiedenis was die eunogs juis ontman sodat hulle harems kon oppas, sonder om selfs ‘n gevaar te wees.

In die Bybel se geskiedenis is dit al vele kere verdraai om amper enige menslike agenda te bevorder.  Die genoemde epos (ek sal dit aanstuur vir almal wat die self wil lees) kan seker ook op verskeie maniere geïntrepeteer word.  Gestel nou dat die epos die genoemde vriendskappe in die regte lig stel?  Dat die vriendskap eintlik liefdes (seksuele?) verhoudings was:  bestaan daar dan nog iets soos ‘n platoniese vriedskap?

Ek weet dat baie mans glo dat ‘n platoniese vriendskap tussen ‘n man en ‘n vrou nie moontlik is nie.  ‘n Man is blykbaar net ‘n vriend van ‘n vrou as hy haar as sy toekomstige vrou sien.  Baie vrouens dink weer dat haar man of ou die enigste vriendskap is wat sy kan hê.  Toegegee, ek diagnoseer die laasgenoemde geval as stingelstres.  Feit bly staan dat baie verhoudings nie oorleef het terwyl een van die maats ‘n innige vriendskap met iemand van die ander geslag het nie.  Is dit ‘n geval van waar ‘n rokie is, moet daar ‘n vuurtjie wees?  Of is dit net ‘n geval van mense se eie onsekerheid? Daar is natuurlik ook ‘n argument dat dat seksueliteit nie heeltemal so wit en swart is as ‘n mens wil glo nie.  Dus, met die bespreekte epos ingedagte, is die vrou se vriendinne of die man se vriende glad nie bo verdenking nie.

Aan die ander kant, kan dit ook geargumenteer word dat die epos skrywer net nie innige vriendskappe ken nie.  Die blote feit dat jy graag tyd met iemand spandeer, beteken nie dat jy seksueel tot hom/haar aangetrokke voel nie.  Neem byvoorbeeld ‘n groep plaasseuns wat kaal gaan swem.  Hulle sien bloot net nie mekaar se naakheid raak nie.  Een of meer van hulle kan dalk die res van hulle lewe in kontak bly, mekaar deur dik en dun tye help, sonder dat hulle ooit die behoefte gaan hê om mekaar op ‘n meer fisiese vlak te ken.  So kan twee vriendinne ‘n bed deel, sonder dat hulle iets meer in die bed gaan doen as skinder en slaap.  Wel, netso kan ‘n vrou en ‘n man ‘n bed deel, sonder dat enige een dinge verder wil voer.

Ek was iewers geleer dat daar drie tipes liefdes is:  die liefde tussen God en mens; broederlike liefde (soos die tussen familielede en vriende) en erotiese liefde.  Deesdae is daar baie mense wat nie meer Goddelike liefde erken nie.  Dit blyk amper of broederlike liefde nie ‘n bestaansreg gegun word nie.  Dus word net seksuele liefde bestaansreg gegun (wel, deur sommige mense).  Soos Freud basies gedefineer het.

Is die mensdom regtig so arm?  Word broederlike liefde genoeg bemark?  Of is daar op die einde maar net erotiese liefde?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was Daniël se vriende?

Breinlosbrand:  1923





Waar is ‘Viga?

21 02 2015

Hallo Maatjies,

Tannie Hestia was die meeste reg en dan Tannie Ougat.  Ek was by die Sentogaaf in die Voortrekkermonument.  Tannie Skrabbel was reg dat dit in Pretoria was.

P1100999

Hierdie week is ek in ‘n woesterny.  😆  Die een wat naby ver die winderige hoek is.  Die woesterny is langs ‘n bitch en dit kan nogal baie koud word hier.  Effens ondertoe, as ‘n heksie tussen die woesterny en bitch vlieg, is daar ‘n bitch vol walvisse.

Julle sal my tog nooit my den kry nie.

1

2

3

Julle is aan!





State Capitol

20 02 2015

20





Pipperella Koors

20 02 2015

Ek weet ‘n mens mag nooit ‘n goeie storie met feite bederf nie.  Alhoewel, ek dink nie dat radio’s, joernaalprogramme, nuus of natuurlik koerante hulle aan stories moet skuldig maak nie.  Hulle maak hulle lewe uit aktuele en nuusgebeure uit.  Let op!  Lewe.  Dus hulle word betaal om nuus en aktuele gebeurtenisse te dek.  Hulle is nie veronderstel om amateurs te wees nie.  Sovel my kennis strek, het radiostasies ook navorsers wat seker maak dat die aanbieders nie strooi praat nie.  Helaas, die aanbieders gebruik die navorsing as toiletpapier of die navorsers is nutteloos.

Noudie dag – om presies te wees, op 10 Februarie – het ek op die radio gehoor hoe hulle beplan om Bobbi Kristina Brown se masjiene af te skakel.  Dit speel natuurlik TRAGEDIE soos min ander dinge.  Eerie om die minste te sê.  Om mee te begin is Brown bewusteloos in ‘n bad gekry, netsoos haar ma Whitney Houston.  Daar was vermoed dat daar dwelms by Brown se toestand betrokke is, weereens soos haar ma Houston.  Brown is breindood verklaar en daar was beplan om die masjiene op 11 Februarie 2015 af te skakel.  Dit sou dan presies 3 jaar na haar ma se dood wees.

Groot is my skok vanoggend om te hoor dat dieselfde, kamstige breindooie, Brown se asemhalingspypie verwyder is en dat sy nou deur haar keel moet asem haal.  Dit is basies gedoen omdat sy nog vermoedelik vir maande op ‘n ventileerder sal moet staat maak.  Die dokters wil ook blykbaar haar mediese koma begin verlig.  ‘n Heel ander storie as wat op Jacaranda verkondig is.

Sulke goed maak my rooi sien.  Genade, hoe kan ‘n kommersiële radiostasie met meer as 2 miljoen luisteraars sulke snert gaan verkondig?  Deesdae moet jy ook eers alles wat jy hoor, sien of lees self gaan navors om dit te bevestig.  Mens kan geen vertroue in die tradisionele media meer plaas nie.

Dit bring my by ‘n volgende irritasie:  die aanbieders wat deesdae hulle menings en veroordelinge in almal se kele wil afdruk.  Is daar nog plek vir professionele joernalisme?  Ek gun ‘n aanbieder sy / haar mening, maar dit behoort nie almal anders s’n te oorskadu nie.  Dit is amper asof aanbieders almal deesdae hulle agenda of hartsake deur ‘n openbare platform.  Nie dat dit my soseer pla nie, maar enige ander mening word nie gerespekteer nie.  Dit word verkleineer of afgelag – sonder om die mening op meriete te oordeel.  Is dit professioneel?

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wanneer is Radio Uitsendings in Suid-Afrika begin?

Breinlosbrand:  Olga was reg met China.