Ek het gister belowe dat ek my sê oor Ballade vir ‘n Enkeling sal sê wanneer ek die boek klaar gelees het.
Ek het dit al geonderneem en ek onderneem dit weer: Die dag wat ek die TV reeks Ballade vir ‘n Enkeling (Seisoen 1 & 2) op DVD raakloop, koop ek dit dadelik. Daar was ook niks om te oorweeg toe ek die boek raakloop nie. Dit is deur Leon van Nierop geskryf wat ek darem geweet het vir die TV storie ook verantwoordelik was. Wat kan verkeerd gaan?
Ek het wel getwyfel toe ek die volgende beskrywing op die agterblad lees: “En nou word die verhaal weer vertel, maar dié slag soos dit werklik gebeur het, sonder versagting, aangepas vir vandag.” Dit het my laat sidder. ‘n Mens torring nie met ‘n goeie storie nie! Dit is ‘n misdaad teenoor die mensdom.
Daar was ‘n paar goed wat my grensloos in die boek geïrriteer het. Leon van Nierop is ‘n vooraanstaande fliek resensent. Ek het verwag dat hy sou seker maak dat sy storie klop. Daar is ‘n paar foute wat ‘n mens nie kan miskyk nie. Die ergste is dat dat ‘n dagboek na 14:00 op 7 April gesteel word. Die ‘dief’ gaan speel dan muurbal 16:00, net om daarna doodluiters om 12:00 middagete by haar huis te eet en die dagboek verder te lees. Word boeke nie meer geredigeer nie?
Carina neem ook die N14 na Emalahleni en gebruik die N14 om van Delmas af weg te ry. Die N14 gaan beslis nie Witbank of Delmas toe nie.
Van Nierop het ook droog gemaak toe hy die storie vir vandag aangepas het. Jacques is in 1980 gebore. Ek en hy sou nou nooit saam in dieselfde klas gesit het nie, maar ek is selfs ‘n kind van die 80’s. Daar was ten minste 3 Jacques’s wat saam met my in die klas iewers was. Jacques is (was ten minste) nie so ‘n ongewone naam soos Van Nierop dit uitmaak nie.
In die 90’s sou ‘n onderwyser nie openlik op ‘n kind neergesien het oor waar sy ouers werk nie. Ek het twee vriendinne gehad wie se pa’s vir die spoorweg gewerk het. Een van hulle het toevallig langs ‘n ander vriendin wie se pa ‘n prokureur was gebly. Die ATKV voorsitter in ons dorp het ook vir die Spoorweg gewerk (sy een dogter was saam met ons in die klas). Niemand het ooit ‘n skewe woord gehad oor die kinders van Spoorwegwerkers nie. In die 90’s sou geen onderwyser dit meer gewaag het om ‘n kind stukkend te slaan nie. In die tyd was dit al reeds taboe. Terselfde tyd was onderwysers ook maar traag om hulle latte weg te pak toe die nuwe wet deur gekom het.
Verder was die tyd van stoomtreine al in die 80’s verby gewees. In die 90’s was dit alreeds net vir die aardigheid vir toerisme gebruik. Passasiersstasies in die platteland was die eerstes wat in ongebruik verval het. As ek dit nie mis het nie, lank voor die 90’s. Kinders wat verbeteringskool toe gestuur is, sou met ‘n kar daarheen vervoer geword het. Beslis nie saam met ‘n polisieman op die trein nie.
Dit tersyde, wanneer jy daarby verby kom, is die boek heel aangenaam om te lees. Dit is noodwendige aanpassings tussen die TV reeks en die boek. Gavin Greeff is byvoorbeeld Carina Human se baas. Liebet Rynhard is nogsteeds ‘n yskoue teef, maar daar is tog ‘n tikseltjie meer genaakbaarheid aan haar as in die Televisie reeks. Sy toon ten minste teen die einde belofde dat sy aan die bypik is. Klaus Rynhard sterf nog steeds aan stupidgeid, die verkeerde persoon word gestraf daarvoor, maar die boek gee dalk beter konteks van hoe dit kon gebeur het.
Baie van die karakters lus hulleself ook in ‘n koma in agter Jacques aan. Wie kan hulle blameer? Jacques en Jan-Paul het ‘n Dawid en Jonathan verhouding wat net op vriendskap gebou is. Ek het dit verfrissend gevind. Die boek is ook wel donkerder as op TV, maar dit is realisties gegewe die omstandighede waarin die karakters hulle bevind. Dit raak nie ‘n verstrengelde put waaruit geen mens ongeskonde kan ontsnap nie. Ek hou ook van die einde. Al Jacques se drade word netjies bymekaar gebring, ek hoef nie my eie einde uit te dink nie.
Oor die algemeen het ek die boek geniet, ten spyte van die foute wat ek reeds genome het. Ek sal dit 3.5 sterre uit 5 gee. Ek sidder as ek aan die fliek dink, maar ek sal vir Sonlig wag om vir my terugvoer te gee. Dalk word ek aangenaam verras.
Breinlosbrand: Wie het die rol van Alicia Francke in Ballade vir ‘n Enkeling II gespeel?
Breinvasbrand: Dalenatjie was reg met Lisbeth Salander
En voordat die fliek met mag en mening alles oorvat. Hier is die oorspronklike musiek wat in die reeks gebruik is.
Wie runnik saam?